fbpx

Deur Ester le Roux

Met wêreldoorloë en pandemies hoop elkeen van ons dat die doodsengel nie sy uithoek van die aarde sal tref nie. Tog – dit tref ons.

Meeste van ons onthou ’n storie van die Groot Griep van 1918; of die Tweede Wêreldoorlog – van ’n graf of twee in die familiebegrafplaas; ʼn moeder wat vertel het hoe bang sy was oor die koshuis se ligte nie saans mag brand nie; van die Heil Hitler- en Huil Smuts-saluut, of andersom; of ’n storie van ’n familielid wat vertel het hoe hy as voortvlugtige onder ’n groot seeppot weggekruip het nadat sy vliegtuig afgeskiet was in Egipte!

Ja, ons voorvaders was al in soortgelyke lewensbedreigende situasies soos nou, met hierdie hoogs aansteeklike, gevaarlike griepvirus. Nooit het mens kon dink toe Lydenstyd veertig dae gelede op die Christelike kalender begin het, dat hierdie tyd waarlik ’n Lydenstyd sou word nie. Wêreldwyd bring dit weer ’n soort van solidariteit teweeg – tussen mens en mens, maar veral tussen die mens en God.

Daar is verskillende perspektiewe oor hoe pandemies die Covid-19 virus werklik is. Nietemin is dit ’n wekroep en by uitstek ’n goeie tyd om, uit watter volk, taal of nasie ookal, ons liefde vir God en ons medemens te verruim.

Daar is baie bedreiginge in die wêreld teen Christenwees, volkwees en gewoon menswees. Ons moet ons daagliks in omstandighede oriënteer tot oorlewing. Ons doen dit deur ons geloof en die uitleef van ons Christenskap in ons huise, kerke en in ons werk. Ook val die totstandkoming van Orania, Solidariteit en verwante organisasies en die installering van veiligheidshekke en alarms in hierdie kader. Prof Koos Malan, professor in Publieke Reg aan die Universiteit van Pretoria, sê nou die dag op een van Sakeliga se middaguurpraatjies, dat ons volk se burgerlike strukture van die bes georganiseerde in die wêreld is, onder andere omdat ons meer as twintig jaar gelede begin het om te organiseer vir ’n tyd van verval, soos waarin ons ons toenemend bevind.

Hierdie onsigbare virus laat die mens weerloos op vele fronte. Dit kan ons dodelik siek maak, dit kan ons ekonomies knak en dit kan ons slagoffers van drakoniese maatreëls maak, as ’n regering sy mag wil misbruik in hierdie tyd.

Hoe oriënteer ons ons in hierdie tyd van Covid-19? Dit beteken onder andere afsondering, maskers dra, hande was en vitamine C drink, maar die feit is: mens kan jou voorberei tot op ’n punt deur te bid en te werk en daarna is jy weerloos met net jou geloof dat God in beheer is van jou en jou dierbares se lewe en die hele wêreld.

Alhoewel ons weet uit die Woord dat die kind van God in hierdie oënskynlike weerloosheid op sy sterkste is, wil mens nie sommer die dood en ellende in die oë kyk nie. Dis menslik. Vandaar word na iemand se dood, ná aan jou, dikwels as ’n ʽwekroep’ verwys omdat jy gedwing word om die dood persoonlik in die oë te kyk en jouself te oriënteer tot die ewige lewe. Dit sluit in om jou saak reg te maak met jou Skepper en by implikasie, ook met jou medemens. Hoeveel keer het ons nie van die kansel af of met huisgodsdiens gehoor nie: Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu, al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol (Jesaja 1 vers 18).

In hierdie week het ons Lydensweek gedenk wat uitloop op ons Heer se kruisiging op Goeie Vrydag en sy opstanding op Paassondag – die wese van die Kerk van Christus op aarde. Hoe stap ons die kruispad as volgelinge van Christus in hierdie tyd? Ene Flannery OʼConnor, ’n Amerikaanse skryfster, het gewoon gesê: “You have to cherish the world at the same time you struggle to endure it.” Hierin het ons ’n volmaakte voorbeeld in Christus: Hy was sy dissipels se voete, gee aan hulle laaste onderwysings, bid inniglik tot sy Vader vir hulle en in die aangesig van die dood en in oënskynlike Godverlatenheid bid Hy: Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Sodoende absorbeer Hy die veragtelikste vorm van verraad, geweld, smaad en verwerping – letterlik, die hel en Satan – en in die proses ontwapen en laat Hy die mens weerloos teen sy onbaatsugtige liefde, sy verlossing uit sonde, siekte en dood. Hierdie ‘ontwapening’ was so effektief dat dit sommer onder die kruis al vrug gedra het deurdat die soldate wat sy klere verdeel en Hom gedood het, tot geloof kom het. Die Judasweg is om dit nie te sien en sy liefde te aanvaar nie.

Niks is toevallig nie, glo ons as Christene. Christus het as volmaakte Paasofferlam met Paasfees vir ons gesterf tydens die Pasga wat in Moses se tyd ingestel was. Dit is ook nie toevallig dat ons in hierdie Paastyd oorval is met die realiteit van weerloosheid, lyding en dood nie. Dit is ’n klokhelder wekroep tot Christusliefde en geestelike verryking en verruiming. Laat ons antwoord op Sy roepstem.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.