Deur Elbie Correia
Grendeltyd het baie uitdagings. Na vier weke is dit vir niemand meer ’n geheim nie. Ouers sowel as kinders kan hiervan getuig. Kinders moet heeldag tuis bly. Sommer oornag moet ouers die rolle van onderwysers oorneem en hul kinders tuis onderrig. En so begin die pret.
Gou besef ons ouers die groot en belangrike taak wat onderwysers by die skool vervul. Nie lank na grendeltyd begin het nie is sosiale media oorlaai met dankbetuigings en plasings wat respek toon teenoor onderwysers. Dis toe glad nie so maklik om kinders self te onderrig nie. En probleme is toe ook al die tyd nie noodwendig net die onderwyser se skuld nie.
Maar laat ons ook nie doekies omdraai nie. Dis moeilik om al die kinders heeldag by die huis te hê. Dis ’n stryd om jou eie werk gedoen te kry. En om nou nog te probeer sin maak van die kinders se skoolwerk daarmee saam, is werklik ’n uitdaging. Die meeste van ons is nie opgelei as onderwysers nie. Ouers wat wel onderwysers is, kan getuig dat om vir jou eie kind skool te gee, ’n perd van ’n heel ander kleur is.
Die skielike onderrig van kinders by die huis bied vir ons ouers bepaalde uitdagings. Tog is dit ook ’n baie geseënde tyd. Ons weet uit die Bybel dat ouers ons kinders se primêre opvoeders is. Dis ons taak om ons kinders op te voed. Ons word dalk nou gedwing om op terreine te beweeg wat nie in ons gemaksone is nie. En ja, selfs ’n Graad 3 wiskundesom kan intimiderend vir ouers wees.
Tog is daar ’n paar wenke wat ons ouers (en die kinders) bietjie verligting kan gee. Die eerste wenk is om ’n goeie roetine in te stel en daarby te hou. Om vroeg te gaan slaap, vroeg op te staan, gesond te eet en genoegsaam te oefen, bly maar die wenresep. Trek maar die pajamas uit en borsel julle tande voordat die skoolboeke gevat word. Waar jy as ouer van die huis af moet werk, probeer jou werkstye skeduleer sodat kinders weet dat hulle jou nie in dié tyd moet pla nie. Ma en pa kan mekaar ook aflos wanneer kinders besig gehou word.
Die tweede wenk is om goeie balans te handhaaf. Moet nie kinders oorlaai met skoolwerk nie. Kinders moet ook kinders wees en genoeg speel en oefen. Speel en oefen sommer saam met jou kind. Dit sal vir julle albei baie waardevol wees.
Ten derde moet kinders emosioneel ondersteun word en sosiaal bly. Kuier saam as gesin, maar gesels ook individueel met elke kind oor sy/haar diepste gevoelens. Kinders is emosionele wesens en het ’n groot behoefte aan emosionele ondersteuning. Veral vanaf hul ouers.
Laastens is daar goeie nuus. Ouers moet nie oorweldig voel nie. Moet ook nie dat die kinders se skoolwerk jou intimideer nie. Die “regte” onderwysers bly steeds hard aan die werk en is beskikbaar om hulp te verleen. Vra gerus jou kinders se onderwysers vir raad.
Het ek as ouer oornag ’n onderwyser geword? Dit voel dalk so en ja, skielik is ons meer by die kinders se skoolwerk betrokke en dit het bepaalde uitdagings. Maar weet tog dat die Here vir elke ouer, met die geboorte van hulle kinders, in wese onderwysers gemaak het. Onderwysers onder leiding van die Grootste Onderwyser, Jesus Christus. Elke dag word ons opgeroep om ons kinders in weë van die Here te onderrig. Deur tug en lering moet ons die wonderdade van die Here aan ons kinders oorvertel. Dit is ’n belangrike taak wat ewigheidswaarde het.
En die beste nuus van alles is dat ons dit nie deur ons eie krag hoef te doen nie. Deur gebed kan ons die Here vir krag, genade en wysheid smeek. Mag ons hieruit moed skep en die uitdagings aanpak. Die klein uitdagings kan nie opweeg teen die ewigheidswaarde wat die opvoedingstaak van ons kinders het nie.
Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.
Baie goed gestel!
Baie goed!