fbpx

deur dr Wynand Boshoff

Daar is ’n algemene veronderstelling dat elke volk ’n staat het. So is Skotland vir die Skotte, Rusland vir die Russe ensovoorts.

Dit is meer dikwels nié die geval nie. Kom ons kyk na ’n paar bekende nasionale state.

 

Vir Frankryk het ’n “multi-kulturele samelewing” in die afgelope dekades met immigrasie uit Moslem-lande begin. Reg? Verkeerd.

In 1794 was net 1 uit elke 3 Franse burgers regtig Frans. Die res was deel van ‘n streekskultuur. Party streekstale was (is) Keltiese tale, ander Germaans en ander was verwant aan Frans – tog baie anders.

Opeenvolgende Franse regerings het kulturele verskeidenheid aktief onderdruk. Die houding is: “In Frankryk woon daar net Franse! As jy nie ’n Fransman is nie, sal jy een word!” Dit is verbasend suksesvol en kleiner kulture is op sterwe na dood.

Oostenryk het ’n soortelyke beleid gehad. Die huidige Tsjeggië, Slowakye, Pole, Bulgarye, Hongarye en al die Balkan-lande was een of ander tyd (volledig of gedeeltelik) deel van Oostenryk.

Vir eeue is Oostenryk regeer asof almal daarin Duits was. Dit het dit nie so goed gewerk as in Frankryk nie en dit was die onmiddellike oorsaak van die Eerste Wêreldoorlog. Dit is ook hoekom selfbeskikking in die vredesluiting so belangrik was, al is dit net ten koste van verloorders toegepas.

Die VSA dink graag aan hulleself as die “melting pot” van kulture. Al het Russe, Swede, Duitsers, Engelse, Pole, Iere en Franse in Europa chronies oorlog gemaak, in die VSA het hulle in vrede saamgewoon. In die pot was Engels soos kool in ’n potjiekos: Wat jy ook al bygooi, die pot bly Engels.

So is state geneig om ’n volk na sy identiteit te vorm, selfs met geweld en onderdrukking, pleks dat state volgens die vestigingspatrone van volke tot stand kom.

Suid-Afrika is so ’n land. Dit het ’n staat geword omdat die grense daarvan vir Britse burokrate sin gemaak het. Dit is agterstevoor.

Kulturele identiteit is die eerstehandse werklikheid. Die grense sowel as konstitusionele orde van state behoort dáárby aan te pas. Die alternatief is onderdrukking, van wie ook al, teen wie ook al.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie