fbpx

Orania---Bewaria---Skakerings-van-groen

Ons het gedurende ’n hittegolf in Desember hierso aangekom. Een van die meubelvervoerspan het net kop geskud en wou weet of ek seker is dat ek op so ’n warm plek gelukkig sal wees. Hy het gereed gelyk om alles weer op die trok te laai as ek enigsins sou huiwer. Ek is darem meer aanpasbaar as my plante, dus het ons vir ons slaaigroente onmiddellik ’n mini-tonnel gebou en toe eers later ’n behoorlike waterverkoeler vir onsself aangeskaf.

In ons mini-tonnel het ons groente so goed gevaar, dat dit ons tot die bou van ‘n groot tonnel aangespoor het.

Gaby

Ons eerste uitdaging was kleigrond. Ons het besluit om die tonnelbeddens se grond 50cm diep heeltemal uit te grou en met kompos-bogrond mengsel te vervang. In plaas van om kompos van Kimberley te laat aanry, wou ons ons eie maak. Makliker gesê as gedaan, want op ons stukkie land was daar toe voor die reëns net doringbossies en soetdoringbome. Ek het genoeg dorings en dubbeltjies uit my vingers en voete getrek om dié nooit in my groentebeddens te wil hê nie. Na tientalle bakkievragte plantmateriaal van die stortingsterrein en perdemis van die bure af was ons ’n bietjie fikser.

Ons tonnel, wat Danny self ontwerp en gebou het, is 3m hoog en met 40% skadunet bedek. Die besproeiing is ’n drupsisteem uit plaaslik verkrygbare materiaal gebou. Die pype lê onder ’n lagie grasmolm sodat water nie verdamp nie. Dit spaar baie water en party groente soos tamaties en komkommers hou buitendien nie van water van bo nie. In my saailinghoekie, my ‘kantoor’, staan tafels uit weggooihout en ’n ou yskasdeur, alles uit die stortingsterrein gered. ’n Ou wasmasjiendrom dien as saailingmengselhouer en ’n lekker boomstomp is my kantoorstoel (ek soek nog net lekker wiele vir hom!).

 

Gaby