fbpx

deur Du Preez de Villiers

Die Latynse woord vir opera beteken werk. In die sin dat arbeid verrig is en resultate gelewer word. Dit is ook die meervoud van die woord, opus. Volgens die Oxford woordeboek is die woord opera die eerste keer in 1648 in Engeland gebruik om die taak, “composition in which poetry, dance and music are combined,” te beskryf. Dit was vier jaar voor Jan van Riebeeck aan die Kaap geland het.

Sedert die eerste uitvoering in 1598 in Florence, het opera vinnig regoor die Westerse wêreld versprei en ’n sleutel gedeelte van ons kultuur geword.

Die operastuk, L’Euridice, wat deur Jacopo Peri gekomponeer is, is die vroegste oorlewende opera. ’n Groot tragedie is dat sy eerste opera, Dafne, verlore geraak het – die verlies van hierdie kunsskat is betreurenswaardig. Dit behoort nooit weer te gebeur nie.

Opera saam met ’n simfonie-orkes kan beskou word as die mees gesofistikeerde uitvoerende kuns-uitvoerproduk van die Westerse beskawing. Dit word vandag regoor die wêreld uitgevoer en geniet.

Die kuns van opera lê in die vermoë om ’n boaardse atmosfeer te skep soos die Duitse komponis, Carl Maria von Weber met sy stuk Der Freischutz reggekry het. Richard Wagner het geen bekendstelling nodig nie en was deur von Weber geïnspireer. Hy was een van die mees rewolusionêre en omstrede komponiste in die geskiedenis. Hy het die konsep, “’n volledige kunsuitvoering”, ontwikkel waarin hy musiek, poësie en skilderkuns saamgevoeg het met ingewikkelde ‘leitmotifs’ en herhalende temas om die drama te versterk. Hy het onder andere die orkes meer prominent gemaak. Hy was ook bereid om bestaande musikale konvensies te oortreë soos in Der Fliegende Hollander, Tannhäuser en Lohengrin. In Die Meistersinger von Nürnberg, Der Ring des Nibelungen en Parsifal het hy ’n naatlose vloei van ’n eindelose melodie teweeggebring. Hy het ’n nuwe dimensie aan opera gegee.

Opera word steeds gemoderniseer en dit is vandag veral gewild onder opera- en klassieke komponiste om klankbane vir films te skryf. Wat wel belangrik is, is om die Westerse gehalte van opera en klassieke musiek te behou en dit kan slegs deur die adellikes van die Weste bereik word.

Jy kan baie van hierdie adellikes in Orania vind.

Hierdie dorp het klein en eenvoudig begin, maar het vandag geen bekendstelling nodig nie. Met die ontstaan van hierdie “omstrede” projek om bloot die Afrikanerkultuur te bewaar en te laat gedy is die norme van die Suid-Afrikaanse samelewing uitgedaag. Dit het noodwendig teenkanting ervaar en is met agterdog bejeën. Hierdie klimaat het egter die nuwe denkers en nuutskeppers verder aangespoor om amper iets bonatuurliks, as dit nie ’n wonderwerk is nie, in hierdie dorre Karoostreek te skep. Die inwoners het hard beplan en hard gewerk om ingewikkelde uitdagings te oorkom. Mettertyd is die wanklanke uitgestryk en ’n ritme is bereik wat hierdie pragtige projek nou uiteindelik in harmonie laat vloei. Die dramatiese groei en gewildheid van Orania onder Afrikaners in Suid-Afrika en regoor die wêreld, skep ’n warm, lekker gevoel in ons harte en prikkel ons emosies. Orania se overture was stadig en afgemete, maar nou is hulle besig om die eerste aria uit te voer. Daar is ongetwyfeld nog progressies, ontwikkelings, crescendos en wendings wat tot iets skouspelagtigs en luisterryk gaan opbou. Dit gaan sonder twyfel ’n uitvoering wees wat die wêreld gaan laat regop staan, hande klap en met ’n applous, “encore!, encore!” laat toejuig.

Soos sake nou lyk, word Westerse kuns al hoe meer in die groter Suid-Afrika uitgefasseer. Sodra Orania ’n groot stad word moet daar beslis ’n operahuis gebou word waar die Europese operas en klassieke komposisies bewaar en uitgevoer kan word en ’n sterk komponent van die inwoners se kultuur sal uitmaak. Die inwoners het soos dit hoort reeds ’n musiekgroep begin wat sterk groei en die gemeenskap tydens samekomste vermaak. Die fondament vir talentontwikkeling is reeds gelê en gereed om vir die opvolgers van Mimi Coertse, Marita Napier, Emma Renzi, Gé Korsten, Deon van der Walt, Zanne Stapelberg, Désirée Talbot, Cecilia Wessels en Elza van den Heever ’n tuiste te bied. Dit geld ook vir ons komponiste en ander uitvoerende kunstenaars.

Daar moet ook avant-garde Afrikaner-operas en klassieke stukke gekomponeer en uitgevoer word om die stryd en opwinding in ons verlede uit te beeld. Natuurlik gaan die grense van musiek verskuif word, want alhoewel Orania die geskiedenis eerbiedig en bewaar, pas hierdie gemeenskap die modernste metodes toe om uitdagings te oorkom, tred te hou met die hede en gereed te maak vir die toekoms. Dit sal noodwendig ook in hulle musiek weerspieël word.

Orania is vandag ’n toonbeeld van Westerse, Afrikaner-beskawing en hierdie gemeenskap is bestem om een van die veilige vestings, indien nie die enigste een nie, van die Westerse beskawing in Afrika te word.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.