fbpx

deur dr Louis Bothma

10 JUNIE 1980: 40 JAAR GELEDE.

(ONS IS GATVOL DAT HECTOR PIETERSON ELKE JAAR OP 16 JUNIE IN ONS EN ONS KINDERS SE KELE AFGEFORSEER WORD. DAAR IS ‘N ANDER KANT OOK).

Die ergste kaping is nie dié van die staat nie, maar dié van die geskiedenis. Kinders moet die volle verhaal van hierdie land se jeug leer as hulle die greep wil breek van gewetenlose politieke skurke wat hulle toekoms steel.

Ek het hierdie in 2008 geskryf, maar hoe meer onskuldige wit kinders gemarginaliseer word, hoe meer skreeu die onreg ten hemele. Daar kan geen sprake van bevryding wees as ‘n sekere deel van die geskiedenis (wat nie inpas by ‘n voorafopgestelde politieke agenda nie) gekriminaliseer en in skole verbied word.

Dinsdag 10 Junie 2008.
Die windjie is koud. By die wagpos loer ‘n swart soldaat vir my deur die ruite. Sy maat kom nader en stoot die hekke van 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon oop. Maar net nóg ‘n dag by One SAI, in Bloemfontein, in Suid-Afrika.

Die groepie wit mans, eenkant in ‘n hoekie van die basis, lyk eensaam in die wintergrou. Piet Terblanche, die oudste van die lot, stap my tegemoet: “Welkom. Ons is bly jy het gekom.”

Kobus Eloff, Francois Dercksen, Tony Op’t Hof, H.P. (Eights Pie) Ferreira… Ek skud hande op die ry af. ‘n Tweeling, Grant en Brent Abrahamse, wat spesiaal vir die geleentheid van die Kaap gekom het, stel hulself voor.

“Ekskuus, kan jy net weer jou naam sê?” vra ek ‘n kêrel wat ‘n oog verloor het. “Marco. Marco Caforio from Jo’burg,” sê hy en neem sy plek tussen die ander in.

Hulle is oorlewendes van 1 SAI se Alpha-kompanie, wat op 10 Junie 1980 SWAPO se Smokeshell-basis, diep in Angola, saam met kommandant Dippies Dippenaar van 61 Gemeganiseerde Brigade aangeval het. Hulle staan by ‘n gedenkteken met die name van hul gesneuwelde makkers: Hannes du Toit, Paul Kruger, Andrew Madden, Rob de Vito, Pip Warrener…

Dit was bloedig. Uit ‘n groep van 44 is 12 dood en 23 gewond. Luitenant Paul Louw was in bevel van daardie groep,” sê Cassie Schoeman, destyds kaptein Schoeman.

Die idee om die manne elke jaar op 10 Junie bymekaar te bring, het by die Abrahamse-tweeling ontstaan, vertel Piet Terblanche – ‘n gevreesde sersantmajoor in die dae van die “SAW & Seuns.” Hy verduidelik: “Die doel is om hulde aan ons makkers te bring en ‘n klein reünie te hou. Maar sekere ouens kry ook genesing deur hierdie dae. Party, soos Marco Caforio, was taai om te kom, want hulle kon nie die verlede opbring nie.”

Ons ry na ‘n gesellige kuierplek buite die stad en gaan sit eenkant. Die manne begin praat – eers huiwerig, maar dan maak hulle oop.

Francois Dercksen was gelukkig. Die oggend voor die aanval het een van die Ratels ‘n as gebreek. Hy moes sý Ratel – 9 Golf – vir daardie manne gee en self op Mulemba agterbly. ‘n Paar ure later het sewe van hulle in dié einste Ratel doodgebrand.

Die Ratels het dwarsdeur die doelwit gejaag. Party het dit nie agtergekom nie. En toe hulle omdraai, was hulle in ‘n mielieland – oop teikens vir SWAPO se swaarkaliber masjiengewere. Binne die eerste oomblikke is drie Ratels uitgeskiet. 9 Golf is reg van voor met ‘n 23-millimeter getref. ‘n Fosforgranaat het ontplof. Die Ratel het aan die brand geslaan.

Sewe manne kon nie uitkom nie. ‘n Paar, waaronder Marco Caforio, Rob de Vito, Nick Ogilvie en ene Van der Vyfer, het by die luike uitgespring. Rob de Vito is bo-op die Ratel doodgeskiet. Marco is platgeskiet. Hy en Van der Vyfer moes byna twee ure lank vir hulle lewens veg.

H.P. Ferreira was luitenant Louw se drywer. Hulle Ratel is van die kant af geskiet. Toe slaan die Ratel aan die brand. Twee manne, Gert Venter en Francois Laubscher, is dood. H.P. is deur die onderlyf met ‘n 14,5-millimeter – wat gewoonlik vir lugafweergebruik word – geskiet, en toe nóg vier skote met ‘n AK47.

“Toe ons hom optel, kon ons deur hom sien,” vertel Grant Abrahamse. Sy oë rek groot. Hy was die kanonnier van die “mediese Ratel.”
“Weet jy hoeveel operasies het hierdie man in sy lewe gehad?” vra Cassie. Hy vat H.P. vaderlik aan die skouer en sê: “ses-en-tagtig!”

“Eights Pie, maak oop jou hemp en wys vir die man hoe lyk jy.”

Ek wil nog sê dit is nie nodig nie, toe kyk ek in ‘n gat in H.P. se stuitjie waarin ek maklik my vuis kan druk. Voor, op sy maag langs, is die vreeslikste littekens. Ek dink op daardie oomblik onwillekeurig aan ‘n ou makker van 32 Bataljon, wat ‘n gat in sy arm het. Maar hierdie is veel erger…

“Daar was baie helde daardie dag. Manne soos Andrew McClean, wat met ‘n Bren eenvoudig op ‘n 23-millimeter masjiengeweernes afgestap en die bemanning die een na die ander doodgeskiet het. Daar is baie stories; ons kan die hele dag aangaan. Wat van dokter Heyman – ‘n dienspligtige soos ons – wat agt gewondes deurgehaal het?” vra Grant Abrahamse.

Kobus Eloff, ‘n kêrel wat min praat, was kommandant Dippenaar se drywer. Hulle het ‘n dubbele kaasmyn getrap. Generaal Constand Viljoen was ook in dié Ratel. Louis Harmse, die kompaniebevelvoerder, wat later tydens Operasie Protea gesneuwel het, kon die trane nie teëhou nie.

Ná die geveg is die voertuie boonop in ‘n hinderlaag gelok. “As die ters (terroriste) nét twee minute langer gewag het, kon hulle ons hele konvooi uitgehaal het,” vertel iemand.
Maar daar is nie nét fisieke skade aangerig nie – ook baie psigiese skade is opgedoen. Skade wat nooit bereken en verwerk is nie.

“When we finished the ops in Angola, me and my brother never stop talking about it. We spoke and we spoke and we spoke…” sê Grant. Hy raak hartseer. Hy vertel hoe Marco Caforio elke jaar op 10 Junie in die begraafplaas op Boksburg tussen die grafte van sy twee makkers, Andrew Madden en Rob de Vito, sit en huil het. Hy wou hulle terug hê, by hom. Sy huwelik was verby.

“Die meeste van ons is geskei, party meer as een keer. Ek is self geskei,” vertel Brent – die ander tweelingbroer. “Jy weet self ons mag nie oor hierdie dinge gepraat het nie. En ons wit mans wys nie swakheid nie. Ons verloor nooit die geveg nie.” Hy vertel hoe hy introspeksie gehou het; besef het hy moet verander – anders sou hy later heeltemal alleen wees.

“Nou stres ek nie meer nie,” sê Brent. En hy kon Marco Caforio gaan optel. Marco het gesê hy wil niks van hulle – van die army – weet nie. Maar sy vrou het hom uiteindelik drie jaar gelede oortuig om te kom.

“Hy het by 1 SAI se hek gestaan en huil. Hy het daardie hele naweek net gehuil. Maar nou is hy okay. Jy het mos self gesien?” sê-vra Brent en kyk na my.

Ek vertel hoe ek – in 1978 ‘n tweede luitenant – jare later my oud-bevelvoerder moes gaan help. Hy wou niemand naby hom hê nie, maar eintlik was dit ‘n noodkreet dat iemand moes kom.

Dit raak teveel vir Cassie Schoeman. Hy stap uit; wil nie hê ons moet sien hy huil nie.

“Dinge kom noú uit – 28 jaar té laat,” sê Francois Dercksen, ‘n man wat ook sý paadjie geloop het.

Piet Terblanche het in ‘n stadium besef hy het hulp nodig. Hy het met sy huisdokter gaan praat. “Ek sal dit stilhou,” het die dokter gesê. Piet was verontwaardig: “Dink jy ek is mal? Ek is nie mal nie man!”

Uiteindelik is hy na ‘n sielkundige verwys. Maar dit het niks gehelp nie.

“Die man het nie geweet waarvan hy praat nie, want hy was nie dáár nie. Toe wil hy vir my ‘n rekening stuur. Sal jy die garage betaal as hulle ‘n pap wiel moes regmaak en hy is nog steeds pap?” wou Piet by die sielkundige weet.

Cassie het intussen teruggekom. Die atmosfeer raak ontspanne. Hy vertel staaltjies van I SAI se bevelvoerder, oorlede “Oom Joep” Joubert. Hy het Lexington gerook, Black Label gedrink, en kon nie Engels praat nie. En sy hare was gesny soos Kobus Wiese sin. Ons skaterlag.

Skielik onderbreek Grant ons: “Skuus manne. Dit is 13:25. Die kontak het noú begin.”
‘n Paar oomblikke stilte.

Piet Terblanche vertel van die troepe wat altyd Maandae laat van pas af gekom het. Toe sê hy vir hulle: “Die man wat my ‘n verskoning kan gee wat ek nog nie gehoor het nie, sal ek eers straf en dan ‘n ekstra naweekpas gee. Ene Kolbe van Pietermaritzburg kom toe laat en verduidelik: “Sammajoor, toe ek vanoggend twee-uur op Pretoria-stasie staan, toe kom daar ‘n swartman met ‘n radio teen sy oor verby. Toe speel Die Stem van Suid-Afrika. En toe gaan staan ek op aandag en ek salueer, soos jy ons geleer het. En toe ry die trein vir my weg sammajoor…”

Die son sit laag. Ek groet. Grant stop my ‘n bottel rooiwyn in die hand, spesiaal gebottel: 10 June 1980 – Operation Smokeshell: WE WILL REMEMBER.

“Ons was nie Recces, of Parabats, of in 32 Bataljon nie. Alpha-kompanie van 1 SAI het nie die erkenning gekry soos julle nie. Party ouens het nou die dag eers hulle medaljes gekry – sommer deur die pos. Maar ons het ons kant vir Suid-Afrika gebring,” sê Brent toe hy my blad skud.

Die volgende paar dae kan ek aan niks anders as Operasie Smokeshell dink nie. En aan “Eights Pie,” Marco, Cassie, Piet… en die tweeling.

Vrydag 13 Junie 2008.
‘n Volblad “Boodskap op Nasionale Jeugdag” van premier Beatrix Marshoff van die Vrystaat, pryk in Volksblad.

Hierdie is die 32ste herdenking van die gebeure op 16 Junie 1976. Ons word weer herinner aan die opofferinge en heldemoed van ons jeug toe hulle in opstand gekom het teen die brutale stelsel wat as misdaad teen die mensdom beskou is…

Ek lees nie verder nie, want “Eights Pie,” Marco, Rob de Vito, Andrew Madden, Paul Kruger… is uitgesluit. Dit is net vir Hector Pieterson en maats. Politiek-korrek.

Wit seuns wat genadeloos gedissiplineer is, onder dwang uit die arbeidsmark, uit hulle vaderland geneem is, ‘n oorlog in ‘n ander land moes gaan veg – nie teen rubberkoeëls en traanrook nie, maar teen masjiengeweerkoeëls en fosfor – se opofferinge en heldemoed kwalifiseer nie.

Die wit jeug van 1976 bestaan nie vir die politici van die Nuwe Suid-Afrika nie. Hulle weet nie van Operasie Smokeshell nie, want hulle was nie dáár nie.

Ons het nie die verkiesing in 1994 gesteel, soos Robert Mugabe in 2008 in Zimbabwe nie. Suid-Afrika is nie vandag ‘n diktatuur, soos Kuba nie. Ons kan aanhou en aanhou vertel…

Die politici van die Nuwe Suid-Afrika se probleem lê diep: Hulle weet nie dat hulle nie weet nie.