by Orania Beweging | Apr 20, 2020 | Uncategorized |
Dit is moeilik om ’n begrip te vorm van hoe hierdie ‘draaipunt in die geskiedenis’, soos dit genoem word, ons leefwêreld gaan struktureer vorentoe. Elke koerantartikel verkondig: Die wêreld gaan hierna heel anders wees. Hóé anders? Kan mens jou voorberei om ’n redelike bestaanswyse voort te sit? Kortom: hoe bid en werk mens in ’n onseker tyd soos hierdie?
Dalk is ons voete nog te diep in die wêreld vóór corona om ’n indruk te vorm oor hoe die pad vorentoe lyk. Diegene wat geliefdes verloor het, of wat honger of groot finansiële verliese ly, het dalk ’n beter prentjie. Wat bekend is, is dat die mensdom tans oënskynlik bedreig word deur ’n hoogs aansteeklike Covid-19 virus wat hoofsaaklik die mens se longe aantas. Dit kan dodelik wees vir sommige – veral diegene met onderliggende mediese toestande. Daar kan net bespiegel word oor hoeveel vlae en hoeveel mutasies van hierdie virus daar nog gaan wees. Die tyd sal leer.
Ons persoonlike ruimtes word toenemend binnegedring deur die gevolge. Miljoene is reeds geraak – hetsy deur die siekte self of ekonomiese gevolge. Terwyl regerings, gesondheidspersoneel, viroloë en wetenskaplikes druk aan die werk is om die virus hok te slaan, word daar terselfdertyd naarstiglik gekeer dat ekonomieë in duie stort.
Daar is nie ’n globale oplossing vir hierdie globale probleem nie. Die kritieke situasie wêreldwyd het uitgewys dat globalisasie nie rekening gehou het met die risiko van die verspreiding van ’n dodelik aansteeklike virus nie. Nuwe maniere van handeldryf en onderlinge verbande tussen volke en nasies moet bedink word om ’n herhaling te voorkom. Dit blyk nou onprakties en selfs fataal om van invoere afhanklik te wees via lang handelskettings van globale markte – veral wat noodsaaklike middele betref soos in die mediese- en landbousektor. Die onus rus op plaaslike gemeenskappe om eie inisiatief te neem om hulleself te beskerm teen die virus en om strategieë om ekonomiese oorlewing te vind.
Daar was gemeen dat die virus effektief gekeer sou kon word deur welwillendheid en saamstaan van die globale wêreld, maar geopolitieke faktore het die teendeel bewys. Selfs die EU-lande is teleurgesteld oor gebreke in onderlinge hulpverlening en ondersteuning, veral Italië. Die Serwiese premier noem die EU ’‘n sprokie’ in sy verwysing hierna. Krake in die verhoudinge tussen groot moonthede soos Amerika en China word groter en Amerika het ook sy bydrae aan die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek, terwyl China – Covid-19 se land van oorsprong – se betrokkenheid en bydrae tot hierdie fonds ondersoek word.
Alhoewel Covid-19 die spreekwoordelike strooi kan wees wat die kameel se rug breek vir ’n land met rommelstatus, soos Suid-Afrika, is nuwe groei en verandering ook nou ’n groter moontlikheid omdat gemaksones radikaal binnegedring word. Gewoonlik verander die status quo net as gemaksones geskud word en kreatiewe innovasie nuwe risiko’s moet beperk en resultate optimaliseer. Hier speel strukture soos Solidariteit, Sakeliga en soortgelyke private inisiatiewe toenemend ’n rol om gemeenskappe te mobiliseer om bv. buurtwagte en sakekamers in plek te kry en destabiliteit op plaaslike vlak teen te werk. Strukture wat basiese behoeftes soos huisvesting, kos-, water- en kragvoorsiening lewer, moet versterk word. Dieselfde geld vir strukture wat op veiligheid en sekuriteit gerig is en die sluiting van bondgenootskappe.
Met die ekonomiese knyp, lugrederye wat krimp en strenger toegangsmaatreëls tussen landsgrense, beleef geliefdes wat oor kontinente versprei is, die pyn van skeiding skielik baie meer akuut. Die vooruitsig dat ons virtueel ’n bruilof, doop of familiesaamtrek kan vier of kan begrafnis hou, is ’n skrale troos. Die keuse om te emigreer sal meer gewigtig wees omdat familiële samesyn en ondersteuning baie belangrik word.
Dit is ook ’n tyd vir besinning in hoeverre ’n gejaagde, materialistiese lewensstyl ons Christelike gesinne en gemeenskappe blootstel aan die tentakels van ’n sekulêre, globalistiese kultuur. Kan ons aanspraak maak op Godgegewe gesag en identiteit in ons gesinne en gemeenskappe en die geborgenheid daarvan geniet, as ons in realiteit dit versaak in ons keuse van ’n lewensstyl? Meer as wat ons wil erken, lê die verlies van gesag en identiteit soms aan die wortel van ’n ‘laissez faire’ lewenshouding in eie kring wat nie gerig is om goedheid, skoonheid en waarheid van die skepping na te streef nie.
Pandemies is nie onbekend aan die Christendom nie en het feitlik in elke geslag voorgekom. Die mense van Oberammergau, ’n dorp in Bavaria, Duitsland, het met die Buboniese plaag in 1633 tot God gebid en beloof dat as Hy hulle sal spaar, hulle elke 10 jaar die Passiespele sal opvoer. Ongeveer 84 mense was toe al dood. Nadat hulle gebid het, het niemand verder siek geword nie en die wat siek was, gesond. Sederdien kom hulle hulle gelofte getrou na behalwe enkele kere wat dit uitgestel was, byvoorbeeld tydens die Tweede Wêreldoorlog en ook tans, met die uitbreek van Covid-19. In Afrikanergeledere is dit ook nie ’n vreemde gedagte om ’n verbond met God sluit in benouende omstandighede nie. God openbaar Hom in die Christendom as ’n God wat individue, gemeenskappe, volke, nasies en tale aansien en op hulle hulpgeroep reageer.
Al sal daar nie sommer teruggekeer word na mikro-ekonomieë, bestaansekonomieë of lokalisme nie, het die hiperglobalisasie van die laaste dekades gewys dat die heil en materiële welvaart van die mensdom ook nie lê in die opbreek van ’n natuurlike sosiale kohesie en politieke bestaansreg, soos dit tradisioneel georden was nie. Hierdie virus kan die fragmentering van die globale idee dalk net bespoedig. Die spreekwoordelike pendulum het sy uitswaaipunt bereik en globalisme se blinde sambok stryk oor almal se rûe tot herbesinning. Dit gaan oor ’n markgerigte ekonomie waar gesonde kompetering en innoverende tegnologiese ontwikkeling aangemoedig word – hier verwys ek graag na die dorp, Orania, as voorbeeld. In wese gaan dit egter oor die kuns van lewe ten opsigte van wat goed, skoon en waar is in die skepping.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Apr 14, 2020 | Uncategorized |
Prima Batebestuur
Wilmie Geldenhuys
9/4/2020
Kredietgraderingsagentskappe fokus op staatskuldvlakke van lande om te bepaal of die lande se owerhede die finansiële vermoëns besit om hulle binnelandse- en buitelandse staatskuld te diens en te vereffen. Anders gestel, dit is die kredietwaardigheid van ’n land se owerheid om sy finansiële verpligtinge na te kom, wat beoordeel word. In hoofsaak is drie kredietgradeerders bedrywig in Suid-Afrika naamlik, Fitch, Moody’s en Standard & Poors.
Suid-Afrika is op 27 Maart 2020 afgegradeer na rommelstatus deur Moody’s vanaf Baa3 (beleggingsgradering met negatiewe uitkyk) na Ba1 (gemorsstatus met negatiewe uitkyk). Agt dae daarna het Fitch Suid-Afrika verder afgegradeer van BB+ (gemorsstatus met positiewe uitkyk) na BB (gemorsstatus met negatiewe uitkyk). Beide die agentskappe het die regering se vinnig stygende skuldvlakke as hoofrede vir die afgradering aangevoer. Lees onderstaande grafiek vir die verloop van Suid-Afrika se staatskuld as % van Bruto Binnelandse Produk (BBP).
SUID-AFRIKA SE STAATSKULD AS % VAN BBP
Verder is melding gemaak van Suid-Afrika se swak ekonomiese groei en resessionêre toestande van die laaste twee kwartale. Die grendelstaat wat tans in werking is en wat ekonomiese groei verder gaan skaad, het nie gehelp om die afgradering te verhoed nie. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank meen dat die Suid-Afrikaanse ekonomie met tussen 2 % tot 4 % kan krimp in reële terme oor die volgende twaalf maande.
Moody’s het drie jaar langer geneem as die ander twee kredietgradeerders om SA se staatseffekte af te gradeer. Bo en behalwe die owerheid se skuld is Moody’s tans verder bekommerd oor die owerheid se salarisrekening wat eksponensieel groei. Hierdie swak vermoë van die regering om sy besteding gedissiplineerd te bestuur moet spoedeisend vervang word met fiskale dissipline.
Suid-Afrika gaan moontlik miljarde rande in inkomstebelasting verloor as gevolg van die negatiewe invloed van die grendelstaat op individue en besighede se inkomste. Wat ’n verdere bekommernis is, is dat die owerheid geld in die ekonomie stoot om die resessie te neutraliseer, wat hulle nie het nie en moet leen. Moody’s verwag dat SA se skuldlas 91 % van BBP gaan wees teen 2023 teenoor die 62.2 % van BBP tans.
Lees onderstaande tabel wat die verskillende graderings aandui en verduidelik.
Invloed van die afgradering op SA
- SA se staatseffekte was deel van die FTSE World Government Bond Index, omdat ons staatskuld ’n beleggingsgradering geniet het. As gevolg van die beleggingsgradering wat verlaag is na rommelstatus, gaan SA se staatseffekte nie meer deel wees van hierdie indeks Gevolglik gaan buitelandse beleggers wat in die indeks belê, nie meer outomaties SA se staatseffekte koop nie. Die effek hiervan is dat die staat se rentekoste op staatskuld verhoog word, omdat uitleners nou hoër rente vereis vir die groter risiko wat hulle neem.
- Die Koronavirus pandemie het veroorsaak dat buitelandse beleggers al voor Moody’s se aankondiging begin het om Suid-Afrikaanse staatseffekte te verkoop. Na die afgradering het die buitelandse vraag na staatseffekte en die rand verder afgeneem, wat die depresiasie van die rand teenoor die VSA-dollar versnel het. Op een stadium was die rand so hoog as R19.39 teenoor die VSA-dollar.
- Die onsekerheid oor die Suid-Afrikaanse regering se betaalvermoë gaan netto kapitaalinvloeie na Suid-Afrika striem. Sover in 2020 het buitelanders R82 miljard se staatseffekte verkoop. Ons het die buitelandse valuta nodig om vir ons invoere te betaal. Dit kan ons ekonomiese groei verder aan bande lê.
- Soos in punt 1 verduidelik gaan buitelanders ’n hoër opbrengs (rente) op staatseffekte verlang, om beloon te word vir die hoër risiko’s wat nou verbonde is aan die effekte.
- Dit beteken dat ’n groter gedeelte van die regering se inkomste aan staatskuld bestee word en dat die belastingbetaler se fondse nie aangewend word vir infrastruktuur, medies, onderwys ens. nie.
- Die hoër rentekoers veroorsaak dat die regering meer fondse benodig om skuld sowel as basiese uitgawes te dek, wat weer kan lei tot verhoogde belastingkoerse.
- Ongelukkig is al Suid-Afrika se banke gekoppel aan die afgradering, Standard & Poors het tydens hulle afgradering gesamentlik 7 banke afgegradeer. Die meeste van ons banke genereer hulle inkomste hoofsaaklik in SA. Indien ’n bank afgegradeer is, leen hy geld teen ‘n hoër rentekoers uit aan die lener wat sy winsmarges negatief kan beïnvloed.
- Suid-Afrika voer baie van sy verbruikersgoedere en -dienste in van oorsee. Die rand wat skerp depresieer veroorsaak dat ingevoerde goedere baie duurder raak wat binnelandse inflasie opwaarts kan druk. Dit kan veroorsaak dat verbruikers meer vir hulle goedere en dienste sal betaal.
Die heersende marktoestande is egter glad nie normaal nie
Hierdie afgradering het geskied in ’n baie deurmekaar tyd wat tans wêreldwyd heers. Die fokus op die Coronavirus en die hantering daarvan deur verskillende lande, het vir eers die aandag van die afgradering weggeneem.
Lande met sterker ekonomieë het hulle hele rentekoerskurwe verlaag vir ekonomiese verligting. Party lande se staatseffekte het ’n rentekoers van naby 0 %. Dit sluit Amerika in waar die 5-jaar staatseffekte ’n rente-opbrengs van 0.462 % per jaar het. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika, want ons 5-jaar staatseffekte lewer tans ’n rente-opbrengs van 10.025 % per jaar. Sodra die Coronavirus histerie tot ’n einde kom, kan buitelandse beleggers wat opsoek is na rente-opbrengste in staatseffekte, Suid-Afrika se staatseffekte moontlik aantreklik vind.
Die Suid-Afrikaanse Tesourie is egter nogsteeds besorg, want buitelandse beleggers besit ongeveer 37 % van die totale binnelandse staatseffekte. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, verwag dat daar ’n drastiese afname in hierdie persentasie sal wees wat meer kapitaal uit die land kan laat vloei.
Wat die langtermyn effek van die afgradering op die ekonomie sal wees, hang uitsluitlik af van wat die Suid-Afrikaanse regering bereid is om op die fiskale kant te doen. Gaan hulle staatsbesteding en –salarisse sny om sodoende staatskuld oor tyd af te bestuur of gaan hulle voortgaan met ’n ongedissiplineerde fiskale beleid?
Prima Batebestuur is ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer, met FDV-nommer 31963.
Prima Batebestuur fokus op die diskresionêre beleggingsbestuur van beleggingsportefeuljes en aftreeprodukte wat blootstelling het aan finansiële produkte en instrumente en kollektiewe beleggingskemas.
Kontak Prima Batebestuur by 053 207 0106 of stuur ‘n e-pos na inligting@primabatebestuur.co.za
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Apr 13, 2020 | Uncategorized |
Deur Victor Correia
Etenstyd
Hoewel huisgodsdiens die belangrikste is, is dit raadsaam om die dag te begin met ’n goeie maaltyd. Kindertjies wat nog nie weet hoe om vir hulself te sorg nie, is gewoonlik na ’n lang nagrus baie honger. Etenstyd gaan oor meer as net jou maag. Dit is oor die algemeen ’n geleentheid om as gesin saam te wees, goeie maniere te leer en die tyd saam te geniet. Met kindertjies gaan dit maar rof. Daar beland soms meer kos op die grond as in kinders se magies, maar dit is altyd groot vreugde om te sien hoe die grootste trane kan opdroog as kinders begin smul aan ’n heerlike bord kos. Begin dus die dag met ’n heerlike bord kos.
Huisgodsdiens
’n Mens moet jou dag reg begin, maar met kinders is dit soms ’n groot uitdaging. Wanneer ’n mens se lewe gejaag is, word dit maklik afgeskeep. In grendeltyd het ons nie ’n verskoning om nie saam as gesinne Bybel te lees, te bid en ja, ook saam te sing nie. Tydens huisgodsdiens word die Woord van God in ons kinders ingeskerp. Waardes word hierdeur van een geslag na die volgende oorgedra. Na huisgodsdiens is daar geleentheid om daaroor te praat, gesinskonflik te bespreek en voortdurend selfondersoek te doen. Ouers wat nie erns maak met huisgodsdiens nie, moet nie verbaas wees as hul kinders eendag self nie erns met hul godsdiens maak of die geloof afsê nie.
Werktyd
Met ’n vol maag en roepingsbewustheid wat deur huisgodsdiens opgeskerp is, kan die werkdag aangepak word. Hoewel grendeltyd sekerlik ’n groot impak op mense se gewone werksaamhede het, kan die tyd ’n uiters produktiewe tyd wees. Ons maak ’n groot fout om te dink dat mense nie effektief van die huis af kan werk nie. Mense wat ’n roepingsbesef het, kan dalk selfs meer produktief in hul eie huise wees as wat hul by die werkplek sou wees. Hoewel sommige mense ’n baas nodig het om om te sien na hul werk, moet dit nie veralgemeen word nie. Die 8-5 werkdag is heel moontlik nie meer vir almal die beste manier om te werk nie. Wie kan in elk geval konstant kwaliteit werk lewer?
Indien iemand regtig effektief wil werk, kan dit in verskillende werksessies opgebreek word. In plaas van die 8-5 werkdag kan ’n werkdag in verskillende sessies opgedeel word. Ma en pa kan mekaar aflos. Terwyl die een ’n breek vat kan die ander een werk. So gesien is ’n mens feitlik heeltyd by die werk, maar ook heeltyd by die huis. Diegene wat meen dat dit nie waar is nie, moet nie vergeet van die twee ure wat elke dag in verkeer verlore gaan as ’n mens ’n vaste werksadres het nie.
Speeltyd
Die lewe van werk, werk en nogmaals werk kan sy tol eis. Buiten die feit dat dit nodig is om met jou kinders te speel, dien dit as noodsaaklike afleiding sodat jy weer ten volle op jou werk kan fokus wanneer jy weer daarmee begin. In plaas daarvan om ’n koffiebreek te neem en met ’n kollega by die werk oor koeitjies en kalfies te gesels, kan jy in jou breektyd met die kinders speel. Dit verlig die werkspanning sommer vinnig.
Opruimtyd
Nadat daar lekker deur die dag gespeel is, is dit tyd om op te ruim. Dit is hier belangrik om self op te ruim, want deur dit te doen sien kinders hulle ouers opruim en leer so. Selfwerksaamheid begin by die huis. Ouers wat hier vir hulle kinders die regte voorbeeld stel, sal spoedig sien dat hul kinders self hul deel in die huis begin doen. Kindertjies leer veral deur te sien wat hul ouers doen. Indien ouers self die dissipline aan die dag lê om hul eie huis skoon te maak gaan kinders leer om ook self skoon te maak. Die ouer wat self te lui is om skoon te maak, kan nie met gesag vir hul kinders beveel om hul kamers skoon te maak nie.
Veral as ’n mens ’n slegte werkdag agter die rug het, help dit om klein suksessies by die huis te behaal. Wanneer ’n kombuis, ’n tuin of ’n badkamer opgeruim word, verskaf dit tog ’n mate van werksvervulling. Op ’n sielkundige vlak is dit wel belangrik, omdat ’n mens ten spyte van die slegte werkdag met jou oë kan sien dat jy wel iets goed gedoen het.
Slaaptyd
Na ’n dag wat jy saam met jou kinders bestee het, is jy dalk pootuit. Maak dit deel van jou roetine om na die aandgodsdiens die kinders in die bed te sit. Lees ’n storie of doen iets wat vir julle gesin werk. Dit is nie ’n goeie idee om kinders voor die televisie aan die slaap te laat raak nie. Inteendeel, dit is bewys dat dinge soos selfone en TV-skerms se lig kinders langer kan laat wakker bly. Skakel dus eerder die huis se ligte af sodat almal kan rustig raak.
Grendeltyd
Grendeltyd het baie ouers gedwing om meer tyd saam as gesinne te bestee. Vir sommige was dit goed, maar vir ander heel sleg tot op hede. Vir dié wat dit geweldig uitdagend tot op hede ervaar het, is daar wel hoop. Die grendeltyd is nog nie verby nie en as dit tans sleg gaan moet ons eerlik vra of ons dalk nie self daartoe bydra nie.
Dit is nodig om in hierdie tyd oor ons gesinslewe te besin, want as ons kyk na die toename in egskeidings onder Afrikaners sê dit vir ons dat ons wel dinge het om reg te stel. Een ding wat ons definitief kan doen is om meer tyd as gesinne saam te bestee. Dalk word grendeltyd juis aan ons gegun sodat ons in die tyd gesinsverhoudinge kan versterk.
Kwantiteit troef kwaliteit tyd
Een van die mites wat daar oor ouerskap vertel word, is dat kwaliteittyd met kinders beter is as kwantiteit. Ouers wat dink dat hul heeldag kan werk en in die aand ’n paar ure kwaliteittyd saam met hul kinders kan bestee misgis hulself. Dit is juis kwantiteittyd wat vir kinders belangrik is. Kinders wil net hê hul ouers moet beskikbaar wees vir hulle. Natuurlik is dit goed om die tyd wat ’n mens saam is sinvol te benut, maar as ’n mens regtig wil weet wat die antwoord op die vraag is moet ons vir kinders self vra. “Kind, sou jy verkies om een uur kwaliteit tyd met jou ouers te bestee of tien gewone ure?” Kinders, wat sê julle?

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Apr 10, 2020 | Uncategorized |
Deur Ester le Roux
Met wêreldoorloë en pandemies hoop elkeen van ons dat die doodsengel nie sy uithoek van die aarde sal tref nie. Tog – dit tref ons.
Meeste van ons onthou ’n storie van die Groot Griep van 1918; of die Tweede Wêreldoorlog – van ’n graf of twee in die familiebegrafplaas; ʼn moeder wat vertel het hoe bang sy was oor die koshuis se ligte nie saans mag brand nie; van die Heil Hitler- en Huil Smuts-saluut, of andersom; of ’n storie van ’n familielid wat vertel het hoe hy as voortvlugtige onder ’n groot seeppot weggekruip het nadat sy vliegtuig afgeskiet was in Egipte!
Ja, ons voorvaders was al in soortgelyke lewensbedreigende situasies soos nou, met hierdie hoogs aansteeklike, gevaarlike griepvirus. Nooit het mens kon dink toe Lydenstyd veertig dae gelede op die Christelike kalender begin het, dat hierdie tyd waarlik ’n Lydenstyd sou word nie. Wêreldwyd bring dit weer ’n soort van solidariteit teweeg – tussen mens en mens, maar veral tussen die mens en God.
Daar is verskillende perspektiewe oor hoe pandemies die Covid-19 virus werklik is. Nietemin is dit ’n wekroep en by uitstek ’n goeie tyd om, uit watter volk, taal of nasie ookal, ons liefde vir God en ons medemens te verruim.
Daar is baie bedreiginge in die wêreld teen Christenwees, volkwees en gewoon menswees. Ons moet ons daagliks in omstandighede oriënteer tot oorlewing. Ons doen dit deur ons geloof en die uitleef van ons Christenskap in ons huise, kerke en in ons werk. Ook val die totstandkoming van Orania, Solidariteit en verwante organisasies en die installering van veiligheidshekke en alarms in hierdie kader. Prof Koos Malan, professor in Publieke Reg aan die Universiteit van Pretoria, sê nou die dag op een van Sakeliga se middaguurpraatjies, dat ons volk se burgerlike strukture van die bes georganiseerde in die wêreld is, onder andere omdat ons meer as twintig jaar gelede begin het om te organiseer vir ’n tyd van verval, soos waarin ons ons toenemend bevind.
Hierdie onsigbare virus laat die mens weerloos op vele fronte. Dit kan ons dodelik siek maak, dit kan ons ekonomies knak en dit kan ons slagoffers van drakoniese maatreëls maak, as ’n regering sy mag wil misbruik in hierdie tyd.
Hoe oriënteer ons ons in hierdie tyd van Covid-19? Dit beteken onder andere afsondering, maskers dra, hande was en vitamine C drink, maar die feit is: mens kan jou voorberei tot op ’n punt deur te bid en te werk en daarna is jy weerloos met net jou geloof dat God in beheer is van jou en jou dierbares se lewe en die hele wêreld.
Alhoewel ons weet uit die Woord dat die kind van God in hierdie oënskynlike weerloosheid op sy sterkste is, wil mens nie sommer die dood en ellende in die oë kyk nie. Dis menslik. Vandaar word na iemand se dood, ná aan jou, dikwels as ’n ʽwekroep’ verwys omdat jy gedwing word om die dood persoonlik in die oë te kyk en jouself te oriënteer tot die ewige lewe. Dit sluit in om jou saak reg te maak met jou Skepper en by implikasie, ook met jou medemens. Hoeveel keer het ons nie van die kansel af of met huisgodsdiens gehoor nie: Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu, al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol (Jesaja 1 vers 18).
In hierdie week het ons Lydensweek gedenk wat uitloop op ons Heer se kruisiging op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag – die wese van die Kerk van Christus op aarde. Hoe stap ons die kruispad as volgelinge van Christus in hierdie tyd? Ene Flannery OʼConnor, ’n Amerikaanse skryfster, het gewoon gesê: “You have to cherish the world at the same time you struggle to endure it.” Hierin het ons ’n volmaakte voorbeeld in Christus: Hy was sy dissipels se voete, gee aan hulle laaste onderwysings, bid inniglik tot sy Vader vir hulle en in die aangesig van die dood en in oënskynlike Godverlatenheid bid Hy: Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Sodoende absorbeer Hy die veragtelikste vorm van verraad, geweld, smaad en verwerping – letterlik, die hel en Satan – en in die proses ontwapen en laat Hy die mens weerloos teen sy onbaatsugtige liefde, sy verlossing uit sonde, siekte en dood. Hierdie ‘ontwapening’ was so effektief dat dit sommer onder die kruis al vrug gedra het deurdat die soldate wat sy klere verdeel en Hom gedood het, tot geloof kom het. Die Judasweg is om dit nie te sien en sy liefde te aanvaar nie.
Niks is toevallig nie, glo ons as Christene. Christus het as volmaakte Paasofferlam met Paasfees vir ons gesterf tydens die Pasga wat in Moses se tyd ingestel was. Dit is ook nie toevallig dat ons in hierdie Paastyd oorval is met die realiteit van weerloosheid, lyding en dood nie. Dit is ’n klokhelder wekroep tot Christusliefde en geestelike verryking en verruiming. Laat ons antwoord op Sy roepstem.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
by Orania Beweging | Apr 7, 2020 | Uncategorized |
Wat leer COVID-19 ons oor magverspreiding?
Deur Tiaan Theron
Hoekom kan ons nie almal net verstaan en saamwerk en maak soos die president van ons vra en by ons huise bly en die inperkingsreëls gehoorsaam nie, en, en, en… ?
Wel, daar sal seker baie verskillende antwoorde op die vraag kan wees wat sal strek van burgerlike ongehoorsaamheid tot by praktiese onuitvoerbaarheid.
Vir my lê die antwoord op ʼn veel dieper vlak.
Kom ons kyk na Noord-Europa, ‘n streek wat bestaan uit 10 state met ʼn oppervlak en bevolkingsgrote rofweg 40% groter as SA. As ons die onbewoonbare ys streke weglaat kan ons die twee scenario’s goed vergelyk.
Veronderstel nou die president van Swede het sy land se maatreëls met betrekking tot Covid 19 op die ander 9 state in die streek probeer afdwing, hoeveel burgerlike gehoorsaamheid sou ons kon verwag?
Dit is nou in ʼn sogenaamde eerste wêreld omgewing en in vergeleke met SA, relatiewe homogene bevolkings. Almal hoë opvoedingspeile met hoë geskooldheid- en inkomste vlakke en tog uiteenlopende standpunte en sienswyses wat soms lynreg teenoor mekaar opgestel is.
Tenspyte van die ekonomiese geïntegreerde aard van die streek kies die verskillende bevolkingsgroepe in die onderskeie state steeds om self te besluit hoe hul gaan reageer op die krisis wat hul bedreig. Die eens magtige EU het skielik op die agtergrond geskuif en besluitneming is oornag gedesentraliseer met regerings wat die belange van hul state en plaaslike bevolkings vooropstel.
Die Suid-Afrikaanse werklikheid roep ten hemele vir presies daardie werkswyse. Een wat neerkom op die afwenteling van mag met stippellyn-grense wat groter jurisdiksie sal verleen aan plaaslike owerhede en nee, nie daardie tipe owerhede wat grense manipuleer en slegs geboortesyfers en demografie verreken nie, maar een wat wel geskoei is op identiteit en doeltreffend die uiteenlopende aard van belange en behoeftes akkommodeer.
Met so n federale grondslag wat ons besluitneming onderlê, sal SA ontdek dat sy praktiese uitdagings nie onoorkombaar en sy burgers nie so ongehoorsaam is nie.
Die idee van “presidente” wat alles vir almal moet wees het uitgeloop, die Sjinese kiem het dit kom uitwis.
Intussen, pas julle self op en bly gesond en weet daar is wel een plek onder die Afrika-son wat nie wag vir ander om besluitnemings-bevoegdheid na hul af te wentel nie, hulle neem dit, met of sonder toestemming, self op… Dankie Orania!

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie