by Orania Beweging | Jun 8, 2017 | Nuus |
Jordan Peterson, professor in kliniese sielkunde van die Universiteit van Toronto verduidelik waarom jongmense moet organiseer en opstaan teen die nihilistiese postmodernisme:
Ek wil graag eerstens ‘n boek aanbeveel wat almal moet lees: Dit word “Explaining Postmodernism” genoem en is geskryf deur Stephen Hicks. Jy moet postmodernisme verstaan sodat jy weet waarteen jy te stane gekom het. Jy loop meer daarteen vas as wat jy mag besef en dit is ‘n baie beter ontwikkelde, deurdringende, skadelike, nihilistiese en intellektueel-aantreklike ideologie as wat jan alleman besef. Dit domineer absoluut die geesteswetenskappe en toenemend die sosiale wetenskappe in die universiteite.
Iemand het eenkeer gesê, ek kan nie onthou wie nie maar dit kon Friedrich Nietzsche gewees het. Hy het gesê dat almal die “onbewuste voorstaander van ‘n dooie filosoof is,” en gelukkig is die meeste postmoderne filosowe dood, maar dit beteken nie dat hulle woorde nie voortdurend deur mense wat in hul nasleep volg, herhaal word nie.
Dit is nie asof enige gegewe persoon absoluut besete is deur die gees van postmodernisme nie, omdat hulle dikwils nie genoeg opgevoed is om al die besonderhede van dit wat hulle in sy greep het te leer ken nie, maar as jy 20 bymekaar kry en hulle word elk 5% beïnvloed deur die postmodernistiese etos, het jy basies die gees van die skare en word die groep ‘n mondstuk van daardie spesifieke filosofiese leerstelling.
En as jy die postmoderne leerstelling verstaan, dan verstaan jy waarom dinge in die rigting beweeg waarin dit beweeg.
Daarom gaan ek julle ‘n klein bietjie vertel oor hierdie leerstelling, want dit is nie opsioneel om dit te verstaan nie. Dit is krities om dit te verstaan. Jy kan nie die krag van idees en ook van woorde onderskat nie, want idees word in woorde uitgedruk.
Sien dat die postmoderniste geheel en al die struktuur van die Westerse beskawing verwerp. En ek bedoel heeltemal, laat ek ‘n voorbeeld gee, in een naam: Jacques Derrida. Hy is die hoof bedrieër van die postmoderne beweging en hy het die Westerse kultuur (wat hy die Patriargie noem) as fallogosentries beskryf. Fallo kom van fallus en daardeur dring hy daarop aan dat die Westerse kultuur die gevolg is van ‘n manlik-gedomineerde, onderdrukkende en selfdienende samelewing.
Jy mag dalk sê dat samelewings neig om selfdienend te wees, en dat persone in mag neig om in hul eie beste belange op te tree, maar ‘n neiging is nie absoluut nie. Dit is een van die dinge wat hierdie mense deurlopend in gedagte moet hou. Daar is geen tekort aan foute in die wyse waarop ons ons sameleweing gestruktureer het wanneer ons dit met enige hipotetiese utopie vergelyk nie; dan is ons samelewing ‘n absolute wrak. Maar wanneer ons samelewing met die res van die wêreld vergelyk word, en met die lot van ander samelewings deur die geskiedenis, dan doen dit nogal baie goed, en behoort ons gelukkig te wees om in die Westerse samelewing te leef.
So die eerste ding wat jy sal wil weet oor die postmodernisme is dat dit nie oor ‘n greintjie dankbaarheid beskik nie. En daar is iets patologies verkeerd met persone wat geen dankbaarheid het nie, veral wanneer hulle in die beste van alle moontlike wêrelde leef. So as jy nie dankbaar is nie, dan word jy deur wrewel aangedryf en wrewel is die slegste emosie wat jy moontlik kan ervaar, behalwe vir arrogansie. Arrogansie, wrewel en bedrog. Daar is nou ‘n bose driehoek vir jou.
En as jy bittter is oor alles wat rondom jou gebeur, ten spyte van die feit dat jy in rykdom gebaai word, dan is daar iets heeltemal verkeerd met jou.
Die swart gemeenskap in die Verenigde State is die 18de rykste gemeenskap – die 18de rykste nasie op die planeet.
Dit beteken nie dat daar nie iets soos relatiewe armoedie is nie en relatiewe armoede maak saak. Dit is ‘n belangrike politieke-ekonomiese kwessie en dit is baie moeilik om te hanteer. Maar absolute rykdom maak ook saak.
Westerse samelewings was absoluut merkwaardig in hul vermoë om rykdom te genereer en te versprei. Soos u kan sien deur bloot net rond te kyk, neem ‘n kort oorweging vir die absolute wonderwerk wat selfs ‘n gebou soos hierdie verteenwoordig.
So moet jy jouself leer oor postmodernisme.
So hier is wat die postmoderniste glo: Hulle glo nie in die individu nie. Dis die logos. Onthou, hulle glo die Westerse kultuur is Fallogosentries. Logo is logos. Dit is deels die Christelike woord, maar dit is ook die stamwoord vir logika.
So die postmoderniste glo nie in logika nie.
Hulle glo dat logika deel is van die proses waarmee die partriagale instellings van die Weste voortgaan om te domineer en om hul dominansie te regverdig. Hulle glo nie in dialoog (gesprekvoering) nie. Die stamwoord van dialoog is logos. Weereens, hulle glo nie dat mense in goedhartigheid bymekaar kan kom en konsensus kan bereik deur die uitruil van idees nie. Hulle glo dat dialoog deel is van die filosofiese onderbou en gebruike van die dominante kultuur.
So die rede waarom hulle nie toelaat dat mense van wie hul verskil toesprake op kampusse mag hou nie, is omdat hulle nie dink dat mense moet praat nie.
Jy sien, dit is alles deel van hul etos.
Goed, so wat anders glo hulle of glo hulle nie?
Hulle glo dat aangesien jy nie ‘n individuele identiteit het nie, jou fundamentele identiteit deur jou groep gevorm word, wat basies beteken dat jy slegs ‘n toonbeeld van jou ras is.
Vandaar kom wit voorreg. Alternatiewelik kan jy ‘n toonbeeld van jou geslag wees, of ‘n toonbeeld van jou seksualiteit, of jou etnisiteit, of jy is ‘n toonbeeld van hoe-ookal jy geklassifiseer kan word sodat jy in ‘n possisie van onderdrukte geplaas kan word teenoor die onderdrukker. Want dit is die spel, en dit is ‘n post-Marxistiese oëverblindery. Voorheen was die Marxistiese uitgangspunt dat die wêreld ‘n stryd tussen die bourgeoisie en die proletariaat was, maar dit het misluk om enige filosofiese of etiese geloofwaardigheid te behou, veral nadat die werkersklas se lewensstandaard met rasseskrede toegeneem het as gevolg van Westerse vryhandel-demokrasie, maar ook omdat almal die verskriklike onderdrukking en armoede kon sien wat in elke bloedige land posgevat het wat dit durf waag het om gelykheid en die Marxistiese Kommunistiese dogma deel van hul fundamentele strukture te maak – niks behalwe moorddadigheid en onderdrukking, en so teen die einde van die 1970’s was dit duidelik dat die kat uit die sak was.
En so het die postmodernistiese Marxiste basies deur oëverblindery gesê: “Goed, as dit nie die armes teen die rykes is nie, dan is dit die onderdrukte teen die onderdrukker.” Ons sal eenvoudig ‘n herverdeling van al die sub-bevolkings op so ‘n wyse doen wat ons sal toelaat om ons bloedige filosofie te laat voortgaan in sy voorwaartse beweging, en dit is waar ons tans is.
So vir die postmoderniste is die wêreld ‘n Hobbesiaanse stryd van identiteitsgroepe. Hulle kommunikeer nie met mekaar nie, want hulle kan nie. Al wat daar is, is ‘n stryd vir mag, en as jy in die roofdiergroep is, wat beteken dat jy ‘n onderdrukker is, dan beter jy op jou hoede wees, want jy is nie juis welkom nie. Nie juis welkom nie en ook nie jou idees nie. So dit is waarteen julle te staan gekom het.
My raad sou wees dat dit tyd is vir konserwatiewes om op te hou om verskoning te vra dat hul konserwatief is.
Jy vra nie vir hierdie mense om verskoning nie. Dit is ‘n groot fout. Hulle sien ‘n verskoning as ‘n bekentenis van skuld. Jy vra nie om verskoning nie en jy tree nie terug nie.
Julle jongmense daarbuite wat studente by universiteite is, julle moet die studente-unies oorneem, julle moet hul terugneem, want hulle het absolute slangputte geword, en was dit sedert die 1990s.
Met betrekking tot die universiteite, het ek op ‘n stadium gedink dat die beste ding sou wees om hul befondsing met 25% te sny sodat hulle ondermekaar kan baklei vir wat oor is, want dit sal universiteite dwing om te besluit wat presies belangrik is en wat nie is nie.
Ek sou sê dat die geesteswetenskappe, en groot dele van die sosiale wetenskappe, verander is in ‘n postmodernistiese, neo-Marxistiese speelgrond vir radikale. Hul skolastiese prestasie is verskriklik. 80% van geesteswetenskaplike navorsingstukke word nie een keer aangehaal nie. Nie eens een keer nie!
En wat dit beteken is dat hulle navorsingstukke vir mekaar skryf, en dit aan biblioteke verkoop en dit is hoe hierdie uitgewers geld verdien. Niemand lees hul nie, maar die uitgewers kan hul druk en die biblioteke moet hulle koop, en hulle koop dit met julle belastinggeld. En so sit julle almal hier en julle befonds ‘n radikale postmodernistiese neo-Marxisitese agenda wat sy wortels in die universiteite het, en julle belastinggeld vloei daarheen.
As julle bewyse daarvoor soek, gaan aanlyn en kyk na die webwerwe, veral vir dissiplines soos ‘vrouestudies’ wat patologies tot die kern is. Maar dit is nie slegs vrouestudies nie, dit is al die etniese studiegroepe, dit is antropologie, dit is sosiologie, maatskaplike werk, en boweal onderwys. En OISE, as voorbeeld, in Ontario is moontlik, naas die Ontario Menseregtekommissie, die mees gevaarlike instelling in Kanada.
Dit moet sy befondsing verloor, so eenvoudig soos dit. Hulle doen nie die navorsing wat hul voorgee om te doen nie. Hulle stel glad nie in opvoeding belang nie. Hulle stel in indoktrinasie van mense so jonk as wat hulle hul hande op kan lê belang, by wyse van spreke.
Ons samelewing moet vasstel hoe om op te hou om belastinggeld aan radikale verlinkse aktiviste te stuur. Indien ons dit vir radikale verregse aktiviste gedoen het, dan sou daar ‘n absolute storm losgebars het, maar die linkses het inkrementeel sedert die 1960s al meer geld gekry en dit moet stop.
So dit is waarteen konserwatiewes en ook klassieke liberales (ware liberales in die Engelse sin) te staan gekom het. Wat ook gebeur het as gevolg van hierdie postmoderne, neo-Marxistiese intellektuele inval, is dat die sentrum besig is om na regs te skuif, so as jy ‘n klassieke liberale is, dan het jy nou ‘n konserwatiewe geword.
En so vir almal van julle wat daarin belangstel om die konserwatiewe agenda te bevorder: daar is baie klassieke liberales met wie julle kan praat.
En dan laastens om met jong mense te praat. Julle het nou uiteindelik iets wat julle aan hulle kan verkoop. Dit is nie maklik om konserwatisme aan jong mense te verkoop nie, want hulle wil graag dinge verander. Dit is nie wat konserwatiewes wil doen nie, hulle wil dinge bewaar. Wel nou het julle iets wat juille aan hulle kan verkoop – jullle kan aan hulle spraakvryheid verkoop, en julle kan aan hulle verantwoordelikheid verkoop.
Die linkerkant verkoop regte, jullle kan verantwoordelikheid verkoop.
Neem maar my woord, want ek kry baie briewe van hierdie soort…. jong mense smag na iemand wat aan hulle ‘n sin vir verantwoordelikheid kan gee, om aan hulle te sê kyk hier, hier is iets wat die moeite werd is om voor te leef.
Jy kan sin vir die lewe in lewe met vryheid vind. Vryheid het ‘n soort van chaotiese betekenis, reg, en vryheid is nie die tipe ding wat mense gelukkig maak nie. Dit is die soort ding wat mense onrustig stem. Want vryheid brei jou reeks keuses uit, wat jou senuweeagtig en onseker maak… nie dat dit ‘n slegte ding is nie. Dit is ‘n goeie ding wat van jou verwag dat jy die verantwoordelikheid van vryheid moet dra, en verantwoordelikheid per se gee vir jou lewe sin, ware sin in die aangesig van swaarkry.
En jongmense is regtig besig om daarna te smag. Ek onderrig jongmense al vir 30 jaar, en die ding wat ek hulle meestal leer is verantwoordelikheid.
Julle is die erfgename en opvolgers van ‘n groot tradisie. Dit is nie perfek nie, dis voor-die-hand-liggend. Maar vergelykenderwys is daar niks soortgelyk wat al ooit geskep is nie, en dit verteenwoordig ‘n piepklein minderheid van al die menslike polisse, die meeste waarvan deur moorddadige, antisosiale, psigopatiese boewe beheer word, en watse soort alternatief is dit werklik?
Ons het hierdie baken van vryheid en rykdom in die Weste, wat werk, al werk dit nie perfek nie. En een van die verantwoordelikhede van jongmense is om uit te vind wat aan die kern daarvan staan: die belangrikheid van die individu en die heiligheid van spraak. Dit is iets wat verkoop kan word en dit is die fondament van ons ganse kultuur.
* Hierdie artikel is ‘n vertaling van ‘n transkripsie van ‘n video wat op youtube verskyn het en op die webwerf www.realclearpolitics.com geplaas is.
** Die mate waartoe postmodernisme ook die politieke diskoers in Suid-Afrika beïnvloed kan gesien word deur die skorsing van Helen Zille omdat sy ‘n mening gelig het wat strydig is met die postmodernisme. Die postmodernisme se invloed op voormalige Afrikaanse universiteite is ook sigbaar in hul diskriminasie teen Afrikaans en in die skrywes van hul meningvormers soos Christi van der Westhuizen (sosiologie) wat graag in haar rubrieke op Netwerk24 afwysend na die Patriargie verwys.
by Orania Beweging | Jun 7, 2017 | Nuus |

Spesialisering en geluk
As ‘n jong man het ek jare gelede eenmaal die dubbelsinnige voorreg gehad om ‘n mediese spesialis gade te slaan, besig om ‘n operasie uit te voer. Dit was ‘n indrukwekkende prentjie: klinies, helder belig en ‘n hele span bekwame en toegewyde helpers gereed om op sy kleinste wenk te reageer deur die regte ding te doen of aan te gee. ‘n Geoefende span, moes ek aflei, want dikwels sonder ‘n woord het hy net sy hand uitgesteek om die regte skalpel te ontvang en ‘n trefseker snit te maak.
Anders as in die meerderheid gevalle, want dit was wat hulle as ‘n “standaard prosedure” beskryf het, het dit vir ons wat betrokke was ‘n uitmergelende tyd met ‘n hartseer afloop ingelei. Dalk dié dat die indrukwekkende beelde van ‘n spesialis aan die werk wat my daarna bygebly het, ook ‘n skadu oor my gemoed gewerp het. Met al die wetenskap, tegniek en tegnologie tot ons beskikking kon ons die menslike sterflikheid nie ontsnap nie, ons kon dit hoogstens opsystoot net om binnekort vierkantig daarvoor te staan te kom.
Nogal ‘n uitdaging vir ‘n mens se geloof in die mag van die Rede en die goedheid van God – want dít is die volgorde waarin die moderne mens geneig is om werklike lewensvrae tegemoet te gaan. Maar dit is nie die vraag wat ek nou verder wil volg nie, ek wil op ‘n baie meer alledaagse terrein beweeg; sê maar die terrein van juis so ‘n mediese spesialis, ‘n familielid van my, wat sukkel met sy swembadpomp. Dit was nie lank na my vorige ervaring nie …
Terwyl ek simpatieke geselsies probeer maak, krap hy in sy gereedskapkas, stap motorhuis toe en terug, skel op sy afwesige kinders wat nie sy moersleutels bêre nie en kom oor die weg met ‘n minder as ideale knyptang. Hy weet en ek weet hy kan iemand anders kry om die werk te doen, maar dan word dit uitgestel en, wie weet, nie ewe goed gedoen nie; hy was juis nie laas keer baie tevrede met die werk óf die rekening wat hy gekry het nie.
Ek het sy punt ingesien, want buiten dat ek minder manhaftig as hy met rekeninge kon omgaan, het ek ook graag eerder my eie foute gemaak. Dan het ek net myself om te verwyt en betaal ek uiteindelik die soms onvermydelike rekening met ‘n ligter hart. Die hele episode het my perspektief op die lewe help herstel en ek het nie meer in swak oomblikke gewonder of ek nie maar met ‘n teatersuster moes getrou het nie.
Teen dié agtergrond was dit vir my nogal vreemd om in prof Koos Malan se boek Politokrasie te sien dat hy in een sin van spesialisering en geluk praat. Spesialisering en gehalte; spesialisering en doeltreffendheid; spesialisering en skaal – daaraan kan ‘n gewone mens gedink kry, maar spesialisering en geluk? Waar kom dié gedagte vandaan? En (tong in die kies gevra) ondersteun of ondermyn hulle mekaar?
In werklikheid, toon Malan aan, lê spesialisering aan die wortel van elke gemeenskap en is ons menslike lewens nie daarsonder te bedink nie. Dit maak werksverdeling moontlik en stel ons in staat om meestal te doen wat jy goed kan doen en hulp te kry wanneer jy sukkel. Dit vestig ‘n band van interafhanklikheid wat uiteindelik nie net diegene wat mekaar help, bevoordeel nie, maar ook die gemeenskap as geheel se welvaart verhoog.
Spesialisering berei die weg voor vir die individu se prestasie en uitlewing, al kan sulke prestasie daardie individue soms laat dink dat hulle bo en buite hulle gemeenskappe uitstyg. Die feit is dat elke prestasie gebou is op geleenthede vir opleiding en oefening waarvoor instellings, wat bo die individu uittroon, ‘n vereiste is. Daarsonder sou talentvolle individue se talent, van watter aard ook al, verlore gegaan het – dit gebeur waarskynlik meer gereeld as wat ons dink omdat soveel gemeenskappe vandag ontwrig of misken word.
Laat ek dan afsluit met ‘n aanhaling wat my aanvanklike en oppervlakkige skeptisisme oor spesialisering ver te bowe gaan. Malan skryf:
“Sonder spesialisasie moet individue hul aandag bestee aan basiese oorlewing en in die besonder aan sake waarvoor hulle nie aangelê is nie. Hulle besondere vermoëns bly sodoende altyd blote potensiaal en kan moeilik manifesteer. Spesialisasie is dus bevrydend. Dit bevry individue om hulle potensiaal te ontdek, te slyp en vrye teuels daaraan te gee – om maksimaal te presteer, erkenning daarvoor te kry en sodoende ook geluk te vind. Dit is by uitstek die produk van ‘n gemeenskap waar take, bedrywighede en ekonomiese aktiwiteit in fyn besonderhede verdeel kan word, met ander woorde van ‘n gedifferensieerde welvarende ekonomie, wat as gemeenskaplike res publica individuele prestasie moontlik maak.” (2011 p300)
by Orania Beweging | Jun 3, 2017 | Nuus |
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is diep gewond deur die ANC regering. Onlangse data wys dat werkloosheid in Suid-Afrika vanaf 24% tot 27% gestyg het.
Die ANC-beleid van kaderontplooiing het dienslewering tot ‘n stilstand gebring selfs op terreine wat oorspoel word met geld. Neem maar onderwys as voorbeeld. Suid-Afrika spandeer 3.75 keer meer as Indië per laerskoolkind per jaar. Tog berig the Economist dat Suid-Afrika se onderwysstelsel die tweede-swakste resultate in die wêreld lewer. Na 5 jaar in skool kan slegs die helfte van Suid-Afrika se kinders die antwoord vir 24 gedeel deur 8 bereken.
Die ANC se onteiening en nasionalisering van minerale regte, saam met onbuigsame arbeidswetgewing en die reuse koste wat SEB en RA wetgewing op plaaslike maatskappye plaas, het Suid-Afrikaanse minerale-produsente onkompeterend gemaak en het veroorsaak dat die land se ekonomie teen ‘n slakkepas gegroei het en glad nie by bevolkingsgroei kon byhou nie. Dit in ‘n tydsgleuf waar China ongekende aankope van minerale gedoen het, soveel so dat die prys van steenkool en ystererts die hoogte in geskied het. Terwyl die land die meevaller gemis het, word ons steeds sleg geraak deur die einde van China se dors na minerale.
Die ANC se korrupsie en plunder van die staatskas, sedert Mandela R28 miljoen vir die opgradering van sy persoonlike huis geneem het tot die Guptas wat volgens onlangs-gepubliseerde e-posse miljarde geneem het vir die aankoop van Transnet-treine, neem letterlik geld vanaf die armes om dit vir die nuwe superryk elite te gee.
Hierdie drie mislukkings deur die ANC is direk daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaanse ekonomie steier en dat daar reusagtive vlakke van ekonomiese ongelykheid, onstabiliteit en geweldsmisdade in die land is.
Die ANC reageer op hierdie onvergenoegdheid deur die raskitaar te slaan, Apartheid te blameer en die “wit gevaar” (witmonopoliekapitaal) met drastiese stappe te dreig. Radikale ekonomiese transformasie, die onteiening van eiendom en die instel van ‘n “welvaartbelasting” sal bloot die volgende spykers in die kis van die Suid-Afrikaanse ekonomie slaan, armoede en ongelykheid verhoog en die ANC verder aanspoor om Apartheid en die wit gevaar te blameer.
Dan is daar ook Afrikaners wat graag daaraan meedoen om Apartheid op te haal as hoofoorsaak vir die huidige verknorsing (niemand vra waarom ongelykheid en gemiddelde lewensverwagting nou slegter as in 1994 is nie). Lindie Koorts van die Universiteit van die Vrystaat skryf onlangs op Netwerk24 dat ons die letsels wat Apartheid aan ander gelaat het moet erken.
As jong Afrikaner is ek redelik moeg vir die debat oor Apartheidskuld wat nooit einde kry nie. Ten spyte daarvan dat talle Afrikanerleiers al oor dekades heen namens hulself en namens die res van ons om verskoning gevra het, is daar net nooit vergifnis en verlossing nie.
Die rede hiervoor is natuurlik dat Afrikaners as maklik-uitkenbare minderheid, sigbaar beter af is as die gemiddelde swart Suid-Afrikaner.
Die probleem is egter dat dit blykbaar vir Afrikaners ‘n byna onmoonlike taak is om hierdie situasie te verander. Ten spyte daarvan dat die meerderheid van ons vrywilliglik afstand van ons regeermag gedoen het en uiters lojale onderdane van die ANC-regering is en op talle wyses bydra en opoffer vir die opheffing van swart Suid-Afrikaners, kry ons geen vreugde of erkenning daarvoor nie. Dit bly te maklik om die vinger na ons te wys en “Apartheid” te sis.
Dit is dalk tyd dat ons die kollig op die mislukking van die ANC plaas deur uit te wys tot watter mate ons ook finansiëel opgeoffer het vir die opheffing van swart-Suid-Afrika, veral sedert Apartheid.
Dit is ‘n algemene gebruik dat ‘n land, volk of groep mense “skadevergoeding” betaal aan die einde van ‘n stryd. So het Duitsland 3.5 miljard Duitse Mark aan Israel betaal as vergoeding vir die Joodse volksmoord en die koste om Jode uit Europa in Israel te hervestig. Amerika het ook na die Tweede Wêreldoorlog geld betaal vir die heropbou van Europa. Nie omdat die VSA die stryd verloor het nie, maar omdat die Amerikaanse regering geweet het dat ‘n stabiele en handeldrywende Europa beter vir hulle is as ‘n kreperende Europa. Amerika het sowat $13 miljard se betalings onder die Marshall Plan aan 16 Europese lande gemaak.
Die punt wat ons moet uitlig is dat Afrikaners ook sedert 1994 soortgelyke betalings maak, maar geen erkenning daarvoor kry nie. Gedurende 2016 het Suid-Afrika R268 miljard uit persoonlike inkomstebelasting ingevorder. As ons die narratief aanvaar dat die meerderheid van die rykdom in wit hande is (60%), waarvan die meerderheid Afrikaners is (weer 60%), het Afrikaners byna R100 miljard in inkomstebelasting betaal in een jaar. Voeg daarby ons aandeel in BTW, maatskappybelasting asook die geld wat ons betaal om druk op die publieke dienste te verlig (privaat medies, veiligheid en skoolfondse). Ten spyte daarvan dat ons op bitter min dienste aanspraak maak (of kry), kan ons dan daarby aftrek ons aandeel in die publieke dienste wat gelewer word, wat as ons verteenwoordigheid as maatstaf gebruik op 6% van die totale spandering te staan kom. Die verskil tussen dit wat ons betaal en dit wat ons ontvang in dienste is in werklikheid die skadevergoedingsbedrag wat ons jaarliks betaal.
In 2016 het die persoonlike inkomstebelasting wat ons betaal, ons aandeel in dienslewering met ongeveer R36 miljard oorskry. Dit sluit die ander betalings wat ons maak soos hierbo genoem uit.
Indien ons die bedrag skadevergoeding wat ons jaarliks en in totaal na 23 jaar betaal het vergelyk met dit wat Duitsland en die VSA betaal het, sal ons ook ‘n vergelyking kan tref tussen wat die ANC met daardie geld reggekry het teenoor dit wat Europa en Israel reggekry het.
So ‘n vergelyking sal uitwys dat Afrikaners nie alleen om verskoning vir Apartheid gevra het nie, maar ook daad by woord gevoeg het deur wesenlike betalings te maak aan die gegriefdes. Betalings wat in totaal vergelykbaar is met dit wat ander lande betaal het (of dit selfs oorskry). Die vergelyking sal ook die kollig op die ANC se moedswillige en argelose uitbuiting van Suid-Afrika se armes plaas en help om die geloofwaardigheid van “Apartheid” as verskoning te verminder.
Indien die inligting algemeen beskikbaar is, sal plaaslike en internasionale meningvormers met minder gemak ‘n vrypas aan die ANC kan gee. Ons sal hul ook tot verantwoording kan roep vir die wyse waarop hulle aandadig is in die verdieping van ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika deur hul versuim om die ANC aanspreeklik te hou.
Groter balans is nodig in hierdie debat. Nou meer as ooit.
by Orania Beweging | Mei 31, 2017 | Nuus |
Op 31 Mei het belangrike gebeure in die Afrikaner se geskiedenis plaasgevind. Die bekendste een is seker die stigting van die Republiek in 1961, maar die eerste groot en eintlik besonder hartseer gebeurtenis was die Vrede van Vereniging wat op 31 Mei 1902 onderteken is en waarmee die Boererepublieke Transvaal en Oranje-Vrystaat hulle vryheid verloor het. Dit was geen vrede met blydskap en triomf nie, maar met bitterheid en in die aangesig van derduisende vermoorde vroue en kinders en honderde afgebrande plase. Daarom staan die dag ook as Bittereinderdag bekend, om die te eer wat tot die bitter einde toe uitgehou het en word as sulkes in Orania herdenk. Nogtans markeer die dag nie net neerlaag nie, maar ook die begin van ‘n
proses van heropstanding uit die as. Dit moet vir huidige geslagte Afrikaners wat in sak en as sit oor die verlies van mag en oor die onvermoë om die verval van alles wat vir ons mense kosbaar is te stuit as inspirasie dien. Die omstandighede is natuurlik vandag anders as in 1902, maar eintlik was die Afrikanervolk destyds meer teen die grond en het minder rede tot hoop gehad as vandag.
In Orania word die dag op ‘n gewyde manier herdenk, met ‘n besoek aan die nabye Oranjerivier-konsentrasiekampterrein, waar die grafte van vroue en kinders skoongemaak word en blomme ter ere van hulle offers op die grafte gesit word. Daarby word ook die lyding van destyds deur historiese vertellings en die besoek van die museum en die herinneringsmuur in herinnering geroep. Dit is ‘n gewyde en hartroerende geleentheid, maar die ontspanne saamkuier na die tyd op egte Boeremanier ontbreek nie. Immers gaan dit ook oor die huidige Afrikanervolk wat wel moet onthou, maar wat na die toekoms kyk en wat ten spyte van lyding en groot verliese nog hier is en wat nog geslagte lank hier wil wees.
Vanjaar het daar behalwe die gebruiklike besoek aan die Oranjerivier Konsentrasiekamp nog ‘n gebeurtenis plaasgevind, naamlik die trek van ‘n mooi versierde ossewa van Orania padlangs tot by die uitspanning in ‘n wildreservaat, sowat 3 kilometers ver. Inwoners het meegedoen en die wa help trek en stoot en ‘n konvooi voetgangers en motors het gevolg tot by die uitspanning. Daar is gemmerbier en boerebrood genuttig en saamgekuier. Dit was ook simbolies dat die Oraniërs saam die wa kan trek en saam vorentoe gaan. Die bekende klagte in Afrikanergeledere “ons kan nie saamstaan nie (omdat ons nie almal een leier, een party en een kerk het nie)” word op Orania verkeerd bewys. Ons kan saamstaan vir ‘n gedeelde ideaal.
Die Uitspanning is ;n inisiatief van Hester en Christiaan van Zyl om ‘n ossewalaer te skep waarin mense kan oornag om iets van die atmosfeer van die Groot Trek te beleef. Verskeie mooi versierde waens wat deel was van die 1988 Gedenktrek staan reeds daar. Die Uitspanning verblyfplek in die natuur sal ‘n unieke kulturele terrein en toeristeaantreklikheid wees. Terwyl op ander plekke die voetspoere van die Afrikaners doodgevee word of deur die winde van verandering weggewaai word, word hier op Orania weer penne ingeslaan en letterlik nuwe (ossewa)spore gelaat.