fbpx

deur dr Wynand Boshoff

Kulturele selfbeskikking gee jou gesag oor sekere funksies en territoriale selfbeskikking oor ’n sekere gebied. Elk het sy voor- en nadele.

Met kulturele selfbeskikking lewer jy regeringsdienste net aan diegene wat dit graag wil hê. Byvoorbeeld: Net die mense (maar ook al die mense) in België wat Duitse onderwys verlang, kan dit kry – ongeag waar in België hulle woon.

Met territoriale selfbeskikking moet jy oor ’n gebied en al sy mense regeer. Etiopië, byvoorbeeld, is in etniese deelstate verdeel. Maar in elke staat is daar klein groepe van ander etniese groepe.

Die gevolglike probleem dat daardie mense, wie se volksgenote ander state oorheers, in hierdie staat ’n onderdrukte minderheid is en die streeksregering moet met hulle plan maak.

Vir Afrikaners behoort kulturele selfbeskikking te beteken dat funksies soos onderwys, welsyn en erfenisbewaring onder Afrikaners se eie gesag geplaas word. Op ’n informele manier is dit reeds die geval, al ondermyn sekere persone (dink aan Panyasa Lesufi) dit aktief.

Dink aan die volgende moontlikheid:

’n Afrikanerraad is deel van Suid-Afrika se konstitusionele bedeling, soos swart tradisionele owerhede en rade wat dit verteenwoordig. Hierdie raad het bevoegdheid oor skole, kinderhuise en erfenisterreine wie se beheerrade dit verkies. Afrikanerskole kan die staatsgeld waarop hulle geregtig is ontvang, sonder om hulle identiteit op allerlei maniere te versteek. Sonder uitsluiting op rasgronde.

Territoriale selfbeskikking kan net uitgeoefen word waar die groep wat dit wil hê, die meerderheid is – ongeag historiese aansprake. Territoriale selfbeskikking kan net werk as ’n klomp Afrikaners trek.

Die grendelstaat van 2020 en die mate waartoe Orania self die toepassing daarvan kon bestuur, getuig vir die waarde van territoriale selfbeskikking, al is die grondgebied en getal mense klein.

Daar is al bitter debatte tussen territoriale – en kulturele selfbeskikking gevoer. Dit is ’n vals teenstelling. Hoe kan kulturele selfbeskikking, soos hierbo geskets, anders as positief wees? En hoe kan beheer oor ’n gebied (hopelik liewer groter as kleiner) anders as positief wees?

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie

Blog Single

Selfbeskikking 5: Staan kulturele en territoriale selfbeskikking teenoor mekaar?

by Jul 13, 2020Uncategorized1 comment

1 Comment

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

3 × five =