Is ons/hulle vyandig?

Twee insette tot hierdie inskrywing.

  • Ek lees in bykans elke kritiek op konserwatiewes die een of ander verwysing na die ons/hulle-houding as bewys dat konserwatiewes skoor soek. Spesifiek wys diegene wat reken ons is eerstens Suid-Afrikaners en tweedens Afrikaners dikwels uit hoe die alternatief (Afrikaners in die eerste instansie) noodwendig van die ander inwoners van ons land ‘n soort “ander” maak.

Laat ek dan uit die staanspoor my posisie stel en dan kan die leser die res van die stuk oordeel soos hulle in elk geval gaan doen. Ek glo dat ons/hulle ‘n natuurlike manier is om oor die wêreld te dink en dat verskeie interaksies tussen die “ons” en die “hulle” moontlik is: samewerking, parasitisme, isolasie en vyandskap. Die ons/hulle-denkwyse is nie op sig self opponerend gerig nie.

Ek beplan om vanuit die ons/hulle-denkwyse aan te dui hoe vyandige denke die mins konserwatiewe is.  Ek doen daarmee dan ‘n implisiete oproep om nie vyandskap as verstekposisie ten opsigte van andere in ons land in te neem nie.

 

Die wese van ‘n ons/hulle-denkwyse

Die mens vorm groepe.  As sosiale gediertes is dit ons natuurlike optrede. Die Afrikaner in sy gestalte soos wat Orania se inwoners daaruit sien, reken daar is party mense wat makliker groepe vorm as ander.  Byvoorbeeld:  Ek het nou die dag ‘n MatLab-kursus bygewoon. Daar was seker vyftig mense, waarvan so tien swart was.  Tydens middagete het daardie tien in een groep gestaan.  Verder was daar ‘n groep wat staan en krieket kyk het en ‘n groep wat die ENB-mense bevat het, ‘n groep vegetariërs.  Van hierdie groepe was daar net twee waartussen ‘n mens geredelik gewissel het: die krieketgroep en die vegetariërs.

Ek argumenteer dat die plek waar elkeen van daardie groepe tuisgevoel het, te doen het met die een of ander eienskap wat hulle gemeen het: ras, belangstelling, werkgewer, voedselkeuse. In die voedselkeuse se geval was  dit boonop hoogs korrelerend met geloof, siende dat daar nie ‘n halaal-tafel was nie. As ‘n mens nou die stereotipe hier kan onderstreep, reken ek dít was die rede vir die vloeibaarheid tussen vegetariërs en krieket.

Hierdie dinge het gebeur op ‘n plek waar daar heelwat rede was vir die kursusgangers om buite hierdie groepe te beweeg:  Almal het kom leer hoe om MatLab se risikobestuurstoepassings te gebruik. As jy op soek was na ‘n sin wat jou eerste kontak kon bewerkstellig, kon jy nie ‘n makliker een gekies het nie! Jy weet hierdie mense werk op ‘n soortgelyke veld as jy.  Jy weet hulle het rede om hulle tegniese vaardighede te kom opskerp. Tog het bykans niemand daardie geleentheid aangegryp nie.

Die groepe hierbo genoem het nie gevorm uit een of ander afsku van die ander groepe nie. Dit het positief gevorm: ek beweeg nie wég van mense af omdat hulle anders is as ek nie, ek beweeg ná mense toe omdat ek duidelik kan sien waar ons iets deel.

My hoop (en my oortuiging) is dat Orania nie gevorm het (en aanhou vorm) weens ‘n wegbeweeg van iets af nie, maar eerder ‘n nader beweeg aan iets. Ons beweeg na mense toe wat ‘n taal, kultuur en ‘n klomp gewoontes deel.  Dit is ons wat dink daardie eendersheid is iets wat kosbaar genoeg is om te koester.  Dit is die “ons”.  En as jy nie deel van die “ons” is nie, is jy deel van die “hulle”. Uit die staanspoor is dit nie ‘n negatiewe “hulle” nie.  Ek ontleed dit hieronder.

Verskillende soorte interaksies ontleed

Uit die eerste deel neem ek die ons/hulle-denkwyse as vertrekpunt. Die vraag is nou hoe daardie verhouding lyk.

‘n Groot deel van die verwarring oor Orania gaan rondom die verstaan van selfwerksaamheid as ‘n soort uitsluiting.  Die “hulle” moet op ‘n afstand gehou word.  Dus bestaan Orania mos as wegvlugplek vir mense wat nie vir interaksie met iemand kans sien wat van hulle verskil nie.

Wanneer mense dan met die werklike Orania te doen kry, is daar ‘n paar reaksies tot die realiteit van die idee.

Eerstens is daar diegene wat Orania se karakter wil verander. Daar is sommiges wat raaksien hoe Orania se leierskap nie net ruimte maak vir “ander” nie, maar aktief samewerking met mense buite die “eie” gaan opsoek. Dit verwar iemand wat aangeneem het dis onmoontlik. Ek onthou spesifiek ‘n kommentator wat nie geweet het wat om daarmee te maak nie en vir Carel (iv) Boshoff tot ‘n liberale verklaar het om dit in sy eie kop te laat sin maak!  Volgens die skrywer van daardie berig se opinie was dit die hoogste lof wat hy kon toedeel.

Tweedens is daar ‘n ontkenning van die realiteit dat Orania nie daarop uit is om vyande te maak nie. Die bestaansdoel van Orania is mos om mense uit te sluit en geen optrede wat daarmee in stryd is, word enigsins raakgesien nie.

Derdens is daar ‘n aanklag/hoop dat vriendskappe (soos met Mnyameni) vals is.  Julle gee maar voor, want… (en vul die sin aan soos jy lus kry).

Vierdens is daar sommiges wat diep teleurgesteld is. Party mense het gehoop Orania is ‘n militêre basis vanwaar “ons” “hulle” gaan platskiet. As dit blyk ‘n doodgewone, rustige dorp te wees, voldoen dit nie aan die strydkreet wat hierdie mense graag wil laat opklink nie.

Ek glo die aard van Orania se interaksies met die “ander” van ons land, is gewortel in ‘n beter verstaan van watter interaksies moontlik is.  My beskrywings hieronder volg bykans die vak Biologie se sillabus.  Ek dink die tipes interaksies tussen organismes wat daar beskryf word, is vir interaksies tussen gemeenskappe ook geldig:

  • Mutualisme
  • Kommensalisme
  • Parasitisme
  • Kompetisie

 

Mutualisme is waar beide voordeel trek.

Soos die heuningvoëltjie en die ratel. Hulle lyk en ís niks soos mekaar nie. Hulle wil ook nie die een soos die ander wees nie. Maar die voëltjie het kennis wat die ratel kortkom: waar die heuning is. Die ratel het weer krag en taaiheid wat die voëltjie kortkom. Sonder die heuningvoëltjie, is die ratel se dik pels iets wat hom teen geen by gaan beskerm nie want hy sal nooit die korf kry nie. Sonder die ratel, is die heuningvoëltjie se kennis waardeloos: hy is nie self teen die klomp bye opgewasse nie.

Wanneer verskillende spesies saamwerk, is dit tot almal se voordeel. Almal kry iets te ete.

Op soortgelyke wyse kan gemeenskappe wat niks na mekaar lyk nie en niks na mekaar WIL lyk nie, tog saamwerk vir beter resultate vir almal. Let asseblief daarop dat ek nie hier (of elders) ’n verwysing sal maak na assimilasie nie. Net soos die heuningvoëltjie nie ‘n ratel hoef te wees om met hom saam te werk nie, net so hoef gemeenskappe nie enigiets meer as gemene belang op een veld te hê om saam te span nie.

Dis vir my uiters teleurstellend hoe min bruin mense veg vir Afrikaans by universiteite. Is dit omdat hulle onwelkom voel tussen ‘n klomp wit mense wat (dalk met opset, dalk sonder opset) hulle soos buitestaanders laat voel? Of is dit omdat hulle nie genoeg die belangrikheid van hulle taal of die belangrikheid van tersiêre opleiding vir hulle taal besef nie? Ek weet nie, maar dis ‘n ooglopende geval van die heuningvoëltjie en die ratel wat vir mekaar kyk en besluit het: hierdie ou is te anders as ek. Ek gaan nie met hom saamwerk nie… Dit was vir my vreeslik hartseer om te hoor dat die bruines op die PUK uitgesluit voel deur die kultuur op kampus. Dus was baie van hulle ten gunste van die afskaffing van Afrikaans in die hoop dat ‘n Engelse omgewing meer insluitend sou wees. ‘n Bespreking van die akkuraatheid van so ‘n aanname is ‘n storie vir ‘n ander dag, maar dis jammer dat die wit Afrikaners so goed is daarmee om vriende weg te jaag.

Kommensalisme is waar die een voordeel trek wat nie die ander beïnvloed nie.

Dit is soos die orgideë in ‘n groot boom.  Hulle gebruik die boom bloot om hoog genoeg te kom dat hulle son kan vang.  Dit doen niks aan die boom nie maar vir die epifiete is dit van groot waarde want hulle kan makliker fotosinteer.

Die boom het geen belang daarby om die orgideë te hê of nie.  Maar omdat die orgideë iets te wen het uit die verhouding, is die boom vir hulle baie belangrik.

Orania staan tans in hierdie verhouding tot die res van Suid-Afrika. ‘n Dorp van kort oor die duisend inwoners gaan nie aan ‘n land met oor die 50 miljoen inwoners veel verskil maak nie, maar die optrede van daardie land gaan die dorp vir seker raak.  Die ora is direk aan die rand gekoppel vir ‘n eenvoudige voorbeeld.

Parasitisme is waar die een ten koste van die ander bevoordeel word.

‘n Belangrike punt hier is dat hierdie verhouding op die oog af tussen entiteite nét soos parasitisme kan lyk.  Die lantana wat teen bome oprank, kry dieselfde voordeel uit die boom uit as wat die orgideë doen: hoogte, stewigheid, minder diere wat hom vreet.  Maar die lantana wat die boom dooddruk, het op die boom totaal ‘n ander impak as plante wat hom net vir hoogte gebruik.

Daar is tans ‘n groot en moedswillige poging om enige mens met ‘n wit wel soos hierdie parasiete te laat lyk. Dit is dan ook redelik maklik om dit te doen want wat was kolonialisme dan anders? Dit is een land wat ‘n ander se hulpbronne tot sy eie voordeel inspan of daardie hulpbronne nou gewasse, of minerale of mense is.

Die fyner nuanses sou hierdie selfde argument voer vanuit ‘n Marxistiese klasse-oogpunt. Daar is die elite, die middelklas en die werkersklas en die werkersklas wat só uitgebuit is, het daarom ‘n reg tot die welvaart van die ander. Hulle moet net reg georganiseer word.  Uiteindelik lyk die Suid-Afrikaanse demografiese welvaartverdeling steeds na ‘n ryk wit mens en ‘n arm swarte.

Vandaar dan die geldigheid van die argument.

Daar is egter ‘n byproduk tot die argument wat selde verreken word.  ‘n Welvaartstaat, waar ‘n derde die ander twee derdes dra, is dan ook ‘n soort parasitisme. As twee vyfdes van my inkomste vir belasting gaan en daardie belasting bloot vir die onderhoud van behoeftiges gebruik word, is dit mos presies wat parasitisme is.   Dit is die keer egter geregverdig vanuit ‘n oogpunt van die “onregte” van die verlede.

Ek besef dat ek nuwe paaie en ‘n Gautrein ook aan my belasting te danke het.  So, bogenoemde is natuurlik ‘n oordrywing, maar die geldigheid van my punt gaan nie daarmee verlore nie.

Kompetisie is waar een entiteit beter wil presteer as ‘n ander.

Die springbok en die blesbok is kompetisie. Hulle vreet dieselfde gras en wat die een vreet, is nie beskikbaar vir die ander nie.

Maar let tog daarop dat dit selfs in hierdie geval nie noodwendig beteken die een hoef die ander skade te berokken nie. Eers wanneer die weiding min raak, maak hierdie kompetisie regtig saak.

As jy op die koerante af probeer vasstel wat in die wêreld aangaan, sal jy elke dag dink die weiding is nou op sy laagste vlakke ooit. Wag, nee, nóú is dit die minste. Niemand kon glo dit gaan nóg erger raak nie en toe gebeur dit.  Dit is dié dat ’n  mens maar met ‘n knippie sout moet neem hoe aaklig dit nou al weer gaan.

Die ongeluk van kompetisie is dat die een wat in die minderheid is, geneig is om die uiteindelike stryd te verloor.  As 1 in 10 oorleef en daar is 80 van die een en 20 van die ander, gaan daar waarskynlik 8 en 2 oorbly.  Tussen 8 is ‘n broeipaar veel meer waarskynlik…

Die uitsondering op hierdie reël  is waar die een spesie alternatiewe voeding kan kry om hom deur die maer jare te dra. ‘n “Boer maak ‘n plan” durf dus nie bloot tot ‘n slagspreuk te verval nie.

Enigeen wat al die spel Risk gespeel het, sal weet dat as die een 80 mannetjies en die ander 20 het, die een met 80 tussen 50 en 70 gaan oorhou as die geveg verby is.  Dis daarom dat minderheidsgroepe ook maar uit hulle pad uit moet gaan om seker te maak dat hierdie geveg nie plaasvind nie.  Dis nie lafhartig nie.  Om die teendeel te doen, om ‘n geveg te gaan soek wat kon gebly het, is net dom.

Hierdie les is een wat diegene wat hulleself aan standbeelde gaan vasketting vinnig moet leer.

Slotopmerkings

Die konserwatiewe agenda is een van bewaring.  Dit gaan daaroor om bereid te wees om aan ‘n goeie idee te skaaf om dit te laat oorleef.

Die idees hierbo beskryf hoedat ons/hulle natuurlik gebeur. Dit wys ook hoe die natuur baie vorme van interaksies tussen die “ons” en die “hulle” voorsien. Enige een wat reken dat die blote erkenning dat daar ‘n “ons” en ‘n “hulle”  terselfdertyd vyandskap daarstel, het die spoor verloor.  Eweneens beteken die verskillende moontlikhede dat daar in interaksie met ‘n ander groep altyd meer as een soort ooreenkoms moontlik is.   Hiervan is mutualisme die beste.  Dit is die beste om met almal, van Tirool tot Mnyameni, wat wil vriendskappe smee, daardie samewerking te hê.

As ons nie kan saamwerk nie, wil ‘n mens minstens ‘n situasie onderhou waar kommensalisties omgegaan kan word met mekaar.  Soms beteken dit om te sluk aan beskrywings oor Orania soos “laat hulle daar in hulle eie hoekie sit en vergaan”.  Ons weet dat hierdie hoekie nie aan die vergaan is nie, hy bloei soos blomme, nie soos wonde nie.  Om gelos te word om jou eie ding te doen oor jy bejammer moet word, is immers beter as om ‘n vyand te maak.

Parasitisme is onplesierig. Niemand wil voel hy dra die res wat nie ‘n bydrae maak nie.  Om egter tot vyandige gesindheid oor te gaan, is tot almal se nadeel en in elk geval van ‘n minderheidsgroep, veral jy self.

Kom ons wees konserwatief.  Kom ons bewaar wat ons het, al moet dit dalk vorentoe anders daar uitsien.

Naskrif

Ek besef dat die analogie van verskillende spesies vir verskillende groepe uit verband geruk kan word.  Hier word geensins aangevoer dat verskillende soorte rasse tot verskillende spesies behoort nie, nes die pugsterriër en die foksterriër nie verskillende spesies is nie.

So is daar nog ‘n moontlikheid wat glad nie bespreek word nie: dat die twee groepe wedersyds niks met mekaar te doen het nie.  Hierdie posisie moet nie met vyandigheid verwar word nie. Dis ‘n opsie dat elkeen bloot sy eie bevorder en die ander gun om sy eie te bevorder.  Dis seker maar ‘n biologiese interaksie wat nie interessant genoeg was om vir skoolkinders te leer nie.

Laastens:  As uitwoner gee ek geensins voor om namens Orania te praat nie. Dit is net my perspektief op hoe die pad vorentoe gebaan moet word.

Westerse minderhede in hul eie lande

MinderheidInEigenLandAfrikaners sê deesdae graag dat ons die verlede moet vergeet en moet leer om aan te beweeg en op die toekoms te fokus. Daar is egter genoeg rede om nie net alles wat agter ons is te vergeet en te maak asof daar niks uit ons verlede te leer is nie.

Een terrein waarop ons, maar ook ander Westerse volkere gerus uit die verlede kan leer, is dié van demografie. Daar was voorwaar ‘n tyd in ons verlede toe die Afrikaner gebiede beheer en regeer het waar ons toe nog ‘n meerderheid was.

Vandag is die Afrikaner bykans orals ‘n minderheid. Demografiese veranderinge weens die noodsaak vir goedkoop arbeid en die onvermoë om die grond wat ons besit het, volwaardig te kon regeer en beheer, het veroorsaak dat Afrikaners lank gelede reeds ‘n minderheid op hul eie grond geraak het.

In Europa sien ons vandag hoe etniese volkere in land na land besig is om as persentasie van die totale bevolking te krimp. Iin lande soos Frankryk, Nederland, België en Duitsland is Moslems reeds byna 10% van die totale bevolking. In Engeland het die Moslembevolking vanaf 2001 tot 2011 verdubbel. Ook in die VSA is daar ‘n enorme styging in die Moslembevolking. Die Pew Navorsingsentrum voorspel dat die huidige Moslembevolking in Amerika teen 2033 sal verdubbel. Dan is daar ook groot hoeveelhede nie-Moslems uit Afrika, die Midde-Ooste, Oos-Europa en Asië wat na Westerse lande immigreer, sommige op wettige wyses, miljoene ander egter op onwettige maniere. Onlangse navorsing in Oostenryk wys daarop dat 19% van dié land se bevolking immigrante of kinders van immigrante is en dat daar ‘n enorme toename in immigrasie uit lande soos Turkye is.

Hierdie groot bevolkingverskuiwing skep die vraag of Nederlanders ‘n minderheid in Nederland en Duitsers ‘n minderheid in Duitsland kan en gaan word. Die bekende Nederlandse politikus en vriend van die Afrikaner, Martin Bosma, het sopas ‘n opspraakwekkende boek oor hierdie tema bekendgestel. Sy boek, Minderheid in Eigen Land, behandel die Afrikaner se magsverlies in diepte en vra dan die vraag oor of etniese volkere in Europa dieselfde pad gaan stap. Ek het self die voorreg gehad om onlangs die bekendstelling van hierdie boek in Den Haag by te woon.

Bosma het vir meer as vyf jaar aan hierdie boek van meer as 500 bladsye gewerk. Dit is ‘n kragtoer van deeglike navorsing, sterk argumente en uiteindelik ‘n somber blik op die toekoms van die Westerse beskawing.

‘n Groot deel van sy boek word gewy aan die wyse waarop Westerlinge, en hier verwys hy veral na Nederlandse politici, kunstenaars en denkers, gedurende die vorige eeu teen die Afrikaner gewerk het. Volgens Bosma is die sterk ANC van die laat tagtigerjare ‘n skepsel van Westerse magte wat die Afrikaner wou ondergrawe. Soos wat die Afrikaner vandag deur ‘n meerderheid onder leiding van ‘n onvriendelike ANC regeer word, kan die vraag tereg gevra word of Nederland eendag deur ‘n Moslemmeerderheid beheer sal word.

Afrikaners en ander Westerse volkere sal vinnig hieruit moet leer indien ons nie maar net bloot minderhede op ons eie grond wil wees nie. Die lees van Martin Bosma se boek, is ‘n goeie vertrekpunt. Daarna moet daar ernstig oor konsentrasie, eie arbeid en ‘n nuwe identiteitsbewustheid onder ons mense besin word. Orania is tans ‘n ligpunt waar ons minstens gedeeltelik nie ‘n minderheid in ons eie land is nie.

‘n Nuwe intellektuele opkoms in Afrikanergeledere

oor-gemeenskap-en-plek1Ons hoor gereeld dat die Afrikaner rigtingloos en leierloos is. Ons mense het ‘n diepe onsekerheid oor die toekoms en gryp graag na strooihalms in hul soeke na vastigheid. Terwyl Afrikaners oor die afgelope 21 jaar hul aanpasbaarheid ten toon gestel het, is dit ‘n feit dat die toekoms van die Afrikaner onseker is.

Die oproer oor standbeelde wat onlangs begin het met die eise van studente dat die beeld van Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad verwyder moet word, is ‘n goeie aanduiding van die toenemende kulturele onverdraagsaamheid in ons land. Uitsprake oor grondbesit, Afrikaanse onderrig en transformasie in die algemeen stem baie Afrikaners tot diepe kommer. Mediaberigte oor duisende wittes wat by Eskom uitgewerk gaan word en die toenemende aandrang op rasseverteenwoordiging in elke segment van die openbare lewe stem ons mense verder tot kommer.

Die vraag wat in die lug bly hang is, hoe gaan Afrikaners vir hulself ‘n volhoubare toekoms in Suid-Afrika skep? Rondom braaivleisvure en wanneer tee en koffie na kerk saamgedrink word, praat mense hoofsaaklik oor emigrasie, integrasie en ‘n soort geprivatiseerde roete as opsies tot oorlewing. Selfbeskikking in sy verskillende dimensies word soms bespreek, maar steeds as te ver beskou.

Wat egter in ‘n groot mate by Afrikaners ontbreek, is ‘n diepe intellektuele gesprek oor ‘n nuwe toekoms. Geen volk kan daarin slaag om uit ‘n revolusie te kom en homself nuut te posisioneer sonder ‘n diep intellektuele gesprek nie. Op hierdie terrein is daar die afgelope paar maande groot vordering gemaak en dit verdien erkenning.

Gedurende die laat 1990’s en die eerste jare van die nuwe eeu het verskeie pogings tot ‘n intellektuele gesprek en die ontwikkeling van nuwe idees vir die Afrikaner misluk. Die afgelope tyd word daar egter met nuwe energie oor toekomsopsies gepraat. Gespreksgeleenthede word dikwels deur soveel mense bygewoon dat daar stoele ingedra moet word. Op forums soos Maroela Media en verskeie blogs en ander nuwe media word briljante idees daagliks gepubliseer en bespreek.

Ons weet egter dat ‘n volk wat nie meer oor die vermoë beskik om sy idees in boeke te publiseer nie, totaal gedoem is. Daarom is die publikasie van verskeie belangrike boeke die afgelope tyd uiters belangrik. Prof Koos Malan se Politokrasie, Carel Boshoff se NP van Wyk Louw en die Derde Afrikaner en nou Prof Danie Goosen se boek, Oor Gemeenskap en Plek, is van groot belang in ons stryd om sinvolle idees.

Prof Danie Goosen is vandag een van dié grootste Afrikanerintellektuele. Daarom behoort elke Afrikaner wat ernstig dink oor ons toekoms sy boek wat onlangs deur die FAK uitgegee is, te lees. Oor Gemeenskap en Plek, vra die vraag hoe Afrikaners as kultuurgemeenskap vandag tot hul reg kan kom. Met ‘n diepe beskouing op die Westerse gemeenskapstrasidie bied Goosen belangrike en rigtinggewende antwoorde wat moontlik in die komende jare tot ‘n nuwe Afrikanerbeweging aanleiding kan gee. Hierdie boek kan en behoort die katalisator tot ‘n nuwe toekomsbeeld vir die Afrikaner te wees en kan ‘n groot bydrae lewer in Orania se strewe om meer Afrikaners anders oor hul toekoms te laat dink.

Sokker help Afrikaners om Westerse kultuur te herbevestig

NederlandSokkerDie Sokkerwêreldbeker wat tans in Brasilië plaasvind, wys op interessante wyses uit hoe Suid-Afrikaners volgens identiteit internasionaal identifiseer. Suid-Afrika se swak sokkerspan het nie eers vir dié toernooi gekwalifiseer nie en gevolglik behoort Suid-Afrikaners nie juis vreeslik direk in die Wêreldbeker belang te stel nie. Tog is ‘n daar baie Suid-Afrikaners wat vasgenael voor die kassie sit om sekere wedstryde dop te hou. Swart Suid-Afrikaners ondersteun enige Afrikaland, terwyl Afrikaners bankvas agter die Nederlandse span staan.

Die Nederlandse sokkerspan presteer vanjaar weer goed. Daarteenoor doen Afrikaspanne betreklik sleg. Sou jy die sosiale media hieroor gaan bestudeer, sien jy hoe verskeie Afrikaners elke Nederlandse oorwinning hul eie maak. Die Nederlandse span word ook elke Afrikaner se volksbesit. Netso assosieer swart Suid-Afrikaners sterk met die Afrikaspanne en selfs net met swart spelers in Westerse lande se spanne. Afrikaners beskou hulself lankal nie meer as vreeslik “Nederlands” nie en formele verhoudinge tussen die Afrikaner en Nederland is uiters beperk. Die Afrikaner se kultuur is ook in ‘n groot mate deur sy ervaringe in Afrika en deur Britse kolonialisme beïnvloed wat beteken dat daar vandag kulturele verskille tussen Afrikaners en Nederlanders is.

NederlandSokker2Tog assosieer Afrikaners met Nederland. Hierdie assosiasie beteken nie dat Afrikaners terughunker na Nederland of selfs net smag om meer “Nederlands” te wees nie. Nee die assosiasie met Nederland het veel meer te doen met die Afrikaner se totale vervreemding binne ‘n Suid-Afrika wat by die dag meer Afrikaniseer. Afrikaners voel ontuis in ‘n samelewing wat ver verwyderd is van dit waaraan hulle gewoond is. Regeringskorrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, wrede misdadigheid en selfs net klein kultuurverskille soos “Afrikatyd” waaroor ons soms kan spot is alles deel van die vreemde Afrikabestel waarbinne ons moet funksioneer.

Die Afrikaner is ‘n Westerse volk wat soos ‘n klein boodjie op die Afrika-see ronddobber. Hy staan uit of hy nou wil of nie. Na elke oorwinning van die Nederlandse sokkerspan is daar swartmense wat op plekke soos Twitter en Facebook sarkasties sê dat Afrikaners seker nou feesvier. Politieskorrekte Afrikaners sal probeer om daarvan weg te skram. Dit is verkeerd. Afrikaners moet met trots met ander Westerse volke assosieer. Ons moet juis meer en nie minder nie ander Westerse volke ondersteun en vriendskapsbande mee smee.

Die Afrikaner se voortbestaan aan die suidpunt van Afrika is in die verlede nog elke keer verseker nie deur te Afrikaniseer nie, maar juis deur by ons sterk Westerse beginsels en kultuur te bly staan en dan waar nodig aan te pas om die uitdagings van Afrika te bowe te kom. Wanneer die Nederlandse sokkerspan of selfs die Belgiese of Duitse span speel mag en moet ons hulle ondersteun. Dit kan onder jonger generasies Afrikaners weer ‘n trots op hul Westerse kultuur en agtergrond wakker maak.

Soos wat swart Suid-Afrikaners solidariteit met ander Afrikane toon moet ons solidariteit met ander Westerlinge toon. Watter beter plek om daarmee te begin kan daar nou wees as op sagter nie politieke terreine soos sport?

Ware bedreigings en ware oplossings

Tydens die pasafgelope nasionale verkiesing het Afrikaners weer gewys wie hulle as hul grootste bedreiging beskou. Dit is natuurlik die ANC. Dié groot magtige party moet net gestop word is die antwoord wat jy by ‘n groot meerderheid Afrikaners sal kry as jy vir hulle vra wat die kriteria is wat hulle in politieke besluitneming gebruik.

Die idee om die ANC te stop is tekenend van die Afrikaner se oubekende praktiese manier van probleemoplossing. Om reeds vir meer as 350 jaar in Afrika te kon oorleef moes Afrikaners leer om baie pragmaties met hul probleme om te gaan. Die geskiedenis wys vir ons beide die positiewe en negatiewe resultate hiervan. Piet Retief se pragmatisme het hom lelik in die voet geskiet. Daarteenoor was die Boere se pragmatiese hantering van groot probleeme en uitdagings tydens die Tweede Vryheidsoorlog baie keer juis hul redding.

Die huidige uitdagings wat Afrikaners in die gesigstaar herinner ons aan soveel kere vantevore toe ons hier in Afrika met die rug teen die muur gestaan het. In die verlede het ons elke keer ‘n manier gevind om oor hierdie muur of noem dit dan maar ‘n bestaansversperring te kom. Elke keer nog het ons daarin geslaag om anderkant uit te kom en weer ‘n nuwe begin te maak. So was die Groot Trek tydens die negentiende eeu ‘n praktiese oplossing vir die probleme van die Boere aan die Oosgrens. Na die Tweede Vryheidsoorlog was ons mense in sak en as, maar verstedeliking en nasionalisme het onder die verskeie praktiese antwoorde getel wat gebruik is om weer bo uit te kom.

Afrikaners is vandag weer weerloos. Daar is regoor die wêreld waarskynlik minder as 3 miljoen blanke, Afrikaanssprekende mense oor. Van hierdie groep assosieer ‘n toenemende deel hulself nie meer met die Afrikanerkultuur en tradisies en selfs die Afrikaanse taal en Christelike geloof nie. Soveel as 20% van ons mense het reeds die land verlaat en is grotendeels vir die behoud van ons volk verlore. Ons getalle krimp vinnig. Plaaslik word ons mense aan vervreeemding en diskriminasie onderwerp. Ons kinders word in baie staatskole geïndoktrineer en selfs die Afrikaanse media speel saam met die afbreek van ons beeld en die skep van ‘n persepsie dat Afrikanerskap verouderd, agterlik en iets van die verlede is.

Om ons probleme op te los moet ons egter begin by probleemidentifisering. Is die ANC regtig die Afrikaner se grootste bedreiging? Kan ons werklikwaar alles wat met ons verkeerd gaan voor hulle deur gaan lê? Kan ons deur net eenvoudig teen die ANC in ‘n verkiesing te stem ons probleme oplos? Waarskynlik juis nie en dit is dan ook waarom die antwoorde wat ons tans probeer skep so verkeerd is. Die Afrikaner se werklike probleme is eerstens die feit dat ons regoor Suid-Afrika verspreid woon, tweedens dat ons ‘n bevoorregte minderheid is wat as ‘n voormalige verdrukker beskou word en derdens die lawwe idee wat baie Afrikaners in hul ronddra dat indien ons, ons alles vir Suid-Afrika gee, daar groot begrip vir ons voortbestaan sal wees. Die oplossing vir ons mense lê in konsentrasie, samewerking ten spyte van ons verskille en ‘n verlaging van Suid-Afrika en ‘n verhoging van die Afrikaner op ons prioriteitslys. Dan mag daar dalk net hoop vir oorlewing wees.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel