fbpx

Deur Ester le Roux

Elke oggend sien ek meer bloeisels aan die suurlemoenboom voor die kombuisvenster – spierwit met ‘n titsel ligroos. Werkerbye bly besig tussen die stuifmeeldrade en ‘n windjie dra die vars aroma diep die vertrek in. ‘n Goeie pluksel suurlemoene loer elke dag sonniger deur die loof – die voorvreug van ‘n paar bottels suurlemoenstroop op die rak. Ek hou die bedrywigheid dop en beny hulle stilweg. Gister op Werkersdag was soveel werkers tuis, sonder werk en met ‘n bleek toekoms van hoe om weer brood op die tafel te kry vir hulle gesinne.

Ordentlike werk word deur Pous Emeritus Benedict XVI omskryf as werk wat die wesenlike waardigheid van elke man en vrou uitdruk in die konteks van hul spesifieke samelewing: werk wat vrylik gekies word, wat werkers, mans sowel as vrouens, effektief in verband bring met die ontwikkeling van hul gemeenskap; werk wat die werker in staat stel om gerespekteer te word en vry te wees van enige vorm van diskriminasie; werk wat dit moontlik maak vir gesinne om in hul behoefte te voorsien en vir hul kinders skool te gee, sonder dat die kinders self tot arbeid gedwing word; werk wat die werkers toelaat om hulself vryelik te organiseer en hul stemme te laat hoor; werk wat genoeg ruimte laat vir die herontdekking van mens se wortels op ‘n persoonlike, familiële en geestelike vlak.

Op Werkersdag vanjaar is bogenoemde prentjie in totale chaos gedompel. Hoe het dit gebeur?

Einde verlede jaar was daar sterk sprake dat die wêreld vinnig besig is om in resessie in te gaan. Dit was onder andere toe te skryf aan die handelsoorloë tussen groot moondhede en is veral voor die deur gelê van Amerika se President Trump se aanslag op globalisasie, spesifiek gemik op China. Die Europese ekonomie – hoewel nog nie in resessie – het gestagneer. Suid-Afrika het teen einde 2019 vir die tweede keer in twee jaar in resessie gegaan en is vroeg vanjaar na rommelstatus afgradeer deur Moody’s.

Soos wat die globalistiese wêreldekonomie aangebied word het die vraag ontstaan of die werker se welsyn hoegenaamd tel – al blyk dit vanselfsprekend, met Werkersdag wat wêreldwyd hoog aangeprys en besing word. Een maatstaf om vas te stel wat die welsyn van die werker is en wat hy te wys het vir sy arbeid, is tog die stand van ‘n land- of lande se ekonomiese gesondheid.

Om alles te kroon breek Covid-19 uit in Wuhan, China en dompel die wêreld in chaos. ‘n Ekonomiese ineenstorting sonder weerga in moderne tye staar die wêreld in die gesig. Daaroor is ekonome dit eens. In die lig van die toenemende onderprestering van die globale ekonomie die afgelope jare kan die vraag gevra word of die oorsaak van die ineenstorting net voor die deur van Covid-19 gelê moet word en of dit net die laaste strooi was wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het.

Terwyl Amerika en Europese lande nog swaar dra aan gevolge van Covid-19, is China vinnig op die been met Covid-19-beheermaatreëls en daaropvolgende ekonomiese herstel. Europa volg Amerika in enstige betoeë en hofsake teen China vir aanspreeklikheid van enorme ekonomiese verliese en menslike lyding. Daar is ernstiger bedenkinge oor die wenslikheid van afhanklikheid van China vir invoere. ‘n Koerantopskrif verwoord wat die Westerse wêreld tot diepe nadenke stem: China wen derde Wêreldoorlog sonder om ‘n koeël af te vuur! ‘n Voortvarende globalistiese ekonomie het die Trojaanse perd geword wat die broodwinner, saam met sy afhanklikes, wêreldwyd ekonomies versmoor met ‘n onsigbare virus uit Wuhan. Dit laat die gebruiklike mooi woorde op Werkersdag soos leë simbale klink, want vir vele is dit nou elke dag Werkersdag – tuis, sonder werk en met gepaardgaande gevolge.

In Suid-Afrika is instansies soos Solidariteit, Sakeliga en ’n toenemende aantal privaatinstansies in hofsake met die Regering gewikkel oor die impak van Grendelstaatregulasies op besighede, om die aflegging van werkers en ’n dreigende hongersnood te verhoed. Mens neem waar dat selfs die slimstes en die mees visioenêres kleitrap. Hulle weet net nie. Hulle weet nie eers of die mens vir ses maande of sestig jaar of ‘n leeftyd immuniteit kan opbou teen die virus nie en of daar ooit ’n effektiewe entstof gevind sal word nie. Konvensionele maniere van ekonomiese aktiwiteit verloor betekenins en daar moet staatgemaak word op klein brokkies rigtingewende inligting om ‘n prentjie te vorm van wat aangaan en hoe om ekonomiese paaie uit die dilemma te vind.

Daar is geldige vrese dat staatsintervensie vir ‘n afsienbare tyd sal vergroot in persoonlike lewens en ekonomiese aktiwiteite, asook groter aandeelbesit in noodsaaklike geagte maatskappye wat uit bankrotskap gered word. Vir Suid-Afrika beteken groter staatsbetrokkenheid – van ’n staat met enorme staatskuld – groter inflasiekoerse en ’n rand wat swakker en swakker word solank inkomste ontbeer word uit internasionale uitvoere. Die ligpunt is dat hierdie krisis dalk groot genoeg sal wees vir die Regering om broodnodige veranderinge aan te bring en drastiese stappe te neem wat nodig is om die land weer op ‘n gesonde ekonomiese ontwikkelingskoers te plaas. Dit sal net kan gebeur as daar nuwe waardering is vir die werker en sy regmatige en eerbare rol aan hom toegeken word.

Wat sê die spreekwoord nou weer oor ‘as die lewe vir jou suurlemoene gee’? Hoop beskaam nie dat nuwe ekonomiese inisiatiewe deur vindingryke ekonome en entrepreneurs die ekonomie in Suid-Afrika en elders weer op ’n gesonde grondslag sal kry nie – met groot genade van Bo.

Die menings van die skrywers op die Oraniablog is nie noodwendig die menings van die Orania Beweging nie.