“Julle klomp malles…”

Deur Pieter Krige

“Julle klomp malles wat só die woestyn inged……. het” hoor ek die woorde van die tipe oom wat tydens 1992 se volkstemming baie trots op sy NEE-stem was, en seker steeds is. Julle sien, die oom, met sy velhoed, kortbroek en dungerookte Kayser-pyp, was, en is sekerlik, steeds maar een van ons, een van my mense. Iemand wat in dieselfde kerkverband die Here aanbid, aan dieselfde en “regte” boerevereniging behoort, en vir die “regte” politieke party stem, of meermale nie stem nie. Die tipe oom wat van “Ou Kortbroek” en “De Klerk” praat met die pyn van verraad in sy oë; die tipe oom wat lekker stories oor die goeie ou dae van segregasie en apartheid kan vertel, van hoe dinge darem baie beter was. Die tipe oom wat jou dinge van “Strijdom” kan vertel wat jou hare sal laat ruis. Dit is soveel keer hierdie tipe ooms, wat Orania nie ‘n kans in die son gegun het nie, nie eens daaraan gedink het dat so iets ooit sal kan werk nie, en meer nog, ooit nodig sal wees nie. Dit is hierdie tipe oom wat nou hier, na bykans 30 jaar se bou en groei in Orania, kom draai… en die malles was toe slimmer as wat hy gedink het. Maar daar is iets wat die oom, hierdie tipe oom, eintlik nog bietjie pla, en dit is miskien meer as net een iets, eintlik twee:

  1. Wie gaan die gate grou waar die tipe tannie haar rose moet plant?
  2. Moet ons nou hierdie land, met bloed gekoop, aan ander oorgee, om op ‘n stukkie woestynland te gaan aansukkel?

U sien, Orania, is nie vir almal nie. Hiermee bedoel ek nie dat ons nie vir al die Afrikaners/Boere juis ‘n plek wil wees nie, dat diegene welkom hier moet wees en voel, dat ons ter wille van diegene se kinders se toekoms ook hier bou nie, nee, dit doen ons juis, dit dryf ons en inspireer ons. Maar Orania is nie vir almal nie, want daar is sekere dinge waarmee mense maar net nie kan breek nie. Vir sommige mense is Orania net té radikaal. Hierdie klomp malles wat in die woestyn kies om self in die karoo-son die pik te slaan en byl te swaai. Ek kyk na die blase op my sagte skrywershande van juis so ‘n bylswaaiery gister, blase wat vir die tipe oom liewer op ander se hande moet wees.

So om en by 1652, miskien enkele jare later, het die volk wat later as die Afrikaner naam sou kry, die feudalisme ingevoer, en sedertdien is dit part en deel van ons identiteit en kultuur. Vir bykans 400 jaar was die Afrikaner die baas, en die ander die werkers. Dit geld natuurlik nie vir almal nie, vir elke individu nie, maar oorkoepelend was dit maar die verloop van dinge. Natuurlik het ons koloniale heersers, met die ontdekking van die blink en skitter aan die Rand, nie meegehelp om hiermee te breek nie, maar dit versterk en nog meer bevestig en ons het lekker meegedoen.  

Wat hierdie tipe oom sukkel om te verstaan, sukkel om in te sien, is hoekom ons nou vandag hiermee moet breek, want dit werk dan al vir bykans 400 jaar, sien. Ek moet wel bely, dat ek lief vir die tipe oom is, dit is immers my mense, en ek verstaan hom goed, ken hom goed, maar hierdie tipe oom verstaan my nie baie goed nie, hy verstaan nie Orania regtig nie. Om dié rede dink selfs hierdie tipe ooms telkemale dat Orania maar net ‘n voortsetting is van die 400 jaar se feudalisme en nou die laaste bastion geword het van apartheid in die kleine. Maar Orania is nie een van hierdie twee dinge nie. Orania is radikale nuwe denke, en as ek sê nuut, dan bedoel ek eintlik die nuwe implementering van denke wat al sedert 1948, met die stigting van SABRA, vir die volk grootliks onverstaanbaar en ongewild was. “Die Afrikaner moet self-werksaam word en breek met ons verslawing aan ‘n onvolhoubare stelsel van vreemde arbeid, wat tot ons politieke, kulturele en ekonomiese vernietiging gaan lei.”

Hierdie tipe oom sal eerder droom van ‘n leier met ‘n bruin pak, wat die volk in oorlog sal kom lei om die land terug te vat, as wat hy moue sal oprol en op ‘n vreedsame en volhoubare manier aan ‘n toekoms bou. Orania is vir hierdie tipe oom net té anders.

“Maar Oom, as jy tien werkers het, en hulle het hul gesinne, dan gaan jy mos altyd elke liewe verkiesing verloor, gaan die skool, dorp, verenigings en selfs kerke mos die ander se taal en kultuur moet aanneem?” probeer ek ‘n ander hoek.

Ek sien so ‘n grepie hoop soos die oom my hoor, maar my moed breek soos ek hoor hoe die tannie hom vertel dat, sodra hul tuis is, Johannes; of David of Sipho of goeie ou Jakob, die stoor sal moet regpak voor die karavaan weer ingetrek word.

Miskien is ek te ongeduldig, dit is tog immers nie maklik om met 400 jaar van tradisie te breek nie… maar miskien is Orania nie vir die tipe oom en tannie bedoel nie, of miskien is hul nog net nie reg vir hierdie tipe radikale kopskuif nie.

Herdenkings moet toekomsgerig wees.

Op 16 Desember word orals in Suid-Afrika Geloftedag herdenk, maar dit is nie meer ʼn amptelike Afrikanerfeesdag soos in die verlede nie. Deesdae is dit meer as ooit ʼn bewustelike keuse teen die anti-Afrikaner tydsgees in om Geloftedag te vier en te volhard met Afrikaner wees. By party Geloftefeeste neem die bywoning toe, by ander is dit ʼn gesukkel om mense bymekaar te kry.

Of ʼn kultuurfees of geskiedenisherdenking wegkwyn of sterker word hang af van die gees en gesindheid waarmee dit gedoen word. As ʼn herdenking net ʼn ritueel is, en as dit gedoen word as ʼn soort sterwensbegeleiding van ʼn volk of ʼn tradisie, wetende dat jonger generasies geen belang daarin en geen begrip daarvoor het nie, dan sal minder en minder daarby betrokke wil wees. Ook enige herdenkings van iets wat eintlik onverdedigbaar is, of wat deur die tyd ingehaal is, sal na ʼn ruk doodloop.

Dit is belangrik om op te let wat en hoe jy iets herdenk. Dit moet relevant bly vir volgende generasies. Dat Geloftedag nog elke jaar, soos op 16 Desember 1838 aan God beloof, herdenk word, is reeds van betekenis. Daar is tye van moedeloosheid van ʼn volk, waar net die werklik oortuigde mense aangaan met die herdenking, en tye waar ʼn golf van nasionalisme groot massas meegesleur het, soos met die honderdjarige Gedenktrek van 1938, maar Geloftedag het in die 180 jaar van sy bestaan nog elke jaar plaasgevind.

In die oë van swart nasionaliste is Geloftedag die viering van wit verowering, maar dit rym nie met die feite nie. Geloftedag was ʼn Goddelike ingryping om die Afrikaner, wat in die binneland uitwissing in die gesig gestaar het, te bewaar en te bevestig. Dit het vir die Voortrekkers nie daaroor gegaan om die Zulu-volk uit te wis nie, hulle wou hulle stuk land in Natal hê en het daarvoor die onderhandelde prys betaal. Eers die verraad en wrede moorde op die Voortrekkers het tot die Slag van Bloedrivier met sy ernstige gevolge vir die Zulu’s en Dingaan gelei, maar die Zulu-volk het onder ʼn ander koning voortbestaan.

In Orania neem die bywoning van die Geloftefees jaar na jaar toe, ook die entoesiasme waarmee dit aangebied word. Dit geld ook vir geleenthede daar rondom, soos die perdekommando-gedenkrit, vertonings van Voortrekkerlewe en die maak en dra van Voortrekkerklere. Dalk is dit omdat Orania ʼn toekomsgerigte gees uitstraal en ʼn positiewe boodskap het.

Die positiewe en toekomsgerigte boodskap van die herdenking van Geloftedag is dit: ons volk was al in moeiliker omstandighede as nou, ons sal weer opstaan en ons is reeds besig daarmee. God het ons destyds uitgehelp en as ons onsself verootmoedig, kan Hy dit weer doen en vir ons vryheid en voorspoed gee.

Alles is nie verlore nie en daar is nooit ʼn einde van die geskiedenis nie. Daar is ook geen einde aan ʼn volk nie, behalwe as die volk self besluit om te wil ophou bestaan.

Die Noord-Kaap se tyd het gekom!

In Suid-Afrika is geen ru-olie (die wêreld se belangrikste bron van industriële energie) nie, maar volop steenkool. Eskom en SASOL moes dit gebruik om die land van energie te voorsien.

Selfs toe die land deur boikotte en sanksies bedreig het, het hulle deur toewyding, deursettingsvermoë en ondernemingsgees dié doel grootliks verwesenlik.

Eskom se groei was sedert sy stigting in 1923 die land se ekonomiese groei altyd twee treë voor. Met billike kragpryse kon hulle nywerheidsgroei moontlik maak en steeds self winsgewend bly.

SASOL is in 1950 gestig om petrol en diesel uit steenkool te vervaardig. Die basiese tegnologie was bekend, maar kritici het gesê dit sal nooit winsgewend wees nie. Tyd het anders geleer.

Dié twee ondernemings was so suksesvol vanwee hulle mense. Kundigheid en vaardighede is ontwikkel, sodat skeppende deursettingsvermoë hulle gekenmerk het.

In 1985 is SASOL geprivatiseer, maar Eskom nie. SASOL het op sy mense gebou en wêreldwyd uitgebrei, sodat dit vandag hoogs winsgewend is. Sy aandele is in Johannesburg en New York genoteer.

Eskom was ‘n skouperd van “transformasie” en opgeboude kundigheid is maklik vervang met “mense wat oor die nodige potensiaal beskik”. Vandag is die onderneming onherstelbaar geplunder.

Gaan ons in moedeloosheid mor en kla, of gaan ons met die skeppende deursettingsvermoë reageer, wat ‘n vorige geslag gekenmerk het? Gaan ons die geslag wat ons petrol uit steenkool, kernkrag en selfs ‘n atoombom (as vrede dalk nie werk nie) gegee het, nadoen?

Ons kan. En dit is hoekom ons sê die Noord-Kaap se tyd het aangebreek. Net soos steenkool die hoëveld van Mpumalanga se tyd laat aanbreek het, kan ons sê dit is nou dagbreek in die Noord-Kaap.

Die Noord-Kaap het nie alleenlik oorvloedige sonskyn nie, dit het ook die grondstof waaruit sonpanele (fotovoltaïese panele) gemaak word.

 

 

Silikonbevattende klippe soos hierdie word gesmelt met 99% suiwer silikon as produk. Dit word volgens die metallurgiese metode verder gesuiwer tot songraad silikon.

Kom ons maak ‘n vinnige vergelyking: Die Medupi kragsentrale behoort met voltooiing net minder as 5 gigaWatt elektrisiteit te lewer; dit is net meer as 10% van Eskom se totale vermoë.

Medupi is sedert 2007 in aanbou en is nog steeds nie heeltemal voltooi nie. Geprojekteerde koste is sowat R200 biljoen.

Om ‘n aanleg te bou wat 1 gigaWatt se sonpanele kan vervaardig, neem sowat ‘n jaar en kos sowat R75 biljoen; die installasie daarvan drie maande. Panele uit dié aanleg kan Medupi se vermoë binne vyf jaar oortref teen minder as helfte van die koste.

Die son skyn wel net bedags, maar die vinnige ontwikkeling in batterytegnologie speel in ons hand.

Hierdie soort kragopwekking hoef nie in een hand, soos dié van Eskom of SASOL te wees nie. Dit kan oor duisende eienaars van wisselende groottes wat almal aan die netwerk gekoppel is, versprei wees.

Om só ‘n stelsel te verwaarloos, te kaap of te plunder is veel moeiliker as met een groot onderneming.

Natuurlik het ons nie R75 biljoen om mee te begin nie. Maar Eskom dwing huishoudings en besighede om energie-onafhanklik te raak. In die Noord-Kaap gaan elke rand wat op sonkrag spandeer word, meer elektrisiteit oplewer as elders.

Ons vergesig is ‘n Noord-Kaap wat met skoon energie ‘n florerende, skoon ekonomie huisves, vry van onderdrukking en van armoede. Dit is die vergesig wat vandag se aksies rig.

Die Noord-Kaap het die grondstowwe, die ruimte en die sonskyn om ‘n tegnologiegebaseerde ekonomie tot stand te bring. Ons het selfs die mense. Maar het ons mense die wil, die deursettingsvermoë en die ondernemerskap?

Ek hoop so, want ons toekoms hang daarvan af.

Dr. Wynand Boshoff

 

Share
Tweet

 

 

Copyright ©  VF Plus (Noordkaap) 2018, All rights reserved.

Our mailing address is:
noordkaap@vfplus.org.za

Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Hoekom is ons nie opgewonde oor die “almal saam” samelewing nie?

Die oorweldigende “common knowledge” in veral die Weste is dat saam beter is as apart. Die EU word as sukses gesien, so ook die VN, ongeag die werklikheid van beperkte suksesse en ‘n uitmergelende proses om selfs net die kleinste gemene deler te bereik. Die reënboognasie van Nelson Mandela word as die hoogste ideaal gesien waar almal vreedsaam oor rassegrense heen saamleef en so ver moontlik vermeng. As dit in praktyk nie gebeur nie, dan is dit die skuld van die wittes wat nie genoeg uitreik nie. Min of meer dit is die siening wat ek verlede week teëgekom het by Duitse televisie-joernaliste wat as deel van ’n program oor “25 jaar sedert die einde van apartheid” op verskillende plekke van Suid-Afrika, onder andere Orania, hulle opnames gemaak het. Orania word in sulke programme gewoonlik uitgebeeld as die laaste uithoek van verset teen die wonderlike reënboognasie, waar diegene woon wat nog aan apartheid vasklou.

Die joernaliste was darem ook al by Oraniërs aan wat ook gestaal is in die hantering van joernaliste en wat hulle aanslag ken. Een van die joernaliste gee toe ook toe dat Orania inderdaad baie anders is as die persepsie van ʼn apartheid-dorp en dat hier heelwat arm mense ook is. Vir hulle is apartheid die beeld van die groot, spoggerige plaashuis met die bediendes, en die arm arbeiders in hulle hutte naby, met ander woorde die amper karikatuuragtige saamgaan van ras en inkomste. Dit is eintlik nie apartheid nie, maar paternalisme, iets wat Orania ook nie verdedig nie, al weet ons ook dat die werklikheid nie so eenvoudig is nie, met die ryk boer wat hard gewerk het om daar te kom, wat baie geld spandeer om sy werkers op te hef, al bly hulle ongelyk. Die kommunistiese ideaal van totale gelykheid kan ons nie verdedig nie, en ook idealistiese Duitsers weet dat daar selfs in hulle welsynstaat met ʼn sentrum-linkse regering ongelykheid en selfs armoede is.

Die grootste punt van verskil was egter die ideaal om die grootste moontlike vermenging te bereik ten einde die utopiese vrede en harmonie tussen rasse te bereik en alle verskille te oorbrug. Vir die vroulike spanlid was dit blykbaar wat sy in Johannesburg gesien het, heel waarskynlik na ʼn oppervlakkige kyk na ʼn winkelsentrum, waar die swart en wit middelklas ooglopend vreedsaam die verbruikerskultuur uitleef, gemengde paartjies en al. Dit is egter ook daar waar die geweld die ergste en die heinings die hoogste is. Met harmonie en vreedsame saambestaan het die multi-kulturele skynwêreld van ʼn winkelsentrum niks te doen nie. Besoekers van Port Elizabeth wat in Orania wil vestig het teenoor hulle opgewonde die voordele van Orania uitgelig en hulle nie laat van stryk bring deur die vraag oor “isolasie” nie.

Vir ons in Orania is ons sogenaamde isolasie na dekades se ondervinding van hoe dinge werk en nie werk nie ʼn keuse. Dit is ook nie isolasie nie, maar selfbestuur. Vir isolasie kry ons darem heeltemal te veel blootstelling. Hoeveel dekades van ʼn onbekwame ANC-regering op alle vlakke, maar veral op munisipale vlak het jy nodig om te besef dat dit nie werk nie en dat jy baie beter daaraan toe is as jy vir jouself sorg? Vir Duitsers en ander Wes-Europeërs is dit moeilik om te verstaan. Hulle is gewoond dat Duitsers aan stuur van sake is, dat die stelsel werk en dat ʼn paar inkomelinge ʼn “verryking” is en dat ʼn multi-kulturele samelewing beter is as ʼn mono-kulturele een, omdat dit nuwe ondervindings, nuwe geure, nuwe kleure, nuwe kennis en wat nog alles sou toevoeg. Dat ʼn multi-kulturele samelewing soos wat dit tans nog die geval is, met ʼn Duitse meerderheid en die “toevoeging” tot redelik onlangs veral goedkoop arbeid en nuwe restaurante en winkels wat eksotiese disse en produkte voorsien, heeltemal iets anders is as die soort wat ons in Suid-Afrika het, bly moeilik begrypbaar as jy dit nie beleef het nie. Dan klink alles na “negatiewe stereotipes”. As jy egter herhaaldelik slagoffer van misdaad was, jou krag gereeld afgaan, jou kraanwater ondrinkbaar is, jou paaie vol gate is, jou skool en universiteit verengels en op swak standaard en jou dorp onherkenbaar is, dan is jy nie meer so opgewonde oor die multi-kulturele samelewing nie. Maar dit sal Europeërs, veral die mediamense wat deel van die elite is en nog nie met die negatiewe effekte van die kulturele verryking gekonfronteer word nie, eers uitvind wanneer dit te laat is.

Diplomasie, en die Afrikaner se kuns van verhoudinge. Deur Pieter Krige

Een van die belangrikste aspekte van die Orania Beweging se werksaamhede, is op die terrein van diplomasie. Die woord diplomasie vind sy wortels in die Latynse diploma, wat op ‘n brief of dokument van erkenning en verwysing dui. ‘n Diplomaat is dus iemand wat met die mandaat van ‘n groep, staat of instelling, namens die bogenoemde optree. Diplomasie is ten diepste die kuns van verhoudinge, en speel op alle terreine van die lewe uit, maar meermale en sigbaarder op die groter politieke speelveld. Dit sal dwaas wees vir enigeen om te beweer dat verhoudinge met ander, onbelangrik is; dit sal fataal wees vir ‘n volk of groep om dit te ignoreer. Met die koms van die inligtingsera, en die feit dat die wêreld veel kleiner is as die een waarbinne ons voorouers hulself bevind het, te meer só. Met die koms en viraliteit van sosiale media, is dit veel makliker om verhoudinge oor grense heen te bou, of te breek, en elke mens word in ‘n sekere sin ‘n sleutelbord diplomaat. Die een probleem met die vlakke van verwydering wat met die sosiale media ingetree het, is natuurlik die verlies aan persoonlike kontak. Diplomasie, aktivisme en ideologie word van agter sleutelborde beoefen, of gepleeg, met die blote feit dat die gespreksgenote nie in mekaar se persoonlike ruimte teenwoordig is nie, wat sommiges heldhaftig maak, ander brutaal en die meeste, maar dwaas.

 

Ek wil dus hiermee beweer dat die sosiale media en toegang tot ander se idees, en ander se menings, sonder die persoonlike kontak, diplomasie skade berokken, en dat ware diplomasie, of dan die kuns van verhoudinge, nie op ‘n onpersoonlike vlak kan geskied nie. Persoonlike kontak is nodig.

Ek betoog hier geensins teen die gebruik van sosiale media nie, dit is ‘n magtige instrument, ‘n kragtige bemarkingsmiddel, en ‘n maklike manier om met vriende en vreemdelinge in kontak te kom en te bly, maar dit is maar ‘n stompe en lompe stuk toerusting vir diplomasie, in die selfde sin dat gewone media dit ook maar is. Grense kan maklik oorbrug word, maar die gebrek aan persoonlike kontak met die grensgenoot, skep daardie onoorbrugbare vlakke van verwydering, en die afwesigheid van liggaamstaal, wat volgens Albert Mehrabian se 1971 studie soveel as 55% van alle kommunikasie uitmaak, beteken dat mens met teks, ongeag hoe goed bewoord, slegs die helfte hoor van wat gesê word. Sommige skrywers is moontlik beter as ander om dit reg te kry, maar die tipiese diplomaat of verkondiger van ‘n idee is nie noodwendig ‘n woordsmid nie.

Met hierdie agtergrond, en werklikheid, besef die Orania Beweging, dat alhoewel ons baie staatmaak op digitale kommunikasie, dit vir ons ook slegs 55% van wat ons eintlik wil of kan sê kan omvat. Daarom spandeer ons vir die afgelope 30 jaar veel tyd en energie aan persoonlike skakeling met rolspelers, en ons mikpunt vir 2019 is om dit nog meer te doen.

Die vrug van sulke persoonlike diplomasie, is dat misverstande dadelik opgetel en bygelê kan word, dat daar ‘n gesig agter teks/woorde is, en dat daardie uiters belangrike 55% nie gemis word nie.

Vir die Afrikaner om genoegsame ruimte vir ons toekoms binne Afrika te verkry, sal ons drie dinge moet doen. Ons sal die werklikheid daar moet stel, soos wat Orania al uiters suksesvol reggekry het; ons sal die feit dat ons nie op ‘n eiland as afgesonder van die res van Afrika en die wêreld kan of wil bestaan nie moet verreken; ons sal met diplomasie hierdie ruimte moet en kan bevestig en vergroot. Die Afrikaner, het, histories, meer sukses met diplomasie in Afrika gehad, as die teendeel, en met die laaste stuiptrekkings van die ou Apartheidsbedeling, wat sekerlik vir nog een verkiesing bietjie politieke munt sal bied, is dit nou ook aan die verbygaan. Daar is onomwonde ‘n nuwe tydperk wat aangebreek het, en dit gaan ten diepste oor gemeenskap en plek, gemeenskap en ruimte, en om die rede verhoog ons juis ons 55% kommunikasie met ander rolspelers in 2019, omdat ons graag gehoor wil word, maar meer as dit, omdat ons glo dat ons model van ‘n gemeenskap van gemeenskappe gehoor móét word.

Onlangse skakeling was met die leierskap van die ANC van die Noord-Kaap, onder leiding van Carel Boshoff en Frans de Klerk, en van die ANC se kant, dr Zamani Saul. Ook het vyf van Orania se vroue die uitnodiging vanaf mev. Zanele Mbeki aanvaar, om saam met 1000 afgevaardigdes van die SADC lande die eerste African Woman in Dialogue geleentheid in Boksburg by te woon. So is daar vele ander geleenthede, met onder ander ‘n afvaardiging, onder leiding van Vladimir Poluboyarenko, Adjunk menseregte kommissaris van Stravropol in Rusland, ‘n gespreksgeleentheid in Swede op uitnodiging van The Boer Project, en volgehoue bande met veral Nederlandse Politici, asook van Südtirol en vele skakeling met bykans elke media-huis in die wêreld.

Die Orania Beweging se diplomatieke werk is egter nie net op Afrika-rolspelers, of internasionale bande gefokus nie, maar ‘n groot deel van ons diplomatieke werk, is intern, met ander woorde, verhoudinge met die Afrikaner, die volk vir wie ons bou en ruimte bied. Op hierdie terrein het ons ook die vryheid en selfvertroue om oor die breëspektrum van die volk, met rolspelers te skakel en verhoudinge te bou, met die verskille en ander insigte op die tafel, wat telkemale tot ‘n nadere verband lei na die skakeling, as daarvoor.

Met dit alles genoem, is dit nodig dat die Orania Beweging, ‘n groot deel van die fondse tot ons beskikking vir dié doel aanwend, wat ons ook doen. Gasvryheid teenoor besoekers, vriende en toekomstige vriende en vennote, of selfs vyandiggesindes, gaan al vêr as die 55% kommunikasie in ag geneem word, en skep gewoonlik die platform vir sinvolle gesprek.

Miskien het die Afrikaner, in ‘n sekere sin, die afgelope klompie dekades, stelselmatig, ons goeie Boeremaniere afgeleer. Daar is veelvuldige redes daarvoor aan te voer, maar slegs een oplossing: Ons moet meer met mekaar praat, en dan nie weggesteek agter ‘n sleutelbord nie, maar soos my Prof, Hennie Theron, in Nuwe-Testament die staaltjie van die kommunikasie tussen student en professor uit 3 Johannes 1:13,14 uit aangebied het:

 

Student:

Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.

Prof:

Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.

 

Pieter Krige