Die Suid-Afrikaanse ekonomie is diep gewond deur die ANC regering. Onlangse data wys dat werkloosheid in Suid-Afrika vanaf 24% tot 27% gestyg het.
Die ANC-beleid van kaderontplooiing het dienslewering tot ‘n stilstand gebring selfs op terreine wat oorspoel word met geld. Neem maar onderwys as voorbeeld. Suid-Afrika spandeer 3.75 keer meer as Indië per laerskoolkind per jaar. Tog berig the Economist dat Suid-Afrika se onderwysstelsel die tweede-swakste resultate in die wêreld lewer. Na 5 jaar in skool kan slegs die helfte van Suid-Afrika se kinders die antwoord vir 24 gedeel deur 8 bereken.
Die ANC se onteiening en nasionalisering van minerale regte, saam met onbuigsame arbeidswetgewing en die reuse koste wat SEB en RA wetgewing op plaaslike maatskappye plaas, het Suid-Afrikaanse minerale-produsente onkompeterend gemaak en het veroorsaak dat die land se ekonomie teen ‘n slakkepas gegroei het en glad nie by bevolkingsgroei kon byhou nie. Dit in ‘n tydsgleuf waar China ongekende aankope van minerale gedoen het, soveel so dat die prys van steenkool en ystererts die hoogte in geskied het. Terwyl die land die meevaller gemis het, word ons steeds sleg geraak deur die einde van China se dors na minerale.
Die ANC se korrupsie en plunder van die staatskas, sedert Mandela R28 miljoen vir die opgradering van sy persoonlike huis geneem het tot die Guptas wat volgens onlangs-gepubliseerde e-posse miljarde geneem het vir die aankoop van Transnet-treine, neem letterlik geld vanaf die armes om dit vir die nuwe superryk elite te gee.
Hierdie drie mislukkings deur die ANC is direk daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaanse ekonomie steier en dat daar reusagtive vlakke van ekonomiese ongelykheid, onstabiliteit en geweldsmisdade in die land is.
Die ANC reageer op hierdie onvergenoegdheid deur die raskitaar te slaan, Apartheid te blameer en die “wit gevaar” (witmonopoliekapitaal) met drastiese stappe te dreig. Radikale ekonomiese transformasie, die onteiening van eiendom en die instel van ‘n “welvaartbelasting” sal bloot die volgende spykers in die kis van die Suid-Afrikaanse ekonomie slaan, armoede en ongelykheid verhoog en die ANC verder aanspoor om Apartheid en die wit gevaar te blameer.
Dan is daar ook Afrikaners wat graag daaraan meedoen om Apartheid op te haal as hoofoorsaak vir die huidige verknorsing (niemand vra waarom ongelykheid en gemiddelde lewensverwagting nou slegter as in 1994 is nie). Lindie Koorts van die Universiteit van die Vrystaat skryf onlangs op Netwerk24 dat ons die letsels wat Apartheid aan ander gelaat het moet erken.
As jong Afrikaner is ek redelik moeg vir die debat oor Apartheidskuld wat nooit einde kry nie. Ten spyte daarvan dat talle Afrikanerleiers al oor dekades heen namens hulself en namens die res van ons om verskoning gevra het, is daar net nooit vergifnis en verlossing nie.
Die rede hiervoor is natuurlik dat Afrikaners as maklik-uitkenbare minderheid, sigbaar beter af is as die gemiddelde swart Suid-Afrikaner.
Die probleem is egter dat dit blykbaar vir Afrikaners ‘n byna onmoonlike taak is om hierdie situasie te verander. Ten spyte daarvan dat die meerderheid van ons vrywilliglik afstand van ons regeermag gedoen het en uiters lojale onderdane van die ANC-regering is en op talle wyses bydra en opoffer vir die opheffing van swart Suid-Afrikaners, kry ons geen vreugde of erkenning daarvoor nie. Dit bly te maklik om die vinger na ons te wys en “Apartheid” te sis.
Dit is dalk tyd dat ons die kollig op die mislukking van die ANC plaas deur uit te wys tot watter mate ons ook finansiëel opgeoffer het vir die opheffing van swart-Suid-Afrika, veral sedert Apartheid.
Dit is ‘n algemene gebruik dat ‘n land, volk of groep mense “skadevergoeding” betaal aan die einde van ‘n stryd. So het Duitsland 3.5 miljard Duitse Mark aan Israel betaal as vergoeding vir die Joodse volksmoord en die koste om Jode uit Europa in Israel te hervestig. Amerika het ook na die Tweede Wêreldoorlog geld betaal vir die heropbou van Europa. Nie omdat die VSA die stryd verloor het nie, maar omdat die Amerikaanse regering geweet het dat ‘n stabiele en handeldrywende Europa beter vir hulle is as ‘n kreperende Europa. Amerika het sowat $13 miljard se betalings onder die Marshall Plan aan 16 Europese lande gemaak.
Die punt wat ons moet uitlig is dat Afrikaners ook sedert 1994 soortgelyke betalings maak, maar geen erkenning daarvoor kry nie. Gedurende 2016 het Suid-Afrika R268 miljard uit persoonlike inkomstebelasting ingevorder. As ons die narratief aanvaar dat die meerderheid van die rykdom in wit hande is (60%), waarvan die meerderheid Afrikaners is (weer 60%), het Afrikaners byna R100 miljard in inkomstebelasting betaal in een jaar. Voeg daarby ons aandeel in BTW, maatskappybelasting asook die geld wat ons betaal om druk op die publieke dienste te verlig (privaat medies, veiligheid en skoolfondse). Ten spyte daarvan dat ons op bitter min dienste aanspraak maak (of kry), kan ons dan daarby aftrek ons aandeel in die publieke dienste wat gelewer word, wat as ons verteenwoordigheid as maatstaf gebruik op 6% van die totale spandering te staan kom. Die verskil tussen dit wat ons betaal en dit wat ons ontvang in dienste is in werklikheid die skadevergoedingsbedrag wat ons jaarliks betaal.
In 2016 het die persoonlike inkomstebelasting wat ons betaal, ons aandeel in dienslewering met ongeveer R36 miljard oorskry. Dit sluit die ander betalings wat ons maak soos hierbo genoem uit.
Indien ons die bedrag skadevergoeding wat ons jaarliks en in totaal na 23 jaar betaal het vergelyk met dit wat Duitsland en die VSA betaal het, sal ons ook ‘n vergelyking kan tref tussen wat die ANC met daardie geld reggekry het teenoor dit wat Europa en Israel reggekry het.
So ‘n vergelyking sal uitwys dat Afrikaners nie alleen om verskoning vir Apartheid gevra het nie, maar ook daad by woord gevoeg het deur wesenlike betalings te maak aan die gegriefdes. Betalings wat in totaal vergelykbaar is met dit wat ander lande betaal het (of dit selfs oorskry). Die vergelyking sal ook die kollig op die ANC se moedswillige en argelose uitbuiting van Suid-Afrika se armes plaas en help om die geloofwaardigheid van “Apartheid” as verskoning te verminder.
Indien die inligting algemeen beskikbaar is, sal plaaslike en internasionale meningvormers met minder gemak ‘n vrypas aan die ANC kan gee. Ons sal hul ook tot verantwoording kan roep vir die wyse waarop hulle aandadig is in die verdieping van ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika deur hul versuim om die ANC aanspreeklik te hou.
Groter balans is nodig in hierdie debat. Nou meer as ooit.
Baie dankie Ebert. Dit se alles…
Groete Ivor.
Ebert, daar is ‘n denkfout in die artikel en dit is of Afrikaners enigsins aanspreeklik is vir van skadevergoeding. Skuld kan tog net aanvaar word as iemand iets verkeerds gedoen het, vergifnis kan net gevra word deur die oortreder, en die verontregte kan vergifnis gee (as hy of sy wil) en dan kan skadevergoeding bepaal word in lyn met die erns van die oortreding. Vir skulderkenning, vergifnis en skadevergoeding om opreg te wees moet dit persoonlik wees, dit kan nie in die algemeen wees of afgedwing word nie.
Daar het baie verkeerd geloop tydens apartheid, en die wat daarvoor aanspreeklik is behoort vervolg te word. Die Adriaan Vlok – Frank Chickane voete was geval is ‘n goeie voorbeeld van hoe skulderkenning, vergifnis en skadevergoeding werk. Die reg laat toe dat die wat skuldig is aan apartheidsmisdade en nie vir amnestie by the die Waarheidskommissie kwalifiseer nie vervolg kan word. Oortredrs soos Wouter Basson en Eugene de Kock is tronk toe vir apartheidsmisdade, misdade wat nie vir die die Afrikanerkiesers van die dag aanvaarbaar sou wees nie.
Om skuld op alle Afrikaners te laai, te verwag dat hulle vergifnis vra en skadevergoeding te eis was nog altyd belaglik. Die meerderheid Afrikaners wat vandag leef het nie eers tydens apartheid gestem nie of was nie eers gebore nie, waaraan is hulle skuldig?
Wat my meer ontstem, is die gretigheid onder sekere Afrikaners om skuld te aanvaar en namens almal vergifnis te vra (Max du PreeZ en kie). Hierdie kruipery het Afrikaners verminder tot “askies-ek- leef” tweedehandse burgers en gee Afrikaners te veel krediet; ons het nie rassisme of “apartheid/partisie” uitgevind of vervolmaak nie. Rassisme is ‘n wêreldwye probleem en partisie word ondersteun as ‘n potensiele oplossing vir konflikte insluitend Palestinië-Israel.
Daar is beslis groot inkomste- en welvaartverskille tussen Suid-Afrikaners en statistieke bevestig groot verskille tussen rasse. Hierdie verskille het lank voor apartheid reeds bestaan en kan hoogstens net gedeeltelik toegedig word aan apartheid. Dit is regverdig om van die wat meer bevoorreg is te verwag om na die armes om te sien. Dit is buitendien in die wat welvaart het se belang om die armes op te hef. Dit is die grondslag van progressiewe belasting en waarom die belastinglas en die morele verpligting om liefdadigheidswerk te bevorder hoër is op die wat die vermoë het om te help. Ek sien dit nie as ‘n vorm van kollektiewe skadevergoeding nie vir skuld van die verlede nie.
Daar is korrupte ANC leiers wat dink dat hulle vergoed behoort te word vir die “struggle”. Hierdie leiers pleeg misdade en behoort vervolg te word. Hulle kan nie betoog dat apartheid hulle korrup gemaak het nie, want baie wat ‘n swaarder lewe gehad het is nie korrup nie. As ons egter die swaar belastinglas koppel aan ‘n vorm can skadevergoeding, maak ons die deur oop vir korrupte regeringsleiers om te argumenteer dat hulle korrupsie net vergoeding is vir hul pyn tydens apartheid en nie diefstal van belastingbetaler geld wat vir opheffing van die armes gebruik kon word nie.
El dink dnie Afrikaners hoef “skadevergoeding’ te betaal nie en het die reg om te eis dat belastinginkomste nie vermors word nie. Ons hoef nie ‘n swaar skuldlas te dra of as tweedehandse burgers te leef nie. Ons kan nie aanhou leef in die verlede nie.
Dankie Hannnes, jy maak ‘n aantal goeie punte.
In antwoord wil ek dit duidelik stel dat ek nie bedoel dat Afrikaners skadevergoeding verskuldig is nie, bloot dat as ons vir alle ellende in die land aangekla word, die geld wat ons aan ander betaal in ag geneem moet word, moontlik as “skadevergoeding.” Let ook op die punt dat mens nie skuldig hoef te wees om skadevergoeding te betaal, soos die VSA aan Europa betaal het na WOII, nie.
Ek het enkele voorbeelde genoem waar skadevergoeding wel kollektief deur een groep aan ‘n ander betaal is, deur die meganisme van belastingheffing (hoe anders sou die Duitse regering skadevergoeding aan die Israelse regering kon betaal?), so ek glo presedente bestaan reeds vir die gebruik van die meganisme.
Wat die progressiewe belastingstelsel betref is die beginsel dat diegene wat meer vir kollektiewe dienste kan betaal, wel daarvoor betaal. Dit beteken egter dat hulle ook begunstigdes van die kollektiewe dienste moet wees. Die gebrek aan dienslewering, insluitend opheffing van armes, stel reeds bepaalde vrae oor of Suid-Afrika werklik oor ‘n progressiewe belastingstelsel beskik. Dit kom in praktyk reeds eerder neer op ‘n verryking van ‘n reeds welvarende klas.
Niks weerhou Afrikaners om die verantwoordelike aanwending van hul belastinggeld te eis nie. Tog floreer korrupsie. Toe Brittanje skadevergoeding betaal het na die Tweede Vryheidsoorlog is die geld nie opge-eis deur enkele gegriefdes nie. Eweneens het die geld wat die Wes-Duitse regering aan Israel betaal het nie in enkele gegriefdes se sakke beland nie, maar is aangewend vir kollektiewe dienste en ekonomiese ontwikkeling. So ook die geld wat die VSA aan Europese lande betaal het. Ek stem dus nie met jou saam dat daar ‘n vrypas onstaan vir korrupsie indien Afrikaners erkenning vra vir hul finansiële opofferings ten bate van opheffing in Suid-Afrika nie. Wanneer bydraes ten bate van ‘n goeie saak gemaak word, is dit steeds bedrog wanneer daardie geld nie aangewend word vir dit waarvoor dit ingevorder is nie.