deur James Kemp
Die Fortuner se GP-nommerplaat blink in die Karooson. Die oom en tannie stap stadig na die Inligtingskantoor – nie vanweë die ouderdom nie maar omdat alles eers bekyk word. Hulle groet die dame agter die toonbank vriendelik en vertel dat hulle van Pretoria af kom. “Garsfontein,” brei die oom uit en verduidelik dat hy twee jaar gelede afgetree het na 40 jaar se diens in die bankwese.
“Ons is eintlik oppad Jeffreysbaai toe maar my buurman het gesê ons moet eers hier stop,” verduidelik die oom. “Ons slaap by die hotel, daar by die Oewer,” gesels die oom verder. Die tannie is stil. Sy verkyk haar aan die koeksisters en ander plaaslik vervaardigde produkte in die winkel. Sy staan ’n ruk stil by ’n t-hemp wat haar aandag trek en dit lyk of sy seker maak dat sy reg lees: “Ons wil vry….wees.”
Die oom is baie bly om te hoor dat die toergids beskikbaar is. “Dankie, ons wil maar gou loer hoe lyk dit hier op julle dorp,” sê hy aan die toergids. Soos die drie van hulle na die Orania Beweging se toerbussie stap vra die oom of hier enige monumente in Orania is.
“’n Paar, Oom,” antwoord die toergids en knipoog.
Die toerbussie draai regs in Smaragstraat en stop oorkant Orania Veiligheidsdienste se kantoor.
“Hier is een,” sê die toergids en wys na die veiligheidskantoor. Die oom frons en ’n glimlag ontwikkel om die toergids se mondhoeke.
“Dit is ’n monument vir selfstandigheid. ’n Eie instelling wat na die gemeenskap se veiligheid omsien.”
Die oom knik maar aan sy gesig kan ’n mens sien dat sy definisie van ’n monument van die toergids s’n verskil.
By die sirkel draai die bussie links en weer regs by ’n volgende sirkel. Die toergids wys na die Bo-Karoo Opleidingsentrum wat langs die Orania CVO-skool geleë is.
“Daar is nog ’n monument, Oom.”
Die oom kyk die gebou fronsend aan.
“Daai gebou, Oom,” verduidelik die toergids, “is ’n monument vir selfstandige opleiding. ’n Plek waar ambagsmanne opgelei word, ’n kampus in wording waar studente eendag vry van politieke inmenging kan studeer.”
Soos hulle ry vertel die toergids hulle van die ontwikkeling van die dorp sedert 1991. Hoe Orania gekoop en ontwikkel is; die eerste winkel, gastehuis, skool, gemeente – die eerste restaurant en hoe daar later ander bygekom het. Hy vertel van die bierbrouers, kunstenaars, sakemanne, rekenmeesters, medici en ambagsmanne wat hier kom vestig het en hoe kinders wat hier in ’n beskeie ouerhuis grootgeword het vandag welvarende entrepreneurs is. Hy vertel van die toerismebedryf en hoe besig Orania oor naweke is. Van ’n dorp wat besig is om ’n Afrikanerstad te word en hoe besig die bouers in die gemeenskap is. Hy vertel van die ekonomiese geleenthede wat elke jaar meer word en hoe jong gesinne in Orania kom vestig en hier `n veilige en volhoubare bestaan voer. En hoe Orania as ’n monument gesien kan word van wat hardkoppige Afrikaners onder moeilike omstandighede in ’n halfwoestyngebied kan uitrig.
’n Rapsie meer as ’n uur later stop die bussie weer voor die Inligtingskantoor. Die toer is verby. Die oom bly ’n oomblik sit en draai dan na die toergids. “Julle het baie monumente hier maar daar is een wat jy vergeet het om my te wys,” sê hy terwyl sy regterhand aan sy ken krap.
Die toergids frons. “Ja, Oom?”
Die oom wys na twee mans van die Dorpskantoor wat besig is om `n sloot te grawe waar dienste aangelê word. “Daai ouens,” sê die oom terwyl dit die keer die toergids se beurt is om fronsend aan te kyk, “dis nou ’n monument.”
Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.
Pargtig en so waar