Orania is net die somtotaal van die intellektuele, arbeids- en kapitale vermoë van sy inwoners en ondersteuners. Indien iets nie in Orania gebeur nie kan ek en jy net vinger wys na ons eie onvermoë of dan wel die tekort aan kapasiteit. Om dit te verstaan vereis egter van elkeen van ons om ‘n denksprong te maak. In Orania is daar nie ‘n regering, groot maatskappye, politieke partye of ander eksterne magte met towerstaffies om te blameer nie.
Ek hoor onlangs dat die provinsiale regering ‘n eksterne toekenning van R20 miljoen aan een van ons buurdorpe gemaak het. Dit is ekstra tot die bestaande toelaes wat hierdie dorp reeds jaarliks van die regering ontvang. Die betrokke dorp se infrastruktuur is sonder twyfel in ‘n swakker toestand as dié van Orania en mens kan net wonder hoe hierdie geld aangewend gaan word. Die Orania Dorpsraad se begroting vir die huidige boekjaar is sowat R8 miljoen. Daarmee moet munisipale dienste en ook talle dienste wat in ander dorpe deur distriksmunisipaliteite, provinsiale regerings en die nasionale regering gelewer word, befonds word. In Orania wil ons dus meer dinge met minder geld goen. Ek kan net dink wat ons met daardie R20 miljoen sou kon doen?
Orania se sukses hang van ‘n paar eenvoudige dinge af. Dit begin by groter betrokkenheid. Groter verwys na meer mense, wat meer tyd, geld en intellektuele kapitaal beskikbaar stel. Daarna moet verseker word dat al hierdie verhoogde bydraes effektief aangewend word. Orania is eintlik reeds ‘n toonbeeld van effektiwiteit en daar is min plekke waar jou bydrae so effektief aangewend sal word.
Dit laat die vraag ontstaan oor waarom ons dan nog nie baie meer mense sien wat met meer tyd, geld en arbeid by Orania betrokke raak nie. Eerstens is ons as Orania se kern instellings natuurlik skuldig dat ons nie genoeg gedoen het en steeds nie genoeg doen om meer Afrikaners by Orania te betrek nie. Dit is egter iets waaraan daadwerklik aandag gegee word en die geweldige toename in belangstelling in Orania (webbladbesoeke, intekening op nuusbrief, fisiese besoeke aan Orania, ens) is ‘n toonbeeld hiervan. Die afgelope week het Orania die meeste besoekers nog ooit in een week ontvang – winkels was leeg, restaurante oorvol en daar was geen verblyf teen Vrydagaand beskikbaar nie. By die Orania Beweging moes ons gesinne wegwys omdat ons geen beskikbare vakansieverblyf op ons verblyflys kon kry nie. Soos ons dus by meer van ons mense uitkom is daar ‘n styging in belangstelling.
Die vraag kan egter tereg gevra word oor of elkeen van ons, inwoners en uitwoners van Orania, nie meer kan doen nie. Is ons bydrae genoeg geweeg aan die dringendheid van ons saak? Waarom nie eiendom in Orania koop, in vakansieverblyf hier kom belê, ‘n bydrae tot die Helpsaamfonds maak, vriende en familielede aanmoedig om by die Orania Beweging aan te sluit, ‘n besigheid hier te kom begin, ‘n groter bydrae tot die Groeifonds te maak of eenvoudig die daad by die woord te voeg en Orania toe te trek nie?
Dit is vir my ongelooflik om steeds te hoor dat mense Orania toe wil trek met die voorwaarde om dieselfde salaris hier te verdien. Vir partye mense is die voorwaarde om te skuif iets so belaglik soos die teenwoordigheid van ‘n Woolworths Foods! Ander persone sê weer hulle sal slegs in Orania belê indien hulle dieselfde opbrengs op hul belegging kan kry as wanneer hulle geld in ‘n multimiljoenrand fonds belê? My vraag is dan: Waaraan weeg ons die opbrengs op ons belegging? Gaan dit net oor rykdom oor die korttermyn of oor ‘n welvarende toekoms vir ons en ons nageslagte? Israel is gebou uit Jode wat bereid was om riskante beleggings in ‘n droom wat op ‘n seker toekoms vir Jode gemik was, te maak. Is jy bereid om dieselfde vir jou volk te doen?
“In Orania is daar nie ‘n regering, groot maatskappye, politieke partye of ander eksterne magte met towerstaffies om te blameer nie.” Hulle kan dus ook nie die krediet vir Orania se suksesse opeis nie!Dit wat die Orania Beweging reg kry,veral gemeet aan die tragiese verval van munisipaliteite landswyd,is merkwaardig! As daar ‘n toekenning vir doeltreffende bestuur gemaak sou word, sal Orania beslis die eerste aanspraakmaker wees! Die OB onderstreep maar net ‘n ou waarheid naamlik dat dit nie die hoeveelheid geld is wat die probleem oplos nie maar wel hoe dit aangewend word! Net jammer dat te veel mense net ‘n ‘klein’ Noord Kaapse dorpie sien sonder om in die enjinkamer in te loer en nie na die doeltreffende ratwerk kyk nie!Die boodskap moet aan die groot klok gehang word.Die politieke partye wat so graag hul eie beuel blaas rakende goeie bestuur kan maar gerus kom klas loop in ons eie Afrikanervesting hier in die Noord Kaap!
Ek was in Des 2007 in Orania gewees, en het nou in April 2011 weer n draai gaan maak. Ek kon nie glo hoe die klein dorp gegroei het nie. Ek gaan verseker weer die dorp kom besoek oor so paar jaar, en kyk verseker ook daarna om daar te bele. Dis nie net n goeie belegging vir jouself nie, maar ook vir die Afrikaner.
Frits,
Ek hoop ons sien jou binnekort in Orania!
Groete.
Ek is reeds lid, en het met die skou tyd daar gaan kuier.
‘n Groot vriend van my is ‘n week voor ek daar gekom het ,oorlede.
Frans Conradie.
Dit het ‘n demper op my entoesiasme geplaas, maar ek hou van Orania.
Op 66 is dit nie maklik om ‘n ou boom te verplant nie.
Ek propageer Orania verwoed op die PRAAG webblad.
Ek wil graag ‘n antwoord op hierdie vraag hê.
Wat verhoed Orania om ‘n universiteit vir die Afrikaner jeug opterig?
Ek glo dat dit Orania oornag in ‘n stad sal laat verander. Die “spinoff’s” van so iets is enorm.