Orania maak baie mense se harte warm, en selfs sommige mense warm onder die kraag. Een ding bly egter seker – Orania groei teen ʼn snel!
Oraniërs en toeriste van die dorp ken al die bekende Oewerhotel, restaurant en spa teen die Oranjerivier, die verskeie lekker eetplekkies in die dorp, die heerlike dorpswembad, plaaslike bierbrouerye, die splinternuwe sportinstituut en ander besienswaardighede soos Orania se Monumentkoppie. Dit is egter ʼn riem onder die hart (en kraag, vir sommiges) om te sien hoe daar in Orania, tot bate van Oraniërs in elke seisoen van die lewe, gegroei, gebou en ontwikkel word.
Vir babas van drie maande tot peuters van vier jaar oud groei Orania se twee dag sorgsentrums Kieliepensie en Huppelkind, eersteklas dagsorgsentrums, geweldig. Huppelkind kyk na ongeveer 80 kindertjies wat liefdevol versorg word en in ʼn veilige, mooi, opvoedkundige omgewing kan speel.
Die twee skole, wat albei laer- en hoërskole is, se skoliere presteer op verskeie terreine en die CVO-skool is tans besig om ekstra klaskamers aan te bou, om die toenemende skolier-aansoeke te akkommodeer. Die nuut uitgebreide sportgronde van die skool spreek boekdele van ʼn lekker, lewendige skoolloopbaan in Orania.
Bo-Karoo Opleiding (BKO) het in 2019 die eerste voltydse groep studente ontvang en sedertdien so baie belangstelling gewek dat daar reeds planne vir verdere uitbreiding is. Die oprig van koshuise en die aanbieding van nog kursusse is in die pyplyn. Tans kan BKO studente ʼn nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in die volgende rigtings verwerf: elektries, bou en siviele konstruksie, loodgieter en gemeenskapsversorging. Hierdie kursusse bou egter nie net studente se kennis en vaardighede nie, maar die studentelewe by BKO is een wat ook die studente se Christelike en Afrikanerkarakter ontwikkel. In 2022 gaan BKO ook ʼn landboukursus aanbied en die grond vir ʼn eie proefplaas is reeds gekoop. Orania het ook sy eie haar-akademie, waar studente hulself as geakkrediteerde haarkappers kan bemagtig. Verder is daar reeds planne opgeteken om in die nabye toekoms nog tersiêre opleiding-instellings in Orania te bou.
Ontwikkelings, soos ʼn park by Gannabos se verblyf-eenhede, getuig van ʼn toename in jong werkendes wat hulself in Orania vestig. Al hoe meer verblyf-ontwikkelings word deur die 28 geregistreerde bouspanne in Orania, wat almal ver vooruit vol bespreek is, aangepak. Volgens Christo Conradie van OOM (Orania ontwikkelingsmaatskappy) is “Orania se eiendomsmark verbysterend goed”. Daar is gelukkig genoeg grond in Orania se besit om alreeds ʼn bevolkingsgroei van 2000 inwoners, tot 10 000, te akkommodeer. Conradie sê die grond gaan vir die ontwikkeling van woonerwe, huurerwe en besigheidserwe gebruik word.
Die nuwe toring vir hoë spoed internet wat tans opgerig word is een van die vele bakens van vooruitgang wat dit vir jong werkendes makliker maak om Orania hul tuiste te maak. Stadsontwikkeling in die nabye toekoms gaan juis fokus op die stadskern, waar dit tans beplan word om drie groot geboue met kantoorspasie te ontwikkel. ʼn Blink toekoms vir die landbousektor word in Orania verwag, soos daar beplan word om al hoe meer handel- en diensgeleenthede aan Boere in die omgewing te bied. Die toerismesektor in Orania groei ook, en soos ekonomiese bedrywighede toeneem volg werksgeleenthede.
Karoosig Atreeoord is ʼn veilige hawe vir Orania se bejaardes. Hier is 10 wooneenhede en ʼn topklas versorgingsaal wat in ʼn personeelspan van 13 toegewyde werknemers se betroubare hande is. Daar is vier-en-twintig-uur versorging en die inwoners sê sommer spontaan hoe lekker hulle eet, en hoe goed daar na hulle gekyk word! Verdere uitbreiding en ontwikkeling word reeds beplan vir Karoosig Aftreeoord, wat ideaal naby aan Orania se mediese sentrum geleë is.
Die snelle bevolkingsgroei in Orania dien as katalisator vir instellings om infrastruktuur en diensteontwikkeling ten bate van baba, peuter, kleuter en kind, voort te sit.
Nou die dag gesels ek en ’n ryk toeris voor my winkel in Orania. Die dame was glad nie beïndruk met Orania nie. Sy woon in Kroonstad en haar man het haar saamgesleep want hy wou bietjie na eiendom kom kyk het.
“Ek sal nooit in ’n plek kan bly as daar nie ten minste ’n Woolies Food is nie,” skiet sy reguit uit die heup uit. Met hierdie stelling het ek spesifiek twee ernstige probleme.
Na Woolworths laas jaar die rassekaart op blankes getrek het, het ek aan myself belowe dat ek nie weer by hulle gaan koop nie. My geld, my reëls.
Tweedens, Kroonstad se water is vuil, hul krag word gedurig afgesny omdat die munisipaliteit nie hul Eskomrekening betaal nie, padvarke jaag in petrol stasies vas en ry oor mense, misdaad is op ongekende vlakke ens. Dis maar net ’n paar hooftrekke wat ek onlangs van Kroonstad in die koerante gelees het. Moet egter nie stres nie – daar is darem ’n Woolies Food wat als oukei maak.
Dit was nie maklik nie, maar ek tel toe tot tien en vertel vir haar dat ek ook nie baie beïndruk was met Orania toe ek vyf jaar gelede vir die eerste keer hier kom kuier het nie. Dit het my ’n rukkie gevat om verby die probleme en uitdagings van Orania te kyk en te besef hoe ongelooflik spesiaal hierdie Karoodorp in werklikheid is. Ek woon al vir meer as twee jaar hier en sou beslis nie getrek het as ek nie met hart en siel geglo het dat dit die regte skuif is nie.
Sy vra toe waar ek vandaan kom, so half asof ek uit een of ander armsalige rioolput gekruip het om te dink dat Orania so wonderlik is. “Nee, ek het maar in Brooklyn, Pretoria, grootgeword en het daarna vir ’n paar jaar Europa plat getoer voor ek teruggekom het,” verduidelik ek.
O gats, die besef sink toe in dat Kroonstad se Woolies Food hierdie Oraniër glad nie soveel beïndruk nie.
“Maar pla al die arm mense in Orania jou dan nie?”
Ja, dit pla my dat mense arm is – maak nie saak waar nie. Dis ’n feit dat brandarm Afrikaners ook Orania toe trek, maar die omstandighede van diegene wat bereid is om te werk verander baie vinnig. Orania bemagtig Afrikaners soos geen ander plek nie.
So ook is daar skatryk Afrikaners wat in Orania kom vestig. In al die plekke waar ek al in die wêreld was, het ek nog nooit ’n gemeenskap gesien waar rykes so baie vir armes doen soos in Orania nie. Die armes word ryker en ondersteun weer die rykes se besighede, wat hulle weer in staat stel om meer vir die werkers te doen. So bou ons ’n gesonde ekonomie.
Dit is buitendien veel meer produktief om werk te skep vir arm Afrikaners in Orania, as om te probeer wal gooi teen die algehele agteruitgang van die res van Suid-Afrika. Terwyl Orania Afrikaners bemagtig, is Afrikaners magteloos om die verval elders te keer bloot omrede ons nie die “regte” velkleur het nie.
Sou ek my besighede in Kroonstad gevestig het eerder as Orania, dan sou ek in die kort termyn waarskynlik meer geld gemaak het maar ek sou opgeskeep gesit het met ’n bankrot munisipaliteit, belaglike misdaadvlakke en ’n gemeenskap wat verarm. Is die kool die sous werd? Beslis nie, want terwyl Kroonstad en byna elke ander dorp in Suid-Afrika in armoede verval, groei Orania se ekonomie a.g.v. bestendige volkseie bestuur.
Ek besef naderhand my verduidelikings gaan by die een oor in en by die ander een uit. Nadat ek haar vertel het dat hier pragtige winkeltjies in Orania is waar mens heerlike delikatessen kan koop, kruidenierswinkels is waar sy haar gemanikuurde hande op enige produk kan lê waaraan sy gewoond is en dat my vrou regte croissants en baguettes bak indien sy belangstel, deel sy toe met my mee dat sy steeds verkies om eerder die volgende dag haar inkopies te gaan doen by “haar” Woolies Food in Kroonstad. Nee goed dan, ek verstaan.
Talle Afrikaners het so materialisties geword dat hulle blind en doof is vir als wat om hulle aangaan. Hulle besef nie dat hul huidige gemaksone in die lang termyn veel groter kan wees as hulle ons net bietjie begin help om die volkstaat te bou deur stelselmatig vir hulself ’n vangnet in Orania te span nie. Vir vele van ons is dit tog logies.
Ek sluit toe die gesprek af deur ook maar reguit uit die heup uit te skiet.
“Mevrou, as my lewe ook van Woolies Food afgehang het dan sou ek nie nou hier met u gestaan en praat het nie, want ek sou nie hierdie boetiek gehad het nie, ook nie die winkel langsaan nie – ek sou nie vanaand met ’n oop deur kon slaap nie en ek sou beslis nie deel gewees het van ’n gelukkige gemeenskap wat deur Afrikaners, eerder as die ANC, bestuur word nie. So kies elkeen maar vir hom- of haarself, nè?”
Orania benodig ‘n verdere 2,500 wooneenhede wat van nuuts af gebou moet word om Hopetown (sy buurdorp) te kan ewenaar wat getal inwoners betref.
Dit is die vereiste om die dominante politieke rolspeler op plaaslike vlak in sy streek te word. Indien hierdie ontwikkeling slegs deur eksterne belegging gefinansier moet word, kan dit ‘n baie lang en moeisame ontwikkelingspad wees.
Die vraag is of daar beproefde metodes is waarop eiendomsontwikkeling en vestiging op Orania versnel kan word? Ek wil graag enkele gedagtes hieroor toelig.
Uitgebreide eiendomsbesit as katalisator vir gemeenskapsontwikkeling
Prof. Niall Ferguson, ekonomiese geskiedkundige van die Universiteit van Edinburg in Skotland, ag uitgebreide eiendomsbesit as ‘n hoeksteen van welvaart in die Weste.
In sy boek, The Ascent of Money: A financial history of the World, dui prof. Ferguson aan dat daar in geskiedkundige terme nie veel te kies tussen die verloop van gebeure in welvarende Noord-Amerika (VSA en Kanada) en in vergelyking met die Noorde, sukkelende Suid-Amerika is nie.
Suid-Amerika is vroeër as Noord-Amerika onderwerp en gekolonialiseer deur Spaanse Conquistadores. Suid-Amerika het oor belangrike natuurlike hulpbronne beskik, veral goud en silwer en selfs ook sjokoladebone. Op beide kontinente is inheemse bevolkings onderwerp deur gewelddadige metodes en is daar ook slawerny bedryf. Die gevestigde beskawings in Suid-Amerika (soos die Inca en Maja) was meer kompleks as hul eweknieë in die Noorde, maar van ekonomiese ontwikkeling in die Westerse sin was daar op beide kontinente min sprake.
Die vernaamste instelling wat egter (na eeue van Westerse vestiging) vir die Noorde ‘n onregverdige voordeel bo die Suide sou bied, is uitgebreide private eiendomsbesit.
In Noord-Amerika is elke nuwe kolonis, na sy aanvanklike dienstydperk van 8 jaar ‘n stukkie grond gegee as vergoeding. Baie soortgelyk aan die wyse waarop Vryburgers aan die Kaap aanvanklik grond bekom het.
Grondbesit het nie slegs vir die kolonis groter sekuriteit in die vorm van ‘n onbetwiste tuiste gebied nie, maar het ook toegang tot stemreg in die eerste state gebied. Hierdie grondbesitters-demokrasie het ‘n stabiele burgery geskep – grondbesitters neig meer konserwatief deur hul behoefte om hul eiendom te beskerm of te verbeter, eerder as om bloedige rewolusie aan te hang. Dit het ook ondernemerskap ondersteun, want deur hul grondbesit het Noord-Amerikaners oor sekuriteit beskik wat hulle toegang tot lenings vir ontwikkeling en besigheid besorg het. Eiendomsbesit het ook lojaliteit teenoor die gemeenskap en ‘n bereidwilligheid om daarvoor die nodige op te offer gekweek.
In Suid-Amerika daarteenoor, is die grond opgedeel en toegeken aan die Conquistadores, wat eiendombesit ingeperk het tot ‘n nuwe adelstand. Vir die burgery was eiendomsbesit so ontoeganklik soos die Pous en is ekonomiese ontwikkeling beperk tot die inisiatief van hierdie handjievol families wat reeds oor ongekende rykdom beskik het. Behalwe vir hul klein getalle het hulle dus ook min aanmoediging gehad om die finansiële risiko’s te neem wat volhoubare ontwikkeling en welvaartskepping vereis.
In sy opvolgwerk, Civilisation: The West and the Rest, brei prof. Ferguson op bogenoemde uit deur aan te dui hoe die instelling van uitgebreide private eiendomsbesit deel van 5 ander instellings is wat die Weste sy voorsprong bo die res gegee het, en dat hierdie instellings besig is om met sukses deur ander kulture oorgeneem te word, waarmee hulle soortgelyke sukses begin ervaar.
In Suid-Afrika is die gebrek aan ekonomiese ontwikkeling in tradisionele gebiede waar die konsep van private eiendomsreg vreemd is, vir elkeen waarneembaar. So ook in die inheemse trust-gebiede van Australië, Nieu-Seeland en die VSA.
Uit bogenoemde oorsig is dit duidelik dat uitgebreide private eiendomsbesit ‘n belangrike komponent van lewe in Orania en selfs ‘n voorvereiste vir die uiteindelike Afrikanergebied sal wees; waarsonder ontwikkeling en ‘n stabiele burgery moeilik bemiddel sal kan word.
Verskeie modelle kan ondersoek word waarmee groter toegang tot eiendomsbesit en gepaardgaande ordelike ontwikkeling bemiddel kan word. Onontwikkelde grond in ruil vir ‘n tydperk van arbeid sonder betaling (waartydens die arbeider gratis van basiese behuising, voedsel en skoolfondse voorsien word), is ‘n model wat goed gewerk het vir die Noord-Amerikaanse koloniste. Die vraag is of daar meer relevante, hedendaagse modelle is wat tred hou met die eise van ‘n moderne wêreld? As voorbeeld wil ek graag die konsep van groepselfbou bekendstel.
Groepselfbou – publieke behuising deur selfhelp
Publieke behuisingskemas verteenwoordig in sekere gevalle alles wat verkeerd is met die moderne samelewing.
Die verantwoordelikheid vir maatskaplike versorging deur verskaffing van huisvesting word deur gemeenskappe ontduik wanneer dit aan die staat oorgedra geword. Hierdie ontduiking het al te dikwels tot die uitbroei van sosiale euwels in massa behuisingskemas gelei. Sosiale probleme word gekonsentreer terwyl daar selfs in die gevalle waar lesse geleer is en publieke behuising versprei is (soos in Australië), daar min agting vir die eiendom van die staat is waar vandalisme en onbetaalde diensterekeninge hoogty vier.
Bestaan daar ‘n beter alternatief?
Kevin McCloud, bekroonde argitek en aanbieder van die Britse TV-program Grand Designs het die konsep van groepselfbou in ‘n aflewering van sy program bekendgestel.
Groepselfbouprojek aan die Britse kus by Brighton wat 10 jaar gelede voltooi is
In 1989 is die konsep van gemeenskapselfbou en groepselfbou in die Verenigde Koninkryk van stapel gestuur en is daar vandag reeds meer as 200 projekte aangepak (ongeveer tien huise word met elke projek gebou). Hierdie konsep is aanvanklik deur nie-regeringsorganisasies ontwikkel, maar die sukses daarvan was so groot dat dit in sekere lande deel van regeringsbeleid geword het.
Volgens hierdie konsep word ‘n groep mense die geleentheid gegee om bekostigbare behuising te bekom deur hulle eie arbeid aan te wend om daardie behuising op te rig (wat dit bekostigbaar maak). In gevalle waar die groep mense werkloses insluit, dien die projek ook as vaardigheidsontwikkeling.
Die konsep werk as volg:
‘n Behuisingsprojek word aan ‘n groep mense (gesinne of enkellopendes) wat nie huise besit nie, toegeken.
Die mense word aandeelhouers/lede van ‘n regspersoon (vereniging, maatskappy of koöperasie) wat die behuisingsprojek besit
Die regspersoon ontvang ‘n lening (vanaf die departement van behuising of welsynsorganisasie op gunstige terme) vir die oprig van die aantal wooneenhede wat die groep mense benodig. Hierdie lening kan slegs aangewend word vir die koste van die grond wat aangekoop word (gewoonlik vanaf die munisipaliteit), die koste van die materiaal en die koste van spesialis-subkontrakteurs wat benodig word vir die werk wat die groep mense nie self kan verrig nie (argitekte, elektrisiëns, loodgieters, ens.) Die grond met bouperseel dien dan as sekuriteit vir die lening.
Gedurende die oprigtingsfase moet elke aandeelhouer/lid ‘n minimum aantal ure per week afstaan aan die bou van die wooneenhede. Dit wissel gewoonlik tussen 20 en 30 ure per week, afhangende daarvan of die lede werkloos is of nie (daar is egter slegs een minimum vir ‘n spesifieke projek). Indien die lede nie die minimum ure werk nie, kan hulle hul aandeel in die regspersoon verbeur (volgens die wyse soos bepaal deur die reëls van die projek). Alle lede bou saam aan die hele projek. Lede bou dus nie slegs die wooneenhede wat hulle self gaan bewoon nie. Dit verhoog die lewensvatbaarheid van die projek deur samewerking, motivering, die deel van vaardighede en die wyse waarop dit ‘n gemeenskapsgevoel bevorder.
Normale bouregulasies en inspeksies geld vir die projek. Die munisipaliteit verskaf gewoonlik advies of basiese opleiding soos benodig.
Na voltooiing van die bouery, besit die regspersoon ‘n aantal eiendomme wat meer werd is as wat hulle gekos het, omdat die grootste deel van die arbeid gratis verskaf is. Die gratis arbeid deur die lede/aandeelhouers is dus omgeskakel in eienaarsbelang of ekwiteit binne die regspersoon. Hierdie sekuriteit stel die regspersoon in staat om ‘n kommersiële lening aan te gaan om die oorspronklike lening terug te betaal (wat die oorspronklike fonds in staat stel om binne ‘n relatiewe kort tyd weer ‘n volgende projek te finansier)
Die lede kan dan die wooneenhede by die regspersoon huur teen die terugbetalingspaaiement van die nuwe lening. Nadat hierdie lening vereffen is, word eiendomsreg van die huise oorgedra aan die lede en word die regspersoon ontbind.
Nie alleen word hierdie metode vandag in die Verenigde Koninkryk aangewend nie, maar ook in Australië. In een van sewe deelstate in Australië (Victoria) is reeds meer as 830 huise deur goepselfbou-projekte gebou.
Hierdie metode maak uitgebreide eiendomsbesit moontlik deur minderbevoorregtes toegang tot bekostigbare wooneenhede te gee, terwyl hulle ook van meet af as eienaars verantwoordelik is vir die kwaliteit van die bouwerk en die instandhouding van die geboue. Verder dra dit by tot belegging, gemeenskapsontwikkeling, vaardigheidsontwikkeling en nuwe vestiging – arbeiders word deel van die stabiele burgery . Die belangrikste is egter dat hierdie mense self hul behuising bekostigbaar maak en nie afhanklik is van subsidies en donasies nie, wat die volhoubaarheid daarvan verhoog en dit moontlik maak om projekte soos hierdie op skaal uit te brei.
Die inwoners van Elim en Nerina (toekomstige inwoners) wat reeds werkservaring in Orania opgedoen het (in baie gevalle in die boubedryf) verteenwoordig ideale kandidate vir groepselfbou-projekte. So ‘n projek kan met vrug deur die Orania Beweging Helpsaamfonds oorweeg word na die afhandeling van Nerina.
My en jou finansiële steun aan die Helpsaamfonds kan al wees wat benodig word om die wa deur die drif te trek.
Min mense is positief as dit kom by die ekonomiese vooruitsigte vir die Afrikaner-volkstaat in die Noordwes-Kaap met sy huidige groeipunt Orania. Almal (binne die vryheidsgesinde geledere) stem saam met die behoefte aan ‘n tuiste wat kulturele handhawing en fisiese oorlewing waarborg, maar die persepsie is dat die volkstaat net ekonomies kan oorleef as dit van buite gesubsidieer word deur welvarende Afrikaners wat ‘n soort tiende vir Orania gee, soos wat die Jode wêreldwyd aanvanklik vir Israel gegee het.
Die gewone besware teen die moontlikheid van ‘n ekonomies voorspoedige en welvarende volkstaat is gewoonlik die volgende: beperkte infrastruktuur wat ten duurste nuut gebou moet word; vêr van die markte en bevolkingskonsentrasies af en daarmee saam hoë vervoerkoste; geen grondstowwe in die omgewing wat verwerk kan word nie; beperkings wat arbeid betref, wat polities sinvol en ononderhandelbaar is, maar ekonomies remmend is.
Daar is sekere faktore wat nie sal verander nie: die kanse dat nou skielik groot reserwes van minerale of olie in die omgewing van Orania ontdek sal word is klein. Ek wil sê gelukkig, want onder die huidige omstandighede sal dit ons net benadeel want die ANC-staat het die houvas op alle minerale regte en sal hordes werkers hier vestig om dit te ontgin. Bid dus dat daar in die afsienbare toekoms geen hulpbronne in die Karoo gevind sal word nie. Selfs al was daar ‘n outonome of onafhanklike volkstaat gewees sou minerale reserwes eerder ‘n vloek as ‘n seën wees: dit lei tot ‘n ongebalanseerde derdewêreld-ekonomie wat ons te dikwels in Afrika sien.
Buitelandse maatskappye buit die hulpbronne uit en bring hulle eie kundiges in en plaaslike mense doen hoogstens handewerk. Die omgewing word besoedel en sosiale veranderinge geskied teen ‘n spoed wat geen samelewing kan hanteer nie. Korrupsie en buitelandse inmenging is ook gewoonlik naby waar ‘n minerale-bonanza plaasvind, selfs in gesofistikeerde lande.
Dan, wat die afstand na die markte en die bevolkingskonsentrasies betref: ook dit sal ‘n toestand wees wat nie maklik verander nie. Orania is vêr van hawens af, hier is slegs ‘n derderangse pad en geen spoorlyn of hoofroete nie en die naaste noemenswaardige konsentrasie mense is 160 km weg. Met stygende brandstofkoste sal vervoer altyd ‘n aansienlike hap uit elke sakeman se begroting vat. Die argument vir ‘n volkstaat in of naby Gauteng gaan gewoonlik gepaard met dié soort redenasie.
Ten spyte van bogenoemde glo ek dat die Afrikaner-volkstaat, selfs in die Karoo, ‘n rooskleurige ekonomiese vooruitsig kan hê, mits die regte politieke besluite geneem word wat beleggings in die volkstaat in vergelyking met Suid-Afrika ‘n baie beter keuse maak. Tans is die houding nog te dikwels een van “wie in die volkstaat belê moet dit vir die saak doen, dus moet ons dit so moeilik as moontlik maak om egte volkstaters van diegene wat net wil geld maak te skei”. Dit is, om die minste te sê, ‘n dwase houding. Opportuniste het nog steeds gekom en gegaan, maar toegewyde volkstaters kon nie in alle gevalle vasbyt nie want die nadele het net te veel geraak. Let wel, ons praat nou van Orania deur sy geskiedenis van 20 jaar, dinge het aansienlik verbeter die afgelope paar jaar en is steeds aan die verbeter.
Kom ons kyk wat is die nadele vir besigheid in Suid-Afrika en dan kom ons by die geleenthede vir die volkstaat uit:
Arbeid en vakbonde
Cosatu se mag is welbekend en tans ervaar ons weer hulle greep op die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese toneel met stakings en buitensporige loonverhogings. Werknemers se produktiwiteit regverdig eenvoudig in baie gevalle nie die lone wat hulle ontvang nie. Werksdae gaan verlore weens stakings, te veel vakansiedae, siektes, ens.
Die volkstaat kan met ‘n streng en gedissiplineerde arbeidsbeleid dit vir beleggers die moeite werd maak om hier besigheid te doen. Danksy talle virtuele dienste raak fisiese vervoer ook minder belangrik. Lae lone is beslis nie die antwoord nie want dit maak vir ontevrede en onstandvastige werkers en ontmoedig hulle. Balans is hier die wagwoord: die werkers moet hulle geld werd wees en dit verdien wat hulle verdien.
Ons kan egter reeds vasstel dat werknemers se motivering en arbeidsetiek hoër is as die gemiddelde een in Suid-Afrika. Mense is dikwels bereid om oortyd sonder vergoeding in te sit. Stakings is ongekend en vakansiedae is heelwat minder as in SA en werksdae word nie misbruik vir “siek-vakansies” nie.
Infrastruktuur
Geen ekonomiese aktiwiteit kan plaasvind sonder ‘n voldoende infrastruktuur nie. Suid-Afrika se padnetwerk het verbeter maar laat dikwels nog veel te wense oor. Die spoornetwerk is glad nie op standaard nie. Watervoorsiening en riolering gaan agteruit. Kragvoorsiening is gebrekkig en krag raak toenemend duur.
Wat infrastruktuur betref, kan die volkstaat ‘n groot verskil maak vir sy besigheidsmense en voornemende beleggers. Orania se infrastruktuur is tans reeds ‘n voordeel teenoor Suid-Afrika s’n. Alhoewel die gevolge van beperkte fondse, onvoldoende instandhouding en slytasie oor die jare nou ingehaal moet word, is hier groot verbetering en is dit een van die sterk punte van ‘n volkstaat. Bekwame ingenieurs, tegnici en munisipale werkers sal sorg dat ondernemers te alle tye krag, riolering, water en toevoerpaaie in ‘n goeie toestand het. Tans word besonder baie geld belê in die opgradering en instandhouding van die infrastruktuur. Daar is egter nog te veel infrastruktuur waar Orania tans van Suid-Afrika afhanklik is, soos elektrisiteit en paaie. Aan die paaie kan ‘n mens onder die huidige bestel niks doen nie (behalwe die paaie binne die dorp wat reeds aandag kry), maar by bekostigbare, betroubare en volhoubare kragvoorsiening lê groot potensiaal oopgesluit. Vir ondernemers kan dit ook ‘n bemarkingsvoordeel inhou as hulle met alternatiewe krag produseer. Op langtermyn behoort dit ook besparings mee te bring. As ‘n reël van die duim geld: Eskom-krag is tans nog goedkoper en meer effektief as alternatiewe krag, maar laasgenoemde verbeter gedurig en word beter en goedkoper soos wat Eskom-krag duurder en meer onbetroubaar raak. Ook by riolering kan meer van alternatiewe gebruik gemaak word wat die oorhoofse koste verlaag.
Eiendomsreg, nasionalisering
Dit wat enige ekonomie sink is onsekerheid oor eienaarskap. Ons moet besef dat daar nie iets soos absolute eiendomsreg is nie: selfs in vrye markekonomieë kan grond onteien word as dit noodsaaklik is vir byvoorbeeld ‘n deurpad. Daar is wel billike vergoeding. In Suid-Afrika is daar min sekerheid. Daar is wel ‘n klousule oor eiendomsreg in die grondwet maar die grondwet kan maklik genoeg met die huidige meerderheid sosialisties georiënteerde partye verander word. Eiendomsreg word reeds uitgekalwe. Geen ondernemer belê in ‘n land waar hy gesien word as ‘n gans wat goue eiers moet lê wat ander dan gebruik en die goue gans daarna ook nog slag as dank nie.
Orania se aandeelblokskema is altyd as ‘n nadeel beskou omdat die persepsie was, en nog steeds is, dat dit ‘n beperking op eiendomsreg plaas en dat die maatskappy mense se aandeelblok sonder of teen minimale vergoeding kan vat as hulle sou goeddink. Natuurlik is dit gerugte en ja, persepsies wat vals is, maar dit verander niks aan die onsekerheid wat dit vir sekere mense bied teenoor kaart en transport.
Intussen moes Suid-Afrikaners egter besef dat kaart en transport geen beskerming teen onteiening bied nie. Meer nog, die aandeelblokskema bied eintlik meer sekerheid want dit is kollektiewe eienaarskap (nog steeds met jou eie uitgemete stuk grond) en daar is dus ‘n groot groep mense wat veel moeiliker onteien kan word as ‘n enkele boer of huiseienaar.
Verder is Orania verbind tot die markekonomie en word eienaarskap gerespekteer.
Belasting
Die kwasi-sosialistiese regering van Suid-Afrika glo, soos meeste regerings wat oortuig is van die welsynstaat se seëninge, aan herverdeling deur middel van hoë belasting. Die sosialistiese oortuiging is dat diegene wat welvarend is hulle rykdom verkry het weens onregmatige voordele, synde uit die verlede, of deur hulle afkoms, of omdat hulle gewoon skelm en gewetenloos is en ander uitbuit. Dus moet hulle deur hoë belasting daarvoor gestraf word en kan die minder gegoedes vergoed word deur allerhande toelaes en gratis dienste soos medies, skole ens.
Belasting kan egter ook meer produktief aangewend word deur “ontwikkelingstate” wat massief in infrastruktuur belê, wat almal bevoordeel, ook voornemende beleggers. Daarby moet ontwikkelingstate egter besef dat dit net ‘n tydelike verskynsel moet wees. As die staat se infrastruktuur op ‘n hoë vlak is en net nog onderhou moet word, dan behoort belasting verlaag te word. Lae belasting trek beleggers en dit wat burgers aan belasting spaar, word eerder gespaar of uitgegee vir persoonlike aanskaffings (en donasies) en pomp meer geld in die ekonomiese kringloop in. Hoë belasting lei gewoonlik tot belastingontduiking en –vermyding, en nie die rykes word werklik gestraf nie (want hulle beskik oor goeie belastingkonsultante en adresse in die buiteland om hulle geld heen te verplaas), maar die eerlike en hardwerkende middelklas, soos dit tipies in Suid-Afrika die geval is.
Orania is tans ‘n dorp wat ‘n relatief hoë belasting, oftewel heffing het. Dit is in ‘n mate verstaanbaar, want Orania as dorp vervul funksies wat op ander dorpe (in teorie) deur die staat gedra word. Verder is Orania in die ontwikkelingstaatfase en daar is heelwat infrastruktuur wat ten duurste nuut geskep of vergroot moet word (nuwe diensteaansluitings teen vandag se koste, nuwe substasies, rioolaanlegte, teerpaaie) waaroor ander dorpe wat krimp genoegsaam beskik. Orania se dienste werk en word onderhou en dit het natuurlik sy prys.
Maar die dorp moet eerder sy belastingbasis verbreed as om meer en meer belasting van sy bestaande inwoners te hef. ‘n Dorp met ‘n groter bevolking kan net eenvoudig baie beter ekonomies bestuur word (die logika van economics of scale). Hoë heffings is egter ‘n faktor wat mense uit Orania laat wegtrek of ander, tipies jong gesinne en mense uit die laer middelklas, verhoed om te kan kom intrek. Die skepping van ‘n infrastruktuurfonds, om nuwe infrastruktuurprojekte nie uit die heffings te finansieer nie is die regte besluit, maar ook hier moet gewaak word dat ontwikkelaars nie buite verhouding belas word nie deur allerhande addisionele kostes. Oordragskoste verhoog erf- en huispryse verder en ‘n maksimumbedrag behoort vasgestel te word eerder as om ‘n sekere persentasie te handhaaf, selfs by huise wat meer as R1 miljoen kos.
Namate die infrastruktuur geskep is moet heffings verlaag word, of ten minste nie verder verhoog word nie. Nuwe inkomste moet deur meer inwoners verkry word. Die som is eenvoudig: om ‘n pad te onderhou wat deur 10 mense wat belasting betaal gebruik word, is net so veel duurder as om dieselfde pad te onderhou wat deur 100 mense gebruik word (selfs al beteken dit meer slytasie).
Deur lae belasting, veral vir ondernemers, kan Orania werk skep en meer mense trek.
Opvoeding, opleiding, vaardighede
Nog iets wat in Suid-Afrika toenemend skaars raak is reg opgeleide mense, veral in ambagsbedrywe. Die nuwe swart elite streef almal na witboordjieposte en studeer graag rigtings wat gesag en prestige beteken. Die onderbou van gehalte skoolopleiding is ongelukkig nie meer daar nie, dalk nog op duur privaatskole, maar selde by staatskole. Statistieke wys reeds dat goed opgeleide ambagsmanne al hoe skaarser en al hoe ouer raak. Blykbaar begryp jong mense nie die groot inkomstemoontlikhede wat in goeie ambag opgesluit lê nie. As ‘n mens bedink dat ‘n ambagsman nie eers ten duurste vir jare se universiteitsopleiding hoef te betaal nie maar na ‘n relatief kort opleidingsperiode sy eie besigheid kan begin, kan so iemand makliker en vinniger geld verdien as ‘n dokter, prokureur of ouditeur. Fooie vir herstelwerk aan ‘n motor, elektriese- of loodgieterswerk per uur is ook nie meer ver onder die witboordjiewerkers s’n nie. En hoekom moet iemand wat tegnies aangelê is sy jare op universiteit mors en op die ou einde met ‘n swak graad van ‘n vak wat hy nie geniet ‘n werk soek, terwyl hy eerder sy stokperdjie tot beroep kan uitbou, net omdat witboordjiewerk meer prestige beteken?
Orania het die leemte gesien en bied ‘n goeie veld vir huidige en voornemende ambagsmanne. Die beplande oprigting van ‘n tegniese opleidingskool kom baie tydig. Die volgehoue groei in die dorp en die uitbou van die infrastruktuur skep ook ‘n groot behoefte vir elektrisiëns, bouers, loodgieters, ens.
In die toekoms sal ‘n akademiese inrigting ook geskep moet word om meer middelklasmense te trek. Maar weens die hoë koste sal dit eers kan plaasvind wanneer Orania ‘n aansienlike vlak bereik het wat bevolking en inkomste betref. Tans is ‘n beroepsgerigte ambagskool die regte keuse.
Afgesien van die tersiêre opleiding, wat tans nog net in ‘n beplanningsfase en hier en daar eksperimenteel bestaan, is die huidige skoolopleiding op Orania van hoë en stygende gehalte en is reeds ‘n trekpleister vir nuwe inwoners. Dit is boonop bekostigbare skole, terwyl mense elders óf tevrede moet wees met swak en ideologies ingekleurde opvoeding, meesal in Engels, óf ten duurste vir kwaliteit opvoeding met ‘n waardegerigte basis moet betaal.
Orania kan op die voorpunt van behoeftegerigte opleiding wees. Kwaliteit ambagsmanne en fabrieke is weereens ‘n trekpleister vir voornemende inwoners en beleggers, dit skep werk, sorg vir ‘n werkende dorp en laat mense wat hier woon tevrede en lojaal voel.
Toegang tot kapitaal
Suid-Afrika se banke is deesdae meer versigtig as in die verlede om geld uit te leen. Die groot swart laerklas is ‘n risiko om voor geld te leen, maar weens politieke druk word dit wel deur banke gedoen, met die verstandhouding dat hulle die geld sal afskryf ter wille van politieke punte. Internasionaal is Suid-Afrika se kredietwaardigheid wel een van die hoogste in Afrika, maar op ‘n wêreldwye skaal is dit slegs in die middelgrond. Suid-Afrika se finansiële beleid is minder katastrofies as sy beleid op meeste ander terreine, danksy die relatief gesonde hantering van Trevor Manuel en nou Pravin Gordham. Nogtans is die langtermyntendens ook om meer skuld te maak en om meer en meer te spandeer en fiskale leemtes eerder deur geleende geld en hoër belasting te vul as om te spaar.
Waarskynlik die grootste belemmernis vir ontwikkeling op Orania is kapitaal. Daar is goeie redes hoekom nie enige kapitaal gebruik kan word nie en hoekom die vrye mark wat kapitaal betref nie vir Orania werk nie. Die aandeleblok en die volks-eienaarskap van Orania kan natuurlik nie aan winsgedrewe en volksvreemde banke verpand word nie. Gelukkig beskik Orania met OSK (Orania Spaar en Krediet) oor ‘n gesonde eie finansiële instelling en kan lenings vir huisaankope en hier en daar ook besigheidsontwikkeling gee. Die Groeifonds is ‘n verdere instrument wat kapitaal beskikbaar stel vir spesifiek besigheidsontwikkeling. Daar is egter ook leemtes: OSK se rentekoerse asook depositovereiste is besonder hoog in vergelyking met kommersiële banke en sit ‘n hele paar voornemende beleggers en kopers af (weens die feit dat OSK geld privaat moet leen het hulle egter min beweegruimte), en die Groeifonds, wie se voorwaardes sagter is, beskik tans nog nie oor groot kapitaal nie. Dinge sal vorentoe egter verbeter en tot voordeel van Orania strek. Om meer kapitaal teen goeie kondisies beskikbaar te kan hê sal vir seker help om Orania uit te brei en vestiging makliker maak.
Veiligheid
Suid-Afrika se gebrek aan veiligheid is spreekwoordelik. Dit beïnvloed feitlik enige besigheid negatief, behalwe die sekuriteitsbedryf! Elke besigheid moet ekstra uitgawes begroot vir beveiliging en skryf ‘n deel van sy inkomste af weens diefstal en beskadiging. Buitelandse beleggers en toeriste word reeds afgeskrik deur die onveiligheid van Suid-Afrika en dit is altyd die eerste bekommernis voor mense die land besoek of hier besigheid doen. Dit kan ook aanvaar word dat getraumatiseerde en bang werknemers minder produktief is en meer weens uitputting siek is as werknemers wat in ‘n veilige omgewing werk.
Veiligheid is een van die grootste bates van Orania. Verliese weens diefstal, inbraak, ens. is minimaal en koste vir sekuriteitstelsels, wagte, hoë heinings, versekering teen diefstal, ens. kan uit die beleggers se kostebepalingsrekening uitgehaal word. Ongelukkig bied ons geen geleenthede vir sekuriteitsmaatskappye nie.
Politieke klimaat, staatsinmenging, regulering
‘n Land kan ooglopend stabiel en rustig wees, maar die blote persepsie dat dinge kan verander en dat die leiers se versekerings nie veel beteken nie maak dat beleggers versigtig is en hoogstens korttermynbeleggings doen wat gou weer onttrek kan word. Deur die hele Afrika is dit die geval. Geleenthede is legio, maar beleggings min, en indien wel, dan gewoonlik in die uitbuiting van grondstowwe en vir ‘n beperkte tyd en sonder langtermynverbintenis. In Afrika speel regerings gewoonlik negatiewe rolle: pleks om stabiliteit en orde te waarborg en goeie infrastruktuur te verseker, is hulle eerder amptelike parasiete wat deur omkoopgeld, hoë belasting en allerhande addisionele koste vir die skepping van infrastruktuur beleggings duur maak sonder om waarde toe te voeg. Beleggers word nie op hande gedra as mense wat help om die armoede indirek te verlig deur werkskepping (al is die winsmotief sentraal) nie, maar word gesien as indringers wat iets wil vat wat hulle nie toekom en waarvoor hulle maksimaal gemelk moet word. Dit, gekombineerd met ‘n gebrek aan sekerheid van eiendom, opruiende toesprake van onteiening en blanke koloniale skuld maak dat beleggers versigtig is. Vergelyk die gebrek aan belegging in Afrika met die magdom beleggings in die Ooste en die prentjie word duidelik. Suid-Afrika se toestand is wel beleggingsvriendeliker as in die gemiddelde Afrika-land, maar die persepsie bestaan dat Suid-Afrika in dieselfde rigting beweeg as ander Afrika-lande, na meer sosialisme, meer staatsinmenging en minder effektiwiteit. Onlangse uitsprake oor nasionalisering en grondroof versterk die onsekerheid.
Orania het ‘n klimaat van voorspelbaarheid en beleggingsekerheid. Orania se leierskap is nugtere en eerlike mense en die risiko dat radikale heethoofde beheer oorneem en ‘n heel ander beleidsrigting inslaan is uiters beperk. Die dorp, en die toekomstige groter gebied is verbind tot die beginsels van die markekonomie en geleenthede.
Reëls wat sinvol is, soos oor boustandaarde, die onderverdeling van erwe en die sonering van ontwikkelingsareas bring orde en voorspelbaarheid. Daar moet egter gewaak word daarteen om te veel hekkies in ‘n belegger se pad te sit wat hom dalk sal ontmoedig.
Om op te som: Orania kan sy natuurlike nadele meer as uitbalanseer deur ‘n gesonde ekonomiese beleid en beleggersvriendelike optrede. Dinge kom meer en meer in plek, maar geen leierskap, selfs van die mees suksesvolle dorp of staat, moet dink dat daar geen ruimte vir verbetering is nie en dat hulle alles reg doen nie. Dit is nie genoeg dat Orania vorentoe gaan nie, die dorp moet uit sy nate bars en so veel mense trek, veral kapitaalkragtige beleggers, dat ons die ideaal van ‘n volkstaat in ons leeftyd kan verwesenlik.
Orania is net die somtotaal van die intellektuele, arbeids- en kapitale vermoë van sy inwoners en ondersteuners. Indien iets nie in Orania gebeur nie kan ek en jy net vinger wys na ons eie onvermoë of dan wel die tekort aan kapasiteit. Om dit te verstaan vereis egter van elkeen van ons om ‘n denksprong te maak. In Orania is daar nie ‘n regering, groot maatskappye, politieke partye of ander eksterne magte met towerstaffies om te blameer nie.
Ek hoor onlangs dat die provinsiale regering ‘n eksterne toekenning van R20 miljoen aan een van ons buurdorpe gemaak het. Dit is ekstra tot die bestaande toelaes wat hierdie dorp reeds jaarliks van die regering ontvang. Die betrokke dorp se infrastruktuur is sonder twyfel in ‘n swakker toestand as dié van Orania en mens kan net wonder hoe hierdie geld aangewend gaan word. Die Orania Dorpsraad se begroting vir die huidige boekjaar is sowat R8 miljoen. Daarmee moet munisipale dienste en ook talle dienste wat in ander dorpe deur distriksmunisipaliteite, provinsiale regerings en die nasionale regering gelewer word, befonds word. In Orania wil ons dus meer dinge met minder geld goen. Ek kan net dink wat ons met daardie R20 miljoen sou kon doen?
Orania se sukses hang van ‘n paar eenvoudige dinge af. Dit begin by groter betrokkenheid. Groter verwys na meer mense, wat meer tyd, geld en intellektuele kapitaal beskikbaar stel. Daarna moet verseker word dat al hierdie verhoogde bydraes effektief aangewend word. Orania is eintlik reeds ‘n toonbeeld van effektiwiteit en daar is min plekke waar jou bydrae so effektief aangewend sal word.
Dit laat die vraag ontstaan oor waarom ons dan nog nie baie meer mense sien wat met meer tyd, geld en arbeid by Orania betrokke raak nie. Eerstens is ons as Orania se kern instellings natuurlik skuldig dat ons nie genoeg gedoen het en steeds nie genoeg doen om meer Afrikaners by Orania te betrek nie. Dit is egter iets waaraan daadwerklik aandag gegee word en die geweldige toename in belangstelling in Orania (webbladbesoeke, intekening op nuusbrief, fisiese besoeke aan Orania, ens) is ‘n toonbeeld hiervan. Die afgelope week het Orania die meeste besoekers nog ooit in een week ontvang – winkels was leeg, restaurante oorvol en daar was geen verblyf teen Vrydagaand beskikbaar nie. By die Orania Beweging moes ons gesinne wegwys omdat ons geen beskikbare vakansieverblyf op ons verblyflys kon kry nie. Soos ons dus by meer van ons mense uitkom is daar ‘n styging in belangstelling.
Die vraag kan egter tereg gevra word oor of elkeen van ons, inwoners en uitwoners van Orania, nie meer kan doen nie. Is ons bydrae genoeg geweeg aan die dringendheid van ons saak? Waarom nie eiendom in Orania koop, in vakansieverblyf hier kom belê, ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds maak, vriende en familielede aanmoedig om by die Orania Beweging aan te sluit, ‘n besigheid hier te kom begin, ‘n groter bydrae tot die Groeifonds te maak of eenvoudig die daad by die woord te voeg en Orania toe te trek nie?
Dit is vir my ongelooflik om steeds te hoor dat mense Orania toe wil trek met die voorwaarde om dieselfde salaris hier te verdien. Vir partye mense is die voorwaarde om te skuif iets so belaglik soos die teenwoordigheid van ‘n Woolworths Foods! Ander persone sê weer hulle sal slegs in Orania belê indien hulle dieselfde opbrengs op hul belegging kan kry as wanneer hulle geld in ‘n multimiljoenrand fonds belê? My vraag is dan: Waaraan weeg ons die opbrengs op ons belegging? Gaan dit net oor rykdom oor die korttermyn of oor ‘n welvarende toekoms vir ons en ons nageslagte? Israel is gebou uit Jode wat bereid was om riskante beleggings in ‘n droom wat op ‘n seker toekoms vir Jode gemik was, te maak. Is jy bereid om dieselfde vir jou volk te doen?