Wie mag in Orania bly?

Klein reusEen van die standaardvrae wat elke joernalis en menige besoekers aan Orania vra, soms uit egte belangstelling, maar meesal om ons uit te lok, is: “Mag ‘n Swarte/Bruine/Sjinees/Indiër/Engelssprekende ook hier bly?” Die geïmpliseerde vraag is: “Hoe kan julle dit waag om teen mense te diskrimineer op grond van hulle velkleur of etnisiteit?”

Nou goed, vir diegene wat dit nog nie weet nie: nêrens in Orania se grondwet of in sy keuringsdokumente word enige melding van velkleur gemaak, of enige uiterlike kenmerke gestel waaraan voornemende inwoners moet voldoen nie. Vir links-liberales is onderskeid, dus diskriminasie, mos die oersonde. Toegegee, diskriminasie wat mense te na kom is nie iets wat ‘n mens wil of kan verdedig nie.

Orania is ‘n gemeenskap wat deur assosiasie ontstaan het. Nuwe inkomers moet uit die aard van die saak inpas by die bestaande gemeenskap, wat oor die jare gevorm is deur mense wat hulle met die strewe van Orania kon vereenselwig, en wat die eise wat dit stel mee kon volhou. Die houding van die gemeenskap is dat almal wat met Orania wil vereenselwig, ‘n kans gegun word, maar dat die tyd sal leer of daardie aanvanklike voorneme ernstig bedoel was of nie.

Orania se bevolking word gekenmerk as Afrikaanssprekend, Christelik en wit. Daar is enkeles wat van huis af nie Afrikaanssprekend is nie, maar wat wel Afrikaans in die openbaar praat. Ander mag slegs nominaal Christene wees en dit nie werklik uitleef nie, maar dit bly elke person se eie verantwoordelikheid en sy eie gewete moet daaroor oordeel.

Om wit te wees in die nuwe Suid-Afrika is ‘n Kainsmerk en iets wat veral deur links-liberales as smet gesien word. Dit is wel iets wat jy nie kan verander nie, jy word so gebore, al verwens jy jouself en jou ouers daarvoor. Jou geloof, jou taal en jou kultuur kan jy wel met veel moeite verander, nie jou velkleur nie. Op iets wat aangebore, is hoef jy egter nóg trots te wees, nóg skaam voor te voel. Dis hoe en wie jy is. En dit is eenmaal so dat mense wat hulle Afrikaners noem, en deur ander as sulke beskou word, in hulle oorgrote meerderheid wit is.

Die feit dat diegene wat hulle met Orania se strewe vereenselwig en hulle Afrikaners noem onder andere ook wit is, is ‘n kenmerk van vele, beslis niks wat ons beter maak nie, maar ook beslis niks om oor skaam te wees en verskoning voor te maak nie.

Moet almal wat in Orania woon dus wit wees? vra ons links-liberale besoekers. Ons is ‘n Afrikanerdorp, en alhoewel nie alle Afrikaners wit hoef te wees nie, is daar tog ‘n duidelike korrelasie. Nie alle swane is wit nie, maar by verre die meeste. En as jy ‘n swaan beskryf, sal jy nie net noem dat hy vere en ‘n lang nek het en op water dryf nie, maar ook dat hy gewoonlik wit is.

Die gemeenskap het dus sy eienskappe vasgestel en wil dit graag so handhaaf, want dit verseker harmonie en wedersydse begrip. Soos wat die dorp groter raak, sal daar wel enkeles wees wat nie meer aan die drie hoofeienskappe voldoen nie, maar dit sal die uitsondering wees.

Onlangs was daar ‘n artikel in die Volksblad oor ‘n seun op die Vrystaatse platteland wat van Taiwanese afkoms is, en wat in elke opsig ‘n Afrikaner is, behalwe vir sy voorkoms. Hy doen alles wat die tipiese Afrikanerseun in die Vrystaatse platteland, waar hy opgegroei het, ook doen: hy praat Afrikaans, speel rugby, drink graag brandewyn en coke, luister na Afrikaanse musiek, hou van pap en braaivleis, ens.

As die seun in Orania wil bly, sal hy toegelaat word? Ja natuurlik, ek kan aan geen rede dink hoekom nie. Maar dit bly ‘n uiterste uitsondering, anders was dit nie ‘n hele blad koerantartikel met verwysing op die voorblad werd nie. Omdat daar een Sjinees is wat ‘n Afrikaner geword het en in Orania sou kon tuisvoel, beteken dit egter nie dat alle Sjinese in Orania sal aanpas nie. Dieselfde geld vir die ‘n Swarte wat om watter rede ook al ‘n Afrikaner geword het. Dit is egter uiters selde dat lede van ‘n dominante meerderheid hulle by die gemarginaliseerde minderheid aansluit. Die Taiwanese seun het as lid van ‘n absolute minderheid by die taamlik prominente en in getalle heelwat groter Afrikaner-minderheid aangesluit, omdat hy in ‘n plattelandse Afrikaanse omgewing grootgeword het. In ‘n multi-kulturele opset soos in Johannesburg sou dit waarskynlik nie die geval gewees het nie en hy sou deel van die Engelssprekende, geglobaliseerde hoofstroom geword het. Om die rede bly dit ook ‘n teoretiese moontlikheid dat juis ‘n Swarte as lid van die bevolkingsgroep wat Suid-Afrika in elke opsig beheer en alle magsmiddele tot hulle beskikking het, juis by ‘n gemarginaliseerde groep wat alles van vooraf moet opbou, wil aansluit.

Die probleem wat diegene wat die vraag vra met Orania het, is nie dat hier dalk sekere mense uitgesluit en teen hulle gediskrimineer word nie. Die probleem wat hulle met Orania het is dat hier ‘n gemeenskap is wat nie werk volgens die links-liberale logika van hoe ‘n samelewing moet wees nie. Ons praat Afrikaans, nie Engels nie; ons is etnies homogeen, nie ‘n mengelmoes identiteitlose mense nie; en ons is Christene, nie nihiliste nie.

Namens wie praat die Afrikaner-elite?

Vraag

Ons het al gewoond geraak daaraan dat bo en onder omgekeer geword het. Wat vroeër hoofstroom was, is nou ekstremisties, wat vroeër vreemde randverskynsels was, is nou “hip” en “cool”. Dit geld nie net vir Suid-Afrika nie, dit geld vir die hele Westerse wêreld.

Een gebied waar dit veral opvallend is, is by die sogenaamde “intelligentsia” of “elite”, by name onder Afrikaners, oftewel Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Die elite van ‘n volk is veronderstel om die beste van die volk te verteenwoordig, om die “avant garde” te wees wat wyer kyk as die gewone mense, dieper insigte het en leiding kan gee tot voordeel van die volk.

In die vorige bedeling tot so om en by die 1970’s, was die Afrikaner-elite amper sinoniem met die Afrikaner Broederbond. Hier was mense met invloed, uit die kringe van die kerk, onderwys, akademie en sakegemeenskap en met onbesproke rekords saamgetrek, tot diens van die volk, aldus hulle eie aanspraak. Vir talle van hulle het dit wel gegeld, soos die stigter van die Broederbond, Henning Klopper, of prominente voorsitters soos prof Carel Boshoff, prof HB Thom, dr Piet Meyer, ea. Later het die Broederbond egter ‘n klomp opportuniste getrek en mense soos Roelf Meyer, Pik Botha, FW de Klerk en Leon Wessels opgelewer, wat nie meer hulle volk gedien het nie en wat geen vaste beginsels gehad het nie. Die groot rol wat die Broederbond by die mislukte hervormingsproses gespeel het, het gemaak dat dit vandag vir seker die meeste Afrikaners ‘n negatiewe konnotasie het en dat die ou elite heeltemal afgeskryf is. Sonder ‘n rigtinggewende elite het Afrikaners sinies geraak en besluit om eerder individualisties op te tree en hulle eie heil uit te werk, wat natuurlik ook meegebring het dat ‘n samehangende plan vir die volk as geheel ontbreek het.

Omdat die regering, media of buitelandse meningsvormers egter nie met elke spreekwoordelike Jan Rap en sy maat kan praat nie, moes daar ‘n nuwe, kunsmatige Afrikaner-elite geskep word. Anders as die ou elite, wat hulle in die meeste gevalle bewys het en ‘n langdurige en skoon rekord gehad het, het veral die media nou ‘n nuwe elite geskep wat niks met die volk of die vorige elite gemeen het nie, behalwe dat hulle ook Afrikaans praat (of ‘n vorm daarvan, gewoonlik deurspek met “hip” Engelse woorde). Mense wat die volk verag en alles doen om juis nie Afrikaners te wil wees nie, soos Max du Preez, Deon Maas, Adriaan Basson, dr. Piet Croucamp en linkse skrywers, akteurs of dosente wat gewoonlik niemand nie behalwe hulleself verteenwoordig, het nou skielik na vore gekom as selfaangestelde of deur die media aangewysde spreekbuis vir Afrikaners. Diegene wat werklik die sentimente van die meerderheid Afrikaners verteenwoordig, word geïgnoreer en tot ‘n karikatuur gereduseer en word hoogstens na debatte genooi sodat die aanbieders en die nuwe elite ‘n teiken het.

Die selfaangestelde elite leef op heeltemal ‘n ander planeet as die gemiddelde Afrikaner en hulle uitsprake is gewoonlik anti-Afrikaner. Terwyl die meerderheid Afrikaners lief is vir hulle taal en dit ook graag tot op tersiêre vlak in gebruik wil sien, is die selfaangestelde elite se houding dikwels dat Afrikaanse universiteite versoening en nasiebou benadeel en dat die “wonderlike internasionale taal Engels” vir Afrikaners vlerke gee om van hulle selfgesentreerdheid en slegte verlede te ontsnap. Insgelyks moet Afrikanerkultuurskatte soos “die Stem van Suid-Afrika” en ander volksliedere, museums en monumente, ens volgens die elite liewers opgeoffer word om nie aanstoot te gee aan die meerderheid van die bevolking nie, al voel vele Afrikaners sterk daaroor. Die meeste Afrikaners is Christene en steun goeie gesinswaardes (al pas almal dit nie toe nie), maar die elite sal dit afkraak en eerder “alternatiewe leefstyle” verdedig.

Omdat die media feitlik uitsluitlik met die elite wat hulle self geskep het praat, kry hulle ‘n skeefgetrekte beeld van die Afrikaner. As dan iewers ‘n werklike groep Afrikaners saamgetrek is, soos onlangs op die kunstefees “Innibos” en opgewonde “Die Stem” saamsing, dan weet die media nie wat aangaan nie en probeer duisende gewone mense soos ek en jy afmaak as ‘n paar verlooptes wat in die verlede leef.

Die selfaangestelde elite sal nie tot ander insigte kom nie en hulle sal ook nie hulle goedbetaalde poste as meningsvormers vrywillig ontruim nie. Op die gewone Afrikaner wat vervreem voel van so ‘n elite, lê die verantwoordelikheid om die politieke korrektheid hok te slaan, deur dit te doen wat hy of sy weet reg is en wat nog altyd deel was van Afrikaner wees, en om dit onbeskaamd te verkondig, soos wat sekere prominente figure, wat afsydig van die elite staan, dit reeds doen.

Moenie deur ANC-‘newspeak’ mislei word nie

Newspeak

‘n Regering wat ‘n regime verteenwoordig, dus vir homself opeis om nie net sy plig na die beste van sy vermoë vir die volgende termyn te doen nie, maar om die samelewing volgens sy ideologie te omvorm, heers nie soseer met brute geweld nie, maar deur die beheersing van die openbare debat en veral deur die gebruik van sekere sleutelwoorde. Dit is eie aan alle regimes dat hulle hulle harde ideologie wat talle mense teen die bors stuit, verpak in mooiklinkende woorde en frases sodat dit onskuldig of selfs goed klink. Ook die ANC-regering, wat vir homself opeis om swartmense van die nalatenskap van “apartheid” te bevry, beskik oor ‘n verskeidenheid van sulke woorde wat van hulle oorspronklike betekenis gestroop word om ‘n linkse ideologie aan die burgers te verkoop. George Orwell het in sy boek “1984” die term “newspeak” vir sulke ideologies verwronge woorde gebruik. Hier is ‘n paar van die ANC-regering se gewildste “newspeak” terme:

Regstellende Aksie en Verteenwoordigendheid: Dié term veronderstel dat iets wat verkeerd is, reggestel word. In praktyk beteken dit egter dat die hele samelewing verswart moet word en daar vir minderhede nêrens ‘n plek, instelling, vereniging of maatskappy is waar hulle die meerderheid is nie.  Die ANC-redenasie is dat onder gewone omstandighede alle bevolkingsgroepe orals gelyk, dit wil sê volgens hulle nasionale bevolkingsgetalle, verteenwoordig sou wees, maar dat weens diskriminerende wetgewing tydens apartheid minderhede bevoordeel is sodat hulle nog steeds op te veel plekke oorverteenwoordig is. Dit moet nou reggestel word. Op die oog af klink die redenasie billik, maar dit is ‘n drogredenasie en maak van “verteenwoordigendheid” ‘n absolute wat net deur middel van diskriminasie en staatsinmenging bereik kan word. By die verabsolutering van verteenwoordigendheid word buite rekening gelaat, of gerieflikheidshalwe verswyg, dat net instellings wat almal in dieselfde mate bedien, soos die Departement van Binnelandse Sake, wat aan alle landsburgers ID-boeke uitreik, verteenwoordigend van die hele bevolking kan wees. Interessant genoeg is juis ‘n instelling soos Binnelandse Sake waarskynlik ook nie verteenwoordigend nie, maar het meer swartmense in sy diens as wat die demografiese teikens vereis. In werklikheid is daar egter bitter min instellings en ook bitter min maatskappye wat op almal ewe sterk fokus. ‘n Maatskappy wat grimering of naellak bemark, sal mos nie 50% manlike verkopers en bemarkers aanstel om verteenwoordigend van die hele bevolking te wees nie. So sal ‘n maatskappy wat in ‘n tradisionele Xhosa-area bemark, nie Afrikaanssprekendes of Zoeloesprekendes aanstel nie, en as hulle dit doen, sal hulle besigheid swak wees. Net so min kan ‘n Christelike kerk “verteenwoordigend” wees en sy kwota Hindoes, Moslems en Ateïste volgens die bevolkingsamestelling insluit by sy ledemate en amptsdraers. Die mooiklinkende eis van “verteenwoordigendheid” is inderwaarheid ‘n manier om elke aspek van die samelewing te oorheers met mense wat die ANC-ideologie bevorder.

Transformasie: Die term, wat op sigself ‘n neutrale of selfs positiewe klank het, word benut om aan te dui dat dit wat boos en sleg was, nou goed en algemeen aanvaarbaar gemaak word. Transformasie word ook in dieselfde asem as verandering gebruik,om daarmee te insinueer dat dit onvermydelik is en dat diegene wat daarteen gekant is vasklou aan ‘n slegte en onregverdige verlede en in elk geval besig is met ‘n verlore stryd. Elke keer wanneer nog ‘n Afrikaanse skool of universiteit verengels word en sy Christelike etos met een van sosialisme of links-liberalisme vervang word, dan word van “transformasie” gepraat sodat elke aksie wat op sigself ontwrigtend is en mense ontstel, ondergeskik gestel kan word aan die hoër, edele doel van ‘n “oop samelewing”. In praktyk beteken transformasie egter dat geen verskille, geen uitblinkers, geen ander opinies geduld word nie.

Demokrasie: Die term word nou al vir dekades en nie net in Suid-Afrika nie, so baie rondgegooi en deur almal, van links tot regs, gebruik, dat dit sy betekenis verloor het en alles vir almal geword het. Almal skryf “demokrasie” op hulle vaandels want niemand kan in vandag se tyd nog teen demokrasie wees nie. Eintlik beteken demokrasie ‘n regeringsvorm van publieke deelname gegrond op ononderhandelbare regte, wat die belange van die verskillende groepe in ewewig probeer bring. Die ANC eis egter vir hom die alleenreg op demokrasie op omdat hulle na vele jare van ‘n kommunisties geïnspireerde stryd, dikwels gewelddadig, in 1994 na ‘n onderhandelde skikking deur middel van ‘n algemene, “demokratiese” verkiesing aan bewind gekom het. Dit beteken dan ook by implikasie dat, as ‘n ander party behalwe die ANC iewers ‘n verkiesing wen, demokrasie gesneuwel het en met alle middele weer herstel moet word. Die onverdraagsaamheid van die ANC teenoor die opposisie is ‘n bewys daarvan. Demokrasie beteken vir die ANC dat hulle deur hulle verkiesingsoorwinning die mandaat het om die land volgens hulle idees te vorm, nie net vir die volgende termyn nie, maar vir altyd. Nog geen leier van ‘n ware demokrasie het ooit gesê dat sy party sal regeer “tot en met die Wederkoms” nie en dat diegene wat nie vir die regerende party stem nie, “hel toe sal gaan”.

 Vryheid: Nes demokrasie is dit ook ‘n term wat al so baie misbruik is dat dit alles vir almal kan beteken. Vir die meer konserwatiewes en die klassieke liberales beteken dit om vry te wees om die regte ding te doen, sonder om deur die staat voorgeskryf te word. Dit is dus ‘n term wat die vryheid om te skep, om jouself te wees en om vir jouself te sorg, impliseer. Vir linksgesindes en veral vir Afrikaniste beteken dit bevryding van iets of iemand. Net soos met demokrasie, eis die ANC en sy trawante vir hulleself op dat net hulle vryheid gebring het en weet wat dit beteken, en dat net swartmense na vryheid strewe terwyl blankes per se onderdrukkers is en ander van hulle vryheid wil ontneem. Die klem lê nie op dit wat jy met jou vryheid wil doen as jy dit het nie, maar op dit wat jy aan die vermeende onderdrukker of die instellings wat jou gevange hou, wil doen, naamlik om hulle te ontmagtig, te vernietig of te omvorm tot jou eie voordeel. Opvallend is dat wel luidkeels “20 jaar van Vryheid” gevier word, maar dat feitlik alle wetgewing daarop gemik is om “die mense te bevry” deur middel van inmenging in die ekonomie, grondgryp, gedwonge rasseteikens by instellings en maatskappye, bevoordeling van die sogenaamd “voorheen benadeeldes”, ens. Daar het ook nog nooit ‘n punt gekom waar ‘n swart nasionalistiese regering gesê het dat sy mense nou werklik bevry is en nou hulle pligte moet opneem om hulle vryheid ook sinvol te gebruik nie. Die lys van euwels waarvan die mense eers nog bevry moet word, selfs vele dekades na onafhanklikheid, het geen einde nie: die nalatenskap van kolonialisme, onregverdige en onderdrukkende strukture, rassisme, kapitalisme, minderhede wat kapitaalkragtig is, buitelandse inmenging en uitbuiting, ens.

Diversiteit: Dit is ‘n verdere mooiklinkende maar niksseggende term wat deel is van die ANC se newspeak-versameling. Dit is ook ‘n begrip wat so gekies is dat dit regverdig en goed voorkom en niemand eintlik daarteen kan wees nie en dat diegene wat so iets teenstaan, hulleself as rassisties of ten beste as eng ontbloot. Diversiteit op sigself beteken eintlik net ‘n groot mate van verskeidenheid. Waar jy ‘n groot verskeidenhied het om van te kies, is dit ‘n goeie ding. As egter vir jou voorgesê word wat jy moet kies, en as op die rak van verskeidenheid net items beskikbaar is wat jy nie wil hê nie en wat alles variasies van dieselfde is, dan is dit nie ‘n goeie ding nie. Suid-Afrika was nog altyd ‘n uiters diverse land, ook in die tye van streng apartheid. Daar was nog altyd ‘n verskeidenheid volke, tale, gelowe, geure, kossoorte, landskappe, leefwyses, ens. Die ANC se vertolking van die verlede is egter dat Suid-Afrika ‘n eensydig wit, Afrikaanse, manlike en streng Kalvinistiese land was waar alles wat anders was, verdruk is. Diversiteit volgens die newspeak beteken om almal tot hulle reg te laat kom. In praktyk beteken dit egter onverdraagsaamheid teenoor diegene wat nie wil inval nie by dit wat as “divers” beskou word nie. Pleks daarvan om diversiteit te akkommodeer deur middel van instellings soos skole en universiteite, kerke en verenigings vir elke groep en taal, beteken dit volgens die ANC dat net dit wat swart, Engels en nie-christelik, oftwel alles behalwe wit, christelik en Afrikaans is, as ‘divers’ en dus toelaatbaar en gesond beskou word. Dié soort onverdraagsaamheid in die naam van diversiteit is onlangs weer bewys deur uitsprake van prof Adam Habib, rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, wat ‘n hoofsaaklik wit en Afrikaanse (en by implikasie christelike) universiteit soos byvoorbeeld Potchefstroom as onversoenbaar met die ideale van die nuwe, demokratiese Suid-Afrika beskou het, omdat dit nie “divers” is nie. ‘n Universiteit wat egter oorweldigend swart is en Engels as enigste voertaal het, is volgens die logika wel “divers”. Diversiteit beteken dus in praktyk maar net “val in by ons, die meerderheid.”

Europese verkiesing bied hoop

Onlangs was die verkiesing tot die Europese Parlement gewees.  Die Europese Parlement is die liggaam waar al die lidlande van die Europese Unie, wat die meeste lande van Europa bevat, hulle afgevaardigdes heen stuur. Die verskillende nasionale partye se afgevaardigdes vorm saam faksies volgens breë politieke oriëntering, soos Christen-Demokrate, Sosiaal-Demokrate, Liberales, Verlinkses, ens. Die parlement het geen wetgewende gesag nie, maar kan wel aanbevelings maak. In die verlede het verkiesings vir die Europese Parlement min aandag getrek en die deelname het keer op keer verswak en was laas net ‘n rapsie meer as 40%. Maar na die afgelope paar jaar se woelinge rondom die Euro en die dreigende bankrotskap van ‘n hele paar lidlande en groeiende ontevredenheid oor die Europese instellings se inmenging in mense se lewens en die uitkalwing van nasionale soewereiniteit, is hierdie verkiesing met belangstelling dopgehou.

Die verkiesingsuitslag het inderdaad skokgolwe deur Europa gestuur. Nog nooit het die groep partye wat as regs, nasionalisties of euroskepties beskryf word, so goed gevaar soos hierdie keer nie. In die tweede en derde grootste lidlande, Frankryk en Groot-Brittanje, het partye wat teen die idee van ‘n verenigde Europa gekant is en die nasionale staat se belange voorop stel, die meeste steun getrek. In Frankryk het Front Nasionaal (FN) 26% gekry en UKIP (United Kingdom Independence Party) het in Brittanje 27% gekry. Ook in talle ander lande, by name Italië, Denemarke, Hongarye, Swede, Pole, Finland, Griekeland en selfs in die pro-EU Duitsland het partye wat anti-EU gekant is, goed gevaar. Kommentators het gepraat van ‘n “aardbewing”, veral met die oog op Frankryk en Brittanje.

Daar is egter ‘n paar woorde ter versombering: die oorgrote meerderheid van die verkose verteenwoordigers behoort nog steeds aan partye wat meer en vinniger Europese vereniging voorstaan. Die verskeidenheid nasionalistiese en eurokritiese partye vorm nie ‘n eenvormige blok nie, wat hulle invloed beperk. Die suksesse wat behaal is deur partye soos die FN en UKIP behoort nie noodwendig in nasionale verkiesings herhaal te word nie want kiesers is in Europese verkiesings geneig om “roekeloos” te stem omdat die Europese parlement min direkte invloed het. Verder sit sowel Frankryk asook Groot-Brittanje met die kiesafdelingstelsel, wat beteken dat in uitklopverkiesings die ander partye saamstaan teen die FN en UKIP en die partye min setels in die nasionale parlemente kry. UKIP het tans nie een setel in die Britse Laerhuis nie en die FN, ten spyte van ‘n goeie vertoning persentasiegewys, het net enkele setels in die Franse Parlement. Daar is ook geensins ‘n natuurlike bondgenootskap tussen al die euroskeptiese partye nie. Dié wat gematig regs is, probeer so ver as moontlik afstand kry van diegene wat uitgesproke verregs is. Daar is ook ‘n hele paar linksradikale anti-EU-partye wat aan die ander kant van die spektrum sit en ook geen blok met regse partye sal vorm nie.

Vir ons as Oraniërs was dit veral jammer dat die partye met wie ons sterk bande het en persoonlike vriendskappe deel, die Vlaams Belang (VB) in België en die Partij van de Vrijheid (PVV) in Nederland, swak vertoon het.

Ongeag daarvan was die onlangse Europese verkiesing ‘n aardskudding en het hard en duidelik die boodskap oorgedra dat Europese kiesers nie meer nie, maar minder van ‘n Europa wil sien en nie bereid is om hulle nasionale soewereiniteit in die hande van ‘n internasionale, onverkose kliek te oorhandig nie. Selfs al is dit onwaarskynlik dat die nasionalistiese en euroskeptiese partye in die volgende verkiesings in hulle lande die beheer oorneem, het hulle sukses gemaak dat hoofstroom konserwatiewe partye en selfs sosialistiese partye nou meer euroskepties en versigtiger vir onbeheerde immigrasie raak. Die aandrang op nasionale referendums oor die voortbestaan van die Euro en oor verdere oordra van magte na Brussels sal nou stukrag kry. In Frankryk het die sosialistiese regering as reaksie op die goeie vertoning van die FN afstand gedoen van die beoogde wet wat uitlanders uit nie-EU lande (veral mense uit Noord-Afrika) stemreg op munisipale vlak gee. Veral iemand soos die Britse Eerste Minister, Dawid Cameron, sal nou ‘n sterker argument hê teen die voorskriftelikheid en inmenging van die Europese Kommissie in Brittanje se interne sake en die aandrang op ‘n vervroegde referendum, wat reeds in die vooruitsig gestel is, sal sterker word. Dit is bemoedigend dat nasionale identiteit nog lewendig is en volke nie bereid is om in ‘n anonieme verbond op te gaan nie wat rondom niksseggende frases wat tot “Europese waardes” opgehemel word, gebou is.

Swart arbeid en swart sosialisasie

Volgens die selfverklaarde verligte, nierassige, geglobaliseerde meningsvormers wat hulle geld daarmee verdien om een anti-Afrikanerartikel of verhandeling na die ander te skryf, is die gewone Afrikaner rassisties omdat hy nie met swartes na ure sosiaal verkeer nie. Die Orania- Afrikaner is superrassisties, omdat hulle boonop ook in werkstyd en vir besigheid nie met swartes wil verkeer nie, aldus die redenasie.

Alhoewel ons weet dat dié soort redenasie onsin is, word talle mense, veral diegene wat nie die Suid-Afrikaanse opset ken nie, soos buitelanders, negatief teenoor die Afrikaner en Orania spesifiek beïnvloed en wil juis die plek van die “superrassiste” besoek  vir ‘n soort “koue rilling toerismeervaring”.

In Orania werk en leef ons toekomsgerig en wil ons ons nie in eindelose debate oor wit skuld en rassisme laat betrek nie, maar ons word keer op keer daarin ingesleep en moet standpunt inneem oor ons verhouding met swartmense en ons houding teenoor apartheid en rassisme.

Wat eerstens opval, is dat die apartheidbedeling, wat algemeen as besonder rassisties veroordeel word, kontak en wisselwerking tussen witmense en ander rasse op werksvlak toegelaat en later selfs bevorder het, maar natuurlik met die veronderstelling dat die witman die baas en die anderskleurige die ondergeskikte is. Sosiale verkeer was egter nie graag gesien nie en is ontmoedig, of selfs verbied.

Soos ons almal weet, het die vreemde verdeling van “arbeidskontak aanvaarbaar, sosiale kontak nie aanvaarbaar nie” nie gekeer dat die swartmense die mag in die land oorgeneem het nie.

Orania word daarvan beskuldig dat ons die niekonsekwentheid van apartheid konsekwent tot totale isolasie voer en geen kontak met vreemde rasse wil hê nie. Dit mag in sekere gevalle vir enkeles wat Orania toe kom selfs ‘n trekpleister wees, maar in vandag se tyd is die houding van ‘n soort “superapartheid” nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd onaanvaarbaar en maak ons kwesbaar en ‘n teiken.

Ons behoort die apartheidlogika soos bo beskryf, om te keer en te sê: kontak op arbeidsvlak is onaanvaarbaar, maar op sosiale vlak is dit wel aanvaarbaar. Immers is daar ‘n sterk motivering om nie van swart arbeid nie, maar van volkseie arbeid gebruik te maak wat ook nie-Oraniërs kan begryp. Deur volkseie arbeid skakel jy konflikte en misverstande uit wat ontstaan waar ‘n verskillende werksetieke en verskillende tale en gelowe opmekaar tref. Ten spyte van die lippetaal ten gunste van ‘n “multikulturele” werksplek lewer dit in praktyk geen toegevoegde waarde op nie, maar skep frustrasie en konflik en verlaag selfs produktiwiteit en effektiwiteit, byvoorbeeld as begrippe nie verstaan word nie en dit wat vir die een ‘n goedbedoelde grap is, vir die ander een ‘n persoonlike belediging is. Alhoewel dit om polities-korrekte redes selde luid verkondig word, is daar oorgenoeg bewyse om hierdie stelling te steun. Om in tye van wydverspreide Afrikanerarmoede vir jou eie mense werk te skep is ook iets wat verdedig kan word teenoor nie-Afrikaners, veral as die regering deur diskriminerende wetgewing swartmense bevoordeel. Om egter te probeer redeneer dat jy “uit beginsel” nie met ‘n swarte by een tafel kan sit en ‘n drankie kan drink nie, is van die begin af ‘n uitsiglose poging, en in elk geval onaanvaarbaar. In die werksopset is daar ‘n afhanklikheidsverhouding, in die kuieropset is dit ‘n verhouding van gelykheid.

Die apartheidredenasie was dat wanneer iemand jou ondergeskikte is, hy jou nie bedreig nie want hy vat nie jou werk nie en bedreig nie jou ekonomiese mag nie. Wat tydens apartheid ten alle koste vermy moes word, was gelykheid, nie net op werksvlak nie, maar veral op sosiale vlak. Soos die ondervinding geleer het, was die ondergeskikte en onopgeleide werkers nietemin ‘n ekonomiese mag wat die land tot stilstand kon dwing.

Orania se strewe is nog nooit ondermyn deur swart gesagsfigure, amptenare, joernaliste of toeriste nie wat een keer in hulle lewe hierna toe kom, met Orania se verteenwoordigers vergader, iets saam eet en dan met ‘n positiewe houding weer wegry. Daarteenoor bedreig die vestiging van plase of nywerhede met swart werkers ons posisie wel. Vreemd genoeg is daar minder onmin oor laasgenoemde as oor eersgenoemde.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel