fbpx

deur John Strydom

Die Tweede Vryheidsoorlog is ’n ikoniese stryd in wêreldgeskiedenis. Vir sover oorlog romanties kan wees, het hierdie botsing verbeeldings en emosies aangegryp soos selde tevore in die geskiedenis. Die Boere het gewen en verloor, en die Engelse het gewen en verloor.

‘The South African War (a.k.a the Anglo-Boer War) remains the most terrible and destructive modern armed conflict in South Africa’s history. It was an event that in many ways shaped the history of 20th Century South Africa.’- Giliomee en Mbenga, New History of South Africa.

Die finansiële koste vir die Engelse was duiselingwekkend.

“Dit sou die duurste konflik wees waarby die Britse Ryk sedert 1815 betrokke sou wees,” merk Hermann Giliomee in sy boek Die Afrikaners: ’n biografie (2004)

Aan Boerekant was verliese selfs meer.

As gevolg van die Verskroeideaardebeleid, sou daar eerstens grootskaalse armoede na afloop van die oorlog wees. Sowat 90 % van die plaaswonings in die Vrystaat was beskadig of vernietig en in Transvaal was daar eweneens grootskaalse skade aan geboue aangerig.

Plaasgereedskap is dikwels vernietig; oeste afgebrand en veetroppe uitgedun. In Transvaal was 73 % van die skape, 80 % van die beeste en 75 % van die perde doodgemaak. In die Vrystaat was bykans 60 % van die beeste en 55 % van die skape uitgewis. Daar is na die oorlog £ 10 900 000 se eise ingedien vir eiendom wat vernietig is. Alhoewel die Britte £ 3 000 000 as kompensasie aan die Boere uitbetaal het na afloop van die oorlog, was dit veels te min in vergelyking met die skade wat tydens die oorlog aangerig is.

Oor die behaalde voordeel of “prys” gewen kan mens redeneer. Die mees kosbare is waarskynlik Britse toegang tot ons grondstowwe. Maar ek wonder oor die koste/ voordeel verhouding aan Boerekant.

Wat het ons verloor? Daardie kosbare, kosbare ding wat die ANC in die vorige eeu, en ons tans weer voor stry: Vryheid. Wat is dit werd? Menings wissel. Wat het ons verder verloor? Die oorgrote meerderheid van ons burgers was waarskynlik boere, of verbonde aan landbou.

Sowat 15 000 van die burgers kon nie na afloop van die oorlog hulle boerderye hervat nie en moes as ongeskoolde arbeiders in die dorpe en stede gaan werk. Aangesien baie grondeienaars te arm was om boerderyaktiwiteite te hervat, was hulle eweneens te arm om bywoners op die plase in te neem. Hierdie bywoners het meestal in dorpe beland waar hulle bygedra het tot die armblankevraagstuk.

Hoe sou landbou vandag lyk as 15 000 boere nie meer kan boer nie? Dit beklemtoon hoe groot hierdie hou was. Ons het ook ’n geslag jong manne (burgers), en ’n geslag gesonde jong kinders verloor of sien skade ly. Ek haal graag aan uit ’n Meestersgraadverhandeling wat in 2017 afgehandel is aan die US. Hierdie studie fokus spesifiek op die invloed van die Anglo Boereoorlog (ABO) op kinders:

“Kinders verskil van volwassenes deurdat hulle nog ontwikkelend is. Hulle beskik gevolglik nie oor dieselfde hanterings- en beskermingsmeganismes as volwassenes nie. Indien daar dus nie aan hulle basiese behoeftes voldoen word nie, kan dit tot gevolg hê dat hulle ontwikkeling hierdeur geraak word. Dit kan in langtermyn gevolge manifesteer.”

 

“Hoë sterftesyfers, die verlies aan tuiste en speelgoed, die tydelike skeiding van vaders en dikwels permanente verlies van geliefdes, kan op kinders wat nie oor die nodige hanteringsmeganismes beskik nie ’n groot invloed hê. Vir normale ontwikkeling om te kan plaasvind, moet kinders sekere ontwikkelingstake in spesifieke venstersperiodes afhandel. Indien dit nie gebeur nie, kan dit lewenslange krissise tot gevolg hê.”

 

“Wanneer kinders nie toegang tot voldoende voedsel het nie, kan dit hulle ontwikkeling eweneens op die langtermyn beïnvloed. Die eerste duisend dae (vanaf konsepsie tot by tweejarige ouderdom) is ’n kritiese tydperk wat ontwikkeling aanbetref. Wanvoeding tot op die ouderdom van vyf kan egter nog grootliks ’n invloed op kinders se ontwikkeling hê. Vir optimale ontwikkeling is basiese voedingstowwe egter nodig. Indien dit nie ingeneem word nie, ontwikkel gebreke. Alhoewel die impak van bogemelde in sommige gevalle omkeerbaar is wanneer die omstandighede verbeter, is dit nie altyd die geval nie. Dit kan dus ’n blywende invloed hê.”

In hierdie studie is bevind dat die tydperk wat die kinders in die kampe was, hulle wel op verskeie vlakke kon beïnvloed. Aangesien ’n groot hoeveelheid van die Republieke se kinders wel vir ’n tydperk in die kampe was, sou hierdie invloed moontlik omvattend kon wees – ook op die toekoms van Suid-Afrika.

Het ons iets gewen? Ons het ongekende respek gewen op die gevegsfront (al was die groot meerderheid alles behalwe soldate). Deneys Reitz se Commando (1929) is wat my betref verpligte leesstof vir enige oorlogsugtige jong (of ouer!) leunstoelsoldaat. Dit is ’n skitterende verslag van die ABO en lees onverbeterlik. Verder getuig feitlik elke boek oor die ABO sedertdien uitgegee (soms teësinnig!) van die Boere se bomenslike uithouvermoë, veldkuns en meer.

As ons egter koud en klinies na die skaal kyk, het ons meer verloor as gewen. Maar dit word selde koud en klinies bekyk: veral omdat gevolge dikwels nog oor dekades ná ’n oorlog eers sigbaar word, en dikwels nog geslagte lank gevolge het: dink aan die meeste van ons se grootouers of oorgrootouers wat tot onlangs nog haat gespoeg het teenoor die bestuur of filosowe wat konsentrasiekampe geïmplementeer het. En daar word geglo dat die gevolge hieronder die gevolg was van die Anglo Boereoorlog se trauma:

“Sou die kulminerende effek van gebrek aan stimulering, wanvoeding, trauma en skeiding moontlik daartoe kon lei dat Lindley se magistraat, Albert Brand, die volgende oor die 1914-rebelle gesê het: “They were not people of standing and responsibility”?  Teen einde 1915 skryf Merriman ’n brief aan Smuts, waarin hy die rebelle beskryf as “wretched folk…ready for any mischief”. C.W. de Kiewiet, wat deur Hermann Giliomee as een van Suid-Afrika se mees begaafde historici bestempel word, skryf ’n paar jaar na die rebellie dat daar drie struikelblokke in die pad van vinnige ekonomiese groei in Suid- Afrika sou wees, naamlik “low-grade ore, low-grade land, and also low-grade human beings”.

Hermann Giliomee skryf dat Afrikaners gedurende die eerste kwart van die twintigste eeu die radikaalste deel van die bevolking van die Witwatersrand uitgemaak het. Hy vervolg: “Baie jare lank was die meeste wit straatboewe en jeug-misdadigers Afrikaners. Nog ’n “alternatiewe” wyse van bestaan was prostitusie. Hierdie Afrikaners het die hele Afrikanergemeenskap gestigmatiseer.” En verder:

“Die myne was ’n politieke kruitvat. In die eerste tien jaar van die Unie het die proporsie van die wit mynwerkers wat immigrante was, skerp afgeneem. Teen 1918 het Afrikaners die meeste van die gevaarlike ondergrondse poste beklee. Hulle was die radikaalste werkers wat die mynmaatskappye nog gehad het.”

Selfs die hedendaagse politiek is daardeur beinvloed.

“Die oorlog en die uitslag daarvan het ’n woede laat ontstaan [wat gelei het tot] die mobilisering van die swart mense [en] die geboorte van die African National Congress. Dit was die Britte wat nie besef het hoe belangrik demokrasie is nie … hoe belangrik dit is om beloftes na te kom nie,” sê kulturele historikus Otsile Ntsoane.

Is daar ’n les? My beskeie mening is dat oorlog, geweld, haat en opstand die Afrikaner nie tot vryheid sal bring nie. In ons omstandighede is daar ’n nood aan versigtigheid, wysheid, goeie kommunikasie, en veral die heldere beeld van ’n doel waartoe gewerk moet word: gee eerder nou prys en bou, bou, bou aan ’n werklikheid. Ek staan sonder twyfel agter SABRA se twee voorwaardes vir ons oorlewing: konsentrasie in ’n gebied, en eie arbeid. Bou is hoopskeppend, positief en skep selfs by teenstanders positiewe emosies. Aggressie skep eerstens wederkerige negatiewe emosies en ’n swak wegspring vir onderhandeling. Die VSA kan dit bekostig – Afrikaners beslis nie.

Daar is ander plekke en maniere om te oorleef, maar nie vreesloos en openlik as Afrikaners nie. Ons kan later weer stry en veg: nou moet ons eers bou.