fbpx

Min mense is positief as dit kom by die ekonomiese vooruitsigte vir die Afrikaner-volkstaat in die Noordwes-Kaap met sy huidige groeipunt Orania. Almal (binne die vryheidsgesinde geledere) stem saam met die behoefte aan ‘n tuiste wat kulturele handhawing en fisiese oorlewing waarborg, maar die persepsie is dat die volkstaat net ekonomies kan oorleef as dit van buite gesubsidieer word deur welvarende Afrikaners wat ‘n soort tiende vir Orania gee, soos wat die Jode wêreldwyd aanvanklik vir Israel gegee het.

Die gewone besware teen die moontlikheid van ‘n ekonomies voorspoedige en welvarende volkstaat is gewoonlik die volgende: beperkte infrastruktuur wat ten duurste nuut gebou moet word; vêr van die markte en bevolkingskonsentrasies  af en daarmee saam hoë vervoerkoste; geen grondstowwe in die omgewing wat verwerk kan word nie; beperkings wat arbeid betref, wat polities sinvol en ononderhandelbaar is, maar ekonomies remmend is.

Daar is sekere faktore wat nie sal verander nie: die kanse dat nou skielik groot reserwes van minerale of olie in die omgewing van Orania ontdek sal word is klein. Ek wil sê gelukkig, want onder die huidige omstandighede sal dit ons net benadeel want die ANC-staat het die houvas op alle minerale regte en sal hordes werkers hier vestig om dit te ontgin. Bid dus dat daar in die afsienbare toekoms geen hulpbronne in die Karoo gevind sal word nie. Selfs al was daar ‘n outonome of onafhanklike volkstaat gewees sou minerale reserwes eerder ‘n vloek as ‘n seën wees: dit lei tot ‘n ongebalanseerde derdewêreld-ekonomie wat ons te dikwels in Afrika sien.

Buitelandse maatskappye buit die hulpbronne uit en bring hulle eie kundiges in en plaaslike mense doen hoogstens handewerk. Die omgewing word besoedel en sosiale veranderinge geskied teen ‘n spoed wat geen samelewing kan hanteer nie. Korrupsie en buitelandse inmenging is ook gewoonlik naby waar ‘n minerale-bonanza plaasvind, selfs in gesofistikeerde lande.

Dan, wat die afstand na die markte en die bevolkingskonsentrasies betref: ook dit sal ‘n toestand wees wat nie maklik verander nie. Orania is vêr van hawens af, hier is slegs ‘n derderangse pad en geen spoorlyn of hoofroete nie en die naaste noemenswaardige konsentrasie mense is 160 km weg. Met stygende brandstofkoste sal vervoer altyd ‘n aansienlike hap uit elke sakeman se begroting vat. Die argument vir ‘n volkstaat in of naby Gauteng gaan gewoonlik gepaard met dié soort redenasie.

Ten spyte van bogenoemde glo ek dat die Afrikaner-volkstaat, selfs in die Karoo, ‘n rooskleurige ekonomiese vooruitsig kan hê, mits die regte politieke besluite geneem word wat beleggings in die volkstaat in vergelyking met Suid-Afrika ‘n baie beter keuse maak. Tans is die houding nog te dikwels een van “wie in die volkstaat belê moet dit vir die saak doen, dus moet ons dit so moeilik as moontlik maak om egte volkstaters van diegene wat net wil geld maak te skei”. Dit is, om die minste te sê, ‘n dwase houding. Opportuniste het nog steeds gekom en gegaan, maar toegewyde volkstaters kon nie in alle gevalle vasbyt nie want die nadele het net te veel geraak. Let wel, ons praat nou van Orania deur sy geskiedenis van 20 jaar, dinge het aansienlik verbeter die afgelope paar jaar en is steeds aan die verbeter.

Kom ons kyk wat is die nadele vir besigheid in Suid-Afrika en dan kom ons by die geleenthede vir die volkstaat uit:

Arbeid en vakbonde
Cosatu se mag is welbekend en tans ervaar ons weer hulle greep op die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese toneel met stakings en buitensporige loonverhogings. Werknemers se produktiwiteit regverdig eenvoudig in baie gevalle nie die lone wat hulle ontvang nie. Werksdae gaan verlore weens stakings, te veel vakansiedae, siektes, ens.

Die volkstaat kan met ‘n streng en gedissiplineerde arbeidsbeleid dit vir beleggers die moeite werd maak om hier besigheid te doen. Danksy talle virtuele dienste raak fisiese vervoer ook minder belangrik. Lae lone is beslis nie die antwoord nie want dit maak vir ontevrede en onstandvastige werkers en ontmoedig hulle. Balans is hier die wagwoord: die werkers moet hulle geld werd wees en dit verdien wat hulle verdien.
Ons kan egter reeds vasstel dat werknemers se motivering en arbeidsetiek hoër is as die gemiddelde een in Suid-Afrika. Mense is dikwels bereid om oortyd sonder vergoeding in te sit. Stakings is ongekend en vakansiedae is heelwat minder as in SA en werksdae word nie misbruik vir “siek-vakansies” nie.

Infrastruktuur
Geen ekonomiese aktiwiteit kan plaasvind sonder ‘n voldoende infrastruktuur nie. Suid-Afrika se padnetwerk het verbeter maar laat dikwels nog veel te wense oor. Die spoornetwerk is glad nie op standaard nie. Watervoorsiening en riolering gaan agteruit. Kragvoorsiening is gebrekkig en krag raak toenemend duur.

Wat infrastruktuur betref, kan die volkstaat ‘n groot verskil maak vir sy besigheidsmense en voornemende beleggers. Orania se infrastruktuur is tans reeds ‘n voordeel teenoor Suid-Afrika s’n. Alhoewel die gevolge van beperkte fondse, onvoldoende instandhouding en slytasie oor die jare nou ingehaal moet word, is hier groot verbetering en is dit een van die sterk punte van ‘n volkstaat. Bekwame ingenieurs, tegnici en munisipale werkers sal sorg dat ondernemers te alle tye krag, riolering, water en toevoerpaaie in ‘n goeie toestand het. Tans word besonder baie geld belê in die opgradering en instandhouding van die infrastruktuur. Daar is egter nog te veel infrastruktuur waar Orania tans van Suid-Afrika afhanklik is, soos elektrisiteit en paaie. Aan die paaie kan ‘n mens onder die huidige bestel niks doen nie (behalwe die paaie binne die dorp wat reeds aandag kry), maar by bekostigbare, betroubare en volhoubare kragvoorsiening lê groot potensiaal oopgesluit. Vir ondernemers kan dit ook ‘n bemarkingsvoordeel inhou as hulle met alternatiewe krag produseer. Op langtermyn behoort dit ook besparings mee te bring. As ‘n reël van die duim geld: Eskom-krag is tans nog goedkoper en meer effektief as alternatiewe krag, maar laasgenoemde verbeter gedurig en word beter en goedkoper soos wat Eskom-krag duurder en meer onbetroubaar raak. Ook by riolering kan meer van alternatiewe gebruik gemaak word wat die oorhoofse koste verlaag.

Eiendomsreg, nasionalisering
Dit wat enige ekonomie sink is onsekerheid oor eienaarskap. Ons moet besef dat daar nie iets soos absolute eiendomsreg is nie: selfs in vrye markekonomieë kan grond onteien word as dit noodsaaklik is vir byvoorbeeld ‘n deurpad. Daar is wel billike vergoeding. In Suid-Afrika is daar min sekerheid. Daar is wel ‘n klousule oor eiendomsreg in die grondwet maar die grondwet kan maklik genoeg met die huidige meerderheid sosialisties georiënteerde partye verander word. Eiendomsreg word reeds uitgekalwe. Geen ondernemer belê in ‘n land waar hy gesien word as ‘n gans wat goue eiers moet lê wat ander dan gebruik en die goue gans daarna ook nog slag as dank nie.

Orania se aandeelblokskema is altyd as ‘n nadeel beskou omdat die persepsie was, en nog steeds is, dat dit ‘n beperking op eiendomsreg plaas en dat die maatskappy mense se aandeelblok sonder of teen minimale vergoeding kan vat as hulle sou goeddink. Natuurlik is dit gerugte en ja, persepsies wat vals is, maar dit verander niks aan die onsekerheid wat dit vir sekere mense bied teenoor kaart en transport.

Intussen moes Suid-Afrikaners egter besef dat kaart en transport geen beskerming teen onteiening bied nie. Meer nog, die aandeelblokskema bied eintlik meer sekerheid want dit is kollektiewe eienaarskap (nog steeds met jou eie uitgemete stuk grond) en daar is dus ‘n groot groep mense wat veel moeiliker onteien kan word as ‘n enkele boer of huiseienaar.

Verder is Orania verbind tot die markekonomie en word eienaarskap gerespekteer.

Belasting
Die kwasi-sosialistiese regering van Suid-Afrika glo, soos meeste regerings wat oortuig is van die welsynstaat se seëninge, aan herverdeling deur middel van hoë belasting. Die sosialistiese oortuiging is dat diegene wat welvarend is hulle rykdom verkry het weens onregmatige voordele, synde uit die verlede, of deur hulle afkoms, of omdat hulle gewoon skelm en gewetenloos is en ander uitbuit. Dus moet hulle deur hoë belasting daarvoor gestraf word en kan die minder gegoedes vergoed word deur allerhande toelaes en gratis dienste soos medies, skole ens.

Belasting kan egter ook meer produktief aangewend word deur “ontwikkelingstate” wat massief in infrastruktuur belê, wat almal bevoordeel, ook voornemende beleggers. Daarby moet ontwikkelingstate egter besef dat dit net ‘n tydelike verskynsel moet wees. As die staat se infrastruktuur op ‘n hoë vlak is en net nog onderhou moet word, dan behoort belasting verlaag te word. Lae belasting trek beleggers en dit wat burgers aan belasting spaar, word eerder gespaar of uitgegee vir persoonlike aanskaffings (en donasies) en pomp meer geld in die ekonomiese kringloop in. Hoë belasting lei gewoonlik tot belastingontduiking en –vermyding, en nie die rykes word werklik gestraf nie (want hulle beskik oor goeie belastingkonsultante en adresse in die buiteland om hulle geld heen te verplaas), maar die eerlike en hardwerkende middelklas, soos dit tipies in Suid-Afrika die geval is.

Orania is tans ‘n dorp wat ‘n relatief hoë belasting, oftewel heffing het. Dit is in ‘n mate verstaanbaar, want Orania as dorp vervul funksies wat op ander dorpe (in teorie) deur die staat gedra word. Verder is Orania in die ontwikkelingstaatfase en daar is heelwat infrastruktuur wat ten duurste nuut geskep of vergroot moet word (nuwe diensteaansluitings teen vandag se koste, nuwe substasies, rioolaanlegte, teerpaaie) waaroor ander dorpe wat krimp genoegsaam beskik. Orania se dienste werk en word onderhou en dit het natuurlik sy prys.

Maar die dorp moet eerder sy belastingbasis verbreed as om meer en meer belasting van sy bestaande inwoners te hef. ‘n Dorp met ‘n groter bevolking kan net eenvoudig baie beter ekonomies bestuur word (die logika van economics of scale). Hoë heffings is egter ‘n faktor wat mense uit Orania laat wegtrek of ander, tipies jong gesinne en mense uit die laer middelklas, verhoed om te kan kom intrek. Die skepping van ‘n infrastruktuurfonds, om nuwe infrastruktuurprojekte nie uit die heffings te finansieer nie is die regte besluit, maar ook hier moet gewaak word dat ontwikkelaars nie buite verhouding belas word nie deur allerhande addisionele kostes. Oordragskoste verhoog erf- en huispryse verder en ‘n maksimumbedrag behoort vasgestel te word eerder as om ‘n sekere persentasie te handhaaf, selfs by huise wat meer as R1 miljoen kos.

Namate die infrastruktuur geskep is moet heffings verlaag word, of ten minste nie verder verhoog word nie. Nuwe inkomste moet deur meer inwoners verkry word. Die som is eenvoudig: om ‘n pad te onderhou wat deur 10 mense wat belasting betaal gebruik word, is net so veel duurder as om dieselfde pad te onderhou wat deur 100 mense gebruik word (selfs al beteken dit meer slytasie).

Deur lae belasting, veral vir ondernemers, kan Orania werk skep en meer mense trek.

Opvoeding, opleiding, vaardighede
Nog iets wat in Suid-Afrika toenemend skaars raak is reg opgeleide mense, veral in ambagsbedrywe. Die nuwe swart elite streef almal na witboordjieposte en studeer graag rigtings wat gesag en prestige beteken. Die onderbou van gehalte skoolopleiding is ongelukkig nie meer daar nie, dalk nog op duur privaatskole, maar selde by staatskole. Statistieke wys reeds dat goed opgeleide ambagsmanne al hoe skaarser en al hoe ouer raak. Blykbaar begryp jong mense nie die groot inkomstemoontlikhede wat in goeie ambag opgesluit lê nie. As ‘n mens bedink dat ‘n ambagsman nie eers ten duurste vir jare se universiteitsopleiding hoef te betaal nie maar na ‘n relatief kort opleidingsperiode sy eie besigheid kan begin, kan so iemand makliker en vinniger geld verdien as ‘n dokter, prokureur of ouditeur. Fooie vir herstelwerk aan ‘n motor, elektriese- of loodgieterswerk per uur is ook nie meer ver onder die witboordjiewerkers s’n nie. En hoekom moet iemand wat tegnies aangelê is sy jare op universiteit mors en op die ou einde met ‘n swak graad van ‘n vak wat hy nie geniet ‘n werk soek, terwyl hy eerder sy stokperdjie tot beroep kan uitbou, net omdat witboordjiewerk meer prestige beteken?

Orania het die leemte gesien en bied ‘n goeie veld vir huidige en voornemende ambagsmanne. Die beplande oprigting van ‘n tegniese opleidingskool kom baie tydig. Die volgehoue groei in die dorp en die uitbou van die infrastruktuur skep ook ‘n groot behoefte vir elektrisiëns, bouers, loodgieters, ens.

In die toekoms sal ‘n akademiese inrigting ook geskep moet word om meer middelklasmense te trek. Maar weens die hoë koste sal dit eers kan plaasvind wanneer Orania ‘n aansienlike vlak bereik het wat bevolking en inkomste betref. Tans is ‘n beroepsgerigte ambagskool die regte keuse.
Afgesien van die tersiêre opleiding, wat tans nog net in ‘n beplanningsfase en hier en daar eksperimenteel bestaan, is die huidige skoolopleiding op Orania van hoë en stygende gehalte en is reeds ‘n trekpleister vir nuwe inwoners. Dit is boonop bekostigbare skole, terwyl mense elders óf tevrede moet wees met swak en ideologies ingekleurde opvoeding, meesal in Engels, óf ten duurste vir kwaliteit opvoeding met ‘n waardegerigte basis moet betaal.

Orania kan op die voorpunt van behoeftegerigte opleiding wees. Kwaliteit ambagsmanne en fabrieke is weereens ‘n trekpleister vir voornemende inwoners en beleggers, dit skep werk, sorg vir ‘n werkende dorp en laat mense wat hier woon tevrede en lojaal voel.

Toegang tot kapitaal
Suid-Afrika se banke is deesdae meer versigtig as in die verlede om geld uit te leen. Die groot swart laerklas is ‘n risiko om voor geld te leen, maar weens politieke druk word dit wel deur banke gedoen, met die verstandhouding dat hulle die geld sal afskryf ter wille van politieke punte. Internasionaal is Suid-Afrika se kredietwaardigheid wel een van die hoogste in Afrika, maar op ‘n wêreldwye skaal is dit slegs in die middelgrond. Suid-Afrika se finansiële beleid is minder katastrofies as sy beleid op meeste ander terreine, danksy die relatief gesonde hantering van Trevor Manuel en nou Pravin Gordham. Nogtans is die langtermyntendens ook om meer skuld te maak en om meer en meer te spandeer en fiskale leemtes eerder deur geleende geld en hoër belasting te vul as om te spaar.

Waarskynlik die grootste belemmernis vir ontwikkeling op Orania is kapitaal. Daar is goeie redes hoekom nie enige kapitaal gebruik kan word nie en hoekom die vrye mark wat kapitaal betref nie vir Orania werk nie. Die aandeleblok en die volks-eienaarskap van Orania kan natuurlik nie aan winsgedrewe en volksvreemde banke verpand word nie. Gelukkig beskik Orania met OSK (Orania Spaar en Krediet) oor ‘n gesonde eie finansiële instelling en kan lenings vir huisaankope en hier en daar ook besigheidsontwikkeling gee. Die Groeifonds is ‘n verdere instrument wat kapitaal beskikbaar stel vir spesifiek besigheidsontwikkeling. Daar is egter ook leemtes: OSK se rentekoerse asook depositovereiste is besonder hoog in vergelyking met kommersiële banke en sit ‘n hele paar voornemende beleggers en kopers af (weens die feit dat OSK geld privaat moet leen het hulle egter min beweegruimte), en die Groeifonds, wie se voorwaardes sagter is, beskik tans nog nie oor groot kapitaal nie. Dinge sal vorentoe egter verbeter en tot voordeel van Orania strek. Om meer kapitaal teen goeie kondisies beskikbaar te kan hê sal vir seker help om Orania uit te brei en vestiging makliker maak.

Veiligheid
Suid-Afrika se gebrek aan veiligheid is spreekwoordelik. Dit beïnvloed feitlik enige besigheid negatief, behalwe die sekuriteitsbedryf! Elke besigheid moet ekstra uitgawes begroot vir beveiliging en skryf ‘n deel van sy inkomste af weens diefstal en beskadiging. Buitelandse beleggers en toeriste word reeds afgeskrik deur die onveiligheid van Suid-Afrika en dit is altyd die eerste bekommernis voor mense die land besoek of hier besigheid doen. Dit kan ook aanvaar word dat getraumatiseerde en bang werknemers minder produktief is en meer weens uitputting siek is as werknemers wat in ‘n veilige omgewing werk.

Veiligheid is een van die grootste bates van Orania. Verliese weens diefstal, inbraak, ens. is minimaal en koste vir sekuriteitstelsels, wagte, hoë heinings, versekering teen diefstal, ens. kan uit die beleggers se kostebepalingsrekening uitgehaal word. Ongelukkig bied ons geen geleenthede vir sekuriteitsmaatskappye nie.

Politieke klimaat, staatsinmenging, regulering
‘n Land kan ooglopend stabiel en rustig wees, maar die blote persepsie dat dinge kan verander en dat die leiers se versekerings nie veel beteken nie maak dat beleggers versigtig is en hoogstens korttermynbeleggings doen wat gou weer onttrek kan word. Deur die hele Afrika is dit die geval. Geleenthede is legio, maar beleggings min, en indien wel, dan gewoonlik in die uitbuiting van grondstowwe en vir ‘n beperkte tyd en sonder langtermynverbintenis. In Afrika speel regerings gewoonlik negatiewe rolle: pleks om stabiliteit en orde te waarborg en goeie infrastruktuur te verseker, is hulle eerder amptelike parasiete wat deur omkoopgeld, hoë belasting en allerhande addisionele koste vir die skepping van infrastruktuur beleggings duur maak sonder om waarde toe te voeg. Beleggers word nie op hande gedra as mense wat help om die armoede indirek te verlig deur werkskepping (al is die winsmotief sentraal) nie, maar word gesien as indringers wat iets wil vat wat hulle nie toekom en waarvoor hulle maksimaal gemelk moet word. Dit, gekombineerd met ‘n gebrek aan sekerheid van eiendom, opruiende toesprake van onteiening en blanke koloniale skuld maak dat beleggers versigtig is. Vergelyk die gebrek aan belegging in Afrika met die magdom beleggings in die Ooste en die prentjie word duidelik. Suid-Afrika se toestand is wel beleggingsvriendeliker as in die gemiddelde Afrika-land, maar die persepsie bestaan dat Suid-Afrika in dieselfde rigting beweeg as ander Afrika-lande, na meer sosialisme, meer staatsinmenging en minder effektiwiteit. Onlangse uitsprake oor nasionalisering en grondroof versterk die onsekerheid.

Orania het ‘n klimaat van voorspelbaarheid en beleggingsekerheid. Orania se leierskap is nugtere en eerlike mense en die risiko dat radikale heethoofde beheer oorneem en ‘n heel ander beleidsrigting inslaan is uiters beperk. Die dorp, en die toekomstige groter gebied is verbind tot die beginsels van die markekonomie en geleenthede.

Reëls wat sinvol is, soos oor boustandaarde, die onderverdeling van erwe en die sonering van ontwikkelingsareas bring orde en voorspelbaarheid. Daar moet egter gewaak word daarteen om te veel hekkies in ‘n belegger se pad te sit wat hom dalk sal ontmoedig.

Om op te som: Orania kan sy natuurlike nadele meer as uitbalanseer deur ‘n gesonde ekonomiese beleid en beleggersvriendelike optrede. Dinge kom meer en meer in plek, maar geen leierskap, selfs van die mees suksesvolle dorp of staat, moet dink dat daar geen ruimte vir verbetering is nie en dat hulle alles reg doen nie. Dit is nie genoeg dat Orania vorentoe gaan nie, die dorp moet uit sy nate bars en so veel mense trek, veral kapitaalkragtige beleggers, dat ons die ideaal van ‘n volkstaat in ons leeftyd kan verwesenlik.