fbpx

Uit Voorgrond uitgawe 1 van 2020:

deur John Strydom

Ons beleef ’n vreemde fase in die mens se geskiedenis: dit word toenemend vir mense nodig of selfs dwingend om erken te word, om geag te word, om geprys te word. Waarskynlik het die internet en veral sosiale media ’n rol daarin te speel: dit word makliker en makliker om te sien hoeveel ryk, mooi en slim mense daar op aarde is, en hoe sleg ek daarmee vergelyk. Daar word maar selde gewys hoeveel dom, lelike of arm mense daar is, en nog minder hoeveel “gewone” mense. Kyk maar na watter dodelike of gevaarlike streke mense op kamera uithaal net ter wille van die “selfie” of video wat tog asseblief net “viraal moet gaan” op sosiale media.

As my waarneming en aanname korrek is beteken dit dat daar ’n vakuum bestaan wat nie ideale uitkomste tot gevolg het nie, en genadiglik ook dat dit dalk moontlik behoort te wees om die holte te vul en beter uitkomste te beding. Kom ons kyk na ’n paar scenario’s. Op die Kaapse vlakte kan so ’n toestand kinders moontlik aantrek tot bendelidmaatskap waar dikwels vereis word dat lede ’n mens moet beseer of selfs dood om behoorlik ingelyf te kan word. Hulle smagting na erkenning kan erge gevolge vir die aansoeker hê.

Dieselfde hunkering kan ’n kind aantrek na sport of kultuurbedrywighede om erken te word as “waardig”- in hierdie geval is die uitkoms meestal voordelig. In die meeste gevalle sal so ’n deelnemer deel wees van ’n groep of klub wat ’n geborgenheid en erkenning van “sibbe” sal beteken. ’n Mens kan verder kyk na maatskappye waar werknemers bedrywig is in spanverband en daarom “behoort aan” die grootste, beste of invloedrykste maatskappy in die stad, streek of kontinent.

Die mees basiese groep of “bende” is sekerlik die gesin. Ek hoef nie uit te brei oor die invloed van goeie of slegte gesinservarings nie: dit is oorbekend. Vir die meeste kinders is gesinsvriende en die skool die volgende groep, en weereens is die gevolge van boeliegedrag of aanvaarding oorbekend. En hier begin ons probleme in die RSA: met soveel kultuur- en selfs rassewrywing is dit verstaanbaar dat dit veral in skole ’n invloed sal hê.

Oorvereenvoudiging is gevaarlik maar ek wil waag om te sê dat dit voordelig kan wees om reeds vroeg te begin assosieer met ’n gesiene, eerlike, betroubare en voorspelbare groep. Ek hoop dat Afrikaners darem oor die algemeen beskou kan word as ’n hardwerkende, eerlike en gasvrye “bende” om aan te behoort, al is ons tans sterk onder aanslag. Meer nog, veral in kultuurdorpe soos Orania, word daarna gestreef om nie te isoleer nie, maar wel na sterk bande binne in die groep. Nie-lede word per ooreenkoms ordentlik behandel al ondersteun hulle nie ons poging nie.

Ek is van mening dat daar verdere verryking wag vir diegene wat die moeite doen om hulle talente uit te leef as lede van groepe (oftewel instellings) waar hulle talente geslyp kan word in groepsverband. Sport- en beroepsverenigings, asook vrywillige diensorganisasies bied veilige hawens vanwaar enkelinge kan ontwikkel en selfs uitstyg in sport, kultuur of beroep.

Kom ons bekyk ʼn paar voorbeelde. Atlete wat saamstaan kan geriewe en afrigting bekostig. Skole kan onderwysers, busse en geboue saam bekostig en benut. Stokperdjies kom tot hulle reg in groepsverband. Gemeenskapsbanke behoort aan lede en nie onverbonde beleggers nie. Instellings kan namens lede praat en doen, en dit is onder andere wat die Orania Beweging poog om reg te kry namens Afrikaners wat gekies het om te konsentreer in ’n gebied, en hulle eie arbeid te verrig. Ook om, in die woorde van ons vorige waarnemende bedryfshoof, ’n eie ekonomie te probeer skep. ’n Ekonomie wat beurtkrag, stakings, droogtes, boikotte en weghol inflasie probeer pypkan.

Wees van een ding seker: saam en as deel van ’n groep of instellings, sal dit makliker en sekerder wees mits ons getrou bly aan die Skepper van alle verskillende talente, groepe en denke.