deur Annemarie Hoogenboezem
Dit is ’n morele kwessie wat al ’n tydlank in my kop rondmaal, die vraag oor of ’n mens as deel van ’n korrupte sisteem net so skuldig is aan die misdade selfs al is jy nie direk daarvoor verantwoordelik nie. Maar word ons dan nie juis opgeroep om in die geloof lig en sout in hierdie sondige wêreld te wees nie?
Ek dink aan die duisende Afrikaners wat steeds werk vir staatsinstellings soos die Polisie, SARS, die Reserwebank, Eskom en talle ander. Persone wie se pensioene deesdae in gedrang is nadat hulle dekades getrou hulle werk vir die regering gedoen het. Ons kan hulle veroordeel en sê dat hulle lankal reeds van hierdie korrupte instansies moes bedank het en ander poste by ander instansies aanvaar het. Ons kan hulle selfs jammer kry oor hulle moontlik onoordeelkundige besluit om aan te hou werk vir ’n regering wat herhaaldelik oor die afgelope 25 jaar bewys het dat hulle weens swak bestuur besig is om die skip te laat sink.
Maar, sou ons dalk vandag in ’n slegter posisie gewees het sonder hierdie Afrikaners? Dit is nou as ons aanneem dat hulle in die jare wat hulle in die staat se diens was getrou aan hulle Christelike waardes opgetree het. Die land sou dalk selfs vinniger oor die afgelope dekades verval het as hierdie Afrikaners besluit het om van die spreekwoordelike sinkende skip se dek af te spring en toe te laat dat korrupsie Suid-Afrika soos ’n golf insluk.
Dalk is dit juis hierdie alledaagse mense wat te midde van ’n oneerbare sisteem aangehou het om in die klein dingetjies volgens etiese beginsels op te tree, wat dit moontlik gemaak het vir die talle Afrikaner-instellings om te ontwikkel tot op ’n lewensvatbare vlak vandag. Miskien het hierdie Afrikaners die fort gehou vir so lank as wat hulle kon terwyl dit ander die kans gegee het om hulle instellings en besighede te vestig. Dit is moontlik dat Orania selfs ’n voorbeeld van so ’n instelling is wat gebou is deur Afrikaners om vandag byna selfstandig te kan funksioneer terwyl ander Afrikaners die staat staande gehou het solank ons daarvan afhanklik was.
Die teendeel kan natuurlik ook waar wees: Dat die Afrikaners wat vir dekades in die staat se diens gebly het hulle self skuldig gemaak het aan bedrog; dat hulle aangepas het by die sisteem van korrupsie en kader-bevoordeling sodat hulle self kon vooruitgaan. ’n Universele waarheid is dat mense aanpas by hulle omstandighede, dit is ’n oorlewingsmeganisme wat ons as Afrikanervolk deur verskeie uitdagings soos die Groot Trek en uiteindelik die Vryheidsoorloë gedra het. Het dit veroorsaak dat ons Afrikaners soos die padda in die kookpot geword het en nou dat die water kookpunt in Suid-Afrika begin bereik eers besluit om uit die pot te spring? Het Afrikaners se aanpasbaarheid juis hulle swakpunt geword?
Talle Afrikaners het ophou droom van vryheid en onafhanklikheid, hulle het vergeet wat dit is en hoe dit voel. Hulle het hulle lot onder die huidige regime begin aanvaar en ophou praat van die Transvaal en volksvreemde name soos Gauteng en Limpopo begin gebruik vir areas wat oorspronklik deur die Afrikaner gekarteer en benoem is. Maar dit is ’n ander saak. Die feit bly dat die Afrikaner vergeet het dat sy kultuur in sy gebeente sit, veel dieper as die oppervlakkige “braai, rugby en koeksisters” waartoe die Afrikanerkultuur deesdae gereduseer word. Die Afrikaner-identiteit word gekenmerk deur ’n onwankelbare geloof, ’n deursettingsvermoë van staal, ’n hardkoppigheid, ’n hartlikheid, sagmoedigheid en ’n voorliefde vir eerlikheid en regverdigheid. So is Afrikaners in die werksplek dikwels bekend vir hulle toewyding, deeglike werk, integriteit en ywer.
Dit maak my meermale verdrietig om te dink dat hierdie goeie deugsame waardes en werksetiek van die Afrikaner aangewend word tot voordeel van ’n staat wat nie die Afrikaner se belange op die hart dra nie. Lei die werk wat Afrikaners vir die staat doen nie as ‘t ware tot die Afrikaner se eie ondergang nie?
Is dit beter om jou goeie invloed te laat geld in ’n korrupte instelling of is dit beter om kop uit te trek en nie deel te hê aan die uiteindelike korrupte invloed van die instelling waarvoor jy werk nie?
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
Nuutste Opmerkings