deur Joost Strydom

(’n Storie oor ’n Boereheld)

Heldhaftige soldate is baie meer volop in vredestyd as in oorlogstyd. Soos ’n goeie vriend van my, met ’n militêre loopbaan van meer as 20 jaar nou die dag droogweg sê: “Die wat die liefste vir oorlog is, is die ‘groot patriote’ wat soldate by die trein afsien met ’n laaste biertjie en dan na hulle huise terugkeer vol trots en sterk opinies. Hulle is nie die wat vrees, honger, koue en dood saam met soldate sien nie.”

Ek reken geharde soldate smaal meestal bloot minagtend vir ’n kroegkryger se leë bravade, en steur hulle verder min daaraan. Die probleem is egter nie die “gesteelde heldeverering” soos die Amerikaners dit noem nie, maar openbare sentiment, populistiese politiek en die rampspoedige gevolge daarvan.

Daarmee bedoel ek: mense wat oorloë begin en die wat oorloë eindig is baie keer nie dieselfde mense nie.

Baie van ons het op skool gehoor: “Moet nooit ’n vuisgeveg begin nie, maar maak seker jy is die een wat hom klaarmaak”. Goed en wel, maar daar is ’n valse implikasie in dat jy elke vuisgeveg waaraan jy deelneem, kan wen. As dit maar tog so was dat die eerbare persoon elke vuisgeveg (of oorlog) gewen het. Selfs in ’n geveg wat jy wen kry jy ook seer, en ’n goeie vuishou kos jou heel gereeld gebreekte kneukels.

Die wat nie groeiende konflik help aanblaas nie word baie keer as “lafaards” beskryf. Nie oor hulle oortuigings nie, maar oor hulle opposisie hulle polities wil “ontman”.

Generaal De la Rey, die Leeu van die Wes-Transvaal, die Boereheld, die veggeneraal was só ’n man.

Dit is alom bekend dat De la Rey sterk gekant was teen die groeiende konflik met die Britse ryk. Hy was ook gekant teen die ZAR se ultimatum. In die Volksraad is hierdie teenkanting tot so ’n spits gedryf dat  De la Rey as ‘liberaal’ beskou is. Ander lede van die Volksraad, onder andere Paul Kruger, het De la Rey as ’n lafaard uitgekryt omdat hy nie wou oorlog maak nie.

De la Rey het met minagting hierdie aanklag teen sy karakter verwerp en in baie duidelike terme (amper profeties!) gestel dat hy lank na die res oorgegee het nog in die veld sal wees. Toe die meerderheid van die Volksraad egter hulle steun aan onmiddellike oorlog toeskryf het De la Rey dadelik sy onvoorwaardelike lojaliteit aan die ZAR en oorlogspoging bevestig.

Die Leeu van die Wes Transvaal het sy naam in elke veldslag verdien, en bewys dat hy niks behalwe sy Skepper vrees nie. Daar is weergawes wat beskryf hoedat De la Rey ongewapend te perd deur die vyand se vuurlyne gejaag het om sy manne aan te moedig!  “Kom my seuns, veg met my! God is aan ons kant! Kom! Kom! …”

Vandag huldig ons De la Rey (en ander) as van die grootste helde en dapperste manne wat ons volk nog geken het.

De la Rey is ook bekend vir sy goeie oordeel, weldeurdagte standpunte en is selfs deur die Britte as ’n “gentleman” beskryf.

Die generaal is nie ’n lafaard wat ’n leeu geword het nie. Hy was altyd ’n leeu. Sy liefde vir vrede het vir ons gewys hy is ’n man met goeie oordeel, sy optrede op die slagveld het ons laat besef hy is ’n man met dapperheid.

Daar is baie dinge wat oorlogsvuur in mens se are wakker maak. Onregverdigheid, onderdrukking, die moord en doodslag van ons mense en plaasboere, kriminalisering van ons kultuurgeskiedenis en die  bespotting van die Lewende God wat ons dien  Ons gewetes dwìng ons om op te tree, en ons moet!

Ons moet planne maak, bou en alternatiewe oprig. Laat ons elke moontlike alternatief en remedie uitput. Laat ons goedkoop braaivleisvuurgesprekke oor oorlog vermy. Laat ons in gedagte hou watter prys die Bittereinders moes betaal – ekonomies, fisies en meer.

Die Afrikaners het geen soldate wat ons by die trein kan gaan afsien wanneer hulle slagveld toe reis nie. Ons het net onsself en ons eie kinders.

Omring jouself met mense wat oorlog probeer vermy, maar wanneer dit onafwendbaar is wel gereed is om die bittere prys tot die einde toe met hulle eie bloed te betaal.

Laat ons, soos De la Rey, niks anders as ons Skepper vrees nie. Laat ons ook soos De la Rey goeie oordeel en vrede koester vir hoe ongelooflik waardevol dit is.

Blog Single

Wanneer ’n Leeu ’n Lafaard genoem word

by | Jun 4, 2020 | Uncategorized | 3 comments

3 Comments

  1. Anthony Schlemmer

    ‘n Goeie wysheid om te onthou, moet nooit ‘n geveg begin, as jy nie seker is jy kan dit wen nie. (Amper soos jy dit gestel het) Tans is ons nie in so ‘n posisie nie. Verset verseker, maar nie geweldadig.

    Reply
  2. Daniel

    Anthony, soms kies die geveg/oorlog jou en dan moet jy eenvoudig jou man staan – jou keuse is oorleef of vergaan. Ek’s bevraas ons beweeg daagliks nader aan daardie besluit.

    Reply
  3. Rudolf

    Die morele hoë grond, juis om vyandiggesindes van “ammunisie” te weerhou, moet altyd vooropgestel wees.

    Dis ook ons Christelike plig om binne die riglyne van die Woord, dus ook die landswette, te handel.

    Nogtans moet ons uit pligsbesef weerstandig raak as onreg wet word, sonder geweld.

    Dit beteken uiteraard nie dat ons nie hoef voorbereid te wees vir enige gebeurlikheid of scenario nie.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

3 × five =