fbpx

Orania---Gedagtes-van-'n-gewone-man

Spesialisering en geluk

As ‘n jong man het ek jare gelede eenmaal die dubbelsinnige voorreg gehad om ‘n mediese spesialis gade te slaan, besig om ‘n operasie uit te voer. Dit was ‘n indrukwekkende prentjie: klinies, helder belig en ‘n hele span bekwame en toegewyde helpers gereed om op sy kleinste wenk te reageer deur die regte ding te doen of aan te gee. ‘n Geoefende span, moes ek aflei, want dikwels sonder ‘n woord het hy net sy hand uitgesteek om die regte skalpel te ontvang en ‘n trefseker snit te maak.

surgeon's at workAnders as in die meerderheid gevalle, want dit was wat hulle as ‘n “standaard prosedure” beskryf het, het dit vir ons wat betrokke was ‘n uitmergelende tyd met ‘n hartseer afloop ingelei. Dalk dié dat die indrukwekkende beelde van ‘n spesialis aan die werk wat my daarna bygebly het, ook ‘n skadu oor my gemoed gewerp het. Met al die wetenskap, tegniek en tegnologie tot ons beskikking kon ons die menslike sterflikheid nie ontsnap nie, ons kon dit hoogstens opsystoot net om binnekort vierkantig daarvoor te staan te kom.

Nogal ‘n uitdaging vir ‘n mens se geloof in die mag van die Rede en die goedheid van God – want dít is die volgorde waarin die moderne mens geneig is om werklike lewensvrae tegemoet te gaan. Maar dit is nie die vraag wat ek nou verder wil volg nie, ek wil op ‘n baie meer alledaagse terrein beweeg; sê maar die terrein van juis so ‘n mediese spesialis, ‘n familielid van my, wat sukkel met sy swembadpomp. Dit was nie lank na my vorige ervaring nie …

Terwyl ek simpatieke geselsies probeer maak, krap hy in sy gereedskapkas, stap motorhuis toe en terug, skel op sy afwesige kinders wat nie sy moersleutels bêre nie en kom oor die weg met ‘n minder as ideale knyptang. Hy weet en ek weet hy kan iemand anders kry om die werk te doen, maar dan word dit uitgestel en, wie weet, nie ewe goed gedoen nie; hy was juis nie laas keer baie tevrede met die werk óf die rekening wat hy gekry het nie.

Ek het sy punt ingesien, want buiten dat ek minder manhaftig as hy met rekeninge kon omgaan, het ek ook graag eerder my eie foute gemaak. Dan het ek net myself om te verwyt en betaal ek uiteindelik die soms onvermydelike rekening met ‘n ligter hart. Die hele episode het my perspektief op die lewe help herstel en ek het nie meer in swak oomblikke gewonder of ek nie maar met ‘n teatersuster moes getrou het nie.

Teen dié agtergrond was dit vir my nogal vreemd om in prof Koos Malan se boek Politokrasie te sien dat hy in een sin van spesialisering en geluk praat. Spesialisering en gehalte; spesialisering en doeltreffendheid; spesialisering en skaal – daaraan kan ‘n gewone mens gedink kry, maar spesialisering en geluk? Waar kom dié gedagte vandaan? En (tong in die kies gevra) ondersteun of ondermyn hulle mekaar?

In werklikheid, toon Malan aan, lê spesialisering aan die wortel van elke gemeenskap en is ons menslike lewens nie daarsonder te bedink nie. Dit maak werksverdeling moontlik en stel ons in staat om meestal te doen wat jy goed kan doen en hulp te kry wanneer jy sukkel. Dit vestig ‘n band van interafhanklikheid wat uiteindelik nie net diegene wat mekaar help, bevoordeel nie, maar ook die gemeenskap as geheel se welvaart verhoog.

Spesialisering berei die weg voor vir die individu se prestasie en uitlewing, al kan sulke prestasie daardie individue soms laat dink dat hulle bo en buite hulle gemeenskappe uitstyg. Die feit is dat elke prestasie gebou is op geleenthede vir opleiding en oefening waarvoor instellings, wat bo die individu uittroon, ‘n vereiste is. Daarsonder sou talentvolle individue se talent, van watter aard ook al, verlore gegaan het – dit gebeur waarskynlik meer gereeld as wat ons dink omdat soveel gemeenskappe vandag ontwrig of misken word.

Laat ek dan afsluit met ‘n aanhaling wat my aanvanklike en oppervlakkige skeptisisme oor spesialisering ver te bowe gaan. Malan skryf:

“Sonder spesialisasie moet individue hul aandag bestee aan basiese oorlewing en in die besonder aan sake waarvoor hulle nie aangelê is nie. Hulle besondere vermoëns bly sodoende altyd blote potensiaal en kan moeilik manifesteer. Spesialisasie is dus bevrydend. Dit bevry individue om hulle potensiaal te ontdek, te slyp en vrye teuels daaraan te gee – om maksimaal te presteer, erkenning daarvoor te kry en sodoende ook geluk te vind. Dit is by uitstek die produk van ‘n gemeenskap waar take, bedrywighede en ekonomiese aktiwiteit in fyn besonderhede verdeel kan word, met ander woorde van ‘n gedifferensieerde welvarende ekonomie, wat as gemeenskaplike res publica individuele prestasie moontlik maak.” (2011 p300)