fbpx

 

Foto: Gewelddadige protesoptrede in Suid-Afrika te midde die tronkstraf van voormalige president Jacob Zuma. Bron: BBC

Hoe verseker ons Afrikaners se veiligheid in Afrika?

Die veiligheidsrisiko’s vir Afrikaners is tans primêr drieledig: beroepsmisdadigers, openbare onrus en ras-politiesgemotiveerde misdrywe.

In die eerste geval is die Suid-Afrikaanse situasie bloot die gevolg van grootskaalse kriminele aktiwiteit sonder die nodige bronne om dit doeltreffend te bestry. Korrupsie, wanbestuur en onbevoegdheid in die Suid-Afrikaanse Polisie (met uitsonderinge waarvoor ons baie dankbaar is) is aan die orde van die dag. In die tweede geval word verskeie kwessies verpolitiseer met ernstige gevolge vir die ekonomie, munisipaliteite en gewone burgers.

Die laaste risiko is vir Afrikaners ʼn groot uitdaging. Ons posisie staan tans so: Afrikaners is ʼn 1) klein minderheid wat 2) maklik op sigwaarde geïdentifiseer kan word (ons lyk anders as die meerderheid), 3) voorheen aan bewind was en wat tans vir ons sekere implikasies het en 4) ons speel ʼn prominente rol in die ekonomie terwyl ʼn beduidende groep Afrikaners nog ekonomies welgesteld is.

Behalwe vir haatmisdade, die ongelooflike wreedheid van plaasmoorde en verpolitiserings van Afrikanergeskiedenis, -kultuur en -ruimtes, asook die opsweping teen alles  wat Afrikaans op kampusse is, is die dreigemente van grondonteiening sonder vergoeding in geen onduidelike terme nie ʼn rasgerigte beleid.

Veiligheid in konteks: 400 jaar van verantwoordelikheid neem

Tydens Jan van Riebeeck se bewind was die Vryburgers, wat die verste van die kasteel af geleë was, self verantwoordelik vir grensveiligheid. Tydens die Oosgrensoorloë moes plaasgesinne self organiseer om die omgewing te beveilig. Die Voortrekkers het geen staande weermag gehad nie, en toe ons die wêreld se magtigste ryk in twee oorloë die stryd aansê was dit elke man se eie verantwoordelikheid om perd, geweer en kos te onderhou.

Met hierdie stellings is die doel geensins om enige een tot goedkoop oorlogpraatjies aan te hits nie. Inteendeel, in ieder van hierdie gevalle moes Afrikaners later ʼn beter alternatief kry. Wat wel hieruit duidelik word, is twee sake: sedert ons aankoms is dreigende lewensgevaar immerteenwoordig en veiligheid is ons eie verantwoordelikheid.

Veiligheid as ingesteldheid

Eie beteken jý moet dit doen.

Jy moet paraat wees, jy moet jou gesin en besittings, geloof en gemeenskap kan beskerm. Grensboere het dit deur die jare baie direk ervaar en moes groot aanpassings ter wille van veiligheid maak. Dit begin en eindig by die vermoë en vernuf waaroor jy beskik.

Die groot denkskuif om egter te maak, is om verby die moord en misdaad te kyk en die oorsaak daarvan te verstaan. Dit verander reaksionêre veiligheidsoplossings (hekke en honde) na pro-aktiewe veiligheidsinstellings.

 

 

Volhoubare veiligheidsoplossings

My persoonlike vaste oortuiging is dat Afrikaners slegs kan oorleef as ons in ʼn eie gebied konsentreer. Die Orania Beweging se standpunt is van die begin af dat konsentrasie kardinaal is vir ons oorlewing. ʼn Verspreide minderheid is uiters kwesbaar op verskillende wyses, dink gerus aan hoe kwesbaar ons plaasboere geword het wat afgeleë en wyd versprei woon.

As ons dan van volhoubare veiligheid praat, kan ons nie anders nie as om weereens klem te lê op Orania se beleid van eie arbeid nie. Sonder eie arbeid en selfwerksaamheid sal volhoubare veiligheid ʼn lugkasteel bly. In Orania maak ons die afstand van verwydering kleiner, want ons deel kerkbanke en kinders se skoolbanke tussen werkgewer en werknemer en dit verseker ʼn veiliger gemeenskap.

Volhoubare veiligheid in konsentrasie sluit veiligheid van instellings, veiligheid van kultuur, veiligheid van ons taal op ʼn volhoubare wyse en veiligheid van ons uitlewing van geloof in. As te ware ʼn veilige fondament vir kulturele praktyke.

Orania se veiligheid

Sonder staatskoffers wat na algemene dienste in Orania kan omsien, is dit kritiek vir baie instellings om hulle eie bestaan op ʼn kommersiële manier te help regverdig. Orania Veiligheidsdienste (OVD) is geen uitsondering nie en bied in Orania en die groter omgewing ʼn reeks veiligheidsverwante dienste aan. Dit sluit noodmedies, basiese reaksie, monitering van alarms en kameras ensovoorts in. Op hierdie wyse voorsien OVD self gedeeltelik in die finansiële implikasies van sy interne diens aan inwoners.

Die vermoë wat Orania Veiligheidsdienste geskep het, sluit personeel in wat  reeds baie jare se polisiedienservaring in verskeie eenhede het. Ettiene de Lange, wat aan die hoof van OVD staan, het diverse sekuriteitservaring wat hoëprofiellughawebeskerming en die veiligheidsdienste van ʼn privaatlandgoed insluit.

Dit is so dat die SAPD in die groter omgewing al meer as een keer vir OVD se hulp gevra het gegewe ʼn goed toegeruste span, magsvermenigvuldigingde toerusting soos hommeltuie, kameras en honde en ʼn goeie netwerk na ander veiligheidsinstellings. ʼn Oos-Kaapse motordiefstalsindikaat wat misdaadaksies in ons omgewing geloods het, is byvoorbeeld in die nagtelike ure deur Orania se manne (met reuse samewerking deur die gemeenskap) vasgetrek terwyl die polisie nog gepoog het om hulle op te spoor.

Die aspek van Orania se veiligheid wat, behalwe vir konsentrasiepolitiek en eie arbeid, seker die belangrikste is, is die betrokkenheid van die gemeenskap. Die gemeenskap het ʼn mentaliteit van verantwoordelikheid en paraatheid aangeneem en bly daagliks daarop ingestel.

Selfbeskikking begin by self verantwoordelikheid en dit is in hierdie gees dat ons elke dag skaaf om die stelsels wat ons reeds gebou het, te verbeter.

Joost Strydom is die Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.