Hierdie Saterdag (27 Mei 2017) het ek die voorreg gehad om in Pretoria aan ’n simposium van die Stigting vir Nasionale Minderhede in Suid-Afrika deel te neem. Besprekingspunte en deelnemers, die aard van die gesprek en die omgewing waarin dit plaasgevind het, het my terug gevat na dekades gelede toe ons ook sulke gesprekke gevoer het – baie eners en baie anders.
My broer Wynand, wat voorsitter van die Stigting is, en kol Piet Uys, wat sekretaris van die VF Plus is, het daarin geslaag om vir profs Koos Malan en Deon Geldenhuys, myself en dr Corné Mulder te laat deelneem aan ’n bespreking van ou vraagstukke, maar in ’n nuwe lig gesien. Die ou vraagstukke is eenvoudig dié na Afrikanerselfbeskikking in ’n nuwe staatsorde en wat ons te doen staan om dit te bevorder. Die nuwe lig verwys weer na die insigte wat ons die afgelope twintig jaar verwerf het, wat in besonder vervat is in prof Malan se boek Politokrasie wat al in 2011 verskyn het en ’n steeds toenemende invloed uitoefen.
Kortweg kan gesê word dat prof Malan ’n inleiding tot sy werk wat op dié nuwe term, naamlik politokrasie, uitgeloop het, gegee het. Hy het in besonder na twee historiese sleuteldenkers van die sewentiende eeu verwys, naamlik Thomas Hobbes wat voorbrand gemaak het vir die sentralistiese, soewereine territoriale staatsvorm wat die moderne geskiedenis oorheers het, en na Johannes Althusius wat ’n federalistiese beeld van gedeelde soewereiniteit en die erkenning van gemeenskappe probeer bevorder het. Nodeloos om te sê dat Hobbes destyds die botoon gevoer het, maar dit is tog betekenisvol dat Althusius in ons tyd herontdek en herwaardeer word.
Ek het gepoog om politokratiese denkbeelde met die werklikhede en ervarings van Orania te verbind – ’n onderwerp wat bykans geen moeite geverg het nie aangesien mens Orania as ’n handboekvoorbeeld van prof Malan se teorie kan beskou. Dr Mulder het die VF Plus se politieke en parlementêre rol, veral met betrekking tot moontlike wetgewing wat vir selfbeskikking voorsiening maak, bespreek. Die aanloop, geleenthede en risiko’s wat daarmee saamhang, het natuurlik heelwat bespreking uitgelok.
Ek laat my verwysing na prof Deon Geldenhuys egter vir laaste, want ek wil ’n bietjie daarby stilstaan. Die rede is tweeledig, naamlik dat hy sopas teruggekeer het van ’n studiebesoek aan Duitsland waar hy by die European Centre for Minority Issues gewerk het, en dat hy moeilike vraagstukke op ’n byna bedrieglik eenvoudige manier uiteensit en behandel.
Prof Geldenhuys het vier vorme van outonomie wat kulturele of nasionale minderhede die afgelope dekades opgeneem het, benoem en toegelig waarna hy Afrikaners se benutting daarvan in Suid-Afrika bespreek het. Die vier is (i) funksionele outonomie, (ii) Regeernetwerke, (iii) territoriale outonomie en (iv) kulturele outonomie. Ek gee hieronder ’n kort beskrywing van elk.
- Funksionele outonomie verwys na funksies of terreine waarop staatsowerhede uit die minderhede se oogpunt onbevredigend of ontoereikend optree en waarop sulke minderhede dan self inisiatief neem. Dit kan byvoorbeeld onderwys of taalontwikkeling wees waarvoor minderhede se verteenwoordigende organisasies verantwoordelikheid begin neem en die nodige vermoëns verwerf.
- Regeernetwerke verwys na ’n verskynsel wat begin posvat, naamlik dat ’n minderheid in vennootskap met ’n goedgesinde owerheid na bepaalde behoeftes begin omsien. Onderwys kan weer ’n voorbeeld wees, maar ook iets soos gesondheidsdienste en bejaardesorg, sake waarvoor ontwikkelde lande tipies voorsiening maak, maar waarvoor minderhede wil sien dat dit op ’n kultuureie manier aangepak word.
- Territoriale outonomie is vanselfsprekend bevoegdhede wat deur plaaslike gemeenskappe opgeneem kan word omdat hulle in ’n bepaalde gebied gekonsentreer is en beheer oor owerheidsliggame in daardie gebied uitoefen. Die vlak van outonomie hang onder sulke omstandighede natuurlik van die grootte en welvaart van die minderheid en sy gebied af, sowel as van die betrokke staatsowerheid se gesindheid.
- Kulturele outonomie verwys na duidelike kulturele behoeftes van minderhede wat nie tot ’n gebied beperk is nie, maar binne ’n staat se hele gebied beskerm word. Dit kan weer eens na moedertaalonderwys verwys, of na iets soos openbare uitsaaidienste in ’n minderheidstaal.
Sover dit Afrikaners in Suid-Afrika aangaan, is dit duidelik dat die drie eersgenoemde vorme van outonomie doelgerig ontgin word, maar dat daar op die vierde terrein nog nie vordering gemaak is nie. Orania, maar ook Solidariteit bied uitstekende voorbeelde van funksionele outonomie op talle lewensterreine wat ons daaglikse bestaan raak. Ons vul juis die leemtes wat, in Suid-Afrika se geval, die falende staat laat selfs ten opsigte van sake soos veiligheid en geskikbeslegting.
Regeernetwerke ontstaan in Orania se geval byvoorbeeld waar die Noord-Kaapse regering kliniekpersoneel en medisyne voorsien terwyl Orania die gebou voorsien en administrasie waarneem. Afriforum se ooreenkoms met die SAPD is ook ’n voorbeeld hiervan. Goeie verhoudings met aangrensende munisipale regerings, sowel as provinsiale en nasionale regerings dra hiertoe by en skep geleenthede om eerder op samewerkende as konfliktiewe maniere die leemtes wat ontstaan te vul. Minderhede is dikwels nie in ’n goeie posisie om ’n lang en duur stryd aan te knoop nie en verkies dikwels eerder om op bepaalde terreine prakties te vorder. Dit geld ook vir Orania.
Tegelyk is Orania ook die enigste praktiese voorbeeld van territoriale outonomie vir Afrikaners in Suid-Afrika. Ongeag die feit dat dit nog klein en beperk is, is die begin onomkeerbaar gemaak.
As dit egter by kulturele outonomie kom, byvoorbeeld in die vorm van ’n erkende Afrikanerraad, is dit ironies dat die Suid-Afrikaanse grondwet daarvoor voorsiening maak, maar dat niks daarvan nog in werking gestel is nie. Dit spreek natuurlik van die SA regering se onwilligheid om werklik daaraan uitdrukking te gee, maar tegelyk ook van Afrikaners se vernuf om met al drie die ander vorme van outonomie beduidende vordering te maak.