fbpx

deur ds Ronald Bain

Dwarsdeur die die Ou-Testament maak die Here dit duidelik dat die hele aarde, en daarom spesifiek die beloofde land aan Hom behoort. Daarna verwys die Here as ‘sy land’. Baie gedeeltes kan genoem word. Dink byvoorbeeld aan 2 Kronieke 7:19,20: Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het.

Dis ook in die wetgewing rondom die sabbatsjaar en die jubeljaar dat die Here dit duidelik maak dat hulle land ’n gawe aan sy volk is.

Grond as geskenk tot aanbidding

In Levitikus 25 lees ons dat die Here sy volk beveel dat hulle die land elke sewende jaar moet laat rus. Ons moet die rede hiervoor nie eerstens soek in beter oeste nie. Ons moet die rede hiervoor veral daarin soek dat dit die Here se land nie misbruik mag word nie. Hy moet daardeur en daarop aanbid word.

Dis veral by die Jubeljaar dat die Here iets hiervan openbaar. Die Jubeljaar vind na elke 49ste jaar plaas. Dis die volheidsgetal van 7 maal 7. In daardie jaar moet al die erfgrond van mense wat dit verloor het weer terug gegee word.

Waarom? Want die grond behoort aan die Here en Hy het dit as ’n gawe aan sy kinders gegee. In Levitikus 25:23 en 24 staan daar in aansluiting by die jubeljaar: Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. Die kerk van die Here kry dus grond om te aanbid en God te eer.

Om grond te hê is genade

Toe Israel die beloofde land in besit geneem het, het daar ontsaglik baie bloed gevloei. Dit het baie bloed en sweet geverg om die beloofde land af te eis van die heidense volke. Al het die Here self vir sy volk gestry, was die stryd om die beloofde land ’n baie harde stryd. Dit het baie bloed en sweet gekos.

Tog het die Here sy volk dit nooit toegegee dat hulle kon sê dat hulle die grond met hulle bloed en sweet gekoop het nie. ’n Genade geskenk kan nie verdien en geëis word nie. Die volk mag nooit gesê het nie: hierdie is ons grond, want ons voorvaders het hulle bloed hiervoor gegee. Of hierdie is ons grond, want ons het hierdie land oopgewerk nie. Ons sweet het hierdie grond deurdrenk nie.

Die Here het dit gegee uit genade. Daarom is die grond wat die Here gee vir ons baie kosbaar, want dit is sy gawe, ’n deel van ons erfenis. Maar ons grond is net waarlik ons s’n, as dit dien waarvoor dit gegee is: om Hom te aanbid.

Nooit mag ’n gelowige dus sê: ons het hierdie grond met ons bloed gekoop nie. Dan eis ons die grond vir onsself op. Dan is dit werke en nie meer genade nie. Dan maak ons van ons grond ’n afgod, in plaas van ’n middel tot aanbidding. Dan is dit my verdiende bloedgrond en nie my erfdeel nie.

Net Een kon grond met sy bloed koop

Daar is net Een wat deur sy gehoorsaamheid grond kon verdien het. Daar is net Een wat deur sy bloedsweet grond kon bekom het. Daar is net Een wat grond met sy bloed kon koop. Jesus Christus is die enigste wat grond met bloed gekoop het. Ons Here het ’n hele nuwe aarde vir ons gekoop – om vir ewig op te woon. Die duur gekoopte grond word ons erfdeel.

Dit leer ons egter dat die ou aarde wat aan die Here behoort, nou reeds geheilig moet word deur ’n gehoorsame lewe. Ons moet grond hê om te aanbid. Ons moet ruimte en blyplek hê om die skepping te bewerk en te bewaak, maar dit bly altyd genade en dit bly altyd die Here se gawe aan ons.

As die Voortrekkers geglo het dat hulle grond met hul bloed gekoop is sou hulle nooit getrek het nie. Hulle sou nooit ’n beloofde toekoms op ’n ander stuk grond in die geloof kon sien nie. Hulle het geglo dat die Here weer ander grond kan gee om Hom in vryheid te aanbid.

Die Boererepublieke het wel ten bloede toe gestaan in hulle stryd teen Engeland wat hulle land wou hê. Dink maar aan generaal Christiaan de Wet se telegram aan president Kruger toe Kruger mismoedig geword het na agt maande van oorlog. Daarin bemoedig hy die president dat die stryd moet voortduur want dit weeg nie op teen die onafhanklikheid van ons erfdeel nie. Die Bittereinders het end-uit gestry vir die gawe wat God gee, want hulle het geweet dat Engeland hul aanbidding in gedrang bring.

Maar dit was vir hulle nie bloedgrond nie. Dit was erfgrond soos De Wet gesê het. Daar is ’n reuse verskil.

Mense wat glo dat grond met mensebloed gekoop is kan geen nuwe toekoms bedink op ’n plek waar die Here vir ’n kultuurgemeenskap nuwe blyplek gee nie. Dit kan gevaarlik wees. Maar wie grond as gawe van God bely kan nuwe grond raaksien en maak dit ruim en oop vir nog baie meer om daar te woon, te gedy en te aanbid.