fbpx

deur Joost Strydom

“Die visie van ’n kultuur lê in die dinge wat sy hoofinstellings word, wat onthou word as die gebeure met die grootste impak, en wie as helde vereer word” – Joan D. Chittister.

Instellings

Sosiale samehorigheid en sosiale orde was vir Émile Durkheim, vader van die moderne sosiologie, ’n lewenswroeging. Hoe ondersoek ʼn mens die verdelende en verenigende aspekte van ’n kultuur of bevolking, om sosiale samehorigheid te bevorder of selfs te verseker?

Durkheim se teorie van funksionalisme kyk na beskawing met ’n arends-oog en interpreteer elke deel van ’n beskawing volgens die bydrae daarvan tot die stabiliteit van die geheel. Volgens hierdie teorie word ’n beskawing saamgestel deur sosiale instellings, elk wat ’n sekere behoefte in die samelewing bevredig en elk met ’n spesifieke stel gevolge. Alle instellings is dus interafhanklik.

’n Funksionele samelewing vereis instellings en waar daar gebreke is sal daar instellings ontstaan om die gapings te vul.

Sosioloë definieer sulke instellings in terme van familie, regering, ekonomie, media, opvoeding, en geloof. As ’n mens die teorie van funksionaliteit beter wil verstaan, is dit van groot belang om dít in gedagte te hou. Waar instellings in perfekte harmonie met hierdie sake handel, is orde produktiwiteit en stabiliteit die gevolg.

Die gegewe vir baie mense is dus: gesonde gesinne se kinders gaan na funksionerende skole, wat deur die staat met belastinggeld onderhou word en ’n stabiele ekonomie word onderhou deur sy instrumente en bied vir die volgende geslag voldoende  werksgeleenthede. Intussen is die onafhanklike en onbeïnvloede media ’n waghond wat balans help hou. Afrikaners kan die doeltreffendheid van enige van hierdie instrumente in ons huidige bestel in Suid-Afrika bevraagteken.

Gegewe die omstandighede raak baie mense toenemend aangetrokke tot ’n bestel waar ’n staat nie hierdie funksies vervul nie, maar die privaatsektor. Dus waar ’n instelling nie presteer nie moet ander geskep word om die harmonie te herstel.

Ons kan dus met sekerheid stel dat, vir ’n funksionele beskawing, instellings kritiek noodsaaklik is.

Instelling

’n Ondeurdagte lewensingesteldheid en blinde vertroue in die status quo, sonder om alternatiewe te oorweeg, sal nog waarlik die Afrikaner se einde beteken.

Die rampspoedige vertroue in die Nasionale Party om elke sosiale funksie denkbaar namens ons te hanteer, het moontlik tot ’n tipe ‘Afrikanerhulpeloosheid’ gelei toe die meeste van ons instellings (van ekonomiese subsidies en opvoeding tot werk en veiligheid) saam met die Nasionale Party (NP) in die niet verdwyn het. Die absolute vertroue in die NP is nou vervang met absolute wantroue in die regering van die dag. ’n Tipe apatiese tekort aan geesdrif vir enige projek wat Afrikaners sou kon bemagtig omdat die huidige regering dit tog “óf nie sal toelaat nie, óf dit ons sal ontneem” verlam baie Afrikaners.

Die bietjie mag wat Afrikaners behou het, primêr in die ekonomiese meganismes, gooi ons naarstiglik mee wal; ons probeer dit as ’n politieke gereedskapstuk gebruik. Reaksionêr boikot ons een onderneming na die ander wat, in lyn met die huidige politieke verloop, Afrikaners uitsluit en verneder. Boikotpolitiek kan net werk solank as wat die Afrikaner se glyende greep op die ekonomie nog nie gebreek het nie.

Eie-instellings

Eie-instellings is een van die Orania-plan se fundamentele beginsels. Geen wonder dat prof Carel Boshoff en andere net so goed soos Durkheim besef het wat die belang van die rol van instellings in ’n funksionerende en florerende samelewing is nie. Eie instellings is ’n bemagtigende gereedskapstuk, eerder as om ander te dwing om dinge in ons guns te swaai, skep ons in Orania die vermoë om onafhanklik na onsself om te sien. Ons babas, bejaardes, werksgeleenthede, ekonomie, kultuurbewaring ensovoorts is veilig in ons eie hande.

As ‘hoofinstellings’ dan ’n bepalende rol speel in kultuurvisie, beteken dit vir ons as Afrikaners dat die ‘eie’ net so belangrik is as die ‘instellings’. Die privaatsektor se meganismes om staatsfunksies wat agtergelaat word te vervang, beteken byvoorbeeld vir ons baie min indien dit met vreemde arbeid verrig word. In ander gevalle waar ons kultuur of geloof direk misken word, is die gevolg dieselfde.

Afrikaners het, alhoewel dit ’n wyle geneem het om ons ewewig te herwin na die gebeure in die vroeë 90s, dit reggekry om falende staatsfunksies stelselmatig te vervang met burgerregte-organisasies, belangenetwerke, taal-, kultuur- en geloofsinstellings.

Die sukses wat daarin ontsluit is, bewys eie-instellings is nie net nodig nie, maar veral op groot skaal moontlik.

Ingesteldheid

Die vloeibaarheid van die huidige politieke situasie rakende grond, korrupsie, en bevoegheid van staatsdienspersoneel om staatsfunksies uit te voer laat vrae in die lug hang. Vrae oor grense: wie is geregtig op watter grond? Belasting: wie is geregtig op wie se inkomste? Verantwoordbaarheid: wie se verantwoordelikheid is die funksies wat ons vantevore aan die staat toevertrou het? Op wie se arbeid en dienste is wie geregtig?

Konserwatiewe Afrikaners moet behoudend bly in ons identiteit, kultuur en geloof. Ons moet egter nie skroom om te breek met verouderde instellings nie. Eie instellings soos skole, kerke en maatskaplike hulp het ons leer breek met die hoofstroom, maar daar is nog baie potensiaal om ontgin te word.

Kom ons deel in die ambisieuse ingesteldheid van die eerste vryburgers, die eerste Voortrekkers en die burgers van die republieke.

Ingestel op instellings van ons eie.

Kom ons organiseer onself vry!