Bittereinderweek artikel 3: Kan jy grond met jou bloed koop?

deur ds Ronald Bain

Dwarsdeur die die Ou-Testament maak die Here dit duidelik dat die hele aarde, en daarom spesifiek die beloofde land aan Hom behoort. Daarna verwys die Here as ‘sy land’. Baie gedeeltes kan genoem word. Dink byvoorbeeld aan 2 Kronieke 7:19,20: Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het.

Dis ook in die wetgewing rondom die sabbatsjaar en die jubeljaar dat die Here dit duidelik maak dat hulle land ’n gawe aan sy volk is.

Grond as geskenk tot aanbidding

In Levitikus 25 lees ons dat die Here sy volk beveel dat hulle die land elke sewende jaar moet laat rus. Ons moet die rede hiervoor nie eerstens soek in beter oeste nie. Ons moet die rede hiervoor veral daarin soek dat dit die Here se land nie misbruik mag word nie. Hy moet daardeur en daarop aanbid word.

Dis veral by die Jubeljaar dat die Here iets hiervan openbaar. Die Jubeljaar vind na elke 49ste jaar plaas. Dis die volheidsgetal van 7 maal 7. In daardie jaar moet al die erfgrond van mense wat dit verloor het weer terug gegee word.

Waarom? Want die grond behoort aan die Here en Hy het dit as ’n gawe aan sy kinders gegee. In Levitikus 25:23 en 24 staan daar in aansluiting by die jubeljaar: Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. Die kerk van die Here kry dus grond om te aanbid en God te eer.

Om grond te hê is genade

Toe Israel die beloofde land in besit geneem het, het daar ontsaglik baie bloed gevloei. Dit het baie bloed en sweet geverg om die beloofde land af te eis van die heidense volke. Al het die Here self vir sy volk gestry, was die stryd om die beloofde land ’n baie harde stryd. Dit het baie bloed en sweet gekos.

Tog het die Here sy volk dit nooit toegegee dat hulle kon sê dat hulle die grond met hulle bloed en sweet gekoop het nie. ’n Genade geskenk kan nie verdien en geëis word nie. Die volk mag nooit gesê het nie: hierdie is ons grond, want ons voorvaders het hulle bloed hiervoor gegee. Of hierdie is ons grond, want ons het hierdie land oopgewerk nie. Ons sweet het hierdie grond deurdrenk nie.

Die Here het dit gegee uit genade. Daarom is die grond wat die Here gee vir ons baie kosbaar, want dit is sy gawe, ’n deel van ons erfenis. Maar ons grond is net waarlik ons s’n, as dit dien waarvoor dit gegee is: om Hom te aanbid.

Nooit mag ’n gelowige dus sê: ons het hierdie grond met ons bloed gekoop nie. Dan eis ons die grond vir onsself op. Dan is dit werke en nie meer genade nie. Dan maak ons van ons grond ’n afgod, in plaas van ’n middel tot aanbidding. Dan is dit my verdiende bloedgrond en nie my erfdeel nie.

Net Een kon grond met sy bloed koop

Daar is net Een wat deur sy gehoorsaamheid grond kon verdien het. Daar is net Een wat deur sy bloedsweet grond kon bekom het. Daar is net Een wat grond met sy bloed kon koop. Jesus Christus is die enigste wat grond met bloed gekoop het. Ons Here het ’n hele nuwe aarde vir ons gekoop – om vir ewig op te woon. Die duur gekoopte grond word ons erfdeel.

Dit leer ons egter dat die ou aarde wat aan die Here behoort, nou reeds geheilig moet word deur ’n gehoorsame lewe. Ons moet grond hê om te aanbid. Ons moet ruimte en blyplek hê om die skepping te bewerk en te bewaak, maar dit bly altyd genade en dit bly altyd die Here se gawe aan ons.

As die Voortrekkers geglo het dat hulle grond met hul bloed gekoop is sou hulle nooit getrek het nie. Hulle sou nooit ’n beloofde toekoms op ’n ander stuk grond in die geloof kon sien nie. Hulle het geglo dat die Here weer ander grond kan gee om Hom in vryheid te aanbid.

Die Boererepublieke het wel ten bloede toe gestaan in hulle stryd teen Engeland wat hulle land wou hê. Dink maar aan generaal Christiaan de Wet se telegram aan president Kruger toe Kruger mismoedig geword het na agt maande van oorlog. Daarin bemoedig hy die president dat die stryd moet voortduur want dit weeg nie op teen die onafhanklikheid van ons erfdeel nie. Die Bittereinders het end-uit gestry vir die gawe wat God gee, want hulle het geweet dat Engeland hul aanbidding in gedrang bring.

Maar dit was vir hulle nie bloedgrond nie. Dit was erfgrond soos De Wet gesê het. Daar is ’n reuse verskil.

Mense wat glo dat grond met mensebloed gekoop is kan geen nuwe toekoms bedink op ’n plek waar die Here vir ’n kultuurgemeenskap nuwe blyplek gee nie. Dit kan gevaarlik wees. Maar wie grond as gawe van God bely kan nuwe grond raaksien en maak dit ruim en oop vir nog baie meer om daar te woon, te gedy en te aanbid.

Bittereinderweek artikel 2: Die Koste aan die Bitter Einde

deur John Strydom

Die Tweede Vryheidsoorlog is ’n ikoniese stryd in wêreldgeskiedenis. Vir sover oorlog romanties kan wees, het hierdie botsing verbeeldings en emosies aangegryp soos selde tevore in die geskiedenis. Die Boere het gewen en verloor, en die Engelse het gewen en verloor.

‘The South African War (a.k.a the Anglo-Boer War) remains the most terrible and destructive modern armed conflict in South Africa’s history. It was an event that in many ways shaped the history of 20th Century South Africa.’- Giliomee en Mbenga, New History of South Africa.

Die finansiële koste vir die Engelse was duiselingwekkend.

“Dit sou die duurste konflik wees waarby die Britse Ryk sedert 1815 betrokke sou wees,” merk Hermann Giliomee in sy boek Die Afrikaners: ’n biografie (2004)

Aan Boerekant was verliese selfs meer.

As gevolg van die Verskroeideaardebeleid, sou daar eerstens grootskaalse armoede na afloop van die oorlog wees. Sowat 90 % van die plaaswonings in die Vrystaat was beskadig of vernietig en in Transvaal was daar eweneens grootskaalse skade aan geboue aangerig.

Plaasgereedskap is dikwels vernietig; oeste afgebrand en veetroppe uitgedun. In Transvaal was 73 % van die skape, 80 % van die beeste en 75 % van die perde doodgemaak. In die Vrystaat was bykans 60 % van die beeste en 55 % van die skape uitgewis. Daar is na die oorlog £ 10 900 000 se eise ingedien vir eiendom wat vernietig is. Alhoewel die Britte £ 3 000 000 as kompensasie aan die Boere uitbetaal het na afloop van die oorlog, was dit veels te min in vergelyking met die skade wat tydens die oorlog aangerig is.

Oor die behaalde voordeel of “prys” gewen kan mens redeneer. Die mees kosbare is waarskynlik Britse toegang tot ons grondstowwe. Maar ek wonder oor die koste/ voordeel verhouding aan Boerekant.

Wat het ons verloor? Daardie kosbare, kosbare ding wat die ANC in die vorige eeu, en ons tans weer voor stry: Vryheid. Wat is dit werd? Menings wissel. Wat het ons verder verloor? Die oorgrote meerderheid van ons burgers was waarskynlik boere, of verbonde aan landbou.

Sowat 15 000 van die burgers kon nie na afloop van die oorlog hulle boerderye hervat nie en moes as ongeskoolde arbeiders in die dorpe en stede gaan werk. Aangesien baie grondeienaars te arm was om boerderyaktiwiteite te hervat, was hulle eweneens te arm om bywoners op die plase in te neem. Hierdie bywoners het meestal in dorpe beland waar hulle bygedra het tot die armblankevraagstuk.

Hoe sou landbou vandag lyk as 15 000 boere nie meer kan boer nie? Dit beklemtoon hoe groot hierdie hou was. Ons het ook ’n geslag jong manne (burgers), en ’n geslag gesonde jong kinders verloor of sien skade ly. Ek haal graag aan uit ’n Meestersgraadverhandeling wat in 2017 afgehandel is aan die US. Hierdie studie fokus spesifiek op die invloed van die Anglo Boereoorlog (ABO) op kinders:

“Kinders verskil van volwassenes deurdat hulle nog ontwikkelend is. Hulle beskik gevolglik nie oor dieselfde hanterings- en beskermingsmeganismes as volwassenes nie. Indien daar dus nie aan hulle basiese behoeftes voldoen word nie, kan dit tot gevolg hê dat hulle ontwikkeling hierdeur geraak word. Dit kan in langtermyn gevolge manifesteer.”

 

“Hoë sterftesyfers, die verlies aan tuiste en speelgoed, die tydelike skeiding van vaders en dikwels permanente verlies van geliefdes, kan op kinders wat nie oor die nodige hanteringsmeganismes beskik nie ’n groot invloed hê. Vir normale ontwikkeling om te kan plaasvind, moet kinders sekere ontwikkelingstake in spesifieke venstersperiodes afhandel. Indien dit nie gebeur nie, kan dit lewenslange krissise tot gevolg hê.”

 

“Wanneer kinders nie toegang tot voldoende voedsel het nie, kan dit hulle ontwikkeling eweneens op die langtermyn beïnvloed. Die eerste duisend dae (vanaf konsepsie tot by tweejarige ouderdom) is ’n kritiese tydperk wat ontwikkeling aanbetref. Wanvoeding tot op die ouderdom van vyf kan egter nog grootliks ’n invloed op kinders se ontwikkeling hê. Vir optimale ontwikkeling is basiese voedingstowwe egter nodig. Indien dit nie ingeneem word nie, ontwikkel gebreke. Alhoewel die impak van bogemelde in sommige gevalle omkeerbaar is wanneer die omstandighede verbeter, is dit nie altyd die geval nie. Dit kan dus ’n blywende invloed hê.”

In hierdie studie is bevind dat die tydperk wat die kinders in die kampe was, hulle wel op verskeie vlakke kon beïnvloed. Aangesien ’n groot hoeveelheid van die Republieke se kinders wel vir ’n tydperk in die kampe was, sou hierdie invloed moontlik omvattend kon wees – ook op die toekoms van Suid-Afrika.

Het ons iets gewen? Ons het ongekende respek gewen op die gevegsfront (al was die groot meerderheid alles behalwe soldate). Deneys Reitz se Commando (1929) is wat my betref verpligte leesstof vir enige oorlogsugtige jong (of ouer!) leunstoelsoldaat. Dit is ’n skitterende verslag van die ABO en lees onverbeterlik. Verder getuig feitlik elke boek oor die ABO sedertdien uitgegee (soms teësinnig!) van die Boere se bomenslike uithouvermoë, veldkuns en meer.

As ons egter koud en klinies na die skaal kyk, het ons meer verloor as gewen. Maar dit word selde koud en klinies bekyk: veral omdat gevolge dikwels nog oor dekades ná ’n oorlog eers sigbaar word, en dikwels nog geslagte lank gevolge het: dink aan die meeste van ons se grootouers of oorgrootouers wat tot onlangs nog haat gespoeg het teenoor die bestuur of filosowe wat konsentrasiekampe geïmplementeer het. En daar word geglo dat die gevolge hieronder die gevolg was van die Anglo Boereoorlog se trauma:

“Sou die kulminerende effek van gebrek aan stimulering, wanvoeding, trauma en skeiding moontlik daartoe kon lei dat Lindley se magistraat, Albert Brand, die volgende oor die 1914-rebelle gesê het: “They were not people of standing and responsibility”?  Teen einde 1915 skryf Merriman ’n brief aan Smuts, waarin hy die rebelle beskryf as “wretched folk…ready for any mischief”. C.W. de Kiewiet, wat deur Hermann Giliomee as een van Suid-Afrika se mees begaafde historici bestempel word, skryf ’n paar jaar na die rebellie dat daar drie struikelblokke in die pad van vinnige ekonomiese groei in Suid- Afrika sou wees, naamlik “low-grade ore, low-grade land, and also low-grade human beings”.

Hermann Giliomee skryf dat Afrikaners gedurende die eerste kwart van die twintigste eeu die radikaalste deel van die bevolking van die Witwatersrand uitgemaak het. Hy vervolg: “Baie jare lank was die meeste wit straatboewe en jeug-misdadigers Afrikaners. Nog ’n “alternatiewe” wyse van bestaan was prostitusie. Hierdie Afrikaners het die hele Afrikanergemeenskap gestigmatiseer.” En verder:

“Die myne was ’n politieke kruitvat. In die eerste tien jaar van die Unie het die proporsie van die wit mynwerkers wat immigrante was, skerp afgeneem. Teen 1918 het Afrikaners die meeste van die gevaarlike ondergrondse poste beklee. Hulle was die radikaalste werkers wat die mynmaatskappye nog gehad het.”

Selfs die hedendaagse politiek is daardeur beinvloed.

“Die oorlog en die uitslag daarvan het ’n woede laat ontstaan [wat gelei het tot] die mobilisering van die swart mense [en] die geboorte van die African National Congress. Dit was die Britte wat nie besef het hoe belangrik demokrasie is nie … hoe belangrik dit is om beloftes na te kom nie,” sê kulturele historikus Otsile Ntsoane.

Is daar ’n les? My beskeie mening is dat oorlog, geweld, haat en opstand die Afrikaner nie tot vryheid sal bring nie. In ons omstandighede is daar ’n nood aan versigtigheid, wysheid, goeie kommunikasie, en veral die heldere beeld van ’n doel waartoe gewerk moet word: gee eerder nou prys en bou, bou, bou aan ’n werklikheid. Ek staan sonder twyfel agter SABRA se twee voorwaardes vir ons oorlewing: konsentrasie in ’n gebied, en eie arbeid. Bou is hoopskeppend, positief en skep selfs by teenstanders positiewe emosies. Aggressie skep eerstens wederkerige negatiewe emosies en ’n swak wegspring vir onderhandeling. Die VSA kan dit bekostig – Afrikaners beslis nie.

Daar is ander plekke en maniere om te oorleef, maar nie vreesloos en openlik as Afrikaners nie. Ons kan later weer stry en veg: nou moet ons eers bou.

Bittereinderweek artikel 1: As stryd mens saamsnoer…

As stryd mens saamsnoer…

Deur Pieter Krige

Die jaar was 1899 en die politieke klimaat was warm. Die twee Boererepublieke, naamlik die Zuid-Afrikaanse Republiek, of dan die Transvaal, en die Republiek van die Oranje Vrystaat het sedert die Groot Trek na die Noorde, die Britte met ’n bepaalde ongemak gelaat. Die feit is, van die Kroon se onderdane, het sommer net onder die Kroon se mag uitgetrek, en die Empaaier het nie regtig geweet hoe om dit te hanteer nie. So het die tyd verloop, dit is nou sedert die Trek hier in die 1830’s rond, en vir bykans een geslag het die Boererepublieke gegroei tot die twee groottes wat sopas genoem is. Daar was veel meer aan die begin, soos elke trekgeselskap hul tuiste in die Noorde kom vind het, maar dié het mettertyd almal onder die twee Boererepublieke ingeval. Dit was veral aan die Transvaal kant waar die politieke klimaat en die konflik met Brittanje hoër vlakke bereik het, soos die fluisteringe van die kosbare edelmetaal hoorbaar geword het. Ja, daar was goud. Trichardt het al geskryf van goud in die riviere, dit is nou tydens die Trek, en sporadies het goudsoekers die Transvaal begin deursoek vir rykdom. Dit is egter met die ontdekking van die groot goudvelde van die Witwatersrand dat die Kroon met belangstelling kennis geneem het.

Ons is nou hier in die vroeë deel van die dekade van 1880, en die goud aan die Rand was volop. En so het Britse goudjagters per skip, na skip, die tog van die Noorde, dit is nou die verre Noorde, daar vanaf die eilandjie wat deel van Europa vorm, en in die Kaap en Natal aangeland, hul goedjies gepak en na die Transvaal begin beweeg, agter goud en kitsrykdom aan.

Die een probleem wat die Britse prospekteerders egter gehad het, is dat hulle, sodra hulle die rivier oorgesteek het, hulself in ander, nuwe soewereine state bevind het, waar ander reëls gegeld het as in die Empaaier. En een van die reëls was dat die Boere die goud as hul eiendom beskou het, dit was immers in hul grondgebied, en die prospekteerders wat nie-Boere was, is swaar belas op die ontginning van die metaal. En so het die klagtes na koning George begin deurkom, en so het die Empaaier en die republieke, veral die Transvaal, vir mekaar gegluur. Dit natuurlik ook na die slag van Amajuba, wat in die begin van die dekade die Britse edele-ego lelik gekneus het.

Nou wil ek nie hier ’n inleiding tot die Tweede Vryheidsoorlog of dan die Anglo-Boere oorlog probeer skryf nie. Hiervan is daar vele, maar eintlik oor die rol van ’n baie unieke en soms vergete vlag, die Strydvlag.

President Kruger het aan die Britte die ultimatum gestuur, hulle het hul nekke styfgetrek, en die oorlog het uitgebreek, eintlik tussen die Empaaier en die ZAR, maar die woorde van President Steyn op 27 September 1899 ego in my gedagtes vanoggend: “Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”

En hier staan twee Boererepublieke, gewone boere, op teen die magtige Britse Empaaier. En hulle verenig onder ’n nuwe vlag, die Strydvlag of Vyfkleur. Die vlag wat saamgestel is uit die Transvaalse Vierkleur en die vlag van die Oranje Vrystaat.

Daar was drie variasies van hierdie vlag, waarvan die mees bekende die een is met die oranje band onder die Vierkleur aangeheg, ook die vyfkleur genoem. Die ander twee variasies was die een met die oranje streep skuins van links onder na regs bo, en dan ook met die streep van regs onder na links bo.

Ek is nie ’n historikus nie, en weet ook heeltemal te min van heraldiek af om die betekenis te probeer uitlê, maar ek dink dit was veel eenvoudiger as ’n heraldiese besluit of oorweging. Dit was eenvoudig, twee groepe Boere, met hul eie Republieke, eie stelsels, eie strukture, wat deur ’n groot oormag gedwing was om saam te staan. Ek vermoed die Boere het sommer self, so op kommando, stukke Oranje gesoek en op die vlag vasgewerk, want nood en bedreiging het hulle saamgedwing, en Boer maak ’n plan.

Die Strydvlag word dan ’n simbool van saamstaan.

Dit is nou die jaar 2020, daar is nie Boererepublieke nie, daar is wel nog Boere, regoor die wêreld, en Boere georganiseerd in verskeie instellings, partye, groepe… En in hierdie Bittereinderweek wil ek President Steyn se woorde aan die Strydvlag hang, en die laer groter maak. Ons kan miskien maar later weer onderling baklei oor wie waar wat gedoen of gesê het, oor watter nuanse van volkwees ons verkeerd verstaan of verklaar, oor wie watter titel of rol sal speel…

Die 1902 end van hierdie oorlog was bitter, en die Empaaier het, brutaal, ons tot oorgawe gedwing. Maar die vlag het in ons harte gewapper en ons het die Britte twee keer laat dink… en paar keer laat les opsê.

Vandag staan ons teen magte en kragte, veel groter as onsself, en as ons elkeen alleen staan gaan dit ’n kort staan en val wees.

“Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”

Gewond maar onoorwonne.

 

Om in Orania te bly te midde van ’n wêreld wat in duie stort

deur Pieter Krige

Ek begin dalk met ’n oorgedramatiseerde titel, maar as die wêreld nie besig is om in duie te stort nie, is dit so naby daaraan soos dêmmit aan ’n vloekwoord.

Orania is ook gegrendel, en ons loop met die maskertjies rond en spuit die alkohol soos op ’n 21ste verjaarsdagpartytjie by ’n manskoshuis op Tuks. Ons werk maar van die huise af, diegene wat kan, en ander noodsaaklike dienste gaan volstoom voort. Ek hoor darem so af en toe ’n Dorpskantoorbakkie hier op die Rooipad verby dreun…

Natuurlik leef ons in die vol en onpersoonlike digitale wêreld en ons kan kommunikeer met wie ons wil, maar aangesien tot 90% van alle menslike kommunikasie nie-verbaal en liggaamstaal is, mis die mensdom maar meestal mekaar totaal en al tussen die emosikone deur.

Ek wil eintlik nie daaroor praat nie – ja die geld is hier ook maar skaars en minder, maar ons gaan aan, wat anders kan mens maak?

Ek wil gesels oor die Orania waarvan julle min sal hoor, want mens kan nie ’n mooi foto daarvan neem en dit deel nie, want dit is die Orania-hart. Mens kan dit hoor klop, voel bruis deur die volk se are, maar jy kan dit nie op Instagram plaas nie. En ek gaan slegs oor my eie belewenis skrywe, vier dinge wat my, te midde van die krisis, die Orania-hart laat voel het. En van dit mag dalk selfs vir sommige van julle onbenullig wees, maar dit maak vir my hierdie plek huis.

Die eerste was ’n oproep – en ja, ma, ek rook nog… ’n Oproep, uit die bloute, vanaf ’n goeie Oraniër wat self nie rook nie, maar pakkies tabak in sy kaste het om goggas, seker goggas soos ekselwers, weg te hou. “Pieter, kom haal dit gerus…” “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”

Orania-hart wat my pyp aan’t rook hou.

Die tweede was ’n oproep van iemand wat henne het wat huis kort, en ons het ’n hok wat henne kort. Orania-hart en eiers vir die pan.

Die derde was ’n jongman wat in ’n gesprek hoor ek soek nog ’n haan. “Ek bring vanmiddag vir jou.” En met die aflaai: “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”

En die vierde was toe ’n buurman stop en my een van die laaste pakkies tabaksaad in die land in die hand stop, want lente plant ons tabak op die hoewe. “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”

Jy sien, klein dinge wat Orania se hartklop is; klein dinge, want mense sien mekaar raak en gee om; klein dinge wat die krisis laat wegraak agter die magtige dreuning van Afrikanerhart.

Mag ek ook eendag weer soos hierdie vier Oraniërs die Afrikanerhart hoorbaar laat klop.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.

Korrupsie en die Afrikaner

deur Annemarie Hoogenboezem

Dit is ’n morele kwessie wat al ’n tydlank in my kop rondmaal, die vraag oor of ’n mens as deel van ’n korrupte sisteem net so skuldig is aan die misdade selfs al is jy nie direk daarvoor verantwoordelik nie. Maar word ons dan nie juis opgeroep om in die geloof lig en sout in hierdie sondige wêreld te wees nie?

Ek dink aan die duisende Afrikaners wat steeds werk vir staatsinstellings soos die Polisie, SARS, die Reserwebank, Eskom en talle ander. Persone wie se pensioene deesdae in gedrang is nadat hulle dekades getrou hulle werk vir die regering gedoen het. Ons kan hulle veroordeel en sê dat hulle lankal reeds van hierdie korrupte instansies moes bedank het en ander poste by ander instansies aanvaar het. Ons kan hulle selfs jammer kry oor hulle moontlik onoordeelkundige besluit om aan te hou werk vir ’n regering wat herhaaldelik oor die afgelope 25 jaar bewys het dat hulle weens swak bestuur besig is om die skip te laat sink.

Maar, sou ons dalk vandag in ’n slegter posisie gewees het sonder hierdie Afrikaners? Dit is nou as ons aanneem dat hulle in die jare wat hulle in die staat se diens was getrou aan hulle Christelike waardes opgetree het. Die land sou dalk selfs vinniger oor die afgelope dekades verval het as hierdie Afrikaners besluit het om van die spreekwoordelike sinkende skip se dek af te spring en toe te laat dat korrupsie Suid-Afrika soos ’n golf insluk.

Dalk is dit juis hierdie alledaagse mense wat te midde van ’n oneerbare sisteem aangehou het om in die klein dingetjies volgens etiese beginsels op te tree, wat dit moontlik gemaak het vir die talle Afrikaner-instellings om te ontwikkel tot op ’n lewensvatbare vlak vandag. Miskien het hierdie Afrikaners die fort gehou vir so lank as wat hulle kon terwyl dit ander die kans gegee het om hulle instellings en besighede te vestig. Dit is moontlik dat Orania selfs ’n voorbeeld van so ’n instelling is wat gebou is deur Afrikaners om vandag byna selfstandig te kan funksioneer terwyl ander Afrikaners die staat staande gehou het solank ons daarvan afhanklik was.

Die teendeel kan natuurlik ook waar wees: Dat die Afrikaners wat vir dekades in die staat se diens gebly het hulle self skuldig gemaak het aan bedrog; dat hulle aangepas het by die sisteem van korrupsie en kader-bevoordeling sodat hulle self kon vooruitgaan. ’n Universele waarheid is dat mense aanpas by hulle omstandighede, dit is ’n oorlewingsmeganisme wat ons as Afrikanervolk deur verskeie uitdagings soos die Groot Trek en uiteindelik die Vryheidsoorloë gedra het. Het dit veroorsaak dat ons Afrikaners soos die padda in die kookpot geword het en nou dat die water kookpunt in Suid-Afrika begin bereik eers besluit om uit die pot te spring? Het Afrikaners se aanpasbaarheid juis hulle swakpunt geword?

Talle Afrikaners het ophou droom van vryheid en onafhanklikheid, hulle het vergeet wat dit is en hoe dit voel. Hulle het hulle lot onder die huidige regime begin aanvaar en ophou praat van die Transvaal en volksvreemde name soos Gauteng en Limpopo begin gebruik vir areas wat oorspronklik deur die Afrikaner gekarteer en benoem is. Maar dit is ’n ander saak. Die feit bly dat die Afrikaner vergeet het dat sy kultuur in sy gebeente sit, veel dieper as die oppervlakkige “braai, rugby en koeksisters” waartoe die Afrikanerkultuur deesdae gereduseer word. Die Afrikaner-identiteit word gekenmerk deur ’n onwankelbare geloof, ’n deursettingsvermoë van staal, ’n hardkoppigheid, ’n hartlikheid, sagmoedigheid en ’n voorliefde vir eerlikheid en regverdigheid. So is Afrikaners in die werksplek dikwels bekend vir hulle toewyding, deeglike werk, integriteit en ywer.

Dit maak my meermale verdrietig om te dink dat hierdie goeie deugsame waardes en werksetiek van die Afrikaner aangewend word tot voordeel van ’n staat wat nie die Afrikaner se belange op die hart dra nie. Lei die werk wat Afrikaners vir die staat doen nie as ‘t ware tot die Afrikaner se eie ondergang nie?

Is dit beter om jou goeie invloed te laat geld in ’n korrupte instelling of is dit beter om kop uit te trek en nie deel te hê aan die uiteindelike korrupte invloed van die instelling waarvoor jy werk nie?

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel