by Orania Beweging | Mei 12, 2020 | Uncategorized |
2 FEBRUARIE: TWEE BESLISSENDE OOMBLIKKE
Deur Louis Bothma
Is ons gereed vir ‘n Piet Retief-oomblik?
Die geskiedenis is ‘n genadelose leermeester. Dit kom altyd terug om ons te konfronteer, gewoonlik wanneer ons dit die minste verwag; soms wanneer ons dit die nodigste het.
Wie sou kon dink dat die ou Voortrekker, Piet Retief, in hierdie “post-moderne era” van grendelstate en derglike meer, sommer so uit die niet soos ‘n voorvadergees sou verskyn?
Die van ons wat vandag 35 jaar en ouer is, behoort 2 Februarie 1990 baie goed te onthou; die dag toe meneer F.W. de Klerk die ANC en al sy mutasies op ons losgelaat het. Daar is gesê ons het geen ander keuse nie, die alternatief is eenvoudig “too ghastly to contemplate”. En só het meneer De Klerk ons in ‘n nuwe bedeling ingelei wat – in sy eie woorde – “onomkeerbaar is”.
Skaars 25 jaar later, terwyl die ANC-regime ons agter slot en grendel het, sê meneer Ramaphosa hierdie land sal nooit weer dieselfde wees nie. Hy en sy bevelsraad is besig om ‘n radikale plan uit te werk. Ons het geen ander keuse as om daarby in te val nie. Nou is dit skynbaar ‘n kwessie van onomkeerbaar – tot die wederkoms.
Hoe voel u in hierdie situasie?
Magteloos, woedend, uitoorlê, tweedeklas, kaal gestroop, verraai, verneder, wanhopig, eenkant gestoot – sonder enige toekoms vir u en u kinders in hierdie land wat u lief het en help opbou het…?
Dan verstaan u vir die eerste maal regtig hoe Piet Retief op 2 Februarie 1837 gevoel het, toe sy “Manifesto of the Emigrant Farmers” in die Grahamstown Journal gepubliseer is.
“We despair of saving the colony from those evils which threaten it by the turbulent and dishonest conduct of vagrants, who are allowed to infest the country in every part, nor do we see any prospect of peace or happiness for our children in a county thus distracted by internal commotions…”
“We quit this colony under the full assurance that the English government has nothing more to require of us, and will allow us to govern ourselves without interference in the future.”
Die tyd van praat was verby. Rietief-hulle het handelend opgetree en die regering, wat heeltemal uit voeling met hulle was, die rug gekeer. Dit was in werklikheid ‘n “Groot Rebellie” – nie deur die wapen teen die regering op te neem, of die regering by die stembus te probeer uitdaag nie, maar om eenvoudig van hom af pad te gee.
Van toe af was hulle nie meer TEEN iets nie, maar VIR iets . Net daar het hulle die inisiatief oorgeneem en was die regering op die agtervoet. Die debat het nie meer oor die regering se planne gegaan nie, maar oor die Voortrekkers se planne waarmee die regering nie raad gehad het nie.
Vandag praat Piet Retief en die Voortrekkers hard met ons. Maar hoeveel is gereed vir kaalvoet oor die Drakensberge; of is dit letterlik ‘n kwessie van sak en pak terug oor die Oranjerivier?
2 Februarie 2021. Waar gaan ons dan wees? Steeds tussen die skandemakers wat ‘n toekoms op haat en leuens probeer bou, of tussen die geskiedenismakers wat aan vryheid bou?


(Hierdie artikel is deur ‘n onafhanklike skrywer geskryf en nie deur die Orania Beweging nie)
by Orania Beweging | Mei 11, 2020 | Uncategorized |
deur Karin Bain
Dit is tyd vir migrasie in Suid-Afrika. Elke goeie Afrikaner kan dit op die punte van sy vere voel. Die son skyn nie meer so sonnig in Afrika nie, die windjie raak skraal en die uitgestrekte vlaktes raak nou. Dit raak tyd vir trek. Terwyl jy dink aan migreer en daaroor begin wonder, kan jy die wye vlaktes van die Karoo langs die grote Oranjerivier oorweeg. Dis die ideale plek om ’n nes te bou!
Vir ’n geruime tyd het ons in ons huis gesels oor trek. Die vraag wat ons moes beantwoord was: Waar wil die Here hê ons moes wees? Waar moet ons Hom dien? Elke mens en elke gelowige het ’n plek. Roeping is nie net individueel nie, maar dis ook plekgebonde. Jy leef jou roeping uit op ’n stukkie aarde waar dit vir die Here goed en aanneemlik is.
Toe ons inpak vir die groot trek het ons, ons vere uitgekies, want Orania het net twee seisoene: Winter en Somer. Wees dus gereed as jy hier kom woon om genoeg jasse en oorgenoeg koel klere te bring. Hier is maar min herfs en lente. Moenie dink dat jy nooit gaan natreën nie, want hier is ’n reënseisoen met stormwinde en donderweer. Dit is immers waar die plaas langs Orania, Waai-my-om, sy naam kry. Ten minste kan al die vere waai wat jy vir “eendag” opgaar.
Gelukkig het jy min riete en grashalms nodig om jou huis te bou. Orania is die dorp van eenvoud: kleiner huise, minder keuses. Die boukoste is sekerlik duur, maar dis nie die grootste rede nie. As jy hier kom bly laat jy al jou argitektoniese fieterjasies agter. Gange, voorportale en ’n spoggerige sitkamer vir die dominee, is van die dinge wat geld gaan gebruik wat jy baie beter kon aanwend. Jy kan dit eerder aan ’n sterk lugversorger en ’n groot sonkragbattery bestee.
Die luie Piet-my-vrou wat nie sy eie huis kan bou en sy eie werk kan doen nie, gaan dit moeilik vind. Jy gaan jou eie huis moet bou en aan die kant hou. Sommige trekvoëls is bekommerd dat hulle nie dit sal regkry nie. Hoe werk dit as jy self werk? Dit is maklik en jy hoef nie te dink dat jou vlerke geknip sal word nie. Elkeen is selfstandig en pluk sy eie gras om ’n mooi huis te bou. Daar is wel ’n stukkie bemoediging: Daar is baie bouers, nutsmanne en ander mense wat hier werk en dienste lewer. Jy sal nie versukkeld wees nie. Die wonderlikste van eie arbeid is dat as jy iets nuuts wil aanpak is hierdie die plek om dit te doen. Jy kan jou entrepreneuriese vaardighede vrye teuels gee.
Toe ek hier begin kruideniersware en ander noodsaaklike items koop, het ek tot my verbasing agtergekom dat jy omtrent alles kan kry wat jy nodig het. Hier is wel minder keuses in die winkels en minder skole. Ewe skielik kom jy agter dat dit lekker is om so vinnig dorp toe te gaan en dit is makliker om sommer in Orania te koop as om ver te ry en allerhande onnodige keuses voor jou te sien. Die internet het wel die winkels baie nader aan Orania gebring. As die inwoners op ’n Maandag die vullis uitsit, was ek verstom oor die hoeveelheid Takealot kartonne op die sypaadjies. So tussen aanlynwinkels en goeie winkeliers hoef jy nooit groot inkopiesentrums te mis nie.
’n Oraniër het oortollige bagasie agtergelaat en vlieg lig. Omdat die huise kleiner is, is die kaste ook kleiner en baie mense stoor die ekstra goed in vraghouers. Na ’n jaar of wat waarin hulle nooit in die houer gaan grawe het nie, is dit duidelik dat onnodige bagasie maar kon gebly het. As jy twyfel oor die vere wat uitgepluk moet word, kan jy darem gerus wees dat vraghouers ’n maklike uitweg is en amper almal stoor iets êrens.
Soos voëls in vrye vlug speel die kinders tot laat buite in die straat. Die sorgvrye lewe wat Oraniërs se kinders kry is baie meer werd as prag paleise en duur besittings. Saam met die vryheid wat hulle ontvang, ontwikkel hulle verantwoordelikheid vir hul eie doen en late. As jy jou kind skool toe neem en weer gaan haal en presies voorskryf wanneer hy waar moet wees, ontbeer jou kind die ontwikkeling van selfstandigheid. Wanneer ’n kind vry is om met ’n fiets te ry waar hy wil en self moet omsien na sy veiligheid, is dit die grootste geskenk wat ’n ouer aan ’n kind kan gee. Die verandering wat hierdie vryheid vir ons jongeling gebring het, kon ek al duidelik in die eerste week of twee sien.
Probleme kom ongelukkig saam. Baie mense dink dat as jy in Orania kom woon jy ’n nuwe blaadjie sal omslaan, jy oornag nuwe gewoontes sal aanleer en jy dat jy sondevry sal voortleef. Ongelukkig kom al jou probleme saam soos luise wat aan die duif se poot vasklou. As jy skuld het, afhanklik is van middels of lui is sal hierdie uitdagings saam met jou kom. Jy sal weer skuld aangaan, weer verslaaf raak en weer sonder werk sit. Dit is nie die plek waar die pot goud is nie. Dis die plek van werk met ’n wye visie, ’n hoë ideaal en ’n groter plan. Jy moet beslis nie kom om te vlug nie, maar om te bou sodat jy en jou nageslag sal sweef soos arende vry en onafhanklik.
En wat bring jy saam na ’n nuwe land met vryheid? Luister weer na die laaste woorde van Oom Paul Kruger aan ons volk: “Soek in die verlede alles wat goed en mooi is, wat daarin te ontdek is, vorm u ideaal daarna en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.”

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Mei 9, 2020 | Uncategorized |
RADICAL ECONOMIC TRANSFORMATION
Deur Louis Bothma
Ons kan óók radikaal dink en doen.
Terwyl meneer Ramaphosa en sy junta hulle kiemoorlog teen ons voer, is hulle eenkant, agter die skerms in ‘n virtuele hoekie, besig om ‘n “radikale” plan op te trek vir wat hulle noem, ‘n “post-oorlog situasie” gaan wees.
Skielik is dit so duidelik soos daglig: Ons het nie hier met demokrate te doen nie, maar met radikale wat hierdie land op sy kop wil omkeer. Hulle sê dit blatant, so asof ons geen ander keuse het as om daarby in te val nie. Hou julle bekke en luister. Ons het julle nou.
Regtig?
Meneer Ramaphosa en sy junta moet weer dink. Hulle het mos verskriklik gestruggle, so hulle behoort te weet: Jy kan mense oor hulle velkleur marginaliseer, terroriseer, beboet, toesluit, hulle veiligheidsstrukture afbreek en verbied, hulle geskiedenis kriminaliseer en hulle taal vertrap, maar jy kan nie hulle koppe “lockdown” nie. Trouens, al hierdie dinge sluit juis toe koppe oop.
Ons kan óók ‘n paar radikale dinge doen.
Dankie vir die streng inperking. Ons het geleer dat drink- en rookgewoontes binne weke afgeleer kan word. Netso kan die gewoonte wat saam met Jan van Riebeeck die land ingekom het, en deur al die helde volgehou is, naamlik om ander volkere in diens te neem, ook maklik afgeleer word.
Ons het nou gesien ons kan self ons huise skoonmaak, self klere was en stryk, self kinders grootmaak, self vuilgoedsakke uitsit – noem maar op. Ons het dit mos in die army ook self gedoen, nie waar nie?
As eerste stap na vryheid, kom ons doen die radikale ding en doen ons werk self.
by Orania Beweging | Mei 2, 2020 | Uncategorized |
Deur Ester le Roux
Elke oggend sien ek meer bloeisels aan die suurlemoenboom voor die kombuisvenster – spierwit met ‘n titsel ligroos. Werkerbye bly besig tussen die stuifmeeldrade en ‘n windjie dra die vars aroma diep die vertrek in. ‘n Goeie pluksel suurlemoene loer elke dag sonniger deur die loof – die voorvreug van ‘n paar bottels suurlemoenstroop op die rak. Ek hou die bedrywigheid dop en beny hulle stilweg. Gister op Werkersdag was soveel werkers tuis, sonder werk en met ‘n bleek toekoms van hoe om weer brood op die tafel te kry vir hulle gesinne.
Ordentlike werk word deur Pous Emeritus Benedict XVI omskryf as werk wat die wesenlike waardigheid van elke man en vrou uitdruk in die konteks van hul spesifieke samelewing: werk wat vrylik gekies word, wat werkers, mans sowel as vrouens, effektief in verband bring met die ontwikkeling van hul gemeenskap; werk wat die werker in staat stel om gerespekteer te word en vry te wees van enige vorm van diskriminasie; werk wat dit moontlik maak vir gesinne om in hul behoefte te voorsien en vir hul kinders skool te gee, sonder dat die kinders self tot arbeid gedwing word; werk wat die werkers toelaat om hulself vryelik te organiseer en hul stemme te laat hoor; werk wat genoeg ruimte laat vir die herontdekking van mens se wortels op ‘n persoonlike, familiële en geestelike vlak.
Op Werkersdag vanjaar is bogenoemde prentjie in totale chaos gedompel. Hoe het dit gebeur?
Einde verlede jaar was daar sterk sprake dat die wêreld vinnig besig is om in resessie in te gaan. Dit was onder andere toe te skryf aan die handelsoorloë tussen groot moondhede en is veral voor die deur gelê van Amerika se President Trump se aanslag op globalisasie, spesifiek gemik op China. Die Europese ekonomie – hoewel nog nie in resessie – het gestagneer. Suid-Afrika het teen einde 2019 vir die tweede keer in twee jaar in resessie gegaan en is vroeg vanjaar na rommelstatus afgradeer deur Moody’s.
Soos wat die globalistiese wêreldekonomie aangebied word het die vraag ontstaan of die werker se welsyn hoegenaamd tel – al blyk dit vanselfsprekend, met Werkersdag wat wêreldwyd hoog aangeprys en besing word. Een maatstaf om vas te stel wat die welsyn van die werker is en wat hy te wys het vir sy arbeid, is tog die stand van ‘n land- of lande se ekonomiese gesondheid.
Om alles te kroon breek Covid-19 uit in Wuhan, China en dompel die wêreld in chaos. ‘n Ekonomiese ineenstorting sonder weerga in moderne tye staar die wêreld in die gesig. Daaroor is ekonome dit eens. In die lig van die toenemende onderprestering van die globale ekonomie die afgelope jare kan die vraag gevra word of die oorsaak van die ineenstorting net voor die deur van Covid-19 gelê moet word en of dit net die laaste strooi was wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het.
Terwyl Amerika en Europese lande nog swaar dra aan gevolge van Covid-19, is China vinnig op die been met Covid-19-beheermaatreëls en daaropvolgende ekonomiese herstel. Europa volg Amerika in enstige betoeë en hofsake teen China vir aanspreeklikheid van enorme ekonomiese verliese en menslike lyding. Daar is ernstiger bedenkinge oor die wenslikheid van afhanklikheid van China vir invoere. ‘n Koerantopskrif verwoord wat die Westerse wêreld tot diepe nadenke stem: China wen derde Wêreldoorlog sonder om ‘n koeël af te vuur! ‘n Voortvarende globalistiese ekonomie het die Trojaanse perd geword wat die broodwinner, saam met sy afhanklikes, wêreldwyd ekonomies versmoor met ‘n onsigbare virus uit Wuhan. Dit laat die gebruiklike mooi woorde op Werkersdag soos leë simbale klink, want vir vele is dit nou elke dag Werkersdag – tuis, sonder werk en met gepaardgaande gevolge.
In Suid-Afrika is instansies soos Solidariteit, Sakeliga en ’n toenemende aantal privaatinstansies in hofsake met die Regering gewikkel oor die impak van Grendelstaatregulasies op besighede, om die aflegging van werkers en ’n dreigende hongersnood te verhoed. Mens neem waar dat selfs die slimstes en die mees visioenêres kleitrap. Hulle weet net nie. Hulle weet nie eers of die mens vir ses maande of sestig jaar of ‘n leeftyd immuniteit kan opbou teen die virus nie en of daar ooit ’n effektiewe entstof gevind sal word nie. Konvensionele maniere van ekonomiese aktiwiteit verloor betekenins en daar moet staatgemaak word op klein brokkies rigtingewende inligting om ‘n prentjie te vorm van wat aangaan en hoe om ekonomiese paaie uit die dilemma te vind.
Daar is geldige vrese dat staatsintervensie vir ‘n afsienbare tyd sal vergroot in persoonlike lewens en ekonomiese aktiwiteite, asook groter aandeelbesit in noodsaaklike geagte maatskappye wat uit bankrotskap gered word. Vir Suid-Afrika beteken groter staatsbetrokkenheid – van ’n staat met enorme staatskuld – groter inflasiekoerse en ’n rand wat swakker en swakker word solank inkomste ontbeer word uit internasionale uitvoere. Die ligpunt is dat hierdie krisis dalk groot genoeg sal wees vir die Regering om broodnodige veranderinge aan te bring en drastiese stappe te neem wat nodig is om die land weer op ‘n gesonde ekonomiese ontwikkelingskoers te plaas. Dit sal net kan gebeur as daar nuwe waardering is vir die werker en sy regmatige en eerbare rol aan hom toegeken word.
Wat sê die spreekwoord nou weer oor ‘as die lewe vir jou suurlemoene gee’? Hoop beskaam nie dat nuwe ekonomiese inisiatiewe deur vindingryke ekonome en entrepreneurs die ekonomie in Suid-Afrika en elders weer op ’n gesonde grondslag sal kry nie – met groot genade van Bo.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Apr 28, 2020 | Uncategorized |
Deur Elbie Correia
Grendeltyd het baie uitdagings. Na vier weke is dit vir niemand meer ’n geheim nie. Ouers sowel as kinders kan hiervan getuig. Kinders moet heeldag tuis bly. Sommer oornag moet ouers die rolle van onderwysers oorneem en hul kinders tuis onderrig. En so begin die pret.
Gou besef ons ouers die groot en belangrike taak wat onderwysers by die skool vervul. Nie lank na grendeltyd begin het nie is sosiale media oorlaai met dankbetuigings en plasings wat respek toon teenoor onderwysers. Dis toe glad nie so maklik om kinders self te onderrig nie. En probleme is toe ook al die tyd nie noodwendig net die onderwyser se skuld nie.
Maar laat ons ook nie doekies omdraai nie. Dis moeilik om al die kinders heeldag by die huis te hê. Dis ’n stryd om jou eie werk gedoen te kry. En om nou nog te probeer sin maak van die kinders se skoolwerk daarmee saam, is werklik ’n uitdaging. Die meeste van ons is nie opgelei as onderwysers nie. Ouers wat wel onderwysers is, kan getuig dat om vir jou eie kind skool te gee, ’n perd van ’n heel ander kleur is.
Die skielike onderrig van kinders by die huis bied vir ons ouers bepaalde uitdagings. Tog is dit ook ’n baie geseënde tyd. Ons weet uit die Bybel dat ouers ons kinders se primêre opvoeders is. Dis ons taak om ons kinders op te voed. Ons word dalk nou gedwing om op terreine te beweeg wat nie in ons gemaksone is nie. En ja, selfs ’n Graad 3 wiskundesom kan intimiderend vir ouers wees.
Tog is daar ’n paar wenke wat ons ouers (en die kinders) bietjie verligting kan gee. Die eerste wenk is om ’n goeie roetine in te stel en daarby te hou. Om vroeg te gaan slaap, vroeg op te staan, gesond te eet en genoegsaam te oefen, bly maar die wenresep. Trek maar die pajamas uit en borsel julle tande voordat die skoolboeke gevat word. Waar jy as ouer van die huis af moet werk, probeer jou werkstye skeduleer sodat kinders weet dat hulle jou nie in dié tyd moet pla nie. Ma en pa kan mekaar ook aflos wanneer kinders besig gehou word.
Die tweede wenk is om goeie balans te handhaaf. Moet nie kinders oorlaai met skoolwerk nie. Kinders moet ook kinders wees en genoeg speel en oefen. Speel en oefen sommer saam met jou kind. Dit sal vir julle albei baie waardevol wees.
Ten derde moet kinders emosioneel ondersteun word en sosiaal bly. Kuier saam as gesin, maar gesels ook individueel met elke kind oor sy/haar diepste gevoelens. Kinders is emosionele wesens en het ’n groot behoefte aan emosionele ondersteuning. Veral vanaf hul ouers.
Laastens is daar goeie nuus. Ouers moet nie oorweldig voel nie. Moet ook nie dat die kinders se skoolwerk jou intimideer nie. Die “regte” onderwysers bly steeds hard aan die werk en is beskikbaar om hulp te verleen. Vra gerus jou kinders se onderwysers vir raad.
Het ek as ouer oornag ’n onderwyser geword? Dit voel dalk so en ja, skielik is ons meer by die kinders se skoolwerk betrokke en dit het bepaalde uitdagings. Maar weet tog dat die Here vir elke ouer, met die geboorte van hulle kinders, in wese onderwysers gemaak het. Onderwysers onder leiding van die Grootste Onderwyser, Jesus Christus. Elke dag word ons opgeroep om ons kinders in weë van die Here te onderrig. Deur tug en lering moet ons die wonderdade van die Here aan ons kinders oorvertel. Dit is ’n belangrike taak wat ewigheidswaarde het.
En die beste nuus van alles is dat ons dit nie deur ons eie krag hoef te doen nie. Deur gebed kan ons die Here vir krag, genade en wysheid smeek. Mag ons hieruit moed skep en die uitdagings aanpak. Die klein uitdagings kan nie opweeg teen die ewigheidswaarde wat die opvoedingstaak van ons kinders het nie.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.