Daar is nie iets soos godsdienstige neutraliteit nie

kruisOnlangs was daar nuus oor ‘n organisasie met die Orwelliaanse naam “Organsiasie vir godsdienste-onderrig en demokrasie”. Genoemde organisasie het opsleg gemaak omdat hulle namens ‘n ouer van Oudtshoorn verskeie skole met hofsake wil dwing om die Christelike godsdiens, wat sy uitdrukking vind in open met gebed, die vertoning van die kruissimbool en godsdiensonderwys, te verwyder.

Eintlik moes die naam gewees het “Organisasie vir radikale sekularisme”. Die afskaffing van die Christelike godsdiens is juis die teendeel van godsdiensonderrig en demokrasie is ‘n woord wat alles vir almal kan wees en daarom sy oorspronklike betekenis verloor het. Die enigste konsensus oor demokrasie is dat dit vaagweg goed is en niemand daarteen kan wees nie. Om die rede noem selfs diktatorskappe hulleself “demokraties”. Die doel van die organisasie is eintlik om die bietjie Christelike godsdiens wat Suid-Afrika nog in die openbaar het, tot niet te maak in die naam van “godsdiensneutraliteit”.

Soos gewoonlik, wanneer ‘n radikale ideologie nagestreef word, stel die een wat krap waar dit nie jeuk nie, homself daar as die een wat veg vir die belange van die arme onderdruktes. Een persoon wat kamstig te na gekom word deur die Christelike godsdiens, soos ‘n Moslemkind of die kind van ‘n ateïs, word gewoonlik voorgestoot om daarmee die hele skool “godsdiensneutraal” te maak. Terwyl die ateïste vir Christene nie die uitlewing van hulle godsdiens gun nie, ook nie in skole nie, waar die oorweldigende meerderheid skoliere en hulle ouers Christene is, speel hulle die rol van die onderdrukte slagoffer wat deur gebed en kruise geboelie word. In die huidige, reeds sterk sekulêre Suid-Afrika kan jy mos met woorde soos “diskriminasie” en “onverdraagsaamheid” enige argument wen en is die meningsvormers en invloedrykes gewoonlik instinktief aan jou kant.

Die hele argument van die ateïste dat instellings soos skole “neutraal” moet wees is in elk geval ‘n drogredenasie. Niemand is neutraal wat godsdiens, waardes en oortuigings betref nie, allermins die ateïste. Om godsdiens in skole te beoefen is ‘’n stelling, maar daarom nie te beoefen is ook ‘’n stelling en allermins “neutraal”. Ateïsme is eintlik ook ‘n soort godsdiens, wel sonder God, maar met afgode soos “die mens”, “wêreldvrede”, “’n beter samelewing” ens. in die plek daarvan.

Waarheen samelewings afstuur wat God uit die openbare sfeer wil verwyder en kamstig neutraal is, is orals te sien, sowel in die geskiedenis asook in die hede. Waar God uit ‘n samelewing verwyder word en mense nie meer God mag bely en eer nie, word die leemte met ideologiese ywer gevul wat rampspoedig is. Kyk maar na die Franse Revolusie, die ou Sowjet-Unie, Kuba, Noord-Korea, ens.

Natuurlik kan en moet godsdiens nie in mense se kele afgedwing word nie, soos dikwels die beskuldiging van die ateïste teenoor Christelike instellings is. Wat hulle daarby egter geriefshalwe verswyg, is dat die bekendstelling aan die Christelike geloof jou nie dwing om ‘n Christen te word nie. Dis in elk geval onmoontlik om tot `’n geloof gedwing te word. Die verwydering van God uit die skole en uit die openbaar dwing jou egter om God te verswyg en om te buig voor die afgod van sekularisme.

Ateïste, Moslems of wie ook al wat ongemaklik voel met die Christelike etos van ‘n skool het die vryheid om hulle eie skole te stig (al kry ek die kinders jammer wat daar moet skoolgaan), maar dit is nie vir hulle genoeg nie. Dit gaan vir hulle nie oor godsdiensvryheid nie, dit gaan daaroor om hulle ateïstiese sienings op almal af te dwing onder die dekmantel van “neutraliteit”.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Strategieë vir die winter van ‘n beskawing

winter3Die metafoor van die winter in ‘n mense se lewe verwys na die nabye einde. Anders as in die geval van mense wat almal moét sterf en selde ouer as 90 jaar word, is daar in die geskiedenis van ‘n volk of ‘n beskawing die moontlikheid van ‘n lente oftewel ‘n herlewing na die winter opgesluit.

Party beskawings vergaan en is net nog ‘n vae herinnering, ander herleef weer, dikwels in ‘n ander gedaante. Die Grieks-Romeinse beskawing, wat telkens as die grondslag van die Westerse beskawing gesien word, het meer as ‘n duisend jaar bestaan en het ‘n eenvoudige begin, opbloei, ‘n lang hoogbloei en geleidelike verval tot uiteindelike ineenstorting beleef. Dit geld vir feitlik alle groot beskawings, veral die wat ‘n sterk onderbou gehad het en nie net ‘n strooivuur was nie.

‘n Beskawing moet natuurlik ‘n sterk militêre been hê, soos die Romeinse beskawing, om homself te kan handhaaf teen sy talle vyande, maar militêre mag alleen is nie genoeg nie. Alexander die Grote (356-323 voor Christus) het in ‘n kwessie van ‘n paar jaar feitlik die hele destydse bekende wêreld verower, maar omdat sy ryk rondom hom as persoon gebou was, het dit na sy vroeë dood verkrummel en is sonder enige blywende nalatenskap. Alexander se generaals het sy reusagtige, multi-etniese ryk onder mekaar verdeel en teen mekaar geveg.

Die Mongole onder Dsjingis Khan en sy opvolgers het in die 13de eeu selfs ‘n nog groter grondgebied verower, van Sjina tot Oos-Europa, die grootste ryk, oppervlakgewys, wat ooit bestaan het. Hulle het egter geen  beskawing gestig nie, maar net ander hoogstaande beskawings vernietig of bedreig. Omdat hulle net met uiterste brutaliteit verower het en self geen hoogstaande kultuur gehad het nie, het daar ook van hulle ryk niks oorgebly nie. ‘n Ryk wat net op geweld en verowering gebou is, het voete van klei en sal verkrummel sodra die militêre mag verswak.

In die geval van die Grieks-Romeinse beskawing, wat in die 4de eeu na Christus deur barbaarse Noord- en Oos-Europese volke soos Hunne en Germane vernietig is, was daar wel ‘n baie sterk kulturele fondasie wat nie afgebreek kon word nie. Selfs in die “donker” vroeë Middel-eeue, wat op die val van die Romeinse beskawing gevolg het (omtrent 400 tot 600 na Christus) kon elemente van die beskawing bewaar word. Nadat die barbare hulle uitgewoed en sonder enige kulturele nalatenskap verdwyn het, kon weer ‘n nuwe beskawing gebou word wat aangeknoop het aan die Grieks-Romeinse erfenis.

Die plekke waar elemente van die Grieks-Romeinse beskawing bewaar is (die kloosters) was die plekke waar die Christendom gebesig is. Klooster beteken direk vertaal plek van afsondering.  Stede was die plekke waar die beskawing (en dikwels ook die dekadensie) sy hoogbloei beleef het, maar in die vroeë Middel-eeue was die stede grootliks vernietig deur die barbare. In die kloosters kon beskawing en kennis egter tot ‘n beperkte mate bewaar word. Die hoofdoel van die kloosters was natuurlik die uitbou van die Christelike geloof, maar daar was sekondêr ook ‘n beskawingstaak. Dit was feitlik net in kloosters waar die vaardigheid van lees en skryf (in Latyn) nog bestaan het en waar dit oorgedra is. Monnike het biblioteke in die kloosters ingerig en boeke gekopieër (‘n tydsame proses omdat alles per hand oorgeskryf moes word) en kennis sodoende help bewaar. Ook ambagte en landbou is vanuit die kloosters beoefen en verder ontwikkel. Die kloosters moes selfvoorsienend wees en het daarom ook landerye en tuine gehad vir die verbouing van voedsel. Die verbetering van landboutegnieke het daarmee gepaard gegaan.

In die kloosters is die saad van die beskawing, naamlik kennis en kundigheid, bewaar terwyl barbaarse hordes buite omtrent alle oorblyfsels van die beskawing vernietig het. Die kloosters was gewoonlik in afgeleë plekke en ver van die aanvalsroetes van die barbare geleë. Terwyl afsondering dikwels gelykgestel word aan agterlikheid, het in die geval van die kloosters afsondering juis gemaak dat kennis en vaardighede, en daarmee saam die beskawing, bewaar kon word. As die omgewing rondom jou vyandig is, is afsondering ‘n oorlewingsmeganisme.

Namate die barbare hulle uitgewoed het, het sekere volkstamme begin om state en selfs ryke te stig ( die Merowinger en later die Karolinger). Die Christendom het die saambindende godsdiens geword en dansky die sendingaktiwiteite van die kloosters kon kennis weer wyer oorgedra word. Daar was ook beskerming deur die owerheid en bevordering van beskawing. Die Frankiese Ryk, waarvan Karel die Groote (768-814 aan bewind) die bekendste heerser was, het elemente van die Romeinse beskawing oorgeneem en gekoester en het homself gesien as die opvolgryk van die Romeinse Ryk. Dit was egter net moontlik omdat die saad van die beskawing in die kloosters oorleef het. Daarsonder sou geen Westerse beskawing kon herleef nie en sou die gewoontes van die barbaarse veroweraarsvolke die “donker Middel-eeue” laat voortbestaan het. Dat verowering sonder die koestering van kultuur geen beskawing kan voortbring nie, sien ons ook vandag in die lande wat deur Islamitiese vegters soos IS (die hedendagse weergawe van die Mongole van destyds) oorrompel word. Veg, nie beskaaf nie, is die enigste doel en sodra die vegters weer deur ‘n ander mag oorwin word, bly daar niks van die veroweraars oor nie.

Sonder om die huidige toestand in Suid-Afrika aan die donker Middel-eeue en die tyd van algehele chaos te wil gelykstel, is dit sonder twyfel so dat die huidige bewind nie gunstig vir die Afrikaner se kultuur en beskawing is nie. Afrikaans word uitgewerk, veral as akademiese taal, museums en monumente gaan tot niet, Afrikaanse dorpe en woonbuurte word demografies oorrompel en verloor enige band met die mense wat die plekke gestig en onderhou het.

In tye soos hierdie is dit daarom nodig om plekke te hê, en nog meer te stig, wat soos kloosters van ouds funksioneer, waar die Christelike geloof bewaar en gekoester word saam met die elemente van beskawing en kultuur: kennis, vaardighede en gewoontes. In Orania word Afrikaans gepraat, in Afrikaans skoolgehou en kennis en vaardighede oorgedra. Die Afrikaner-erfenis word in museums, biblioteke en argiewe bewaar. Volksfeeste laat die kultuur voortleef. Kuns word bevorder.

Hoe die toekoms lyk en of die Afrikanervolk ‘n langtermyn toekoms het, weet ons nie. Maar as die politieke omstandighede vir Afrikaners eendag weer gunstig is, kan die skatte van die beskawing in plekke soos Orania help om weer ‘n nuwe beskawing op ‘n ou fondament te bou.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

Skotse onafhanklikheidsreferendum

Saltire and union flagDie referendum oor Skotse onafhanklikheid vind plaas op 18 September. In die laaste groot televisiedebat voor die referendum tussen die leier van die Skotse nasionaliste, Alex Salmond en die Britse Parlementslid vir ‘n Skotse kiesafdeling, Alistair Darling het die twee teenstanders mekaar gepak en die argumente vir en teen afskeiding weer met mening herhaal. Alistair Darling lei die veldtog “Better together” vir die behoud van die huidige Britanje. Volgens ‘n peiling ná die tyd het Salmond baie beter gevaar as Darling. Die aanhangers van Salmond en van afskeiding was geesdriftig en emosioneel. Onafhanklikheid van ‘n land is iets wat diepe emosies wakker maak, terwyl die behoud van die status quo eerder tot die rede appelleer. Nogtans was die argumente van altwee kante veral op feite en syfers gebaseer en nie op emosies nie.

Die basiese argument vir onafhanklikheid van Skotland geld ook vir ons eie strewe na vryheid, maar ook vir enige vryheidstrewe. Die mense wat aan dieselfde volk behoort kan op grondvlak beter vir hulleself besluit as mense wat aan ‘n ander volk behoort en wat elders is. Niemand hou daarvan as ander mense oor hulle besluite neem nie. Hoe nader die besluitneming aan jouself, hoe beter.

Lede van die Skotse Nasionale Party (SNP) is van mening dat Skotse onafhanklikheid die mense op grondvlak direk bevoordeel omdat Skotland se inkomste direk bestee word aan sy mense en nie eers ‘n ompad na Londen maak en dan van daaraf herverdeel word nie.

Alistair Darling en die ondersteuners van die “Better Together” veldtog wys egter daarop dat Skotland ekonomies nie sterk is nie en in werklikheid meer van die sentrale regering ontvang as wat hulle bydra. Salmond het die stelling natuurlik betwis en praat oor die talle ekonomiese moontlikhede wat ‘n onafhanklike Skotland kan ontsluit as hy sy eie politieke beheer het.

Alhoewel die kwessie van onafhanklikheid nie in regs of links ingedeel kan word nie is die voorstaander van Skotse onafhanklikheid, die SNP, in talle opsigte ‘n linkse party. Dit geld veral vir sy ekonomiese beleid wat sterk klem plaas op staatsinmenging en welsyn, byna soos in Skandinawiese lande. Die Konserwatiewe Party regeer tans oor Groot-Britanje en is die party wat die mees uitgesproke is oor die behoud van die status quo. Mnr Salmond verwys ook gereeld na die voorbeeld van Noorweë wat ‘n land is wat nes Skotland oor olie beskik, ‘n welsynstaat is en in elke opsig welvarend en vooruitstrewend is. Skotse olie sal eendag uitgeput raak, aldus die argument van Darling, en dan sal dit goed wees dat Skotland deel is van ‘n sterk staat wat reeds internasionale bande en ‘n gediversifiseerde ekonomie het.

Die meeste Skotte ondersteun onafhanklikheid van harte maar logiese denke veronderstel dat dit gepaard gaan met talle risikos en veranderinge. Talle kwessies wat vir Skotland belangrik is moet onderhandel word indien die ja-stem wen. Een voorbeeld is die vraag of Skotland outomaties deel van die EU word, of die Britse pond behoue bly (wat die Britse regering nie as gegewe beskou nie),  of Skotland ‘n republiek word en of die Britse koningin as staatshoof behou word. Om die vrees vir die onbekende pad van onafhanklikheid te versag sou die SNP verkies dat die EU-lidmaatskap, die Britse Pond en die koningshuis ten minste aanvanklik behoue bly, maar die “Better together” veldtog wil juis die onsekerheid daaroor gebruik om mense te laat besluit om teen onafhanklikheid te stem.

Dit is ook nie die geval dat die Skotte in die onlangse verlede wreed onderdruk is soos in Eritreë of Suid-Soedan en daarom smag na vryheid nie. As die Skotse afskeiding, indien dit dan wel gebeur, met ‘n ander land s’n vergelyk kan word, dan is ‘n beter voorbeeld die stille en vreedsame skeiding tussen Tsjeggië en Slowakye in 1993. In dié geval was dit egter ‘n parlementsbesluit en geen burgerlike referendum nie.

Tans is die mening nog meerendeels vír die behoud van die status quo, maar die skaal is besig om te  swaai in die guns van die pro-onafhanklikheidskamp. Vir die “beter saam”-veldtog gaan dit daaroor om die meerderheid wat sonder veel emosie die redebesluit vir “nee” gemaak het by die stembus te kry. Die “ja vir onafhanklikheid”-kamp kan staatmaak op geesdriftige ondersteuners wat nie stembus toe gedryf hoef te word nie.Hulle uitdaging is om die onbeslisdes oor te haal, want tans het hulle nog net ‘n minderheid aan hulle kant. Die Britse tydskrif “Economist” beskryf die “Nee”-veldtog as masjien, en die “Ja”-veldtog as karnaval. Eersgenoemde word amptelik  deur die Britse regering gedryf. Interessant is ook die verskeie veldtogte se metodes: die “Better together”-veldtog steun op huis tot huis-werwing, telefoonwerwing, uitdeel van pamflette en tree op soos ‘n politieke party tydens ‘n verkiesing. Die “Ja vir Skotland”-veldtog gebruik huis tot huis-werwing, straatfeeste, stalletjies, konserte, debatvergaderings en het veral ‘n direkte, mens-tot-mens aanslag.

Sebastiaan Biehl is `n navorser by die Orania Beweging.

 

Turkye en Recep Tayyip Erdogan

TayyipDie regerende eerste minister, mnr Recep Tayyip Erdogan, het sopas die presidentsverkiesing in die eerste ronde met 52% van die stemme gewen. Die ander kandidate, die gematigde  Ekmeleddin Ihsanoglu, wat die sekulêre opposisie verteenwoordig, alhoewel hy self ‘n gelowige Moslem is, het 38% van die stemme op hom verenig en die linksgesinde Koerd, Selahattin Demirkas, het 10% van die stemme gekry. Talle teenstanders van mnr Erdogan het egter verkies om weg te bly van die stembus en die stempersentasie was relatief laag. Die huidige president, mnr Abdullah Gül, het hom nie meer verkiesbaar gestel nie om plek te maak vir sy partyleier mnr Erdogan. Die direkte verkiesing van die president deur die bevolking, iets wat ongewoon is vir ‘n seremoniële hoof, is in 2007 deur ‘n referendum wat mnr Erdogan geïnisieer het, moontlik gemaak. Mnr Gül, ‘n partygenoot van mnr Erdogan, was toe die eerste direk verkose president van Turkye.

Mnr Erdogan was 11 jaar (3 termyne)  eerste minister en kon volgens die Turkse grondwet nie nog ‘n keer staan nie. Om egter nog steeds mag te behou het hy gestaan vir president. Die president in Turkye is veral ‘n seremoniële hoof en die ware mag lê by die eerste minister. Die magte van die president is egter vaag omskryf en die grondwet laat speling vir die president toe om meer aktief op te tree. Mnr Erdogan het reeds aangekondig dat hy sy mag as president maksimaal sal gebruik en die groot oorwinning wat hy behaal het, bevestig ook dat die meerderheid van die bevolking daarmee tevrede is. Hy het ook aangekondig dat hy beoog om nog baie jare te regeer en dat hy die bevoegdhede van die presidentsamp wil verhoog en ‘n grondwetverandering daaroor wil laat aanbring om Turkye se politieke stelsel van die huidige parlementêre na ‘n presidiale stelsel te verander.

Mnr Erdogan was ‘n uiters suksesvolle eerste minister, maar is ook omstrede en word van ondemokratiese optrede beskuldig. Onder mnr Erdogan se bewind het Turkye ekonomies geweldig vooruitgegaan en is armoede en ongelykhede verlig. Mnr Erdogan en sy party, die konserwatief-godsdienstige AKP, het vir die afgelope dekade Turkye in ‘n ander rigting gelei, weg van die Westerse uitkyk na ‘n orientering na die Midde-Ooste en die Moslemwêreld. Die land het uiterlik gemoderniseer as dit kom by infrastruktuur en voorkoms, maar het innerlik meer konserwatief geraak. Die ou sekulêre verwesterde elite uit veral die grootste stad Istanbul, is uitgeskuif en ‘n meer konserwatiewe en godsdienstige elite het begin vorm aanneem. Die mense van Anatolië, Turkye se sentrale en armer deel, is die groot ondersteuners van mnr Erdogan, want hy gee vir hulle trots en selfvertroue. Hulle sien mnr Erdogan as waarborg vir voorspoed en stabiliteit en vergewe hom graag sy outoritêre optrede. Daar is egter ook heelwat kritiek teen mnr Erdogan se outokratiese regeringstyl, korrupsieskandale wat onder die mat ingevee is, sy onverdraagsaamheid teenoor kritiese stemme en sy pogings om die media aan bande te lê. Verlede jaar is protesoptogte teen die vernietiging van ‘n stadspark in Istanbul hardhandig onderdruk.

Dit is die verklaarde doel van die nuwe president om ‘n nuwe Turkye te skep en dit wat hy reeds begin het, te voltooi. Hy wil weg beweeg van die ander groot leier van die 20ste eeu se Turkye, Kemal Atatuerk, se ideaal van ‘n sekulêre en Westerse Turkye na ‘n land wat sy Islamerfenis vertroetel en sy plek in die Midde-Ooste het, verkieslik as ‘n streeksmoondheid.

Mnr Erdogan het nogal baie ooreenkomste met mnr Wladimir Putin van Rusland. Ook mnr Putin is ‘n outokratiese leier wat hom as geroepene sien om sy land tot nuwe glorie te lei. Mnr Putin het eweneens na twee termyne as president die posisie van eerste minster opgeneem om aan die grondwetlike vereistes te voldoen, maar was in praktyk president en het na ‘n termyn as eerste minister weer president geword.  In Rusland is die magsorde andersom, die president het die meeste mag, nie die eerste minister nie.

Agtergrond: Die parlementêre teenoor die presidiale stelsel.

In demokrasieë is daar breedweg twee stelsels, die parlementêre een en die presidiale een.

In die parlementêre stelsel kies die burgers die parlementslede en die parlement kies ‘n eerste minister of kanselier uit hulle geledere en kan so ‘n persoon ook weer ontsetel word, wat egter selde gebeur. Die eerste minister het uitvoerende gesag, maar die mag lê by die parlement. Die termyne van parlement en eerste minister is gelyklopend. Gewoonlik is ‘n seremoniële hoof, óf ‘n koning óf ‘n president, nominaal bo die eerste minister geplaas, maar het geen uitvoerende gesag nie. Lande wat die parlementêre stelsel het is onder andere Groot-Brittanje, Duitsland, Nederland, Spanje, Swede, Italië en Oostenryk. Suid-Afrika het so ‘n stelsel gehad tot 1984, en het sedertdien ‘n presidiale stelsel.

In die presidiale stelsel bestaan wel ook ‘n parlement, maar die meeste mag is by die president gesetel.  Die president word gewoonlik direk deur die bevolking verkies en sy gesag kom dus nie van die parlement nie, maar direk van die bevolking. Die president en die parlement kan mekaar in sekere gevalle wedersyds aan bande lê, veral as die president aan ‘n ander party behoort as die meerderheid van die parlement. Die termyne van die president en die parlement is dikwels nie gelyklopend nie. Die posisie van ‘n premier, of eerste minister, bestaan in sommige gevalle wel, maar dié posisie is ondergeskik aan die president, nominaal en wat gesag betref. Voorbeelde van die presidiale stelsel is die VSA, Frankryk, Rusland en die meeste Latyn-Amerikaanse lande.

Die einde van die hukou-stelsel in Sjina

Mao_Zedong_portraitSjina het ‘n stelsel wat mense klassifiseer volgens hulle afkoms van die stad of die platteland, die sogenaamde hukou-stelsel. Daarvolgens word aan mense sekere vergunnings toegedeel, maar ook teen hulle gediskrimineer. Die stelsel is in die hoogtyd van kommunisme onder Mao Tse-Tung in 1958 ingestel.

Die hoofdoel daarvan was en is om verstedeliking te beheer. Stedelinge wat reeds daar gevestig was, het voorkeurbehandeling gekry ten opsigte van toegang tot skole, universiteite, werk en medies. Mense uit die platteland is in die stede soos tydelike trekarbeiders behandel en het gesukkel om ‘n goed betaalde werk te kry. Die idee was om hulle aan te moedig om weer terug te keer na die platteland as hulle hulle werk gedoen het. As ‘n voordeel vir die plattelanders was daar ‘n stuk grond wat die staat aan hulle beskikbaar gestel het as ‘n soort bruikleen en wat hulle aan hulle plattelandse dorp sou bind.

Die hukou-stelsel bepaal dat mense se afkoms in hulle ID-boeke vermeld word en dus teen Sjinese van die platteland opgetree kan word soos teen tydelike gasarbeiders in ander lande. Die stelsel is in die 1980’s hervorm, toe Sjina se ekonomiese opbloei begin het en groot getalle werkers in die stede nodig was. Die stedelinge het egter daarop aangedring dat hulle nog steeds voorkeurbehandeling kry as dit gaan oor toegang tot sekere geriewe. Selfs mense wat in stede gebore is, maar kinders van plattelandse immigrante is, word nog as plattelanders geklassifiseer. Die hukou-status van plattelander na stedeling kan wel verander word, maar dit is ‘n moeilike proses. In Sjina is daar blykbaar nog steeds ‘n onderliggende klasseverdeling, met gevestigde stedelinge wat hulle as meerderwaardig teenoor die plattelanders beskou en nie graag met hulle meng nie. Plattelandse migrante word ook as bron van misdaad en swak higiëniese toestande gesien, ‘n beskuldiging wat nie heeltemal ongegrond is nie. Die stelsel is veral streng toegepas in megastede soos Sjanghai en Beijing, wat groot getalle mense trek en wat oor hoogstaande geriewe beskik.

Die hukou-stelsel is deur sommige meningsvormers vergelyk met die instromingsbeheerstelsel tydens apartheid in Suid-Afrika. Tydens die apartheidera het swartes wat al lank in die stede gevestig was, sekere voorregte gekry wat nie vir die swartmense wat uit die platteland afkomstig was, gegeld het nie. Die idee was om die ongekontroleerde verstedeliking en die vorming van krotbuurte te voorkom en om mense aan te moedig om hulle langtermyntoekoms eerder in die platteland te bou.

Die argument vir die hukou-stelsel is dat Sjina verstedeliking beter kon beheer as byvoorbeeld Indië en dat krotbuurte rondom die stede baie kleiner is en beter lyk as in Indië of ander ontwikkelende lande wat geen instromingsbeheer het nie.

Die hukou-stelsel word nie net eensklaps afgeskaf nie, maar groot getalle stedelikke migrante sal stedelike status ontvang, wat egter nog steeds aan ‘n paar voorwaardes soos ‘n vaste werk en blyplek gekoppel is. Dit herinner weereens aan die geleidelike versagting van instromingsbeheer in Suid-Afrika.

Die beoogde afskaffing van die hukou-stelsel het egter gemengde reaksie ontlok. Soos verwag kon word, hou stedelinge nie daarvan dat hulle voorkeurbehandeling iets van die verlede gaan wees nie. Daar is egter ook ‘n hele paar plattelanders wat die voordele van die stelsel sien, naamlik ‘n stuk grond waarheen hulle kan terugkeer en wat in tye van voedselskaarste en duur grondpryse ‘n bate is. Ten minste wil hulle die reg hê om die grond te verkoop as hulle stad toe trek en dit nie net eenvoudig verloor nie.

Saam met die hukou-stelsel, wat sy oorsprong in kommunistiese reglementering het, is ook die bekende een-kind-stelsel besig om geleidelik uit te faseer. In albei gevalle weeg menseregte en individuele vryhede, waarvan Sjina baie min gehad het in sy geskiedenis, swaarder as die voordele vir die samelewing as geheel, dit wil sê om oorbevolking en stedelike ellende te bekamp.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel