by Jaco Kleynhans | Mei 6, 2014 | Nuus |
Môre is ‘n belangrike dag vir Suid-Afrika. Dit is ook ‘n belangrike geleentheid vir Afrikaners. Of jy nou stem of nie stem nie die Afrikaner se rol in Suid-Afrika word in elk geval met elke verkiesing getoets.
Sedert 1994 het ons rol in Suid-Afrika se politiek stelselmatig afgeneem. Voor 1994 was Afrikaners die primêre rolspelers in Suid-Afrika se politieke bedeling. In 1994 en kort daarna is hierdie posisie deur swart Suid-Afrikaners, verteenwoordig deur die ANC, oorgeneem. Afrikaners het egter steeds ‘n belangrike sekondêre rolspeler gebly.
In 1994 het die Nasionale Party meer as 20% van die stemme op hom verenig en daardeur verseker dat Afrikaners steeds sentraal in die na-1994 bedeling kon staan. Die Vryheidsfront het self goed gevaar en daardeur meegebring dat Afrikanerbelange en selfs die reg tot selfbeskikking deel van die na-1994 politieke gesprek kon wees.
Teen 1999 was dit alles vergete. Die Nasionale Party het totaal misluk en reeds begin wegkwyn. Die Vryheidsfront het ‘n groot pakslae gekry. Intussen is diskriminerende beleid wat spesifiek Afrikaners teiken aanvaar en is ons tot tweedeklasburgers afgegradeer.
Vandag bykans 20 jaar nadat Afrikaners hul mag verloor het, kan ons, onsself afvra wat ‘n nasionale verkiesing vir ons beteken. Ons rol in nasionale politiek neem steeds af en minder en minder opposisiepartye doen nog die moeite om Afrikanerstemme op gefokusde wyses te werf.
Die demografie van Suid-Afrika tel ook sterk teen ons en Afrikaners maak ‘n dalende persentasie van die land se bevolking uit. ‘n Mens sal dus neig om te dink dat môre se verkiesing nie veel betekenis vir ons mense inhou nie. Dit is egter nie die geval nie.
Die meeste Afrikaners is vandag tereg diep bekommerd oor hul toekoms in Suid-Afrika. Honderde duisende van ons mense het reeds emigreer en nog honderde duisende se ekonomiese posisie het sodanig afgeneem dat hulle in besonderse swak omstandighede moet probeer oorleef.
‘n Verkiesing is die gulde geleentheid vir enige groep wat oor sy huidige omstandighede ongelukkig is om ‘n stelling te maak.
Watter stellings kan Afrikaners môre maak? Afrikaners wat nie wil stem nie, maar wat wel geregistreer is om te stem moenie net wegbly van die stembus nie. Bederf eerder jou stembrief en bring so ‘n protesstem uit. Indien jy nie geregistreer is nie moet jy moeite doen om die land daarvan te laat hoor. Daar is min sin daaraan om nie geregistreer te wees nie en net stil te bly daaroor. Laat jou stem hoor deur ‘n brief vir ‘n koerant te skryf, op radioprogramme in te bel of watter ander openbare stappe ookal te neem om jou protes te verduidelik.
Indien jy beplan om wel te stem moet jy slim stem. ‘n Stem vir ‘n party wat nie identiteit belangrik ag nie beteken dat jou stem net in die massas kan wegraak. Oorweeg dan eerder ‘n stem vir ‘n party waar jou stem ‘n boodskap aan die res van Suid-Afrika sal stuur. Hopelik ‘n boodskap dat ons hier is om te bly en dat ons as Afrikaners ‘n tuiste aan die suidpunt van Afrika het.
by Ebert Terblanche | Feb 19, 2014 | Nuus |
Afrikaners staan op die vooraand van die 2014 algemene verkiesing in Suid-Afrika by ‘n politieke kruispad. Die besluite wat ons met hierdie verkiesing neem kan verreikende gevolge hê vir ons vermoë om voordeel te trek uit die parlementêre politiek.
Tog is dinge nie meer so duidelik as voorheen nie. Waar die DA met alle krag en mag teen die beleide van die ANC geveg het wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se groeiende probleme, begin ‘n nuwe, jonger leierskap binne die DA om die status quo en politieke posisionering van die party uit te daag.
Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur die volgende grafiek wat deur www.emtanalytics.com opgestel is in hul onlangse ontleding oor die verkiesing:

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se etniese minderhede (in die analise gedefinieer as blankes, gekleurdes, Indiërs en Asiate) se proporsionele stem gaandeweg besig is om te daal en daarmee saam word hul vermoë om die politieke diskoers te beïnvloed, ook al minder.
Hierdie tendens gaan ook nie verander nie, aangesien die land se minderhede relatief gesproke steeds heelwat minder kinders as die swart groepering kry, soos aangedui deur die volgende bevolkingspiramide van www.emtanalytics.com:

Uit bogenoemde is dit duidelik dat dit wat vir die minderhede as geheel geld, nog te meer van toepassing op Afrikaners is. Indien ons moedertaal as bepaler inspan, verteenwoordig ons slegs 60% van die rooi streep op die bevolkingspiramide.
Dit is uit die grafiek duidelik dat ‘n politieke party wat die regering wil oorneem, die grootste gedeelte van die swart stem op homself moet verenig. So ‘n party het dan geen ander keuse nie as om simpatiek te wees teenoor die waardes, verwagtinge en geskiedenisbeskouing van die swart meerderheid .
Dit beteken in praktiese terme dat wanneer die swart kieserskorps glo dat grond van hulle gesteel is deur witmense en dit vir hulle belangrik is om daardie grond terug te kry, enige party wat graag ‘n regering wil vorm, simpatiek teenoor hul eise sal wees (ongeag of hul standpunt histories akkuraat is of nie).
Dit verklaar waarom die 3 politieke partye wat tans beplan om nou (of in die toekoms) die regering te vorm, te wete die ANC, DA en EFF, almal ten gunste is van beleide wat skadelik is vir die land se ekonomie en veral ook vir Afrikaners, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en Grondhervorming.
Dit verklaar ook hoekom die DA nie sy posisie in die Wes-Kaapse regering gebruik het om druk op die Stellenbosch Universiteit te plaas om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en uit te bou nie. Ook waarom die DA in die Wes-Kaap nie Solidariteit gesteun het in sy hofsaak teen die Departement van Korrektiewe Dienste se toepassing van Regstellende Aksie nie. Dit ten spyte daarvan dat die agteruitgang van Afrikaans en die diskriminasie teen bruin en wit werkers deur werkgewers in die Wes-Kaap, lynreg bots met die belange van die meerderheid van die DA se kiesers in die Wes-Kaap.
Dit is dus duidelik dat demografiese verandering beteken dat Afrikaners wat vir die ANC, DA of EFF stem, geen voordeel in ruil daarvoor in die beleidsrigtings van daardie partye kan verwag nie.
Beteken dit dat Afrikaners apaties teenoor partypolitiek moet raak?
Om hierdie vraag te beantwoord moet daar oorweeg word of daar enige alternatiewe wyse is waarop Afrikaners voordeel uit die parlementêre politiek kan kry.
By die bestudering van ouer demokrasieë, is dit duidelik dat minderheidspartye wel die boerpot kan wen wanneer dit as sogenaamde koningsmaker kan optree.
Dit gebeur wanneer die twee dominante partye nie self ‘n meerderheid van die stem gekry het nie, en die hulp van ‘n minderheidsparty benodig om ‘n regering te kan vorm. Daardie minderheidsparty kan dan voorwaardes stel in ruil vir sy ondersteuning van die party waarmee hy gaan saamwerk om die regering te vorm.
Een so ‘n voorbeeld is die rol wat die Groen Party in Australië vervul het om dit vir die Arbeidersparty moontlik te maak om ‘n regering te vorm tussen 2010 en 2013. Tydens die verkiesingsveldtog in 2010 het die Arbeidersparty belowe dat daar nie ‘n Koolstofbelasting ingestel sal word indien hulle die regering sou vorm nie. In die verkiesing het die Arbeidersparty 72 setels in die parlement gewen en die Liberale Party (grootste opposisie) het ook 72 setels gewen. Die Groen Party (met slegs 1 setel) het toe sy steun aan die Arbeidersparty gegee op voorwaarde dat daar ‘n Koolfstofbelasting ingestel word. Die Arbeidersparty het toe met behulp van die Groen Party die regering gevorm en in 2012 is ‘n Koolstofbelasting in werking gestel.
Die Liberale Demokratiese Party in die Verenigde Koninkryk (VK) is ook ‘n voorbeeld. Nadat hulle die Konserwatiewe Party in 2010 aan bewind gestel het deur hul 57 setels by die 306 van die Konserwatiewe party te voeg, het die Konserwatiewe Party ingestem om ‘n referendum te hou oor die verkiesingstelsel wat in die VK gebruik word. Hierdie referendum is deur die Liberale Demokrate gevra omdat die huidige stelsel hulle tot 9% van die setels beperk al wen hulle 23% van die stemme.
In beide hierdie voorbeelde het die grootste party eise toegestaan wat hulle self skade berokken het, omdat dit hulle in staat gestel het om ‘n regering te kan vorm. Die moontlikheid van mag is dus ‘n baie sterk hefboom wat ‘n klein party in sulke omstandighede kan inspan om uitsonderlike toegewings aan hul kieserskorps te wen. Daardie magshefboom bly ook tot en met die volgende verkiesing in plek, want die minderheidsparty kan te eniger tyd besluit om nie meer die regerende party te steun nie en ‘n nuwe verkiesing teweeg te bring. Dit maak dit onmoontlik vir die regerende party om nie aan die minderheidsparty se redelike eise te voldoen nie. In Kontinentale Europa is die skep van sulke na-verkiesings-koalisies om die regering te vorm en die gepaardgaande uitruil van gunste en gawes algemene praktyk.
Volgens die verslag van www.emtanalytics.com is daar ‘n 85% kans dat die Suid-Afrikanse politieke bestel in die toekoms weg sal beweeg vanaf ‘n eenpartystelsel na ‘n twee- of meerpartystelsel. In beide die twee- en die meerpartystelsel kan ‘n klein Afrikanerparty as koningmaker optree en sy pond vleis vir sy ondersteuners eis:

Die verwagte tydsberekening van die oorgang na ‘n twee- of meerpartystelsel word as volg deur www.emtanalytics.com uitgedruk: “Given the potential outcomes of the next decade, the final takeaway from this analysis should be the recognition that any current political uncertainty is just the opening salvo in a process of realignment that is likely to consume the rest of the decade. Current indications are that the ANC will be in a position to retain power in 2019, but by 2024, the landscape may have shifted sufficiently for the first post-1994 transfer of power via the ballot box.”
Indien Afrikaners vir ‘n party stem wat onbeskaamd Afrikanersake bevorder en geen aspirasies het om eendag die meerderheidsparty in die regering te wees nie, kan ons teen 2024 selfs 16 setels in die parlement hou (indien ons die kwynende proporsionele stem van Afrikaners in berekening hou), wat deurslaggewend kan wees vir enige party wat setels kort om aan bewind te kom. Ons party kan dan enige van ‘n aantal voorwaardes stel aan die ANC of DA wat aan bewind wil kom. Voorbeelde kan insluit (in geen spesifieke volgorde nie):
- Die befondsing van een of meer enkelmedium Afrikaanse universiteite as private instellings
- Die kwytskelding van sekere dele van die land aan die vereistes van Regstellende Aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en Grondhervorming
- ‘n Sonsondergangsklousule vir Regstellende Aksie wat kinders wat na 1994 gebore is kwytskel daarvan
- Die oordrag van Afrikaanse medium skole vanaf die Departement van Onderwys na die Afrikaanse Taalraad, met meegaande befondsing, om as onafhanklike skole te bestuur
- Die gewaarborgde beskikbaarstelling van Afrikaans deur die staatsdienste in die provinsies waar Afrikaans deur ‘n beduidende deel van die bevolking gepraat word
- Praktiese stappe om uitvoering te gee aan Afrikaners se reg op Selfbeskikking, soos die implementering van voorstelle wat deur die Volkstaatraad aan die regering gemaak is
- Groter bevoegdhede vir Orania en die befondsing vir infrastruktuurontwikkeling op Orania
- Groter aftrekbaarheid van uitgawes vir medies, veiligheidsdienste en onderwys van persoonlike inkomstebelasting, ens.
Die Vryheidsfront Plus het in die verlede bewys dat hy met beide die DA en die ANC kan saamwerk. Die VF+ het die DA in staat gestel om in 2007 die munisipaliteit van Kaapstad te regeer en in 2009 is dr. Pieter Mulder deur die ANC as adjunk-minister aangestel. Die party kan hierdie ervaring gebruik in toekomstige onderhandelinge.
Ook in die tyd wat aanloop tot potensiële regeringsverandering kan ‘n Afrikanerparty heelwat vir Afrikaners beteken, soos die VF+ tot op hede gedoen het. Elke Nasionale setel beteken ongeveer R1 miljoen se befondsing aan ‘n party per jaar wat aangewend kan word vir navorsing, belegging in projekte wat Afrikaners ekonomies kan bemagtig en die dryf van hofsake ten behoewe van Afrikaners. Voorbeelde van sulke hofsake waarby die VF+ betrokke was, is die saak om Suid-Afrikaners in die buiteland toe te laat om te stem, die herstel van Transnet pensionarisse se aftreevoordele en om die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak te verklaar.
Volgens www.emtanalytics.com kan die DA in hierdie verkiesing tussen 2% en 4% van die nasionale stem verloor as gevolg van sy rondvallery met Regstellende Aksie en Agang. Dit is egter nie vanselfsprekend dat die VF+ daarin sal slaag om hierdie kiesers op te vang nie. Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar het tussen die 2006 en 2011 munisipale verkiesings dui aan dat die VF+ ‘n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ‘n mandaat van sy kiesers of ‘n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het, terwyl ‘n aantal prominente en gewilde leiers van die party uitgeboender is na afloop van die besluit om die pos te aanvaar.
Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van aktivisme drasties moet verhoog, minder staat moet maak op akademiese toesprake en mediaverklarings om sy boodskap by die kiesers uit te kry, sy organisatoriese vermoë (spesifiek takke) moet uitbrei en ‘n verkiesingsveldtog bestuur wat om die regte redes verras. Die VF+ sal moet leer uit die suksesse van AfriForum en kreatiewe maniere vind om die ANC en die DA in die verleentheid te stel weens hul rasgedrewe beleide. Die VF+ sal ook beter daarin moet slaag om dinamiese leiers te behou en soos ander ernstige partye sy beleid op skrif moet stel en toeganklike moet maak. Dit is elkeen uitdagende take wat die leierskap en die partystrukture op die proef sal stel.
Die geleentheid om wesenlike voordeel uit die parlementêre politiek te trek gaan egter nie vir lank met ons wees nie. Soos wat Afrikaners ‘n al kleinerwordende gedeelte van Suid-Afrika se kiesers word (verwys na die eerste grafieke) gaan ons al minder kan bereik binne die parlement.
Daarom is daar geen langtermyn plaasvervanger vir selfbeskikking nie en moet Afrikaners, ten spyte van dikwels uiteenlopende politieke oortuigings, daadwerklik bydra tot die vestiging en uitbou van ons eie gebied rondom Orania.
by Jaco Kleynhans | Jan 31, 2014 | Nuus |
Gedurende die 1990’s is daar gereeld na Afrikaners as onmisbaar verwys. Ten spyte van grootskaalse emigrasie na lande soos Australië en Nieu-Seeland was veral Afrikaner dokters, ingenieurs en sakemanne belangrik vir die volhoubaarheid van gemeenskappe, groot maatskappye en selfs die hele Suid-Afrikaanse ekonomie. Afrikaners het belangrike rolle in byna elke sektor van die ekonomie vertolk en sou jy in 1994 alle Afrikaners uit die Suid-Afrikaanse ekonomie moes onttrek, sou alles waarskynlik platgeval het.
Afrikaners maak vandag ongeveer 5% van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en is van alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika dié een wat die meeste oor die lengte en breedte van die land versprei is. Selfs in stede soos Pretoria en Bloemfontein waar daar redelike groot konsentrasies van Afrikaners voorkom en waar Afrikaans steeds ‘n openbare teenwoordigheid het, maak Afrikaners steeds ‘n klein minderheid van die totale bevolking uit. Byna in elke dorp en stad in Suid-Afrika daal die persentasie Afrikanerinwoners.
Daarmee saam moet en sal Afrikaners se onmisbaarheid ook begin verdwyn. Daar bestaan geen twyfel oor die hoë vlakke van opleiding, vaardighede en entrepreneurskap wat steeds vandag onder Afrikaners teenwoordig is nie. Ten spyte daarvan dat Afrikaners uit die staatsdiens en semi-staatsinstellings gedwing is en dat Afrikanerjongmense toenemend sukkel om weens diskriminerende regeringsbeleid toegang tot werksgeleenthede in die formele sektor en veral groter maatskappye te kry, speel Afrikaners steeds ‘n belangrike rol in die land se ekonomie. Hierdie rol is vandag egter minder werd as wat dit 20 jaar gelede was.
Ja voortdurende emigrasie van sommige van die besopgeleide en mees bedrewe Afrikanersakemanne, vakmanne en professionele persone dra by tot die laer vlak van impak wat Afrikaners maak, maar die realiteit dat ons voortdurend, waar ookal ons woon, ‘n kleinerwordende minderheid is, is selfs belangriker.
Die Duitssprekende Suid-Tirolers in die Noorde van Italië is een van die besopgeleide en mees entrepreneuriese volkere in die wêreld. Hulle is ‘n klein volkie van 350 000 mense. Die provinsie Suid-Tirool presteer beter as die res van Italië op byna elke ekonomiese terrein. Hierdie volk maak maar 0,5% van Italië se bevolking uit en sou hulle soos Afrikaners regoor die lengte en breedte van hul land versprei moes gewoon het, sou hul impak baie kleiner gewees het. Een suksesvolle ingenieur of een bekwame dokter in ‘n plattelandse dorp waar munisipale dienste in duie stort, werkloosheid styg, ondernemings maand na maand sluit en misdaad hoogty vier kan hoe goed wees, maar hy sal baie min impak aan die omstandighede om hom kan maak.
Afrikaners kan hoe briljant ook wees, en baie van ons mense is tereg briljant en slaag in moelike omstandighede om bo uit te kom, ons impak in Suid-Afrika sal bly afneem omdat ons demografies ‘n kleiner en kleiner deel van die land sal uitmaak. Die enigste manier om dit teen te werk is deur te konsentreer. Fisies te konsentreer en ‘n gebied of gebiede te beset waar Afrikaners ‘n groot genoeg deel van die bevolking uitmaak om wel ‘n groter impak te maak. Konsentrasie sal deel van ons strategie moet word indien ons die Afrikaner se voortbestaan wil verseker.
by Jaco Kleynhans | Des 10, 2013 | Nuus |
Afrikaners se reaksie op die dood van voormalige president Nelson Mandela is nogals deur twee teenpole gekenmerk. Aan die een kant ‘n oordrewe verromantisering wat aan afgodery grens. Aan die ander kant ‘n reaksie van mense wat dink dat as hulle ‘terroris, terroris’ van hul dakke gaan afskree die wêreld skielik minder van Mandela gaan hou.
Beide hierdie reaksies dui op ‘n soort verwardheid en die voortdurende leemte aan leierskap onder Afrikaners. Ons mense het ‘n diep behoefte om hulself oor ernstige sake waarmee hulle wroeg uit te druk, maar is onseker oor hoe om dit te doen. Een groep Afrikaners het die diepe behoefte vir aanvaardiging en dat die wêreld normaal na hulle moet kyk. Niemand wil die muishond van die wêreld wees nie en baie Afrikaners streef na ‘n beter beeld in die internasionale spieël. Deur van Mandela ‘n afgod te maak hoop hulle om as normaal geag te word.
Die ander groep het die behoefte om hul woede oor plaasmoorde en al die geweld teen ons mense, maar ook diskriminasie teen Afrikaners en die uitbuiting van ons mense op ekonomiese gebied, uit te druk. Ons mense wil net ‘n billike kans hê om binne ‘n veilige omgewing waar almal ‘n gelyke kans het om hulself uit te leef, vir hulself ‘n toekoms te kan skep. Hierdie mense druk hul woede uit deur met harde taalgebruik teenoor Nelson Mandela te reageer.
Beide hierdie groepe se behoeftes is verstaanbaar. Eintlik mag en moet alle Afrikaners daarna streef om groter aanvaarding in die wêreld te geniet. Ons mag terughunker na die steun wat die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog geniet het. Ons het ook ‘n reg om ons woede en frustrasie met die huidige politieke bestel in Suid-Afrika uit te druk. Indien Afrikaners nie hul frustrasie kan en gaan uitdruk nie sal net meer van ons mense emigreer of totaal apaties teenoor ons eie toekoms begin staan.
Die probleem vandag is dus nie dit waaroor ons, onsself wil uitdruk nie, maar eerder hoe ons, onsself uitdruk. Die reaksie op Mandela se dood is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe dinge nie gedoen moet word nie.
Daar is egter uitsonderings. Carel Boshoff, president van die Orania Beweging het in reaksie op Mandela se dood onder andere die volgende gesê: “Mnr Mandela wou ’n nalatenskap van versoening hê; ons sê versoening is ’n goeie ding, maar dit kan net op erkenning gebou word – en erkenning is die grondslag van vryheid.”
Flip Buys van Solidariteit het gesê: “Die probleem is dat die ANC versoening verskraal tot inlywing by die meerderheid. Wanneer die prys van versoening die opheffing van ons bestaan beteken, raak die prys te hoog. Die grondslag van ware versoening is wedersydse erkenning en respek. Dit is die basis van die versoening wat ons moet bevorder.”
Afrikaners mag dus reageer op hul behoeftes en frustrasie. Maar laat dit by erkenning en respek begin en laat dit nie reaktief wees nie, maar wel gefokus op ‘n beter toekoms vir ons eie mense eerder as ‘n verdere vertroebeling van ons posisie in Suid-Afrika.
by Jaco Kleynhans | Jul 15, 2013 | Nuus |
Afrikaners wat na selfbeskikking binne ‘n eie demografiese gebied strewe, insluitende baie Oraniërs, maak gereeld die fout om te veel op die stoot- eerder as trekfaktore te fokus wanneer hulle mense probeer oortuig om hierheen te trek.
Ons weet almal hoe sleg dit op sekere terreine in Suid-Afrika gaan. Plaasmoorde en misdaad in die algemeen is ‘n enorme probleem. Diskriminasie teen Afrikaners in die werkplek, maar ook op taal- en kulturele vlak neem voortdurend toe. Daar is sekerlik baie rede om te glo, soos wat ons tereg glo, dat daar geen toekoms vir Afrikaners in die Suid-Afrika van vandag is nie. Dit beteken egter nie dat Suid-Afrika moet misluk vir Orania om te slaag nie. Om die waarheid te sê Orania sal beter daaraan toe wees indien Orania en Suid-Afrika kan slaag.
Ten spyte van korrupsie, misdaad en diskriminasie is daar steeds baie goeie dinge in Suid-Afrika. Ek het onlangs na ons Europese toer nuwe respek gekry vir Suid-Afrika se lughawens en lugdienste. Suid-Afrika is ‘n mooi land en ons almal geniet die wildtuine, die see en al die bekoring wat die land vir ons inhou. Ons almal is afhanklik van produkte en dienste wat slegs gelewer kan word indien Suid-Afrika se infrastruktuur in plek is. Vroeër vanjaar was ek verras deur die effektiewe diens van die Departement van Binnelandse Sake se kantore in De Aar en Kimberley. In Kimberley is dit byna so maklik om jou bestuurslisensie te gaan hernu as wat dit is om ‘n brood of melk te gaan koop.
Wat probeer ek hierdeur sê? Probeer ek sê dat dit eintlik beter gaan in Suid-Afrika as wat ons vermoed dit wel gaan? Nee, nie noodwendig nie. Wat ek eerder probeer sê is dat ‘n volhoubare en groeiende Orania afhanklik is van mense wat hierheen trek omdat hulle ‘n toekoms vir die Afrikaner se taal, kultuur, geloof en tradisies aan die suidpunt van Afrika wil verseker, eerder as mense wat hierheen vlug weens woede oor al die slegte dinge in Suid-Afrika.
Wat ek ook probeer sê is dat Orania sal sukkel as Suid-Afrika misluk. In Europa het ek gesien hoe suksesvol ‘n land of selfs net ‘n semi-outonome streek is, indien die Grootboet darem nog op sy bene kan staan. Die Duitse minderheid bestaande uit 77 000 mense in die suidooste van België is ‘n goeie voorbeeld. Hulle het ‘n groot mate van eie regering, maar is tog steeds afhanklik van België vir sommige dienste en infrastruktuur. Liechtenstein is ‘n klein staatjie langs Switserland. Dié land is ook baie suksesvol, maar sal sukkel om sonder die dienste van Switserland te funksioneer. Daardeur sê ek nie dat Orania nie êrens in die toekoms op sy eie sal kan staan nie, maar dat ‘n mens volgens jou vermoëns realisties moet wees. ‘n Orania van 77 000 mense sal homself ook omtrent 90% kan regeer, maar indien die hele Suid-Afrika om hom misluk, sal hy probleme kry met telekommunikasie- en posdienste, aflewering van produkte, uitreik van reisdokumente en die lewering van diplomatieke dienste aan sy inwoners. ‘n Orania van 250 000 inwoners mag dalk ‘n ander saak wees.
In Orania glo ons in groeiende selfbeskikking waar ons in vreedsame naasbestaan ‘n toekoms vir ons mense in ‘n eie gebied probeer uitkerf. Ons moet moeite doen om Afrikaners daarbuite eerder te oortuig om positief saam te kom bou aan ‘n nuwe toekoms as om in negatiwiteit na Orania te vlug.