by Orania Beweging | Mei 15, 2017 | Nuus |
Nie gedag ek sal dit ooit sê nie, maar ek kry die laaste tyd vir Helen Zille jammer. Hoe moes sy ook nou geweet het dit sal nie help om te leer toyi-toyi nie? Of om jou party se leierskap vrywillig aan ’n meer verteenwoordigende leier af te staan nie? Of – lofwaardig soos dit is – van die verhoog af isi-Xhosa te praat nie? (Moeilik vir ’n grootmens om ’n nuwe taal aan te leer, en sy het gedoen wat ander hulle net voorgeneem het.)
Sy het dit gedoen, en nog baie meer glo ek, want ek weet mos nou nie van alles nie. En sy het probeer om eerlik en reguit te bly oor onderwerpe waarvan, nouja, sy ook nie alles weet of mooi gedink het hoe haar gehoor dit sal ontvang nie. Dit is natuurlik haar tweets oor die nalatenskap van kolonialisme waarop ek afstuur, en die vêrreikende gevolge daarvan.
Laat ek my haas om te sê: net die lot wat ons Boere republieke 110 jaar gelede aan die hand van Britse imperialisme te beurt geval het, sou my verhoed het om haar stellings te tweet, al dink ek dat 80% van die wit middelklas in Suid-Afrika nie eers sou opkyk as iemand dit in hulle geselskap sê nie. Die tweets kom daarop neer dat ons goed soos paaie, waterpypleidings en gespesialiseerde mediese dienste aan kolonialisme te danke het en dat die nalatenskap nie net sleg is nie, maar dat sy kolonialisme ongekwalifiseerd veroordeel en verskoning vra vir tweets wat misverstaan kan word.
Dit klink na genoeg om ’n lang rits heftige reaksies op Twitter uit te lok en, gegewe haar posisie en haar party se aspirasies, die nuus te haal. Ek het selfs ’n baie goeie diepte-artikel op ENCA Opinion raakgeloop waarvan sy nie te goed afgekom het nie, maar ’n dissiplinêre verhoor deur haar eie party? En ’n ondersoek deur die Menseregtekommissie vir klagtes van haatspraak en aanhitsing tot geweld? Dit klink nie moontlik nie – en tog is dit waar!
Die ondertoon van haatspraak en aanhitsing tot geweld was eerder by haar kritici te bespeur, iets waarvoor jy geen dieper analise hoef te onderneem nie. Maar oor gekrenkte waardigheid kan sy gerus weer dink, want soos een kommentator dit stel: jy kan nie jou verkragting regverdig deur te sê: “maar kyk watse mooi en slim kind het dit tot gevolg gehad, een wat ’n dokter geword het en vandag mense se lewens red” nie. Dit laat my dink sy was regtig nie gevoelig genoeg vir haar omgewing nie.
As dit dus nou net ’n kwessie was van ’n oud anti-Apartheidsaktivis wie se kierankies braai in die nuwe orde wat sy self gehelp vestig het, kon mens oorweeg het om dit daar te laat. Maar dit gaan oor meer – meer selfs as die bloot formele reg op vryheid van spraak. Dit gaan oor ’n kultuur van onverdraagsaamheid en die toepassing van sensuur deur aanhangers van ’n dominante ideologie; dit gaan oor wat wêreldwyd met goed- of afkeuring as Politically Correct (PC) beskryf word.
Die reaksie op Zille se onwyse uitlatings deur eers die publiek, toe die media, toe haar party en nou ’n staatsorgaan spreek van ’n totalitêre kultuur wat in Suid-Afrika posgevat en oorgevat het. Hierdie aksies is intimiderend en dit is bedoel om intimiderend te wees. Dit geld vir Zille, maar dit geld duidelik ook vir elke ander wit Suid-Afrikaner wat dit oorweeg om die kodes van politieke korrektheid uit te daag of te ignoreer.
Dit is slegte nuus, nie net vir liberale demokrasie in Suid-Afrika nie, maar ook vir Afrikaners wat as’t ware per definisie daarby betrek word. Oor die liberale demokrasie en individuele regte sal ander hulle koppe breek, ek het in elk geval my bedenkings daaroor onder Suid-Afrikaanse omstandighede. Dit is Afrikaners wat my bekommer, veral omdat min van hulle oor iets anders as ’n beroep op die reg tot vryheid van spraak beskik om hulle verontwaardiging met die huidige sensuur en intimidasie mee te kenne te gee.
Grondwetlik gewaarborgde individuele regte kan ons vervreemding van vandag se Suid-Afrika nie omkeer of herstel nie. Om die waarheid te sê, ek vrees die tuisteloosheid van ons mense kan eerder meer sulke verontwaardigende gedagtes en uitsprake tot gevolg hê en gemoedere verder opjaag. Wat ons nodig het, is ’n tuiste – polities, kultureel, fisies. Onder verslegtende omstandighede veral fisies.
Daarom dat dit so dringend is om Orania uit te bou op die fondamente wat reeds gelê is.
by Orania Beweging | Mei 8, 2017 | Nuus |

Jare gelede gesels ek met ’n oom oor die skepping, Genesis 1 en 2, die moontlikheid van buiteruimtelikewesens, Kopernikus en die plat-of ronde aardeteorieë. Oom Faan gaan sit op ’n miershoop en beduie na sy grasshoppers. “Natuurlik is die aarde rond, kyk hoe skeef loop ek die loopvlak van my skoene af.” Hierdie verhaal het ek al telkemale herroep soos ek op gedagtereise saam met vriende, meermale so op my eie, gaan. Oom Faan se wêreldbeskouing is eenvoudig, logies en duidelik. Die wêreld is rond, want my skoene loop skeef af. Vandag reis ek egter nie op die weg van kopernikaansedenkstrome nie, maar op ’n ander, ’n veel diepere weg, die weg van skoene.
Onlangs draf sommige van ons kantoormense die Bo-karoo vasbyt; 100km oor 4 dae…of die ligloop 50km oor dieselfde tyd. Almal horrelpoot die daaropvolgende week hier tussen die deursigtige silo’s in die kantoor. Ek sien die rondloperbrakke soek skuiling soos dit blyk of al my kollegas heeltyd klippe optel om te gooi. Al aan die een kant… Ek staan soos ’n buitestander en beluister die teorieë, goeie raad, diagnose en prognose van die onderskeie martelare. Skoene. Dit wil vir my voorkom of skoene die ding is.
Een se voete hardloop in, wat dit ook al mag beteken… en sy skoene hardloop uit. ’n Ander het sommer met sy vellies die tog aangepak en lyk minder fiks na die afstand as voor die tyd. Een het geen blase maar blou toonnaels, blykbaar ’n besering wat met jukskeitoernooie ook volop is. So kyk ek al luisterende na my paar. My skoene wys waar ek was, rooigrond-modder, knapsekêrels in die veters, waterspatsels tussen die stof en oliekolle. Ek dink oor waar dit alles vandaan kom en glimlag. Skoene is die mens se gebruikerskoppelvlak met sy leefwêreld, dink ek.
Lianda, my liewe vrou, het elke dag ’n nuwe weergawe in gebruik. Pienk met hoë hakke, swart leerstewels, snoesige wol voetmusse, spesiale loopkouse, visplakkies, swart hakskoene, groen hakskoene, Adidas-tekkies, Nike-tekkies, Dr. Martins, ’n ou paar North-Stars…die lys gaan aan. Kaste en kaste vol verbruikerskoppelvlak-keuses vir elke dag. Elke oggend staan sy voor die kas en worstel met haar freudiaanse id, ego en superego oor wat die beste koppelvlak met die bepaalde dag se leefwêreld sal wees. Ek gryp my vellies (die huidige weergawe) wat onlangs my donkiejaaroue vorige koppelvlak, samelopend groot emosionele kwellinge en selfondersoek, vervang het… ek hou van ten minste een onveranderlike in my lewe.
U sien skoene is vir my iets groots, dit is ’n ding, ’n ding in die filosofiesbelaaide sin, dit is immers my koppelvlak met die wêreld waarbinne ek leef; en waar my bestaanswêreld swanger met veranderlikes is, wil ek die betroubaarheid van ’n bekende koppelvlak beleef soos ek die dag tegemoet strompel. Skoenekoop is dus nie perdekoop nie, vir my weeg dit swaar. Dit is immers die koppelvlak wat ek elke dag, vir die afsienbare toekoms, gaan gebruik om met my leefwêreld in verbinding te tree, dit is immers my begronding, dit is my fondament, dit is my voertuig binne my ruimte.
Ek luister hoe die mense gesels oor die skoene en loer na hul koppelvlakke. Ek moet moontlik nie so ligtelik ’n boek aan sy stewels takseer nie… maar mens kan darem baie van iemand sê deur na sy skoene te kyk. Ek blaai deur ’n boek met klomp ou familiefoto’s en wens dat die portrette mense se skoene ook kon vasvang… ek sou darem soveel meer van my voorouers kon verstaan.
by Orania Beweging | Mei 8, 2017 | Nuus |

Ons almal weet, veronderstel ek, dat ’n hamer ’n buitengewoon handige ding is. Toe ek en die seuns byvoorbeeld vroeër vanjaar by Majuba moes tent opslaan, kort na donker en in gietende reën, het die afwesigheid van ’n lekker tenthamer wat saam met die braaivleisrooster op die stoep bly staan het, nogal skerp reaksie uitgelok.
En luidrugtig, tot die mate dat die kampeerders langsaan ons mettertyd te hulp gesnel het – seker maar om die kêreltjie wat op sy foon gespeel het toe hy moes inpak se lewe te red. Die ding is: as ’n mens eers een van daardie winkelhaak tentpenne met ’n nat klip in die donker probeer inslaan het, waardeer mens ’n hamer – enige hamer – heeltemal anders as wanneer jy dit nog nie gedoen het nie.
Nou kan ek my voorstel dat Jan Spies êrens al ’n storie kon vertel het van ’n moedelose en gefrustreerde reisiger, iemand wat dalk ook nie so kundig is nie, wat onder beproewende omstandighede langs die pad met motormoeilikheid gekonfronteer word – en geen ander gereedskapstuk as ’n hamer byderhand het nie.

Ek kan my dit voorstel, want ek het self as student nie met ’n nuwe kar gery nie en moes soms maar so onderweg onderhoudswerk doen. Nou het my kundigheid en geduld my natuurlik nie toegelaat om onder sulke omstandighede met ’n hamer onder die enjinkap los te trek nie, en daarvoor is ek vandag nog dankbaar. Maar ek het dikwels daaroor gefantaseer, gedink hoe ek veral die ou Citroëntjie se dubbelkeël vergasser wat so geneig was om te verstop, sou bydam. As die een keël se sproeier verstop is, wou die enjin nie onder 3000 rpm loop nie en as die ander een s’n verstop is, nie daarbo nie. In elke geval het jy gewens dat jy eerder nie ’n vriend, of erger nog: ’n vriendin by jou gehad het nie!
Die punt is natuurlik dat mens gereedskap moet gebruik vir die werk waarvoor dit gemaak is. Op die oog af vanselfsprekend goeie raad, maar dit word nie altyd ewe getrou gevolg nie. Veral nie op die ietwat meer gesofistikeerde terrein van intellektuele “gereedskap” nie. Ek het twee voorbeelde in gedagte en ek hoef hulle eintlik net te vermeld om ’n oortuigende punt te maak.
Dit is die soort denkbeelde wat mense wat die waarde daarvan ingesien het, dikwels so inspireer dat hulle dit tydig en ontydig wil gebruik, ook wanneer dit omtrent so ontoepaslik soos ’n hamer onder die enjinkap is. Die een is die sogenaamde normaalkurwe of klokgrafiek (ek het onlangs ’n deftiger naam daarvoor gehoor, maar kan dit nie meer onthou nie), en die ander is die sogenaamde 80-20 beginsel.
Nou haas ek my om te bevestig dat beide hierdie instrumente hulle toepassing het, maar dat hulle dit verloor as hulle op die verkeerde tyd en plek ingespan word. Om byvoorbeeld te redeneer dat ’n gemeenskap met ’n klokgrafiek beskryf moet kan word – min regtig rykes en min regtig armes met die meeste in die middel tussen die twee – hou nie rekening met die werklikheid nie. Óf die hele gemeenskap word nie in berekening gebring nie, soos in ou apartheidsdenke, óf die middelpunt lê nie waar die meeste van ons dit sou verwag nie.
Hoewel, selfs as mens die middelpunt sou rondskuif om jou voorskriftelike beskrywing te probeer pas, hou dit nog nie rekening met die feit dat die oorwig van elke funksionele gemeenskap arbeiders is wat nie sonder meer tot die professionele middelklas, waaruit die voorspraakmakers vir dié teorie meestal kom, behoort nie. Teen die tyd dat die parameters vir die grafiek só aangepas is dat die data wel ’n eweredige klokgrafiek oplewer, vind mens jouself waarskynlik nie meer in die parameters terug nie en sou dit nuttiger gewees het om die werklikheid van ’n grafiek wat taamlik skeef na die een kant toe trek, onder oë te sien.
Dieselde geld vir die 80-20 beginsel. Die teorie is dat 20% van mens se inset gewoonlik 80% van die resultaat lewer en 80% van jou geswoeg net 20% van die resultaat. Die gevolgtrekking: konsentreer op die belangrikste 20%. Weereens nie sonder meriete nie – in die regte konteks. Bestuurders byvoorbeeld, wat sekerlik nêrens naby die middel van die klokgrafiek van enige gemeenskap lê nie, kan dalk bekostig om só daarna te kyk.
My diepsinnige broer Wynand sê egter noudiedag toe ons daaroor gesels: “Ja … ek het ook al daaroor gedink. Wanneer ek my koeie melk byvoorbeeld. Dan het mens kans om te dink. Ek het ook al agtergekom dat mens 80% van die melk in die eerste 20% van die tyd uitkry. Maar as mens jou elke keer net met daai 80% tevrede stel, is jou koei binnekort droog. Dan kry jy nul persent. ’n Mens moet maar jou werk doen, die lekker én die sleur.”
Wat meer kan ek sê? Hou maar die hamer vir die kap!
by Orania Beweging | Mei 2, 2017 | Nuus |

Enigeen wat oom Prinsloo Potgieter geken het, sou een of ander tyd gehoor het dat hy sê: “Kyk, ek is nie so geleerd soos julle ouens nie; ek is die gewone man en laat ek nou vir jou sê hoe die gewone man hieroor dink.”
Niemand wat oom Prinsloo geken het, sou goedsmoeds met sy stelling saamstem nie, want hy was alles behalwe gewoon; hy was uitsonderlik nadenkend, wel ter tale en intelligent. En boonop geleerd in soverre enige gegradueerde persoon geleerd is, al het hy nie ’n akademiese loopbaan gevolg nie. Om die waarheid te sê, hy was ’n toonbeeld van die vorming wat mens aan klassieke universiteitsopleiding te danke kon hê as jy dit met ’n oop gemoed tegemoet gegaan het.
As arm, plattelandse seun (sy grootouers was Dorslandtrekkers en sy ouers het met ’n repatriasieskema Suid-Wes toe getrek) het ’n onderwysbeurs vir hom na sy enigste weg universiteit toe gelyk. Hy het besluit om BSc te studeer, maar uiteindelik nie onderwyser of “geleerde” geword nie, maar die wêreld van werk in die vorm van ’n landboukoöperasie en besigheidsbestuur betree.
Die geluk het Orania te beurt geval dat hy en tannie Lydia besluit het om hier te kom aftree en sy lewenservaring en -wysheid tot diens van sy mense te stel. Hier het hy ’n aansienlike bydrae gelewer tot met sy ontydige afsterwe in 2008 (?).
Terwyl niemand dus sou saamstem dat oom Prinsloo ’n gewone man was nie, was daar andersyds iets aan sy aanspraak wat jy ook nie kon ontken nie: hy was plat op die aarde, reguit en pynlik eerlik. Hy was die toonbeeld van Boerewysheid; iets wat mens nie kan studeer nie, wat in beginsel vir almal beskikbaar is, maar deur min mense verwerf word.
As eerstejaar filosofiestudent het ek seker vyf keer begin lees aan ’n Engelse inleiding tot die filosofie wat ’n maat van my se pa 30 jaar tevore ook nie kon baas raak nie. Al wat ek daarvan onthou, is dat die skrywer telkens ’n ondeurdringbare uiteensetting van ’n lewensvraag waaroor ek my nie kon moeg maak nie, afgesluit het met ’n beroep op “common sense” – maar van die soort wat nie so “common” is nie. Daarenteen, het ek later gedink, is dit juis wat van oom Prinsloo ’n gewone man gemaak het: sy common sense.
Nou kan mens dalk wonder of die ietwat anglisistiese frase “gewone man” eerder as die hedendaagse “gewone man/vrou”, of ’n ietwat geforseerde “gewone persoon” verder deur gebruik verewig moet word. My antwoord daarop kom uit ’n heel a
nder hoek. Omdat ek ouderdomsgewys so tussen hom en sy kinders gelê het, het ek hom eendag gevra of hy verkies dat ek hom “oom” noem. Sy antwoord was dat ouderdomsverskil nie vir hom ’n persoonlike struikelblok was nie, maar dat hy nogal waarde aan ons tradisionele erkenning daarvan heg en hom met grasie in sy oom-skap berus. Om een of ander rede het dit my weer in sy gewone man-skap laat berus.
Om die waarheid te sê, ek het oom Prinsloo se gewone man begin idealiseer – as dit nou nie ’n teenstrydigheid afgee nie. Wat ek bedoel, is dat ek in talle moeilike situasies begin vind het dat die gewone, eenvoudige en eerlike, selfs gestroopte aanslag mens dikwels die vêrste bring. Daar is so ’n oorvloed van woorde en opgestapelde denkbeelde in die wêreld, dat dit soms ons insig in moeilike vrae versper eerder as bemiddel. Dit beteken nie, en het ook nie vir oom Prinsloo beteken, dat ingewikkelde vrae altyd eenvoudige of kort antwoorde het nie. Wat wel waar is, is dat ons soms op ons denkweg tussen konsepte en konstrukte verdwaald raak en, soos tussen die duine, ’n kompas nodig het.
Die gewone man (of vrou, ons tradisie het na my mening beide geslagte daarby ingesluit) is nie gewoon daarin dat hy ononderskeibaar van die man langs hom is nie; hy is gewoon in sy beskeidenheid. Die gewone man is byvoorbeeld nie so selftevrede met sy eie sin vir rigting dat hy op jag geen kompas saamneem nie. As hy verdwaal, is hy nie so eiewys dat hy nie aanwysings vra nie. As hy raad nodig het, is hy nie te trots om dit te vra nie en as iemand hom vra, is hy nie te verwaand om dit te gee nie.
Jare na oom Prinsloo se dood is ek nou ook gereed om ’n gewone man te probeer wees. Daarom gaan ek onder dié opskrif en op ’n gewone manier probeer skryf oor die alledaagse lewensvrae wat ons mense deesdae teister. Wees dus op die uitkyk vir meer Gedagtes van ’n gewone man.
by Orania Beweging | Mei 1, 2017 | Nuus |
Dit is ‘n oeroue wet van die fisika: as daar ‘n vakuum ontstaan deurdat iets verwyder word, dring iets anders binne. Byvoorbeeld, as jy ‘n leë« bottel onder water hou, dring daar water in en verplaas die lug. As die bottel egter ‘n prop op het, of reeds vol is met iets anders soos wyn, kan daar nie water indring nie.
As ‘n mens die natuurwet nou op die aktuele politiek van toepassing maak, beteken dit die volgende: as ‘n samelewing leeg is en gekenmerk word deur allerhande negatiewe en ontkennende kenmerke pleks van positiewe waardes, dan dring daar ook iets anders binne wat die leemte vul, en dit is nie noodwendig iets goeds nie.
Die Weste was vir eeue lank gekenmerk deur sy Christenskap. Dit was nie net die eng Christelike soos die kerke en kloosters nie, maar ook die Christelike kultuur, wat gewoontes en tradisies gevestig het soos om Sondag nie te werk en handel te dryf nie, om aan God erkenning in jou daaglikse handel en wandel te gee deur samekomste met gebed te open, om in die hof en by die aanvaarding van ʼn amp jou afhanklikheid van God te betuig, om geboue met verwysings na God, soos AD (Anno Domini, die jaar van die Here) of seënwense te versier, kruise op bergpieke op te rig ens.
Veral in die 20ste eeu, met versnellende spoed, het sekularisasie ingetree. Dit is geproklameer as die skeiding van staat en kerk (veral in ‘n land soos Frankryk) wat in beginsel reg is, maar het in praktyk die uitdrywing van God en die Heilige en Bonatuurlike uit die samelewing geword, wat verkeerd is. Soos met elke beweging wat van sy eie onfeilbaarheid oortuig is, het ook sekularisasie geen einde gehad nie en neem in vandag se tyd al hoe meer absurde vorme aan, soos om verwysings na Christus op Kersfees en Paasfees of die dra van Christelike simbole te verbied in die naam van gelykheid. Die sekularisering het veral verder spoed opgetel nadat meer en meer vreemdelinge wat nie Christene is nie, die Weste binnegekom het. Onder die waan van akkommodering is in vooruitlopende onderdanigheid alles verwyder wat dalk aanstoot aan nie-Christene en nie-Westerlinge kon gee, selfs al het niemand daarop aangedring nie. Die Weste het daardeur egter sy eie skanse gesloop.
Die vreemdelinge bring nie net vreemde gelowe (by name Islam) met hulle saam nie, maar hulle bring veral geloof, die irrasionele en die tradisionele met hulle saam, wat tot groot ongemak en onsekerheid onder die inheemse inwoners lei. Islam en ander gelowe kan net so welig groei en uitbrei omdat deur sekularisasie so ʼn geweldige leemte gelaat is, al word dit verdoesel as “verdraagsaamheid” en “godsdiensgelykheid”. Dit gaan selfs so ver dat die leemte van die een deur die ander een fisies en nie net ideologies oorgeneem word nie, naamlik wanneer kerke wat leegstaan deur Moslems gekoop en in moskeë
« omskep word, sonder dat ‘n haan daarna kraai.
Die Weste probeer nou inderhaas om die leemte wat in die wêreldbeskouing gelaat is en wat toenemend deur vreemdelinge beset word, met inhoud te vul. Sekularisme word nou skielik aggressief verdedig en as die gemene deler vir alle inwoners, gevestigdes en nuwes, voorgehou. In Frankryk word dit laicite genoem, in Duitsland word van ‘n Duitse of Europese Leitkultur gepraat of elders van Europese waardes (en dit is omstrede begrippe wat ook by die inheemse bevolking nie noodwendig aanklank vind nie, nog minder by die vreemdelinge). Die probleem is egter, om tot die analogie in die inleiding terug te kom, dat ‘n minder digte stof nie ‘n digte een kan verdring nie. Met ander woorde, jy kan met ‘n strooihalm so veel lug in ‘n glas water blaas soos jy wil, dit gaan nie die water verdring nie. Gooi jy egter sand of klippie in die glas, word die water verdring. Sekularisme het vlak wortels, anders as godsdiens en nasionalisme. Daar waar die Christelike godsdiens en ‘n nasionale kultuur sterk gevestig is, byvoorbeeld in Oos-Europa, sukkel Islam om binne te dring. Islam het diep wortels, maar die Christendom het nog dieper wortels en is in talle opsigte teenoor die Islam verhewe.
Kan die Weste as antwoord op die bedreigings van buite van binne her-christianiseer? Tans lyk dit onmoontlik, die verval en sekularisasie is al te vêr gevorderd, en indien hoegenaamd die Christendom by Europese waardes gevoeg word, dan is dit ‘n afgewaterde Christendom wat veral humanisties van aard is en waar waardes soos gelykheid en naasteliefde voorop staan. Dit is juis die soort Christendom wat Islam en ander gelowe met ope arms as ‘n verryking verwelkom en die gemeenskaplikhede beklemtoon. Natuurlik sou die antwoord op islamisering geen militante en radikale Christendom wees nie, want dan dryf jy die duiwel met die beelseboel uit. Dit moet egter ‘n selfversekerde Christendom met ‘n missie wees, die soort wat in die 18de en 19de eeu groot dele van die wêreld meesal vreedsaam gekersten het, omdat die Christene geloof gehad het en van hulle saak oortuig was. Menslik is ‘n nuwe Christelike Europa onmoontlik, maar by God is dit moontlik. Herlewing het al op die onmoontlikste plekke en in die onmoontlikste tye gebeur. As die Weste sy oeroue tradisie wil voortsit, dan moet hy terugkeer na sy wortels en sekularisme sowel as vreemde godsdienste verwerp.
Die nuwe uitgawe van die tydskrif Rede het onlangs verskyn en behandel ook die vraagstukke wat in die artikel net aangestip word in diepte in verskillende, boeiende artikels. Dit kan by die Orania Beweging bestel word (ontvangs@orania.co.za, 053-2070004)
by Orania Beweging | Apr 24, 2017 | Nuus |
Integrasie is die towerwoord waarmee Europa glo dat hy die miljoene vlugtelinge wat uit veral lande van die Derde Wêreld instroom, kan beheer en tot landsburgers wat ʼn bydrae lewer en ʼn aanwins is, kan omskep.
Veel warm lug is al geproduseer in die debatte en nog veel meer geld is al ingeploeg in burgerkunde, taalkursusse, inligting- en opleidingsessie, alles met die oog daarop om so veel as moontlik van die nuwe aankomelinge in die hoofstroom-samelewing in te smelt.
Veel word gesê, veral van Europeërs, oor die ou Suid-Afrika onder bewind van die Nasionale Party, wat misluk het met sy beleid om mense volgens ras en etnisiteit te skei. Dit het nie gewerk nie, maar die teendeel, integrasie, gaan werk, so word geglo. Europa het min ervaring met die opbou van ʼn nuwe, multi-kulturele samelewing en sal gou ontnugter word oor die beperkinge van integrasie.
As ʼn mens wil leer oor hoe integrasie van mense uit verskillende lande en agtergronde (met beperkinge) werk, moet ʼn mens eerder na tipiese immigrasiesamelewings soos die VSA, Australië, Kanada of Brasilië kyk. Selfs daar is die suksesse baie gemeng.
Een vasstelling wat gemaak kan word, is dat integrasie op ʼn individuele vlak werk, maar baie moeilik op ʼn gemeenskapsvlak. Die Ierse of Duitse of Italiaanse gesin of enkeling wat byvoorbeeld na die VSA geëmigreer het, moes eenvoudig by die meerderheidssamelewing inskakel as hulle wou oorleef. Sodra daar egter groot getalle immigrante van ʼn spesifieke land emigreer, en veral as hulle in ʼn spesifieke gebied vestig, vorm hulle hulle eie subkulture en gemeenskappe en dien as aanlooppunt vir individue wat nog op pad is. In die VSA het byvoorbeeld ten spyte van alle smeltkroes-idee ʼn Sjinese en ook Italiaanse subgroep ontstaan, deels met eie woonbuurte. Terwyl Europese volke gewoonlik wel uiteindelik in die meerderheidskultuur opgeneem word (soos die Duitse of Ierse immigrante na die VSA), is dit moeiliker, indien nie onmoontlik nie, met gemeenskappe met ʼn ander ras en godsdiens as die meerderheidskultuur. Daarom kry jy ook oor die wêreld heen “China Towns” en “Little Indias”.
Interessant in die verband was ook die stem van buitelandse Turke in die onlangse referendum oor grondwetlike veranderinge, wat in praktyk daarop neergekom het om Turkye van ʼn demokrasie na ʼn outokrasie te omvorm. Daar waar Turke net in klein getalle en wyd verspreid woon, soos in die VSA, Kanada, Australië en ook Suid-Afrika, het die groot meerderheid teen die grondwetlike
veranderinge gestem. ʼn Mens sou daaruit kan aflei dat hulle met hulle gasheerland en sy demokratiese strukture vereenselwig. In lande waar daar groot getalle Turke is en waar hulle hul eie woonbuurte met eie media, restourante, winkels, skole, moskeë ensovoorts het, soos in Duitsland, Nederland, België en Frankryk, het hulle oorweldigend gestem vir die grondwetlike veranderinge en by implikasie gesê: ons identiteit is in die eerste plek Turks en die president, mnr. Erdogan, is ons leier en ons voel nie tuis in die lande waar ons is nie.
Die Afrikanervolk is ʼn interessante voorbeeld waar ʼn nuwe volk uit individue gevorm het wat hulle moederland en sy kultuur grootliks agtergelaat het, maar wat nie in ʼn bestaande samelewing opgeneem kon word nie, omdat daar nog geen bestaan het nie. Latere immigrante, soos Britte, Grieke en Portugese, het in meeste gevalle nie in die Afrikanervolk ingesmelt nie omdat hulle in groot getalle gekom het of kultureel en godsdienstig te verskillend was.
Selfs in Orania, wat ʼn etnies homogene gemeenskap is, is integrasie belangrik en nie iets wat van self gebeur nie. Die enkele Engelssprekendes wat hier is, kan net opgeneem word omdat hulle as individue, dikwels met ʼn Afrikaanse eggenoot, hier aankom en daar geen Engelse skool, klub of kerk is om hulle identiteit te bevestig nie. Selfs boorling Afrikaners moet geïntegreer word in die spesifieke Orania-gemeenskap en moet talle gewoontes en persepsies uit Suid-Afrika, soos oor arbeid, agterlaat.
Laastens, die beginselvraag wat die balans tussen integrasie en eiesoortigheid moet wees, is ook iets waaroor die laaste woord nog nie gesê is nie. In die ou bedeling is byvoorbeeld gepoog om die Afrikanervolk te versterk deur die aanmoediging van immigrasie en integrasie van stamverwante Europeërs, terwyl terselfdertyd rasse-integrasie verhoed en eiesoortigheid aangemoedig is. Suid-Afrika as geheel het geen meerderheidskultuur nie (selfs die swart meerderheid is etnies versplinter), maar roem op sy diversiteit, wat ons krag sou beteken.
In die geval van Orania, waar ons ʼn nuwe samelewing in ʼn sekere sin wil skep sowel as ʼn bestaande volk wil bewaar, is dit nodig dat die basis van die begin af reg is en ons nie later met ʼn klomp individue, of erger, verskillende etniese subgroepe sit wat niks voel vir Orania en sy strewe nie en wat nie bereid is om hulle deel tot sy uitbou by te dra nie.