fbpx

deur dr Wynand Boshoff

Die reg tot selfbeskikking word internasionaal erken. Dit is waar. Maar beteken dit elke volk of gemeenskap wat dit verlang, kan dit deur die internasionale reg verkry?

Mens is geneig om oor die internasionale reg soos oor die gewone strafreg te dink. As iets van my gesteel is, meld ek dit by die polisie aan. Dit is hulle werk om die saak te ondersoek en as die dief gevang word, word hy aangekla. Die regstelsel sorg dat my saak bereg word.

Selfs in die handelsreg kan ek die persoon wat wederregtelik my besittings by hom hou, hof toe neem. As die hof in my guns uitspraak lewer, kry die balju opdrag om dit aan my terug te besorg.

Die probleem met die internasionale reg is dat daar nie werklik ’n aanklagkantoor of ’n balju is nie. Daar is ook nie duidelike wette nie, want daar is nie ’n algemeen aanvaarde regsgrondslag nie.

Die doel van die internasionale reg is hoofsaaklik om vrede te bewaar of te bereik. Die agente daarvan is bestaande state, wat verkies om dinge te hou soos dit is.

’n Groep wat wil afstig, moet óf ooreenkoms met die staat waarvan afgestig word bereik, óf genoeg ander state kry om sy aanspraak tot afstigting te ondersteun, óf soveel geweld en onrus veroorsaak dat afstigting erken word as die enigste manier om vrede te herstel.

Wanneer daar ooglopend teen ’n bepaalde bevolkingsgroep gediskrimineer word, kan mens verwag dat die internasionale gemeenskap druk sal uitoefen om dit te staak. Maar selfs toe die wêreld teen die blanke regering in Suid-Afrika verenig was, het geen land sy troepe ingestuur nie.

Iets wat nie bestaan nie, word in ieder geval nie deur die internasionale reg geskep nie. Byvoorbeeld: Nadat daar vir dekades en selfs eeue teen swart Christene in die suide van Soedan gediskrimineer is, is Suid-Soedan onder internasionale druk toegelaat om af te stig. Maar as swart Christene eweredig tussen Arabiese Moslems versprei was, sou die internasionale reg nie so ’n land geskep het nie.

Soms is die uitdruklike keuse vir afstigting van ’n omlynde streek, wat al bewys het dat hulle hulleself kán regeer, nie genoeg nie. Katalonië het met ’n duidelike meerderheid vir onafhanklikheid gestem, maar toe Spanje dit met geweld onderdruk, was die internasionale reg stil.

Op die end werk die internasionale reg vir volke wat onafhanklik wil word, meer soos ’n boer van die destydse Landboukredietraad gesê het: “Hulle gee vir jou ’n lening, mits jy kan bewys dat jy dit nie nodig het nie.”

As ’n volk prakties reeds vry is, sal die internasionale reg dit erken. Meer moet nie daarvan verwag word nie.

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.