fbpx

deur Monja Strydom

“Hoe gaan dit op universiteit?” vra my pa een Sondagmiddag oor die foon vir my. “Baie goed dankie. Ons is besig van die oggend tot die aand. As ek nie klas het nie is ons pal besig met koshuisaktiwiteite, maar ek geniet dit baie. My hare val net baie uit en ek het geen idee hoekom nie?”

“Dis maar van stres.”

Stres?! dink ek.  Ek stres nie. Eerlik waar, ek stres nie. Waaroor sal ek stres?

Ja, ek deel vir die eerste keer in my ’n lewe ’n kamer met iemand wat nie my suster is nie, maar die meisie is baie oulik en ons gesels lekker.

Ja, ek moes Potchefstroom toe trek en al is dit een van die top drie mees traumatiese ervarings (naas die dood van ‘n geliefde en ‘n egskeiding) het dit my nie gepla nie. Ek bekommer my nie oor sulke dinge nie. Ek is baie aanpasbaar en selfs al werk alles nie heeltemal uit soos ek beplan het nie, maak ek die beste daarvan. Ek is nou ingeburger en gelukkig.

Ja, daar is ’n paar toetse wat ek moet skryf, maar ek leer hard en ek is seker dat dit goed sal gaan.

Ek stres nie, Pappa. Ek stres regtig nie. Dit gaan goed.

Dit is wat ek gedink het. Dit is wat ek só vasgeglo het, maar dit was nie waar nie.

Ek hét gestres. Ek het dit dalk nie gewys nie, maar my liggaam het dit geweet! As ek my hand deur my hare getrek het was daar ‘n bos hare in my hand. Dit was nie normaal nie. Na ’n paar maande en ’n paar vitamines het die probleem vanself weggegaan.

Dit was die eerste keer wat ek besef het jou liggaam ervaar soms erge trauma al probeer jy dit hoé weggesteek of ontken.

Meeste van ons het al ervaar dat jou liggaam na ’n baie moeilike tyd by die werk of na ’n belangrike sperdatum, skielik net nie meer kan nie. Jy raak siek. So siek dat jy vir ’n paar dae nie uit die bed uit kan opstaan nie. ’n Mens se liggaam weet wanneer jy rus nodig het. Rus wat jy hom nie gee nie.

Ek het op die vyfde verdieping in ’n koshuiskamer gebly terwyl ek studeer het. Hoewel ek van ’n redelik misdaadvrye omgewing na ’n al-hoe-onveiliger-stad getrek het, het ek altyd geglo dat ’n misdadiger, wat eers deur kampussekuriteit en die veiligheidshek by die koshuisvoordeur moes kom, nie iemand op die vyfde vloer sou teiken eerder as iemand op die eerste vloer nie. (Buitendien, ek dink enige inbreker het maar ’n inherente vrees vir 230 meisies wat gelyk aan die gil gaan as een van hulle hom dalk in ’n half donker gang gewaar.) Ek het dus redelik gerus geslaap.

My suster was egter effens meer blootgestel. Hoewel sy in ’n kommune met ’n veiligheidshek én twee wagte wat beurte maak om die weerlose kommunedames op te pas, gewoon het, is daar twee keer ingebreek in die tyd wat sy daar gewoon het. Die wag is een keer met ’n mes in die bors gesteek. Rowers het in die huis ingekom en een van haar vriendinne se kamer reg oorkant hare leeg gedra.

Later het sy haar meestersgraad op Stellenbosch gaan doen. Sy het in ’n tuinwoonstel in mense se erf gewoon. Daar is, helder oor dag, by die hoofhuis ingebreek terwyl almal weg was.

Hierdie dinge het haar begin beïnvloed. Vakansies as sy terug gekom het huis toe was sy konstant senuweeagtig oor goed. Is die deur gesluit? Is die vensters toe? Dit is nou dieselfde suster wat normaalweg stoksielalleen met ’n kortbroek, waterstewels en ’n flitsie heen-en-weer in die nag op die plaas rondgestap het om besproeiing oop en toe te draai. Die suster wat ’n pofadder met ’n snoeiskêr doodgeslaan het.

Skielik was elke geluid in die nag iets om oor te bekommer.

Ek ken my suster. Ek ken haar al baie goed vir baie jare. Haar senuweeagtigheid was nie normaal nie.

’n Jong pasgetroude damesdosent vertel so ’n ruk terug dat iemand op pad werk toe ’n wapen teen haar kop gedruk het en haar ring probeer steel het. Sy het weggekom en tipies van ’n Vrystaatse plaaskind het sy aangery Johannesburg Universiteit toe, vasbeslote om verder te werk. Haar man het haar kom haal en huis toe geneem. “Daar is nie ’n kans dat ek jou vandag sal laat werk nie”.

Ons Afrikaners is SO veerkragtig. So aanpasbaar. So innoverend.

Ons leef in ’n land waar dinge al hoe meer teen ons draai. Ons moet voortdurend aanpas, voortdurend ’n nuwe normaal probeer aanvaar. Maar hoe normaal is dit regtig?

Ons leef in ’n land waar ons voortdurend afgemaak word as onderdrukkers en rassiste. In so ’n mate dat veral jong Afrikaners wat na 1994 deur die skoolstelsel is, ’n ernstige skuldgevoel ontwikkel het. So erg dat ’n jong student die ander dag vir my sê dat haar skootrekenaar en al haar klere uit haar voertuig gesteel is. Sy voeg by: “Maar dalk het hy dit meer nodig gehad as ek”. Ek tuimel amper reg agteroor van skok. Ja, dit was vir haar ’n aaklige ervaring, ja sy het baie spesiale en baie sentimentele klere verloor, ja, haar rekenaar met al haar foto’s en universiteitswerkstukke is weg, maar sy aanvaar dit. Dis seker maar hoe dit moet wees. Dis seker maar beter so. Dis normaal.

DIT IS NORMAAL. Ons moet dit aanvaar. Ons moet. Ons moet. Ons moet. Ons moet. Wat kan ons doen sodat dit nie weer gebeur nie? Meer kos vir die arm mense gee? Dalk op ’n veiliger plek parkeer. ’n Beter alarmselsel kry? Hoër heinings. Dit is normaal. Ons moet net aanpas.

’n Vriendin uit Australië laat weet hulle woon so lekker daar. Ja, die mense praat nou nie Afrikaans nie, maar “ons gaan stap om die blok en ons sluit nie eers die huis se deure nie. Ons vriende kyk ons vreemd aan as ons, ons voertuig sluit. Dit is glad nie normaal om hier jou voertuig te sluit nie. Hier was 39 jaar laas ’n moord in die stad waar ons woon”

’n Ander vriendin  bel my uit Amerika uit. “Dit is so lekker hier. Ek sal nie maklik terugkom Suid-Afrika toe nie. Die mense is SO trots op hulle erfenis en hulle vlag. Op Independence day is daar oral optogte en mense waai hulle vlaggies. Dit is so lekker om trots te wees op wie jy is!”

Ek kry oom Koos in die dorp. Sy seun is ’n geoktrooieerde rekenmeester. Hy woon en werk nou in Luxemburg. “Weet jy” sê hy op sy eg Noord-Kaap manier, “hy sê vir my: as die trein daar veronderstel is om 17:00 aan te kom dan kom dit 17:00 aan. Op die minuut. Hy sê hy sal nie maklik terugkom nie.”

’n Tannie oorkant die pad se kinders het onlangs Nederland toe getrek. Sy kom vertel: “My dogter sê die Nederlanders hys ’n vlag vir enige ding. Van ’n kind wat gebore is, tot die afsterwe van ’n geliefde, tot ’n kind wat matriek geslaag het. Hulle bure het ’n skooltassie gehys laas week om aan te dui hulle kind gaan graad 1 toe!” Sy is hartseer dat sy so ver van haar kleinkinders af is, maar sy is diep dankbaar oor haar dogter in ’n gemeenskap woon waar dit normaal is om jou vreugde en hartseer met jou gemeenskap te deel.

********************************************************************************************

“Mense kom siek hier aan” sê my ma nou die dag vir my. Sy werk baie direk met nuwe Orania intrekkers. “Heeltemal siek”

“Mense kom so verskriklik bang hier aan. Kan jy dink in watse vrees hulle buite Orania moes leef?”

My gedagtes dwaal onwillekeurig na ’n plasing wat ek ’n ruk terug op Facebook gesien het van ’n jong plaasvrou wat SO graag ’n kindjie wil hê, maar te bang is om swanger te raak omdat sy nie weet wat die toekoms vir die arme kind in Suid-Afrika sal inhou nie. Verder vrees hulle daagliks vir hulle lewens op die plaas en haar skoonfamilie het vir haar gesê dat dit onverantwoordelik sal wees om ’n kind in die wêreld te bring as dit so gaan.

HOE DE HEL IS DIT NORMAAL?!

Hoe is dit normaal om op ’n Maandagoggend die koerant oop te maak en ’n arme tannie van Reivilo se pimpel en pers geslaande, bebloede, post-plaasaanval gesig daar te sien pryk?

Hoe is dit normaal om strafkrag te hê as jou munisipale rekening elke maand tot op die sent toe betaal is? Agt ure krag, agt ure geen krag… (sterkte Vanderklowers)

Hoe is dit normaal dat omtrent een derde van die bevolking werkloos is en die res moet hulle dra?

Hoe is dit normaal dat blanke matrikulante met agt onderskeidings nie keuring kry om medies te swot nie?

Hoe is dit normaal dat ’n kinderoppasser wat nie onmiddellik stop wanneer die polisie haar in ’n donker area aftrek nie, maar eerder haar flikkerligte aanskakel en na ’n veilige area ry, uit haar voertuig geruk word en in ’n vangwa gegooi word deur die polisie?

Hoe is dit normaal dat daar helder oordag op ’n Sondagoggend by ’n kerk in Bloemfontein ingebreek word terwyl die diens aan die gang is?

Ons mense kom gewoonlik eers agter wat hulle gemis het wanneer hulle al hulle aardse besittings verkoop het en in die buiteland gaan nesskop het. Dan besef hulle wat eintlik normaal behoort te wees.

“Ons sukkel om ons mense gesond te kry. Hulle is só bang, só verwond.” hoor ek weer my ma.

Besluit vandag hoe jy wil hê jou normaal moet lyk.

Dalk is dit nie so verregaande om te dink dit is normaal as mense jou NIE besteel as jy nie alle moontike voorsorgmaatreëls tref nie. Dalk is dit nie verregaande om trots te wees op wie jy is nie, om ’n trein te verwag op die tyd wat dit veronderstel is om aan te kom nie, om jou gemeenskap te ken en jou vreugde met hulle te deel nie.

Ek het gekies.

My normaal is om te gaan draf. Enige tyd van die dag. Nie net sonder vrees vir ’n aanval nie, maar ook met die vreugde om lede van my gemeenskap raak te loop en vrolik te groet.

My normaal is ’n gemeente wat op ’n Sondag bymekaar kom en in Afrikaans kan aanbid.

My normaal is om gou voor my werksdag by die skool te gaan praat oor hoekom ons wil hê elke Orania-kind moet fietsry en watter padreëls belangrik is vir klein fietsryertjies.

My normaal is om saans na werk ’n klomp jong, gesonde Afrikanerstudente te hoor krete leer in hulle koshuis oorkant die pad.

My normaal is om ’n stukkende pyp of ’n rioolprobleem aan te meld en ’n Dorpsraad-bakkie binne ’n halfuur te verwag.

My normaal is om fiets te ry dorpswembad toe en my fiets buite die swembad, in die fietsloods staan te maak sonder enige vrees dat enige iemand dit sal neem.

My normaal is Orania.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.