Dit is moeilik om ’n begrip te vorm van hoe hierdie ‘draaipunt in die geskiedenis’, soos dit genoem word, ons leefwêreld gaan struktureer vorentoe. Elke koerantartikel verkondig: Die wêreld gaan hierna heel anders wees. Hóé anders? Kan mens jou voorberei om ’n redelike bestaanswyse voort te sit? Kortom: hoe bid en werk mens in ’n onseker tyd soos hierdie?
Dalk is ons voete nog te diep in die wêreld vóór corona om ’n indruk te vorm oor hoe die pad vorentoe lyk. Diegene wat geliefdes verloor het, of wat honger of groot finansiële verliese ly, het dalk ’n beter prentjie. Wat bekend is, is dat die mensdom tans oënskynlik bedreig word deur ’n hoogs aansteeklike Covid-19 virus wat hoofsaaklik die mens se longe aantas. Dit kan dodelik wees vir sommige – veral diegene met onderliggende mediese toestande. Daar kan net bespiegel word oor hoeveel vlae en hoeveel mutasies van hierdie virus daar nog gaan wees. Die tyd sal leer.
Ons persoonlike ruimtes word toenemend binnegedring deur die gevolge. Miljoene is reeds geraak – hetsy deur die siekte self of ekonomiese gevolge. Terwyl regerings, gesondheidspersoneel, viroloë en wetenskaplikes druk aan die werk is om die virus hok te slaan, word daar terselfdertyd naarstiglik gekeer dat ekonomieë in duie stort.
Daar is nie ’n globale oplossing vir hierdie globale probleem nie. Die kritieke situasie wêreldwyd het uitgewys dat globalisasie nie rekening gehou het met die risiko van die verspreiding van ’n dodelik aansteeklike virus nie. Nuwe maniere van handeldryf en onderlinge verbande tussen volke en nasies moet bedink word om ’n herhaling te voorkom. Dit blyk nou onprakties en selfs fataal om van invoere afhanklik te wees via lang handelskettings van globale markte – veral wat noodsaaklike middele betref soos in die mediese- en landbousektor. Die onus rus op plaaslike gemeenskappe om eie inisiatief te neem om hulleself te beskerm teen die virus en om strategieë om ekonomiese oorlewing te vind.
Daar was gemeen dat die virus effektief gekeer sou kon word deur welwillendheid en saamstaan van die globale wêreld, maar geopolitieke faktore het die teendeel bewys. Selfs die EU-lande is teleurgesteld oor gebreke in onderlinge hulpverlening en ondersteuning, veral Italië. Die Serwiese premier noem die EU ’‘n sprokie’ in sy verwysing hierna. Krake in die verhoudinge tussen groot moonthede soos Amerika en China word groter en Amerika het ook sy bydrae aan die Wêreldgesondheidsorganisasie onttrek, terwyl China – Covid-19 se land van oorsprong – se betrokkenheid en bydrae tot hierdie fonds ondersoek word.
Alhoewel Covid-19 die spreekwoordelike strooi kan wees wat die kameel se rug breek vir ’n land met rommelstatus, soos Suid-Afrika, is nuwe groei en verandering ook nou ’n groter moontlikheid omdat gemaksones radikaal binnegedring word. Gewoonlik verander die status quo net as gemaksones geskud word en kreatiewe innovasie nuwe risiko’s moet beperk en resultate optimaliseer. Hier speel strukture soos Solidariteit, Sakeliga en soortgelyke private inisiatiewe toenemend ’n rol om gemeenskappe te mobiliseer om bv. buurtwagte en sakekamers in plek te kry en destabiliteit op plaaslike vlak teen te werk. Strukture wat basiese behoeftes soos huisvesting, kos-, water- en kragvoorsiening lewer, moet versterk word. Dieselfde geld vir strukture wat op veiligheid en sekuriteit gerig is en die sluiting van bondgenootskappe.
Met die ekonomiese knyp, lugrederye wat krimp en strenger toegangsmaatreëls tussen landsgrense, beleef geliefdes wat oor kontinente versprei is, die pyn van skeiding skielik baie meer akuut. Die vooruitsig dat ons virtueel ’n bruilof, doop of familiesaamtrek kan vier of kan begrafnis hou, is ’n skrale troos. Die keuse om te emigreer sal meer gewigtig wees omdat familiële samesyn en ondersteuning baie belangrik word.
Dit is ook ’n tyd vir besinning in hoeverre ’n gejaagde, materialistiese lewensstyl ons Christelike gesinne en gemeenskappe blootstel aan die tentakels van ’n sekulêre, globalistiese kultuur. Kan ons aanspraak maak op Godgegewe gesag en identiteit in ons gesinne en gemeenskappe en die geborgenheid daarvan geniet, as ons in realiteit dit versaak in ons keuse van ’n lewensstyl? Meer as wat ons wil erken, lê die verlies van gesag en identiteit soms aan die wortel van ’n ‘laissez faire’ lewenshouding in eie kring wat nie gerig is om goedheid, skoonheid en waarheid van die skepping na te streef nie.
Pandemies is nie onbekend aan die Christendom nie en het feitlik in elke geslag voorgekom. Die mense van Oberammergau, ’n dorp in Bavaria, Duitsland, het met die Buboniese plaag in 1633 tot God gebid en beloof dat as Hy hulle sal spaar, hulle elke 10 jaar die Passiespele sal opvoer. Ongeveer 84 mense was toe al dood. Nadat hulle gebid het, het niemand verder siek geword nie en die wat siek was, gesond. Sederdien kom hulle hulle gelofte getrou na behalwe enkele kere wat dit uitgestel was, byvoorbeeld tydens die Tweede Wêreldoorlog en ook tans, met die uitbreek van Covid-19. In Afrikanergeledere is dit ook nie ’n vreemde gedagte om ’n verbond met God sluit in benouende omstandighede nie. God openbaar Hom in die Christendom as ’n God wat individue, gemeenskappe, volke, nasies en tale aansien en op hulle hulpgeroep reageer.
Al sal daar nie sommer teruggekeer word na mikro-ekonomieë, bestaansekonomieë of lokalisme nie, het die hiperglobalisasie van die laaste dekades gewys dat die heil en materiële welvaart van die mensdom ook nie lê in die opbreek van ’n natuurlike sosiale kohesie en politieke bestaansreg, soos dit tradisioneel georden was nie. Hierdie virus kan die fragmentering van die globale idee dalk net bespoedig. Die spreekwoordelike pendulum het sy uitswaaipunt bereik en globalisme se blinde sambok stryk oor almal se rûe tot herbesinning. Dit gaan oor ’n markgerigte ekonomie waar gesonde kompetering en innoverende tegnologiese ontwikkeling aangemoedig word – hier verwys ek graag na die dorp, Orania, as voorbeeld. In wese gaan dit egter oor die kuns van lewe ten opsigte van wat goed, skoon en waar is in die skepping.
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
Baie goed gestel. Die feit dat globalisme as “manier van lewe” gekniehalter word en moontlik kan verdwyn met tyd as nuwe orde wat die afgelope paar dekades al voorgehou word as die toekoms van bestaansreg, is ‘n goeie ding in my oë. Die tyd van weer besef wat is en wat was en wat kan wees is broodnodig. Sonder om selfgesentreerd voor te kom word gemeenskappe en volke nou weer herrinner aan die “eie”. Europa en die moontlike opbreek van die EU is ‘n sprekende voorbeeld. Patriotisme in onderlinge lande soos Griekeland, Hongarye ens is sterker as ooit. Orania het stappe geneem 30 jaar terug al wat eintlik vandag binne die groter prentjie van die epidemie bewys word as die regte rigting. Self onderhoud en versekering van voortbestaan het nie altyd slegs ‘n politieke hoek nie.
Ek stem 100% saam, vele wêreld leiers sê dat die wêreld nooit weer dieselfde gaan wees nie, en somiges meen die virus is hier om te bly, dit is immers feite.
Die hele inperkings proses sowel as die nalatenskap van die SA regeering om nie gou genoeg vlugte vanuit die buite te blokeer nie, het die land in duie laat stort in eknomiese en sosiale opsigte.