deur Pieter Krige
Ek begin dalk met ’n oorgedramatiseerde titel, maar as die wêreld nie besig is om in duie te stort nie, is dit so naby daaraan soos dêmmit aan ’n vloekwoord.
Orania is ook gegrendel, en ons loop met die maskertjies rond en spuit die alkohol soos op ’n 21ste verjaarsdagpartytjie by ’n manskoshuis op Tuks. Ons werk maar van die huise af, diegene wat kan, en ander noodsaaklike dienste gaan volstoom voort. Ek hoor darem so af en toe ’n Dorpskantoorbakkie hier op die Rooipad verby dreun…
Natuurlik leef ons in die vol en onpersoonlike digitale wêreld en ons kan kommunikeer met wie ons wil, maar aangesien tot 90% van alle menslike kommunikasie nie-verbaal en liggaamstaal is, mis die mensdom maar meestal mekaar totaal en al tussen die emosikone deur.
Ek wil eintlik nie daaroor praat nie – ja die geld is hier ook maar skaars en minder, maar ons gaan aan, wat anders kan mens maak?
Ek wil gesels oor die Orania waarvan julle min sal hoor, want mens kan nie ’n mooi foto daarvan neem en dit deel nie, want dit is die Orania-hart. Mens kan dit hoor klop, voel bruis deur die volk se are, maar jy kan dit nie op Instagram plaas nie. En ek gaan slegs oor my eie belewenis skrywe, vier dinge wat my, te midde van die krisis, die Orania-hart laat voel het. En van dit mag dalk selfs vir sommige van julle onbenullig wees, maar dit maak vir my hierdie plek huis.
Die eerste was ’n oproep – en ja, ma, ek rook nog… ’n Oproep, uit die bloute, vanaf ’n goeie Oraniër wat self nie rook nie, maar pakkies tabak in sy kaste het om goggas, seker goggas soos ekselwers, weg te hou. “Pieter, kom haal dit gerus…” “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”
Orania-hart wat my pyp aan’t rook hou.
Die tweede was ’n oproep van iemand wat henne het wat huis kort, en ons het ’n hok wat henne kort. Orania-hart en eiers vir die pan.
Die derde was ’n jongman wat in ’n gesprek hoor ek soek nog ’n haan. “Ek bring vanmiddag vir jou.” En met die aflaai: “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”
En die vierde was toe ’n buurman stop en my een van die laaste pakkies tabaksaad in die land in die hand stop, want lente plant ons tabak op die hoewe. “Wat skuld ek jou?” “Nee man…”
Jy sien, klein dinge wat Orania se hartklop is; klein dinge, want mense sien mekaar raak en gee om; klein dinge wat die krisis laat wegraak agter die magtige dreuning van Afrikanerhart.
Mag ek ook eendag weer soos hierdie vier Oraniërs die Afrikanerhart hoorbaar laat klop.
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
More kan u my meer inligting en verblyf regte aansoek aan stuur asb
Pragtig gestel Pieter. Ja waar gaan n mens in die stadsgewoel nog mense kry wat so vir mekaar omgee?
Sterkte en karakter en geloof is groter as enige ruilmiddel….
Is julle onafhanklik van plaaslike regering? En hoe werk dit om blyplek en grond te kry?