’n Nuwe normaal

deur Monja Strydom

“Hoe gaan dit op universiteit?” vra my pa een Sondagmiddag oor die foon vir my. “Baie goed dankie. Ons is besig van die oggend tot die aand. As ek nie klas het nie is ons pal besig met koshuisaktiwiteite, maar ek geniet dit baie. My hare val net baie uit en ek het geen idee hoekom nie?”

“Dis maar van stres.”

Stres?! dink ek.  Ek stres nie. Eerlik waar, ek stres nie. Waaroor sal ek stres?

Ja, ek deel vir die eerste keer in my ’n lewe ’n kamer met iemand wat nie my suster is nie, maar die meisie is baie oulik en ons gesels lekker.

Ja, ek moes Potchefstroom toe trek en al is dit een van die top drie mees traumatiese ervarings (naas die dood van ‘n geliefde en ‘n egskeiding) het dit my nie gepla nie. Ek bekommer my nie oor sulke dinge nie. Ek is baie aanpasbaar en selfs al werk alles nie heeltemal uit soos ek beplan het nie, maak ek die beste daarvan. Ek is nou ingeburger en gelukkig.

Ja, daar is ’n paar toetse wat ek moet skryf, maar ek leer hard en ek is seker dat dit goed sal gaan.

Ek stres nie, Pappa. Ek stres regtig nie. Dit gaan goed.

Dit is wat ek gedink het. Dit is wat ek só vasgeglo het, maar dit was nie waar nie.

Ek hét gestres. Ek het dit dalk nie gewys nie, maar my liggaam het dit geweet! As ek my hand deur my hare getrek het was daar ‘n bos hare in my hand. Dit was nie normaal nie. Na ’n paar maande en ’n paar vitamines het die probleem vanself weggegaan.

Dit was die eerste keer wat ek besef het jou liggaam ervaar soms erge trauma al probeer jy dit hoé weggesteek of ontken.

Meeste van ons het al ervaar dat jou liggaam na ’n baie moeilike tyd by die werk of na ’n belangrike sperdatum, skielik net nie meer kan nie. Jy raak siek. So siek dat jy vir ’n paar dae nie uit die bed uit kan opstaan nie. ’n Mens se liggaam weet wanneer jy rus nodig het. Rus wat jy hom nie gee nie.

Ek het op die vyfde verdieping in ’n koshuiskamer gebly terwyl ek studeer het. Hoewel ek van ’n redelik misdaadvrye omgewing na ’n al-hoe-onveiliger-stad getrek het, het ek altyd geglo dat ’n misdadiger, wat eers deur kampussekuriteit en die veiligheidshek by die koshuisvoordeur moes kom, nie iemand op die vyfde vloer sou teiken eerder as iemand op die eerste vloer nie. (Buitendien, ek dink enige inbreker het maar ’n inherente vrees vir 230 meisies wat gelyk aan die gil gaan as een van hulle hom dalk in ’n half donker gang gewaar.) Ek het dus redelik gerus geslaap.

My suster was egter effens meer blootgestel. Hoewel sy in ’n kommune met ’n veiligheidshek én twee wagte wat beurte maak om die weerlose kommunedames op te pas, gewoon het, is daar twee keer ingebreek in die tyd wat sy daar gewoon het. Die wag is een keer met ’n mes in die bors gesteek. Rowers het in die huis ingekom en een van haar vriendinne se kamer reg oorkant hare leeg gedra.

Later het sy haar meestersgraad op Stellenbosch gaan doen. Sy het in ’n tuinwoonstel in mense se erf gewoon. Daar is, helder oor dag, by die hoofhuis ingebreek terwyl almal weg was.

Hierdie dinge het haar begin beïnvloed. Vakansies as sy terug gekom het huis toe was sy konstant senuweeagtig oor goed. Is die deur gesluit? Is die vensters toe? Dit is nou dieselfde suster wat normaalweg stoksielalleen met ’n kortbroek, waterstewels en ’n flitsie heen-en-weer in die nag op die plaas rondgestap het om besproeiing oop en toe te draai. Die suster wat ’n pofadder met ’n snoeiskêr doodgeslaan het.

Skielik was elke geluid in die nag iets om oor te bekommer.

Ek ken my suster. Ek ken haar al baie goed vir baie jare. Haar senuweeagtigheid was nie normaal nie.

’n Jong pasgetroude damesdosent vertel so ’n ruk terug dat iemand op pad werk toe ’n wapen teen haar kop gedruk het en haar ring probeer steel het. Sy het weggekom en tipies van ’n Vrystaatse plaaskind het sy aangery Johannesburg Universiteit toe, vasbeslote om verder te werk. Haar man het haar kom haal en huis toe geneem. “Daar is nie ’n kans dat ek jou vandag sal laat werk nie”.

Ons Afrikaners is SO veerkragtig. So aanpasbaar. So innoverend.

Ons leef in ’n land waar dinge al hoe meer teen ons draai. Ons moet voortdurend aanpas, voortdurend ’n nuwe normaal probeer aanvaar. Maar hoe normaal is dit regtig?

Ons leef in ’n land waar ons voortdurend afgemaak word as onderdrukkers en rassiste. In so ’n mate dat veral jong Afrikaners wat na 1994 deur die skoolstelsel is, ’n ernstige skuldgevoel ontwikkel het. So erg dat ’n jong student die ander dag vir my sê dat haar skootrekenaar en al haar klere uit haar voertuig gesteel is. Sy voeg by: “Maar dalk het hy dit meer nodig gehad as ek”. Ek tuimel amper reg agteroor van skok. Ja, dit was vir haar ’n aaklige ervaring, ja sy het baie spesiale en baie sentimentele klere verloor, ja, haar rekenaar met al haar foto’s en universiteitswerkstukke is weg, maar sy aanvaar dit. Dis seker maar hoe dit moet wees. Dis seker maar beter so. Dis normaal.

DIT IS NORMAAL. Ons moet dit aanvaar. Ons moet. Ons moet. Ons moet. Ons moet. Wat kan ons doen sodat dit nie weer gebeur nie? Meer kos vir die arm mense gee? Dalk op ’n veiliger plek parkeer. ’n Beter alarmselsel kry? Hoër heinings. Dit is normaal. Ons moet net aanpas.

’n Vriendin uit Australië laat weet hulle woon so lekker daar. Ja, die mense praat nou nie Afrikaans nie, maar “ons gaan stap om die blok en ons sluit nie eers die huis se deure nie. Ons vriende kyk ons vreemd aan as ons, ons voertuig sluit. Dit is glad nie normaal om hier jou voertuig te sluit nie. Hier was 39 jaar laas ’n moord in die stad waar ons woon”

’n Ander vriendin  bel my uit Amerika uit. “Dit is so lekker hier. Ek sal nie maklik terugkom Suid-Afrika toe nie. Die mense is SO trots op hulle erfenis en hulle vlag. Op Independence day is daar oral optogte en mense waai hulle vlaggies. Dit is so lekker om trots te wees op wie jy is!”

Ek kry oom Koos in die dorp. Sy seun is ’n geoktrooieerde rekenmeester. Hy woon en werk nou in Luxemburg. “Weet jy” sê hy op sy eg Noord-Kaap manier, “hy sê vir my: as die trein daar veronderstel is om 17:00 aan te kom dan kom dit 17:00 aan. Op die minuut. Hy sê hy sal nie maklik terugkom nie.”

’n Tannie oorkant die pad se kinders het onlangs Nederland toe getrek. Sy kom vertel: “My dogter sê die Nederlanders hys ’n vlag vir enige ding. Van ’n kind wat gebore is, tot die afsterwe van ’n geliefde, tot ’n kind wat matriek geslaag het. Hulle bure het ’n skooltassie gehys laas week om aan te dui hulle kind gaan graad 1 toe!” Sy is hartseer dat sy so ver van haar kleinkinders af is, maar sy is diep dankbaar oor haar dogter in ’n gemeenskap woon waar dit normaal is om jou vreugde en hartseer met jou gemeenskap te deel.

********************************************************************************************

“Mense kom siek hier aan” sê my ma nou die dag vir my. Sy werk baie direk met nuwe Orania intrekkers. “Heeltemal siek”

“Mense kom so verskriklik bang hier aan. Kan jy dink in watse vrees hulle buite Orania moes leef?”

My gedagtes dwaal onwillekeurig na ’n plasing wat ek ’n ruk terug op Facebook gesien het van ’n jong plaasvrou wat SO graag ’n kindjie wil hê, maar te bang is om swanger te raak omdat sy nie weet wat die toekoms vir die arme kind in Suid-Afrika sal inhou nie. Verder vrees hulle daagliks vir hulle lewens op die plaas en haar skoonfamilie het vir haar gesê dat dit onverantwoordelik sal wees om ’n kind in die wêreld te bring as dit so gaan.

HOE DE HEL IS DIT NORMAAL?!

Hoe is dit normaal om op ’n Maandagoggend die koerant oop te maak en ’n arme tannie van Reivilo se pimpel en pers geslaande, bebloede, post-plaasaanval gesig daar te sien pryk?

Hoe is dit normaal om strafkrag te hê as jou munisipale rekening elke maand tot op die sent toe betaal is? Agt ure krag, agt ure geen krag… (sterkte Vanderklowers)

Hoe is dit normaal dat omtrent een derde van die bevolking werkloos is en die res moet hulle dra?

Hoe is dit normaal dat blanke matrikulante met agt onderskeidings nie keuring kry om medies te swot nie?

Hoe is dit normaal dat ’n kinderoppasser wat nie onmiddellik stop wanneer die polisie haar in ’n donker area aftrek nie, maar eerder haar flikkerligte aanskakel en na ’n veilige area ry, uit haar voertuig geruk word en in ’n vangwa gegooi word deur die polisie?

Hoe is dit normaal dat daar helder oordag op ’n Sondagoggend by ’n kerk in Bloemfontein ingebreek word terwyl die diens aan die gang is?

Ons mense kom gewoonlik eers agter wat hulle gemis het wanneer hulle al hulle aardse besittings verkoop het en in die buiteland gaan nesskop het. Dan besef hulle wat eintlik normaal behoort te wees.

“Ons sukkel om ons mense gesond te kry. Hulle is só bang, só verwond.” hoor ek weer my ma.

Besluit vandag hoe jy wil hê jou normaal moet lyk.

Dalk is dit nie so verregaande om te dink dit is normaal as mense jou NIE besteel as jy nie alle moontike voorsorgmaatreëls tref nie. Dalk is dit nie verregaande om trots te wees op wie jy is nie, om ’n trein te verwag op die tyd wat dit veronderstel is om aan te kom nie, om jou gemeenskap te ken en jou vreugde met hulle te deel nie.

Ek het gekies.

My normaal is om te gaan draf. Enige tyd van die dag. Nie net sonder vrees vir ’n aanval nie, maar ook met die vreugde om lede van my gemeenskap raak te loop en vrolik te groet.

My normaal is ’n gemeente wat op ’n Sondag bymekaar kom en in Afrikaans kan aanbid.

My normaal is om gou voor my werksdag by die skool te gaan praat oor hoekom ons wil hê elke Orania-kind moet fietsry en watter padreëls belangrik is vir klein fietsryertjies.

My normaal is om saans na werk ’n klomp jong, gesonde Afrikanerstudente te hoor krete leer in hulle koshuis oorkant die pad.

My normaal is om ’n stukkende pyp of ’n rioolprobleem aan te meld en ’n Dorpsraad-bakkie binne ’n halfuur te verwag.

My normaal is om fiets te ry dorpswembad toe en my fiets buite die swembad, in die fietsloods staan te maak sonder enige vrees dat enige iemand dit sal neem.

My normaal is Orania.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.

Wie dra die verantwoordelikheid?

deur Flip Buys oorspronklik op https://www.facebook.com/FlipBuysBlad/ gepubliseer.

Die ANC se blamering van wittes vir swartmense se probleme is misplaas. Ons is nie hulle probleem nie, en nie hul oplossing nie. Hulle sal hul kiesers moet leer om die geleenthede wat vryheid meebring self te gebruik. ‘n Polities maglose groep kan dit nie vir hul ‘gee’ nie, en die staat ook nie gee óf van ons vat nie. Die harde werklikheid is dat – soos enige ander groep ter wêreld – swartmense se aandeel van die ekonomie bepaal word deur hul bydrae daartoe.

Afrikaners se historiese strategie om ons gemeenskap se armoede te oorkom, was om ons bydrae te verhoog deur die stigting van ‘n magdom nuwe besighede en ander instellings. Ons voorouers het nie die Engelse se banke, universiteite en dorpe oorgevat nie, maar nuwes gestig: Volkskas, Sanlam, RAU, Naspers en die res. Dr Anton Rupert is nie deur wetgewing en die staat ‘bemagtig’ nie, maar het self ‘n globale Sakeryk opgebou. In kort – dit als het die ekonomie vergroot, met meer geleenthede vir almal.

Daarteenoor het die ANC nie ‘n groeiplan ingestel nie, maar die bestaande koek net herverdeel. Maatskappye is met wette gedwing om poste en aandele vir swartmense te gee. Die gevolg was dat die ekonomie nie vergroot is nie, maar bates net hersirkuleer is. Die beste swart talent is in bestaande besighede ingetrek, in plaas daarvan om nuwes te stig – soos Moeletsi Mbeki uitgewys het.

Boonop is die ANC-siening dat swartmense se lot in wit hande is, ontmagtigend en beledigend vir swartmense – asof hul niks vir hulself kan doen nie. Die ANC se blaampolitiek is ‘n suksesvolle politieke strategie om stemme te wen, maar ‘n ekonomiese mislukking vir swartmense om uit armoede te ontsnap.

Die ANC herhaal nou weer al die mislukkings van post-koloniale Afrika, in plaas van om uit hul foute te leer. Dis hoekom lande soos Botswana, Mauritius, Ethiopië, Rwanda en ander beter as SA vaar. Daarteenoor wil die ANC weer dekoloniseer – wat hul reeds met Openbare Ondernemings soos Eskom en die SAL, plattelandse dorpe, staatshospitale, die staatsdiens en grootskaalse straffelose korrupsie ‘reggestel’ het.

Daarom kan Afrikaners nie meer op die ANC staatmaak nie. Ons is op ons eie. Dis bevrydend, want ons toekoms hang nie van ‘n korrupte onbevoegde regering af nie. Staatsbestuur het reeds misluk, en gaan nie regkom nie. Ons enigste keuse is om deur groeiende Selfbestuur met sterk selfhelp-gemeenskapsorganisasies staatsbestand en selfstandig te raak. Hou op treur oor wat verval het, en help bou aan wat nodig is. Die verlede gaan nie terugkom nie, die hede gaan nie weggaan nie, en die toekoms gaan nie vanself gebeur nie.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.

Wat van die Afrikanerjeug?

deur dr Louis Bothma

10 JUNIE 1980: 40 JAAR GELEDE.

(ONS IS GATVOL DAT HECTOR PIETERSON ELKE JAAR OP 16 JUNIE IN ONS EN ONS KINDERS SE KELE AFGEFORSEER WORD. DAAR IS ‘N ANDER KANT OOK).

Die ergste kaping is nie dié van die staat nie, maar dié van die geskiedenis. Kinders moet die volle verhaal van hierdie land se jeug leer as hulle die greep wil breek van gewetenlose politieke skurke wat hulle toekoms steel.

Ek het hierdie in 2008 geskryf, maar hoe meer onskuldige wit kinders gemarginaliseer word, hoe meer skreeu die onreg ten hemele. Daar kan geen sprake van bevryding wees as ‘n sekere deel van die geskiedenis (wat nie inpas by ‘n voorafopgestelde politieke agenda nie) gekriminaliseer en in skole verbied word.

Dinsdag 10 Junie 2008.
Die windjie is koud. By die wagpos loer ‘n swart soldaat vir my deur die ruite. Sy maat kom nader en stoot die hekke van 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon oop. Maar net nóg ‘n dag by One SAI, in Bloemfontein, in Suid-Afrika.

Die groepie wit mans, eenkant in ‘n hoekie van die basis, lyk eensaam in die wintergrou. Piet Terblanche, die oudste van die lot, stap my tegemoet: “Welkom. Ons is bly jy het gekom.”

Kobus Eloff, Francois Dercksen, Tony Op’t Hof, H.P. (Eights Pie) Ferreira… Ek skud hande op die ry af. ‘n Tweeling, Grant en Brent Abrahamse, wat spesiaal vir die geleentheid van die Kaap gekom het, stel hulself voor.

“Ekskuus, kan jy net weer jou naam sê?” vra ek ‘n kêrel wat ‘n oog verloor het. “Marco. Marco Caforio from Jo’burg,” sê hy en neem sy plek tussen die ander in.

Hulle is oorlewendes van 1 SAI se Alpha-kompanie, wat op 10 Junie 1980 SWAPO se Smokeshell-basis, diep in Angola, saam met kommandant Dippies Dippenaar van 61 Gemeganiseerde Brigade aangeval het. Hulle staan by ‘n gedenkteken met die name van hul gesneuwelde makkers: Hannes du Toit, Paul Kruger, Andrew Madden, Rob de Vito, Pip Warrener…

Dit was bloedig. Uit ‘n groep van 44 is 12 dood en 23 gewond. Luitenant Paul Louw was in bevel van daardie groep,” sê Cassie Schoeman, destyds kaptein Schoeman.

Die idee om die manne elke jaar op 10 Junie bymekaar te bring, het by die Abrahamse-tweeling ontstaan, vertel Piet Terblanche – ‘n gevreesde sersantmajoor in die dae van die “SAW & Seuns.” Hy verduidelik: “Die doel is om hulde aan ons makkers te bring en ‘n klein reünie te hou. Maar sekere ouens kry ook genesing deur hierdie dae. Party, soos Marco Caforio, was taai om te kom, want hulle kon nie die verlede opbring nie.”

Ons ry na ‘n gesellige kuierplek buite die stad en gaan sit eenkant. Die manne begin praat – eers huiwerig, maar dan maak hulle oop.

Francois Dercksen was gelukkig. Die oggend voor die aanval het een van die Ratels ‘n as gebreek. Hy moes sý Ratel – 9 Golf – vir daardie manne gee en self op Mulemba agterbly. ‘n Paar ure later het sewe van hulle in dié einste Ratel doodgebrand.

Die Ratels het dwarsdeur die doelwit gejaag. Party het dit nie agtergekom nie. En toe hulle omdraai, was hulle in ‘n mielieland – oop teikens vir SWAPO se swaarkaliber masjiengewere. Binne die eerste oomblikke is drie Ratels uitgeskiet. 9 Golf is reg van voor met ‘n 23-millimeter getref. ‘n Fosforgranaat het ontplof. Die Ratel het aan die brand geslaan.

Sewe manne kon nie uitkom nie. ‘n Paar, waaronder Marco Caforio, Rob de Vito, Nick Ogilvie en ene Van der Vyfer, het by die luike uitgespring. Rob de Vito is bo-op die Ratel doodgeskiet. Marco is platgeskiet. Hy en Van der Vyfer moes byna twee ure lank vir hulle lewens veg.

H.P. Ferreira was luitenant Louw se drywer. Hulle Ratel is van die kant af geskiet. Toe slaan die Ratel aan die brand. Twee manne, Gert Venter en Francois Laubscher, is dood. H.P. is deur die onderlyf met ‘n 14,5-millimeter – wat gewoonlik vir lugafweergebruik word – geskiet, en toe nóg vier skote met ‘n AK47.

“Toe ons hom optel, kon ons deur hom sien,” vertel Grant Abrahamse. Sy oë rek groot. Hy was die kanonnier van die “mediese Ratel.”
“Weet jy hoeveel operasies het hierdie man in sy lewe gehad?” vra Cassie. Hy vat H.P. vaderlik aan die skouer en sê: “ses-en-tagtig!”

“Eights Pie, maak oop jou hemp en wys vir die man hoe lyk jy.”

Ek wil nog sê dit is nie nodig nie, toe kyk ek in ‘n gat in H.P. se stuitjie waarin ek maklik my vuis kan druk. Voor, op sy maag langs, is die vreeslikste littekens. Ek dink op daardie oomblik onwillekeurig aan ‘n ou makker van 32 Bataljon, wat ‘n gat in sy arm het. Maar hierdie is veel erger…

“Daar was baie helde daardie dag. Manne soos Andrew McClean, wat met ‘n Bren eenvoudig op ‘n 23-millimeter masjiengeweernes afgestap en die bemanning die een na die ander doodgeskiet het. Daar is baie stories; ons kan die hele dag aangaan. Wat van dokter Heyman – ‘n dienspligtige soos ons – wat agt gewondes deurgehaal het?” vra Grant Abrahamse.

Kobus Eloff, ‘n kêrel wat min praat, was kommandant Dippenaar se drywer. Hulle het ‘n dubbele kaasmyn getrap. Generaal Constand Viljoen was ook in dié Ratel. Louis Harmse, die kompaniebevelvoerder, wat later tydens Operasie Protea gesneuwel het, kon die trane nie teëhou nie.

Ná die geveg is die voertuie boonop in ‘n hinderlaag gelok. “As die ters (terroriste) nét twee minute langer gewag het, kon hulle ons hele konvooi uitgehaal het,” vertel iemand.
Maar daar is nie nét fisieke skade aangerig nie – ook baie psigiese skade is opgedoen. Skade wat nooit bereken en verwerk is nie.

“When we finished the ops in Angola, me and my brother never stop talking about it. We spoke and we spoke and we spoke…” sê Grant. Hy raak hartseer. Hy vertel hoe Marco Caforio elke jaar op 10 Junie in die begraafplaas op Boksburg tussen die grafte van sy twee makkers, Andrew Madden en Rob de Vito, sit en huil het. Hy wou hulle terug hê, by hom. Sy huwelik was verby.

“Die meeste van ons is geskei, party meer as een keer. Ek is self geskei,” vertel Brent – die ander tweelingbroer. “Jy weet self ons mag nie oor hierdie dinge gepraat het nie. En ons wit mans wys nie swakheid nie. Ons verloor nooit die geveg nie.” Hy vertel hoe hy introspeksie gehou het; besef het hy moet verander – anders sou hy later heeltemal alleen wees.

“Nou stres ek nie meer nie,” sê Brent. En hy kon Marco Caforio gaan optel. Marco het gesê hy wil niks van hulle – van die army – weet nie. Maar sy vrou het hom uiteindelik drie jaar gelede oortuig om te kom.

“Hy het by 1 SAI se hek gestaan en huil. Hy het daardie hele naweek net gehuil. Maar nou is hy okay. Jy het mos self gesien?” sê-vra Brent en kyk na my.

Ek vertel hoe ek – in 1978 ‘n tweede luitenant – jare later my oud-bevelvoerder moes gaan help. Hy wou niemand naby hom hê nie, maar eintlik was dit ‘n noodkreet dat iemand moes kom.

Dit raak teveel vir Cassie Schoeman. Hy stap uit; wil nie hê ons moet sien hy huil nie.

“Dinge kom noú uit – 28 jaar té laat,” sê Francois Dercksen, ‘n man wat ook sý paadjie geloop het.

Piet Terblanche het in ‘n stadium besef hy het hulp nodig. Hy het met sy huisdokter gaan praat. “Ek sal dit stilhou,” het die dokter gesê. Piet was verontwaardig: “Dink jy ek is mal? Ek is nie mal nie man!”

Uiteindelik is hy na ‘n sielkundige verwys. Maar dit het niks gehelp nie.

“Die man het nie geweet waarvan hy praat nie, want hy was nie dáár nie. Toe wil hy vir my ‘n rekening stuur. Sal jy die garage betaal as hulle ‘n pap wiel moes regmaak en hy is nog steeds pap?” wou Piet by die sielkundige weet.

Cassie het intussen teruggekom. Die atmosfeer raak ontspanne. Hy vertel staaltjies van I SAI se bevelvoerder, oorlede “Oom Joep” Joubert. Hy het Lexington gerook, Black Label gedrink, en kon nie Engels praat nie. En sy hare was gesny soos Kobus Wiese sin. Ons skaterlag.

Skielik onderbreek Grant ons: “Skuus manne. Dit is 13:25. Die kontak het noú begin.”
‘n Paar oomblikke stilte.

Piet Terblanche vertel van die troepe wat altyd Maandae laat van pas af gekom het. Toe sê hy vir hulle: “Die man wat my ‘n verskoning kan gee wat ek nog nie gehoor het nie, sal ek eers straf en dan ‘n ekstra naweekpas gee. Ene Kolbe van Pietermaritzburg kom toe laat en verduidelik: “Sammajoor, toe ek vanoggend twee-uur op Pretoria-stasie staan, toe kom daar ‘n swartman met ‘n radio teen sy oor verby. Toe speel Die Stem van Suid-Afrika. En toe gaan staan ek op aandag en ek salueer, soos jy ons geleer het. En toe ry die trein vir my weg sammajoor…”

Die son sit laag. Ek groet. Grant stop my ‘n bottel rooiwyn in die hand, spesiaal gebottel: 10 June 1980 – Operation Smokeshell: WE WILL REMEMBER.

“Ons was nie Recces, of Parabats, of in 32 Bataljon nie. Alpha-kompanie van 1 SAI het nie die erkenning gekry soos julle nie. Party ouens het nou die dag eers hulle medaljes gekry – sommer deur die pos. Maar ons het ons kant vir Suid-Afrika gebring,” sê Brent toe hy my blad skud.

Die volgende paar dae kan ek aan niks anders as Operasie Smokeshell dink nie. En aan “Eights Pie,” Marco, Cassie, Piet… en die tweeling.

Vrydag 13 Junie 2008.
‘n Volblad “Boodskap op Nasionale Jeugdag” van premier Beatrix Marshoff van die Vrystaat, pryk in Volksblad.

Hierdie is die 32ste herdenking van die gebeure op 16 Junie 1976. Ons word weer herinner aan die opofferinge en heldemoed van ons jeug toe hulle in opstand gekom het teen die brutale stelsel wat as misdaad teen die mensdom beskou is…

Ek lees nie verder nie, want “Eights Pie,” Marco, Rob de Vito, Andrew Madden, Paul Kruger… is uitgesluit. Dit is net vir Hector Pieterson en maats. Politiek-korrek.

Wit seuns wat genadeloos gedissiplineer is, onder dwang uit die arbeidsmark, uit hulle vaderland geneem is, ‘n oorlog in ‘n ander land moes gaan veg – nie teen rubberkoeëls en traanrook nie, maar teen masjiengeweerkoeëls en fosfor – se opofferinge en heldemoed kwalifiseer nie.

Die wit jeug van 1976 bestaan nie vir die politici van die Nuwe Suid-Afrika nie. Hulle weet nie van Operasie Smokeshell nie, want hulle was nie dáár nie.

Ons het nie die verkiesing in 1994 gesteel, soos Robert Mugabe in 2008 in Zimbabwe nie. Suid-Afrika is nie vandag ‘n diktatuur, soos Kuba nie. Ons kan aanhou en aanhou vertel…

Die politici van die Nuwe Suid-Afrika se probleem lê diep: Hulle weet nie dat hulle nie weet nie.

Oom Paul en Black Lives Matter

deur dr Louis Bothma

Dis ‘n ou Engelse storie met ‘n hartseer einde

Oom Paul kan jou vertel.

Hy sit pyp in die mond met sy arm op die Groot Boek. Daarin staan: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.”

So is dit dan ook met die ding van George Floyd, wat op die hakke van die Chinese Griep, uit Amerika hier aangewaai gekom en nou sommer die “nuwe normaal” geword het.

Wat is normaal in jou kop as jy “black lives matter” skree, maar jy gaan verf Paul Kruger se standbeeld rooi?

Ja, bid jou dit aan: Oom Paul is nou nie meer ‘n Boer nie, maar ‘n Rooibaadjie! Dit is hoe min ‘n mens in rooi oorpak van hierdie land se geskiedenis ken en verstaan.

Oom Paul was nie, soos Cyril Ramaphosa vandag, die president van Suid-Afrika nie, maar van die Zuid-Afrikaansche Republiek – ‘n taamlike groot verskil. In daardie hoedanigheid het Kruger sy republiek teen die grootste koloniale moondheid wat die moderne wêreld nog gesien het, beskerm. Toe die Britte sy republiek sommer so op hulle ou “Queen” se verjaardag in 1877 kom annekseer het, het hy dit nie as ‘n “nuwe normaal” aanvaar nie.

Die enigste ding in die lewe wat normaal is, is vryheid. Punt.

Dit het die Britse Rooibaadjies op die pynlike manier in 1881 by Majuba geleer. En so waar as vet, daar probeer die stinkryk Britse ikoon, Cecil John Rhodes, in 1896 die ZAR met sy private leër en sy lyfarts kaap. Hierop het Oom Paul vir Rhodes en sy dokter by Doornkop (naby Krugersdorp) ‘n klein sakuitgawetjie van Majuba gegee. Maar toe gaan haal hulle die hele Britse Ryk.

Ironies genoeg het die hefboom wat die Britte teen die Boere gebruik het, ook oor die water hier aangekom – die uitlanders. Vandag is hier miljoene, en hulle is nie almal engeltjies nie. Vra maar die polisie. Netso sal die ZARPS – Oom Paul se polisie – jou van Thomas Edgar kan vertel.

Hy was die nag van 18/19 Desember 1898 van ‘n kroeg af op pad huistoe. Toe slaan hy ‘n ander uitlander dat hy vir dood bly lê. Maar net nog ‘n aand in Johannesburg se agterstrate.

Vier ZARPS is ingeroep om Edgar, wat in sy huis in gevlug het, te arresteer. Toe hy nie die deur wou oopmaak nie, het hulle dit oopgeskop, waarop Edgar hulle met ‘n ysterbeslaande staaf aangeval het. In die proses is hy deur konstabel Jones (wat ironies genoeg nie ‘n Engelsman was nie) doodgeskiet. Jones is van moord aangekla.

Dit was net waarvoor Brittanje, die Engelse koerante en die uitlanders – georganiseer in die South African League – gewag het. ’n Paar duisend het Johannesburg op horings geneem en gou-gou was dit opgeblaas tot ‘n internasionale insident. Brittanje is gevra om te kom ingryp om sy onderdane se lewens in die ZAR teen wreedhede van die ZARPS te beskerm.

British lives matter.

Daarop het ‘n verwoestende oorlog gevolg wat nie net die ZAR nie, maar ook die OVS in puin gelê het. Die uiteinde was ‘n “nuwe normaal” waar die Kaap, Natal, Transvaal en Vrystaat – wittes én swartes – in ‘n eenheidstaat onder die Britse vlag opgegaan het. Dit was die eintlike agenda.

Nie net die uitlanders nie, maar ook swart mense wat in hul duisende bewapen en teen die Boere ingespan is, was op die ou einde die groot verloorders.

Toe die uitlanderarbeiders in 1907 staak, het Jan Smuts Britse imperiale troepe ingeroep om hulle tot onderdanigheid te skiet. Brittanje het nie ‘n woord gesê nie. Op hul beurt was swart mense wat aan die kant van die Britse oorwinnaars geveg het, tweedeklasburgers in dié konkoksie wat die Britte geskep het.

Black lives matter?

Dink weer voor julle Oom Paul en president Steyn bestorm. Die geskiedenis is ‘n bliksem. Dit kom altyd terug en byt jou aan die hakskeen.

Ns. Edgar se storie, die hele aanloop tot die Anglo-Boereoorlog (Tweede Vryheidsoorlog) en nog baie meer, word in die boek “Vat jou goed en trek Ferreira” uiteengesit.

Dr. Louis Bothma
Skrywer/Uitgewer
+2783 272 8734
bothmalj@mweb.co.za

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.

’n Operahuis vir Orania

deur Du Preez de Villiers

Die Latynse woord vir opera beteken werk. In die sin dat arbeid verrig is en resultate gelewer word. Dit is ook die meervoud van die woord, opus. Volgens die Oxford woordeboek is die woord opera die eerste keer in 1648 in Engeland gebruik om die taak, “composition in which poetry, dance and music are combined,” te beskryf. Dit was vier jaar voor Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het.

Sedert die eerste uitvoering in 1598 in Florence, het opera vinnig regoor die Westerse wêreld versprei en ’n sleutel gedeelte van ons kultuur geword.

Die operastuk, L’Euridice, wat deur Jacopo Peri gekomponeer is, is die vroegste oorlewende opera. ’n Groot tragedie is dat sy eerste opera, Dafne, verlore geraak het – die verlies van hierdie kunsskat is betreurenswaardig. Dit behoort nooit weer te gebeur nie.

Opera saam met ’n simfonie-orkes kan beskou word as die mees gesofistikeerde uitvoerende kuns-uitvoerproduk van die Westerse beskawing. Dit word vandag regoor die wêreld uitgevoer en geniet.

Die kuns van opera lê in die vermoë om ’n boaardse atmosfeer te skep soos die Duitse komponis, Carl Maria von Weber met sy stuk Der Freischutz reggekry het. Richard Wagner het geen bekendstelling nodig nie en was deur von Weber geïnspireer. Hy was een van die mees rewolusionêre en omstrede komponiste in die geskiedenis. Hy het die konsep, “’n volledige kunsuitvoering”, ontwikkel waarin hy musiek, poësie en skilderkuns saamgevoeg het met ingewikkelde ‘leitmotifs’ en herhalende temas om die drama te versterk. Hy het onder andere die orkes meer prominent gemaak. Hy was ook bereid om bestaande musikale konvensies te oortreë soos in Der Fliegende Hollander, Tannhäuser en Lohengrin. In Die Meistersinger von Nürnberg, Der Ring des Nibelungen en Parsifal het hy ’n naatlose vloei van ’n eindelose melodie teweeggebring. Hy het ’n nuwe dimensie aan opera gegee.

Opera word steeds gemoderniseer en dit is vandag veral gewild onder opera- en klassieke komponiste om klankbane vir films te skryf. Wat wel belangrik is, is om die Westerse gehalte van opera en klassieke musiek te behou en dit kan slegs deur die adellikes van die Weste bereik word.

Jy kan baie van hierdie adellikes in Orania vind.

Hierdie dorp het klein en eenvoudig begin, maar het vandag geen bekendstelling nodig nie. Met die ontstaan van hierdie “omstrede” projek om bloot die Afrikanerkultuur te bewaar en te laat gedy is die norme van die Suid-Afrikaanse samelewing uitgedaag. Dit het noodwendig teenkanting ervaar en is met agterdog bejeën. Hierdie klimaat het egter die nuwe denkers en nuutskeppers verder aangespoor om amper iets bonatuurliks, as dit nie ’n wonderwerk is nie, in hierdie dorre Karoostreek te skep. Die inwoners het hard beplan en hard gewerk om ingewikkelde uitdagings te oorkom. Mettertyd is die wanklanke uitgestryk en ’n ritme is bereik wat hierdie pragtige projek nou uiteindelik in harmonie laat vloei. Die dramatiese groei en gewildheid van Orania onder Afrikaners in Suid-Afrika en regoor die wêreld, skep ’n warm, lekker gevoel in ons harte en prikkel ons emosies. Orania se overture was stadig en afgemete, maar nou is hulle besig om die eerste aria uit te voer. Daar is ongetwyfeld nog progressies, ontwikkelings, crescendos en wendings wat tot iets skouspelagtigs en luisterryk gaan opbou. Dit gaan sonder twyfel ’n uitvoering wees wat die wêreld gaan laat regop staan, hande klap en met ’n applous, “encore!, encore!” laat toejuig.

Soos sake nou lyk, word Westerse kuns al hoe meer in die groter Suid-Afrika uitgefasseer. Sodra Orania ’n groot stad word moet daar beslis ’n operahuis gebou word waar die Europese operas en klassieke komposisies bewaar en uitgevoer kan word en ’n sterk komponent van die inwoners se kultuur sal uitmaak. Die inwoners het soos dit hoort reeds ’n musiekgroep begin wat sterk groei en die gemeenskap tydens samekomste vermaak. Die fondament vir talentontwikkeling is reeds gelê en gereed om vir die opvolgers van Mimi Coertse, Marita Napier, Emma Renzi, Gé Korsten, Deon van der Walt, Zanne Stapelberg, Désirée Talbot, Cecilia Wessels en Elza van den Heever ’n tuiste te bied. Dit geld ook vir ons komponiste en ander uitvoerende kunstenaars.

Daar moet ook avant-garde Afrikaner-operas en klassieke stukke gekomponeer en uitgevoer word om die stryd en opwinding in ons verlede uit te beeld. Natuurlik gaan die grense van musiek verskuif word, want alhoewel Orania die geskiedenis eerbiedig en bewaar, pas hierdie gemeenskap die modernste metodes toe om uitdagings te oorkom, tred te hou met die hede en gereed te maak vir die toekoms. Dit sal noodwendig ook in hulle musiek weerspieël word.

Orania is vandag ’n toonbeeld van Westerse, Afrikaner-beskawing en hierdie gemeenskap is bestem om een van die veilige vestings, indien nie die enigste een nie, van die Westerse beskawing in Afrika te word.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel