As stryd mens saamsnoer…
Deur Pieter Krige
Die jaar was 1899 en die politieke klimaat was warm. Die twee Boererepublieke, naamlik die Zuid-Afrikaanse Republiek, of dan die Transvaal, en die Republiek van die Oranje Vrystaat het sedert die Groot Trek na die Noorde, die Britte met ’n bepaalde ongemak gelaat. Die feit is, van die Kroon se onderdane, het sommer net onder die Kroon se mag uitgetrek, en die Empaaier het nie regtig geweet hoe om dit te hanteer nie. So het die tyd verloop, dit is nou sedert die Trek hier in die 1830’s rond, en vir bykans een geslag het die Boererepublieke gegroei tot die twee groottes wat sopas genoem is. Daar was veel meer aan die begin, soos elke trekgeselskap hul tuiste in die Noorde kom vind het, maar dié het mettertyd almal onder die twee Boererepublieke ingeval. Dit was veral aan die Transvaal kant waar die politieke klimaat en die konflik met Brittanje hoër vlakke bereik het, soos die fluisteringe van die kosbare edelmetaal hoorbaar geword het. Ja, daar was goud. Trichardt het al geskryf van goud in die riviere, dit is nou tydens die Trek, en sporadies het goudsoekers die Transvaal begin deursoek vir rykdom. Dit is egter met die ontdekking van die groot goudvelde van die Witwatersrand dat die Kroon met belangstelling kennis geneem het.
Ons is nou hier in die vroeë deel van die dekade van 1880, en die goud aan die Rand was volop. En so het Britse goudjagters per skip, na skip, die tog van die Noorde, dit is nou die verre Noorde, daar vanaf die eilandjie wat deel van Europa vorm, en in die Kaap en Natal aangeland, hul goedjies gepak en na die Transvaal begin beweeg, agter goud en kitsrykdom aan.
Die een probleem wat die Britse prospekteerders egter gehad het, is dat hulle, sodra hulle die rivier oorgesteek het, hulself in ander, nuwe soewereine state bevind het, waar ander reëls gegeld het as in die Empaaier. En een van die reëls was dat die Boere die goud as hul eiendom beskou het, dit was immers in hul grondgebied, en die prospekteerders wat nie-Boere was, is swaar belas op die ontginning van die metaal. En so het die klagtes na koning George begin deurkom, en so het die Empaaier en die republieke, veral die Transvaal, vir mekaar gegluur. Dit natuurlik ook na die slag van Amajuba, wat in die begin van die dekade die Britse edele-ego lelik gekneus het.
Nou wil ek nie hier ’n inleiding tot die Tweede Vryheidsoorlog of dan die Anglo-Boere oorlog probeer skryf nie. Hiervan is daar vele, maar eintlik oor die rol van ’n baie unieke en soms vergete vlag, die Strydvlag.
President Kruger het aan die Britte die ultimatum gestuur, hulle het hul nekke styfgetrek, en die oorlog het uitgebreek, eintlik tussen die Empaaier en die ZAR, maar die woorde van President Steyn op 27 September 1899 ego in my gedagtes vanoggend: “Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”
En hier staan twee Boererepublieke, gewone boere, op teen die magtige Britse Empaaier. En hulle verenig onder ’n nuwe vlag, die Strydvlag of Vyfkleur. Die vlag wat saamgestel is uit die Transvaalse Vierkleur en die vlag van die Oranje Vrystaat.
Daar was drie variasies van hierdie vlag, waarvan die mees bekende die een is met die oranje band onder die Vierkleur aangeheg, ook die vyfkleur genoem. Die ander twee variasies was die een met die oranje streep skuins van links onder na regs bo, en dan ook met die streep van regs onder na links bo.
Ek is nie ’n historikus nie, en weet ook heeltemal te min van heraldiek af om die betekenis te probeer uitlê, maar ek dink dit was veel eenvoudiger as ’n heraldiese besluit of oorweging. Dit was eenvoudig, twee groepe Boere, met hul eie Republieke, eie stelsels, eie strukture, wat deur ’n groot oormag gedwing was om saam te staan. Ek vermoed die Boere het sommer self, so op kommando, stukke Oranje gesoek en op die vlag vasgewerk, want nood en bedreiging het hulle saamgedwing, en Boer maak ’n plan.
Die Strydvlag word dan ’n simbool van saamstaan.
Dit is nou die jaar 2020, daar is nie Boererepublieke nie, daar is wel nog Boere, regoor die wêreld, en Boere georganiseerd in verskeie instellings, partye, groepe… En in hierdie Bittereinderweek wil ek President Steyn se woorde aan die Strydvlag hang, en die laer groter maak. Ons kan miskien maar later weer onderling baklei oor wie waar wat gedoen of gesê het, oor watter nuanse van volkwees ons verkeerd verstaan of verklaar, oor wie watter titel of rol sal speel…
Die 1902 end van hierdie oorlog was bitter, en die Empaaier het, brutaal, ons tot oorgawe gedwing. Maar die vlag het in ons harte gewapper en ons het die Britte twee keer laat dink… en paar keer laat les opsê.
Vandag staan ons teen magte en kragte, veel groter as onsself, en as ons elkeen alleen staan gaan dit ’n kort staan en val wees.
“Kan de eene Afrikaner neutraal blijven wanneer de andere voor Afrika sterft?”
Gewond maar onoorwonne.
Pieter, daai ís die vraag…
Jy weet sekerlik, soos ekself ook moes ontdek, dat dit nee behoort te wees, maar die teendeel is ook waar en die meeste kies maar die weg van die minste weerstand.
Tog bespeur ek ‘n ontwaking ongekend in my eie leeftyd onder ons mense van alle “klasse” en inkomstegroepe.
Baie besef uiteindelik dat ons niks gaan reg skiet of stem nie en die regering van tans die rug sal móét toekeer as ons enigsins wil oorleef in Afrika.
Ek sien byvoorbeeld ongekende groei in ons eie Brakpan AfriForum tak, om een voorbeeld te noem.
Dis natuurlik ook so dat bitter min werklik verstaan hoe ons hier beland het en geheel geen of bitter min politieke en/of geskiedkundige kennis het, wat hulle uiteraard onbewapen laat om te besef hulle moet gewig ingooi by die enigste volhoubare tans, Orania en alles wes daarvan.
Die onus rus dus op elkeen van ons binne en buite Orania om andere te leer waarvoor ons vir ons generasie ons moet bearbei…
En dit is die uitbou van ‘n Afrikaner heimat in en om Orania, wetende dat ons moontlik nooit self daar sal kan bly nie, maar dit vir die volgende geslag laat realiseer.(Die boom vandag plant vir ‘n skaduwee in die toekoms…)
Dankie vir die deel hiervan.
Sien uit na die volgende aflewering…