Prima Batebestuur
Wilmie Geldenhuys
9/4/2020
Kredietgraderingsagentskappe fokus op staatskuldvlakke van lande om te bepaal of die lande se owerhede die finansiële vermoëns besit om hulle binnelandse- en buitelandse staatskuld te diens en te vereffen. Anders gestel, dit is die kredietwaardigheid van ’n land se owerheid om sy finansiële verpligtinge na te kom, wat beoordeel word. In hoofsaak is drie kredietgradeerders bedrywig in Suid-Afrika naamlik, Fitch, Moody’s en Standard & Poors.
Suid-Afrika is op 27 Maart 2020 afgegradeer na rommelstatus deur Moody’s vanaf Baa3 (beleggingsgradering met negatiewe uitkyk) na Ba1 (gemorsstatus met negatiewe uitkyk). Agt dae daarna het Fitch Suid-Afrika verder afgegradeer van BB+ (gemorsstatus met positiewe uitkyk) na BB (gemorsstatus met negatiewe uitkyk). Beide die agentskappe het die regering se vinnig stygende skuldvlakke as hoofrede vir die afgradering aangevoer. Lees onderstaande grafiek vir die verloop van Suid-Afrika se staatskuld as % van Bruto Binnelandse Produk (BBP).
SUID-AFRIKA SE STAATSKULD AS % VAN BBP
Verder is melding gemaak van Suid-Afrika se swak ekonomiese groei en resessionêre toestande van die laaste twee kwartale. Die grendelstaat wat tans in werking is en wat ekonomiese groei verder gaan skaad, het nie gehelp om die afgradering te verhoed nie. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank meen dat die Suid-Afrikaanse ekonomie met tussen 2 % tot 4 % kan krimp in reële terme oor die volgende twaalf maande.
Moody’s het drie jaar langer geneem as die ander twee kredietgradeerders om SA se staatseffekte af te gradeer. Bo en behalwe die owerheid se skuld is Moody’s tans verder bekommerd oor die owerheid se salarisrekening wat eksponensieel groei. Hierdie swak vermoë van die regering om sy besteding gedissiplineerd te bestuur moet spoedeisend vervang word met fiskale dissipline.
Suid-Afrika gaan moontlik miljarde rande in inkomstebelasting verloor as gevolg van die negatiewe invloed van die grendelstaat op individue en besighede se inkomste. Wat ’n verdere bekommernis is, is dat die owerheid geld in die ekonomie stoot om die resessie te neutraliseer, wat hulle nie het nie en moet leen. Moody’s verwag dat SA se skuldlas 91 % van BBP gaan wees teen 2023 teenoor die 62.2 % van BBP tans.
Lees onderstaande tabel wat die verskillende graderings aandui en verduidelik.Invloed van die afgradering op SA
- SA se staatseffekte was deel van die FTSE World Government Bond Index, omdat ons staatskuld ’n beleggingsgradering geniet het. As gevolg van die beleggingsgradering wat verlaag is na rommelstatus, gaan SA se staatseffekte nie meer deel wees van hierdie indeks Gevolglik gaan buitelandse beleggers wat in die indeks belê, nie meer outomaties SA se staatseffekte koop nie. Die effek hiervan is dat die staat se rentekoste op staatskuld verhoog word, omdat uitleners nou hoër rente vereis vir die groter risiko wat hulle neem.
- Die Koronavirus pandemie het veroorsaak dat buitelandse beleggers al voor Moody’s se aankondiging begin het om Suid-Afrikaanse staatseffekte te verkoop. Na die afgradering het die buitelandse vraag na staatseffekte en die rand verder afgeneem, wat die depresiasie van die rand teenoor die VSA-dollar versnel het. Op een stadium was die rand so hoog as R19.39 teenoor die VSA-dollar.
- Die onsekerheid oor die Suid-Afrikaanse regering se betaalvermoë gaan netto kapitaalinvloeie na Suid-Afrika striem. Sover in 2020 het buitelanders R82 miljard se staatseffekte verkoop. Ons het die buitelandse valuta nodig om vir ons invoere te betaal. Dit kan ons ekonomiese groei verder aan bande lê.
- Soos in punt 1 verduidelik gaan buitelanders ’n hoër opbrengs (rente) op staatseffekte verlang, om beloon te word vir die hoër risiko’s wat nou verbonde is aan die effekte.
- Dit beteken dat ’n groter gedeelte van die regering se inkomste aan staatskuld bestee word en dat die belastingbetaler se fondse nie aangewend word vir infrastruktuur, medies, onderwys ens. nie.
- Die hoër rentekoers veroorsaak dat die regering meer fondse benodig om skuld sowel as basiese uitgawes te dek, wat weer kan lei tot verhoogde belastingkoerse.
- Ongelukkig is al Suid-Afrika se banke gekoppel aan die afgradering, Standard & Poors het tydens hulle afgradering gesamentlik 7 banke afgegradeer. Die meeste van ons banke genereer hulle inkomste hoofsaaklik in SA. Indien ’n bank afgegradeer is, leen hy geld teen ‘n hoër rentekoers uit aan die lener wat sy winsmarges negatief kan beïnvloed.
- Suid-Afrika voer baie van sy verbruikersgoedere en -dienste in van oorsee. Die rand wat skerp depresieer veroorsaak dat ingevoerde goedere baie duurder raak wat binnelandse inflasie opwaarts kan druk. Dit kan veroorsaak dat verbruikers meer vir hulle goedere en dienste sal betaal.
Die heersende marktoestande is egter glad nie normaal nie
Hierdie afgradering het geskied in ’n baie deurmekaar tyd wat tans wêreldwyd heers. Die fokus op die Coronavirus en die hantering daarvan deur verskillende lande, het vir eers die aandag van die afgradering weggeneem.
Lande met sterker ekonomieë het hulle hele rentekoerskurwe verlaag vir ekonomiese verligting. Party lande se staatseffekte het ’n rentekoers van naby 0 %. Dit sluit Amerika in waar die 5-jaar staatseffekte ’n rente-opbrengs van 0.462 % per jaar het. Dit is goeie nuus vir Suid-Afrika, want ons 5-jaar staatseffekte lewer tans ’n rente-opbrengs van 10.025 % per jaar. Sodra die Coronavirus histerie tot ’n einde kom, kan buitelandse beleggers wat opsoek is na rente-opbrengste in staatseffekte, Suid-Afrika se staatseffekte moontlik aantreklik vind.
Die Suid-Afrikaanse Tesourie is egter nogsteeds besorg, want buitelandse beleggers besit ongeveer 37 % van die totale binnelandse staatseffekte. Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, verwag dat daar ’n drastiese afname in hierdie persentasie sal wees wat meer kapitaal uit die land kan laat vloei.
Wat die langtermyn effek van die afgradering op die ekonomie sal wees, hang uitsluitlik af van wat die Suid-Afrikaanse regering bereid is om op die fiskale kant te doen. Gaan hulle staatsbesteding en –salarisse sny om sodoende staatskuld oor tyd af te bestuur of gaan hulle voortgaan met ’n ongedissiplineerde fiskale beleid?
Prima Batebestuur is ’n gemagtigde finansiële diensteverskaffer, met FDV-nommer 31963.
Prima Batebestuur fokus op die diskresionêre beleggingsbestuur van beleggingsportefeuljes en aftreeprodukte wat blootstelling het aan finansiële produkte en instrumente en kollektiewe beleggingskemas.
Kontak Prima Batebestuur by 053 207 0106 of stuur ‘n e-pos na inligting@primabatebestuur.co.za
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.