deur Karin Bain

Dit is tyd vir migrasie in Suid-Afrika. Elke goeie Afrikaner kan dit op die punte van sy vere voel. Die son skyn nie meer so sonnig in Afrika nie, die windjie raak skraal en die uitgestrekte vlaktes raak nou. Dit raak tyd vir trek. Terwyl jy dink aan migreer en daaroor begin wonder, kan jy die wye vlaktes van die Karoo langs die grote Oranjerivier oorweeg. Dis die ideale plek om ’n nes te bou!

Vir ’n geruime tyd het ons in ons huis gesels oor trek. Die vraag wat ons moes beantwoord was: Waar wil die Here hê ons moes wees? Waar moet ons Hom dien? Elke mens en elke gelowige het ’n plek. Roeping is nie net individueel nie, maar dis ook plekgebonde. Jy leef jou roeping uit op ’n stukkie aarde waar dit vir die Here goed en aanneemlik is.

Toe ons inpak vir die groot trek het ons, ons vere uitgekies, want Orania het net twee seisoene: Winter en Somer. Wees dus gereed as jy hier kom woon om genoeg jasse en oorgenoeg koel klere te bring. Hier is maar min herfs en lente. Moenie dink dat jy nooit gaan natreën nie, want hier is ’n reënseisoen met stormwinde en donderweer. Dit is immers waar die plaas langs Orania, Waai-my-om, sy naam kry. Ten minste kan al die vere waai wat jy vir “eendag” opgaar.

Gelukkig het jy min riete en grashalms nodig om jou huis te bou. Orania is die dorp van eenvoud: kleiner huise, minder keuses. Die boukoste is sekerlik duur, maar dis nie die grootste rede nie. As jy hier kom bly laat jy al jou argitektoniese fieterjasies agter. Gange, voorportale en ’n spoggerige sitkamer vir die dominee, is van die dinge wat geld gaan gebruik wat jy baie beter kon aanwend. Jy kan dit eerder aan ’n sterk lugversorger en ’n groot sonkragbattery bestee.

Die luie Piet-my-vrou wat nie sy eie huis kan bou en sy eie werk kan doen nie, gaan dit moeilik vind. Jy gaan jou eie huis moet bou en aan die kant hou. Sommige trekvoëls is bekommerd dat hulle nie dit sal regkry nie. Hoe werk dit as jy self werk? Dit is maklik en jy hoef nie te dink dat jou vlerke geknip sal word nie. Elkeen is selfstandig en pluk sy eie gras om ’n mooi huis te bou. Daar is wel ’n stukkie bemoediging: Daar is baie bouers, nutsmanne en ander mense wat hier werk en dienste lewer. Jy sal nie versukkeld wees nie. Die wonderlikste van eie arbeid is dat as jy iets nuuts wil aanpak is hierdie die plek om dit te doen. Jy kan jou entrepreneuriese vaardighede vrye teuels gee.

Toe ek hier begin kruideniersware en ander noodsaaklike items koop, het ek tot my verbasing agtergekom dat jy omtrent alles kan kry wat jy nodig het. Hier is wel minder keuses in die winkels en minder skole. Ewe skielik kom jy agter dat dit lekker is om so vinnig dorp toe te gaan en dit is makliker om sommer in Orania te koop as om ver te ry en allerhande onnodige keuses voor jou te sien. Die internet het wel die winkels baie nader aan Orania gebring. As die inwoners op ’n Maandag die vullis uitsit, was ek verstom oor die hoeveelheid Takealot kartonne op die sypaadjies. So tussen aanlynwinkels en goeie winkeliers hoef jy nooit groot inkopiesentrums te mis nie.

’n Oraniër het oortollige bagasie agtergelaat en vlieg lig. Omdat die huise kleiner is, is die kaste ook kleiner en baie mense stoor die ekstra goed in vraghouers. Na ’n jaar of wat waarin hulle nooit in die houer gaan grawe het nie, is dit duidelik dat onnodige bagasie maar kon gebly het. As jy twyfel oor die vere wat uitgepluk moet word, kan jy darem gerus wees dat vraghouers ’n maklike uitweg is en amper almal stoor iets êrens.

Soos voëls in vrye vlug speel die kinders tot laat buite in die straat. Die sorgvrye lewe wat Oraniërs se kinders kry is baie meer werd as prag paleise en duur besittings. Saam met die vryheid wat hulle ontvang, ontwikkel hulle verantwoordelikheid vir hul eie doen en late. As jy jou kind skool toe neem en weer gaan haal en presies voorskryf wanneer hy waar moet wees, ontbeer jou kind die ontwikkeling van selfstandigheid. Wanneer ’n kind vry is om met ’n fiets te ry waar hy wil en self moet omsien na sy veiligheid, is dit die grootste geskenk wat ’n ouer aan ’n kind kan gee. Die verandering wat hierdie vryheid vir ons jongeling gebring het, kon ek al duidelik in die eerste week of twee sien.

Probleme kom ongelukkig saam. Baie mense dink dat as jy in Orania kom woon jy ’n nuwe blaadjie sal omslaan, jy oornag nuwe gewoontes sal aanleer en jy dat jy sondevry sal voortleef. Ongelukkig kom al jou probleme saam soos luise wat aan die duif se poot vasklou. As jy skuld het, afhanklik is van middels of lui is sal hierdie uitdagings saam met jou kom. Jy sal weer skuld aangaan, weer verslaaf raak en weer sonder werk sit. Dit is nie die plek waar die pot goud is nie. Dis die plek van werk met ’n wye visie, ’n hoë ideaal en ’n groter plan. Jy moet beslis nie kom om te vlug nie, maar om te bou sodat jy en jou nageslag sal sweef soos arende vry en onafhanklik.

En wat bring jy saam na ’n nuwe land met vryheid? Luister weer na die laaste woorde van Oom Paul Kruger aan ons volk: “Soek in die verlede alles wat goed en mooi is, wat daarin te ontdek is, vorm u ideaal daarna en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.”

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.

3 Comments

  1. Johan Botha

    Dit was nou lekker om die artiekel te lees! Ek vertel altyd vir vriende dat as jy besluit om te trek dan maak jy so sonder om terug te kyk. Ons het in Pretoria gewoon, het die klein dorpies rondom die Kaap oorweeg want misdaad is definitief minder daar. Ek het ook Orania baie oorweeg maar albei gevalle is steeds onder die korrupte onvoorspelbare SA regering wat my grensloos kwaad gemaak het. Daarom het ek SA totaal verlaat en ‘n tuiste gevind in ‘n ander land waarop ek vinning verlief geraak het. Hier is ek vry, sorgeloos en dis waar ek eendag begrawe wil word. Dink ek aan my geboorteland……die antwoord is JA…….maar die negatiewe oorskry die positiewe en dan dink ek weer vinnig hoe gelukkig ek is in my nuwe land.

    Reply

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

1 × five =