by Orania Beweging | Jun 12, 2020 | Uncategorized |
deur James Kemp
Die Fortuner se GP-nommerplaat blink in die Karooson. Die oom en tannie stap stadig na die Inligtingskantoor – nie vanweë die ouderdom nie maar omdat alles eers bekyk word. Hulle groet die dame agter die toonbank vriendelik en vertel dat hulle van Pretoria af kom. “Garsfontein,” brei die oom uit en verduidelik dat hy twee jaar gelede afgetree het na 40 jaar se diens in die bankwese.
“Ons is eintlik oppad Jeffreysbaai toe maar my buurman het gesê ons moet eers hier stop,” verduidelik die oom. “Ons slaap by die hotel, daar by die Oewer,” gesels die oom verder. Die tannie is stil. Sy verkyk haar aan die koeksisters en ander plaaslik vervaardigde produkte in die winkel. Sy staan ’n ruk stil by ’n t-hemp wat haar aandag trek en dit lyk of sy seker maak dat sy reg lees: “Ons wil vry….wees.”
Die oom is baie bly om te hoor dat die toergids beskikbaar is. “Dankie, ons wil maar gou loer hoe lyk dit hier op julle dorp,” sê hy aan die toergids. Soos die drie van hulle na die Orania Beweging se toerbussie stap vra die oom of hier enige monumente in Orania is.
“’n Paar, Oom,” antwoord die toergids en knipoog.
Die toerbussie draai regs in Smaragstraat en stop oorkant Orania Veiligheidsdienste se kantoor.
“Hier is een,” sê die toergids en wys na die veiligheidskantoor. Die oom frons en ’n glimlag ontwikkel om die toergids se mondhoeke.
“Dit is ’n monument vir selfstandigheid. ’n Eie instelling wat na die gemeenskap se veiligheid omsien.”
Die oom knik maar aan sy gesig kan ’n mens sien dat sy definisie van ’n monument van die toergids s’n verskil.
By die sirkel draai die bussie links en weer regs by ’n volgende sirkel. Die toergids wys na die Bo-Karoo Opleidingsentrum wat langs die Orania CVO-skool geleë is.
“Daar is nog ’n monument, Oom.”
Die oom kyk die gebou fronsend aan.
“Daai gebou, Oom,” verduidelik die toergids, “is ’n monument vir selfstandige opleiding. ’n Plek waar ambagsmanne opgelei word, ’n kampus in wording waar studente eendag vry van politieke inmenging kan studeer.”
Soos hulle ry vertel die toergids hulle van die ontwikkeling van die dorp sedert 1991. Hoe Orania gekoop en ontwikkel is; die eerste winkel, gastehuis, skool, gemeente – die eerste restaurant en hoe daar later ander bygekom het. Hy vertel van die bierbrouers, kunstenaars, sakemanne, rekenmeesters, medici en ambagsmanne wat hier kom vestig het en hoe kinders wat hier in ’n beskeie ouerhuis grootgeword het vandag welvarende entrepreneurs is. Hy vertel van die toerismebedryf en hoe besig Orania oor naweke is. Van ’n dorp wat besig is om ’n Afrikanerstad te word en hoe besig die bouers in die gemeenskap is. Hy vertel van die ekonomiese geleenthede wat elke jaar meer word en hoe jong gesinne in Orania kom vestig en hier `n veilige en volhoubare bestaan voer. En hoe Orania as ’n monument gesien kan word van wat hardkoppige Afrikaners onder moeilike omstandighede in ’n halfwoestyngebied kan uitrig.
’n Rapsie meer as ’n uur later stop die bussie weer voor die Inligtingskantoor. Die toer is verby. Die oom bly ’n oomblik sit en draai dan na die toergids. “Julle het baie monumente hier maar daar is een wat jy vergeet het om my te wys,” sê hy terwyl sy regterhand aan sy ken krap.
Die toergids frons. “Ja, Oom?”
Die oom wys na twee mans van die Dorpskantoor wat besig is om `n sloot te grawe waar dienste aangelê word. “Daai ouens,” sê die oom terwyl dit die keer die toergids se beurt is om fronsend aan te kyk, “dis nou ’n monument.”

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Jun 11, 2020 | Uncategorized |
Uit Voorgrond uitgawe 1 van 2020:
deur John Strydom
Ons beleef ’n vreemde fase in die mens se geskiedenis: dit word toenemend vir mense nodig of selfs dwingend om erken te word, om geag te word, om geprys te word. Waarskynlik het die internet en veral sosiale media ’n rol daarin te speel: dit word makliker en makliker om te sien hoeveel ryk, mooi en slim mense daar op aarde is, en hoe sleg ek daarmee vergelyk. Daar word maar selde gewys hoeveel dom, lelike of arm mense daar is, en nog minder hoeveel “gewone” mense. Kyk maar na watter dodelike of gevaarlike streke mense op kamera uithaal net ter wille van die “selfie” of video wat tog asseblief net “viraal moet gaan” op sosiale media.
As my waarneming en aanname korrek is beteken dit dat daar ’n vakuum bestaan wat nie ideale uitkomste tot gevolg het nie, en genadiglik ook dat dit dalk moontlik behoort te wees om die holte te vul en beter uitkomste te beding. Kom ons kyk na ’n paar scenario’s. Op die Kaapse vlakte kan so ’n toestand kinders moontlik aantrek tot bendelidmaatskap waar dikwels vereis word dat lede ’n mens moet beseer of selfs dood om behoorlik ingelyf te kan word. Hulle smagting na erkenning kan erge gevolge vir die aansoeker hê.
Dieselfde hunkering kan ’n kind aantrek na sport of kultuurbedrywighede om erken te word as “waardig”- in hierdie geval is die uitkoms meestal voordelig. In die meeste gevalle sal so ’n deelnemer deel wees van ’n groep of klub wat ’n geborgenheid en erkenning van “sibbe” sal beteken. ’n Mens kan verder kyk na maatskappye waar werknemers bedrywig is in spanverband en daarom “behoort aan” die grootste, beste of invloedrykste maatskappy in die stad, streek of kontinent.
Die mees basiese groep of “bende” is sekerlik die gesin. Ek hoef nie uit te brei oor die invloed van goeie of slegte gesinservarings nie: dit is oorbekend. Vir die meeste kinders is gesinsvriende en die skool die volgende groep, en weereens is die gevolge van boeliegedrag of aanvaarding oorbekend. En hier begin ons probleme in die RSA: met soveel kultuur- en selfs rassewrywing is dit verstaanbaar dat dit veral in skole ’n invloed sal hê.
Oorvereenvoudiging is gevaarlik maar ek wil waag om te sê dat dit voordelig kan wees om reeds vroeg te begin assosieer met ’n gesiene, eerlike, betroubare en voorspelbare groep. Ek hoop dat Afrikaners darem oor die algemeen beskou kan word as ’n hardwerkende, eerlike en gasvrye “bende” om aan te behoort, al is ons tans sterk onder aanslag. Meer nog, veral in kultuurdorpe soos Orania, word daarna gestreef om nie te isoleer nie, maar wel na sterk bande binne in die groep. Nie-lede word per ooreenkoms ordentlik behandel al ondersteun hulle nie ons poging nie.
Ek is van mening dat daar verdere verryking wag vir diegene wat die moeite doen om hulle talente uit te leef as lede van groepe (oftewel instellings) waar hulle talente geslyp kan word in groepsverband. Sport- en beroepsverenigings, asook vrywillige diensorganisasies bied veilige hawens vanwaar enkelinge kan ontwikkel en selfs uitstyg in sport, kultuur of beroep.
Kom ons bekyk ʼn paar voorbeelde. Atlete wat saamstaan kan geriewe en afrigting bekostig. Skole kan onderwysers, busse en geboue saam bekostig en benut. Stokperdjies kom tot hulle reg in groepsverband. Gemeenskapsbanke behoort aan lede en nie onverbonde beleggers nie. Instellings kan namens lede praat en doen, en dit is onder andere wat die Orania Beweging poog om reg te kry namens Afrikaners wat gekies het om te konsentreer in ’n gebied, en hulle eie arbeid te verrig. Ook om, in die woorde van ons vorige waarnemende bedryfshoof, ’n eie ekonomie te probeer skep. ’n Ekonomie wat beurtkrag, stakings, droogtes, boikotte en weghol inflasie probeer pypkan.
Wees van een ding seker: saam en as deel van ’n groep of instellings, sal dit makliker en sekerder wees mits ons getrou bly aan die Skepper van alle verskillende talente, groepe en denke.

by Orania Beweging | Jun 9, 2020 | Uncategorized |
deur Joost Strydom
“Die visie van ’n kultuur lê in die dinge wat sy hoofinstellings word, wat onthou word as die gebeure met die grootste impak, en wie as helde vereer word” – Joan D. Chittister.
Instellings
Sosiale samehorigheid en sosiale orde was vir Émile Durkheim, vader van die moderne sosiologie, ’n lewenswroeging. Hoe ondersoek ʼn mens die verdelende en verenigende aspekte van ’n kultuur of bevolking, om sosiale samehorigheid te bevorder of selfs te verseker?
Durkheim se teorie van funksionalisme kyk na beskawing met ’n arends-oog en interpreteer elke deel van ’n beskawing volgens die bydrae daarvan tot die stabiliteit van die geheel. Volgens hierdie teorie word ’n beskawing saamgestel deur sosiale instellings, elk wat ’n sekere behoefte in die samelewing bevredig en elk met ’n spesifieke stel gevolge. Alle instellings is dus interafhanklik.
’n Funksionele samelewing vereis instellings en waar daar gebreke is sal daar instellings ontstaan om die gapings te vul.
Sosioloë definieer sulke instellings in terme van familie, regering, ekonomie, media, opvoeding, en geloof. As ’n mens die teorie van funksionaliteit beter wil verstaan, is dit van groot belang om dít in gedagte te hou. Waar instellings in perfekte harmonie met hierdie sake handel, is orde produktiwiteit en stabiliteit die gevolg.
Die gegewe vir baie mense is dus: gesonde gesinne se kinders gaan na funksionerende skole, wat deur die staat met belastinggeld onderhou word en ’n stabiele ekonomie word onderhou deur sy instrumente en bied vir die volgende geslag voldoende werksgeleenthede. Intussen is die onafhanklike en onbeïnvloede media ’n waghond wat balans help hou. Afrikaners kan die doeltreffendheid van enige van hierdie instrumente in ons huidige bestel in Suid-Afrika bevraagteken.
Gegewe die omstandighede raak baie mense toenemend aangetrokke tot ’n bestel waar ’n staat nie hierdie funksies vervul nie, maar die privaatsektor. Dus waar ’n instelling nie presteer nie moet ander geskep word om die harmonie te herstel.
Ons kan dus met sekerheid stel dat, vir ’n funksionele beskawing, instellings kritiek noodsaaklik is.
Instelling
’n Ondeurdagte lewensingesteldheid en blinde vertroue in die status quo, sonder om alternatiewe te oorweeg, sal nog waarlik die Afrikaner se einde beteken.
Die rampspoedige vertroue in die Nasionale Party om elke sosiale funksie denkbaar namens ons te hanteer, het moontlik tot ’n tipe ‘Afrikanerhulpeloosheid’ gelei toe die meeste van ons instellings (van ekonomiese subsidies en opvoeding tot werk en veiligheid) saam met die Nasionale Party (NP) in die niet verdwyn het. Die absolute vertroue in die NP is nou vervang met absolute wantroue in die regering van die dag. ’n Tipe apatiese tekort aan geesdrif vir enige projek wat Afrikaners sou kon bemagtig omdat die huidige regering dit tog “óf nie sal toelaat nie, óf dit ons sal ontneem” verlam baie Afrikaners.
Die bietjie mag wat Afrikaners behou het, primêr in die ekonomiese meganismes, gooi ons naarstiglik mee wal; ons probeer dit as ’n politieke gereedskapstuk gebruik. Reaksionêr boikot ons een onderneming na die ander wat, in lyn met die huidige politieke verloop, Afrikaners uitsluit en verneder. Boikotpolitiek kan net werk solank as wat die Afrikaner se glyende greep op die ekonomie nog nie gebreek het nie.
Eie-instellings
Eie-instellings is een van die Orania-plan se fundamentele beginsels. Geen wonder dat prof Carel Boshoff en andere net so goed soos Durkheim besef het wat die belang van die rol van instellings in ’n funksionerende en florerende samelewing is nie. Eie instellings is ’n bemagtigende gereedskapstuk, eerder as om ander te dwing om dinge in ons guns te swaai, skep ons in Orania die vermoë om onafhanklik na onsself om te sien. Ons babas, bejaardes, werksgeleenthede, ekonomie, kultuurbewaring ensovoorts is veilig in ons eie hande.
As ‘hoofinstellings’ dan ’n bepalende rol speel in kultuurvisie, beteken dit vir ons as Afrikaners dat die ‘eie’ net so belangrik is as die ‘instellings’. Die privaatsektor se meganismes om staatsfunksies wat agtergelaat word te vervang, beteken byvoorbeeld vir ons baie min indien dit met vreemde arbeid verrig word. In ander gevalle waar ons kultuur of geloof direk misken word, is die gevolg dieselfde.
Afrikaners het, alhoewel dit ’n wyle geneem het om ons ewewig te herwin na die gebeure in die vroeë 90s, dit reggekry om falende staatsfunksies stelselmatig te vervang met burgerregte-organisasies, belangenetwerke, taal-, kultuur- en geloofsinstellings.
Die sukses wat daarin ontsluit is, bewys eie-instellings is nie net nodig nie, maar veral op groot skaal moontlik.
Ingesteldheid
Die vloeibaarheid van die huidige politieke situasie rakende grond, korrupsie, en bevoegheid van staatsdienspersoneel om staatsfunksies uit te voer laat vrae in die lug hang. Vrae oor grense: wie is geregtig op watter grond? Belasting: wie is geregtig op wie se inkomste? Verantwoordbaarheid: wie se verantwoordelikheid is die funksies wat ons vantevore aan die staat toevertrou het? Op wie se arbeid en dienste is wie geregtig?
Konserwatiewe Afrikaners moet behoudend bly in ons identiteit, kultuur en geloof. Ons moet egter nie skroom om te breek met verouderde instellings nie. Eie instellings soos skole, kerke en maatskaplike hulp het ons leer breek met die hoofstroom, maar daar is nog baie potensiaal om ontgin te word.
Kom ons deel in die ambisieuse ingesteldheid van die eerste vryburgers, die eerste Voortrekkers en die burgers van die republieke.
Ingestel op instellings van ons eie.
Kom ons organiseer onself vry!

by Orania Beweging | Jun 8, 2020 | Uncategorized |
deur Karin Kemp
Kan dit wees dat ’n Afrikaner, ’n Boer, ’n patriot in hart en siel – as ’n enkelentiteit kan bestaan en voortbestaan? Baie individue en baie groepe funksioneer asof dit nie net ’n moontlikheid nie, maar ’n gegewe is. Ek dink egter nie so nie. My verduideliking volg.
Ek sien myself as ’n Afrikaner en ’n Oraniër in murg en been, een wat alles in die saak ploeg. En ek glo grootjie Hendrik (Potgieter) sou trots gewees het en dat my oupa vanuit sy graf glimlag as ek my hart en siel in die Afrikanersaak (en -stad) stort.
Nou kom die vraag of ek as ’n enkele entiteit in my strewe om ’n goeie Afrikaner en ’n getroue Oraniër te wees, kan bestaan. Ek glo ek nie dis moontlik nie. Ek het ander Afrikaners, mans en vroue wat ook soos ek sterk in ons volk se saak glo, om my nodig. Hetsy dit Orania inwoners of Orania uitwoners is. Hetsy hulle soos ek ’n doelgerigte Vryheidsfront Plus ondersteuner is en of hulle AfriForum of Solidariteit, of selfs die FAK of Voortrekkers as hul verkose Afrikanerorganisasie tot diens is. Die feit is, ek het mense in my lewe nodig wat my kan ondersteun in my pogings om op welke manier ook al, ons volk se saak te dien maar ook mense wat my op ’n mooi manier in die regte rigting kan stuur wanneer ek van dit wat werklik saak maak, afdwaal.
Dit bring my by my eintlike punt: dat Afrikanerorganisasies en ook Afrikanergoedgesinde organisasies, mekaar in hul onderskeie projekte en pogings moet ondersteun. Dit beteken nie, en hoor my nou mooi, dat die betrokke organisasies oor naastenby alles hoef saam te stem of op dieselfde nismark gemik of gefokus hoef te wees, of hoegenaamd dieselfde doel voor oë hoef te hê nie. Waar dit wel die geval is, is dit ’n wonderlike bonus.
Die belangrikste voorbeeld hiervan wat ek wil noem, is hoe AfriForum hul ondersteuning aan Orania Helpmekaar toon met die groot taak om gesinne wat swaar deur die COVID 19-pandemie geraak word, van kospakkies te voorsien. Ek sien byna elke dag hoe groot hoeveelhede produkte vir hierdie doel afgelaai word.
Dan moet ek ook verwys na hoe honderde Oraniërs in ’n kort tyd duisende rande ingesamel het om hul mede-inwoners in nood, d.m.v. ’n noodfonds wat deur Orania Helpmekaar geadministreer word, by te staan. Vir hierdie weldoeners is dit nie belangrik of die inwoners wie se onmiddellike nood deur hul donasies verlig gaan word, met hul eie oortuigings saamstem of by hul eie idee van Afrikanerwees inpas of nie.
Ons is deel van een volk en waar dit swaar gaan, help ons mekaar. Klaar, punt.
Dit bring my by nog ’n saak, een wat nog baie vars in my gedagtes en my gemoed is: die onlangse skrywe van GOIF (Groter Orania Inwoners Forum) aan president Ramaphosa, om aan te dring dat die Noord-Kaap, wat Orania insluit, na vlak 1 van die inperkingsmaatreëls geskuif kan word. U ken die geskiedenis hier rondom.
Waar ek glo in ’n saak, bemark ek dit. So het dit my ure geneem om in die kort tyd wat ons gehad het om handtekeninge te werf vir die petisie, soveel as moontlik boodskappe daaroor aan vriende, familie, kennisse, oud-kollegas en vyande te stuur, om steun te werf. Daar was mense wat nie op my versoek dat hulle, hul huisgesinne, vriende, familie en kollegas asb. moet aanmoedig om dit te onderteken, gereageer het nie maar die terugvoer was oor die algemeen oorweldigend positief.
Ek vermoed dat as elke Afrikaner of dan ten minste Afrikanergoedgesinde-organisasie regtig uit hul pad gegaan het om die boodskap aan hul lede en aanhangers te kommunikeer, ons selfs ’n baie sterker saak met baie meer stemme sou gehad het. Ek hoop, glo en vertrou dat dit in die toekoms in die geval van ’n soortgelyke saak, wel so sal wees. Ek gaan beslis aanhou veg en neul en karring, om daardie droom te verwesenlik.
My punt is: ons is nie gemaak om elkeen op sy eie mishoop koning te kraai nie. Ons het mekaar nodig en as ons mekaar se saak versterk, behoort elke poging wat deur elke organisasie aangewend word om iets positief vir die Afrikaner se saak te doen, meer en beter vrugte af te werp. Dan nie?
So ek daag hiermee elkeen wat hierdie artikel lees uit om van nou af, elke poging wat iemand aanwend om ons saak op welke manier ook al te bevorder of te versterk, te ondersteun. Uit die aard van die saak moet die betrokke poging op meriete beoordeel en daarvolgens ondersteun of afgekeur word. Dit gaan tyd en moeite verg. Maar doen dit. So kan jy met ’n rustige hart weet jy het jou deel gedoen. Yster slyp yster. Kom ons versterk mekaar.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Jun 4, 2020 | Uncategorized |
deur Joost Strydom
(’n Storie oor ’n Boereheld)
Heldhaftige soldate is baie meer volop in vredestyd as in oorlogstyd. Soos ’n goeie vriend van my, met ’n militêre loopbaan van meer as 20 jaar nou die dag droogweg sê: “Die wat die liefste vir oorlog is, is die ‘groot patriote’ wat soldate by die trein afsien met ’n laaste biertjie en dan na hulle huise terugkeer vol trots en sterk opinies. Hulle is nie die wat vrees, honger, koue en dood saam met soldate sien nie.”
Ek reken geharde soldate smaal meestal bloot minagtend vir ’n kroegkryger se leë bravade, en steur hulle verder min daaraan. Die probleem is egter nie die “gesteelde heldeverering” soos die Amerikaners dit noem nie, maar openbare sentiment, populistiese politiek en die rampspoedige gevolge daarvan.
Daarmee bedoel ek: mense wat oorloë begin en die wat oorloë eindig is baie keer nie dieselfde mense nie.
Baie van ons het op skool gehoor: “Moet nooit ’n vuisgeveg begin nie, maar maak seker jy is die een wat hom klaarmaak”. Goed en wel, maar daar is ’n valse implikasie in dat jy elke vuisgeveg waaraan jy deelneem, kan wen. As dit maar tog so was dat die eerbare persoon elke vuisgeveg (of oorlog) gewen het. Selfs in ’n geveg wat jy wen kry jy ook seer, en ’n goeie vuishou kos jou heel gereeld gebreekte kneukels.
Die wat nie groeiende konflik help aanblaas nie word baie keer as “lafaards” beskryf. Nie oor hulle oortuigings nie, maar oor hulle opposisie hulle polities wil “ontman”.
Generaal De la Rey, die Leeu van die Wes-Transvaal, die Boereheld, die veggeneraal was só ’n man.
Dit is alom bekend dat De la Rey sterk gekant was teen die groeiende konflik met die Britse ryk. Hy was ook gekant teen die ZAR se ultimatum. In die Volksraad is hierdie teenkanting tot so ’n spits gedryf dat De la Rey as ‘liberaal’ beskou is. Ander lede van die Volksraad, onder andere Paul Kruger, het De la Rey as ’n lafaard uitgekryt omdat hy nie wou oorlog maak nie.
De la Rey het met minagting hierdie aanklag teen sy karakter verwerp en in baie duidelike terme (amper profeties!) gestel dat hy lank na die res oorgegee het nog in die veld sal wees. Toe die meerderheid van die Volksraad egter hulle steun aan onmiddellike oorlog toeskryf het De la Rey dadelik sy onvoorwaardelike lojaliteit aan die ZAR en oorlogspoging bevestig.
Die Leeu van die Wes Transvaal het sy naam in elke veldslag verdien, en bewys dat hy niks behalwe sy Skepper vrees nie. Daar is weergawes wat beskryf hoedat De la Rey ongewapend te perd deur die vyand se vuurlyne gejaag het om sy manne aan te moedig! “Kom my seuns, veg met my! God is aan ons kant! Kom! Kom! …”
Vandag huldig ons De la Rey (en ander) as van die grootste helde en dapperste manne wat ons volk nog geken het.
De la Rey is ook bekend vir sy goeie oordeel, weldeurdagte standpunte en is selfs deur die Britte as ’n “gentleman” beskryf.
Die generaal is nie ’n lafaard wat ’n leeu geword het nie. Hy was altyd ’n leeu. Sy liefde vir vrede het vir ons gewys hy is ’n man met goeie oordeel, sy optrede op die slagveld het ons laat besef hy is ’n man met dapperheid.
Daar is baie dinge wat oorlogsvuur in mens se are wakker maak. Onregverdigheid, onderdrukking, die moord en doodslag van ons mense en plaasboere, kriminalisering van ons kultuurgeskiedenis en die bespotting van die Lewende God wat ons dien Ons gewetes dwìng ons om op te tree, en ons moet!
Ons moet planne maak, bou en alternatiewe oprig. Laat ons elke moontlike alternatief en remedie uitput. Laat ons goedkoop braaivleisvuurgesprekke oor oorlog vermy. Laat ons in gedagte hou watter prys die Bittereinders moes betaal – ekonomies, fisies en meer.
Die Afrikaners het geen soldate wat ons by die trein kan gaan afsien wanneer hulle slagveld toe reis nie. Ons het net onsself en ons eie kinders.
Omring jouself met mense wat oorlog probeer vermy, maar wanneer dit onafwendbaar is wel gereed is om die bittere prys tot die einde toe met hulle eie bloed te betaal.
Laat ons, soos De la Rey, niks anders as ons Skepper vrees nie. Laat ons ook soos De la Rey goeie oordeel en vrede koester vir hoe ongelooflik waardevol dit is.
