fbpx

deur Karin Kemp

Waarom sal ‘n professionele, opgeleide persoon die stadsliggies verlaat om eerder ‘n klein onderneming in Orania te kom bedryf? Dit klink na ‘n eenvoudige vraag maar die antwoord is so veelsydig. Ek beantwoord dit vanuit my persoonlike perspektief.

Ironies genoeg, is ek nie iemand wat glo dat geld nie geluk kan koop nie en dat dit beter is om arm maar gelukkig te wees nie. Ek glo ook nie dat geld alles is nie – inteendeel –  genoeg welverdiende geld maak alles tog ‘n bietjie makliker: selfs om jou medemens te help. Dit maak lang ure se harde werk die moeite werd.

Ek glo ook jy is verantwoordelik vir jou eie geluk, jou eie toekoms en jou eie sukses. So maak dan jou eie geluk! Al werk jy lang ure, hard. Soek spesifiek vir die mooi in die kleiner dinge in die lewe. Geniet jou koppie tee in die 5-minuut gaping tussen afsprake en verkyk jou aan ‘n mooi tuin. Doen jou huistake met ‘n glimlag al wou jy eerder voor die televisie sit of vroeg in die bed klim. Dis ‘n lewenswaarheid wat ek, soos talle ander wyshede, by my pa geleer het: self-verantwoordelikheid.

Hoekom dan my groot salaris as voltydse oogkundige in die stad, verruil vir ‘n deeltydse praktyk in Orania? Want ek woon en werk nou tussen my eie mense; mense wat my agtergrond en waardes verstaan. Buitendien is dit soveel lekkerder en makliker om nie elke dag met die Engels-praat te sukkel nie.

Werksbevrediging is nie iets wat jy op jou bord kan skep nie. Dit is ook ’n belangrike ding wat my pa my geleer het. Dis ook nie iets wat ek in die stad geken het nie –  werksbevrediging, nou. Per uitsondering wel, maar nie as ‘n reël nie. Trouens, ek het die dae en soms ure tot my volgende af tyd, soms letterlik afgetel. “Nog twee en ‘n half dae Karin, dan het jy een en ‘n half dag af,” is tipies iets wat ek op ‘n Donderdagoggend vir myself sou sê. Of, “nog ‘n uur, Karin, dan gaan jy uit met ete”. En dan het ek uitgegaan, hoor! Al het ek net in die kar gaan sit. Anders pla almal my met werksdinge, in my áftyd.

Hier is dit soveel anders. Hier meng jy werktyd met aftyd omdat jou lewe vervleg is in wat jy vir jou mense, jou dorp, jou eie menswees daarmee beteken. Jy maak so maklik uitsonderings, omdat jy wíl. Dit beteken nie dat kliënte nie my werkstye hoef te respekteer of my nie op my persoonlike foon oor werksdinge moet kontak nie. Inteendeel, danksy my uitmuntende assistent se goeie werk vorm daar al hoe meer ’n duidelike skeidslyn tussen my werk en my privaatlewe.

Lewensgehalte is soos mensekennis of lewenservaring: nie iets wat jy met ‘n pil kan inkry nie, jy moet dit ervaar! Nog ’n lewenswysheid van my pa – jy moet blootgestel word aan die lewe om dit te leer ken. Die “lewensgehalte”-deel het ek self bygevoeg, nadat ek die lewe in Orania leer ken en liefkry het. Ek is in die stad gebore en getoë, daarom moes ek maar ’n bietjie aanpas op die platteland en in die Karoo. Nou het ek so ‘verplattelands’ dat dit voel asof ek die storieboeke oor die platteland- en plaaslewe wat ek as kind verslind het, gelééf eerder as gelees het. Ek is tuis, waar ek hoort. Dít is lewensgehalte!

Gemeenskapsbetrokkenheid pas my soos ‘n handskoen. Dis vir my so lekker om deel te wees van ons dorp se hartklop en nie net my eie lewe onafhanklik van Orania te lei nie. Ek beweeg die hele dorp vol. Ek sien, hoor en vóél wat hier aangaan. Ek sien maande lank voor Karnavaltyd of die Desember-vakansieprogram, reeds daarna uit. Ek wil nêrens anders heen gaan nie. Dis mý dorp, mý mense en mý veilige hawe. Waarvoor ek sal baklei. Lelik, met my naels uit, as dit dan moet!

Natuurlik is daar uitdagings om ‘n professionele praktyk in ‘n klein dorp te bedryf. Ek glo wel met ‘n positiewe gesindheid dat daar vir elke uitdaging ‘n oplossing is.

So moes ek al ‘n rekenmeester en ‘n assistent aanstel om my van myself te red, omdat ek die mense jammer kry en almal wil help eerder as om ‘n besigheid te bedryf. Ek hoop en glo dat ek my werk as oogkundige goed doen, maar ek is nie in wese ‘n besigheidsvrou nie. Ek moes ongelukkig op die harde manier leer dat my praktyk ‘n besigheid en nie ‘n stokperdjie is nie en bedryf dit nou so.

Nog ’n uitdaging is dat koeriers nie elke dag tussen my praktyk en die laboratorium wat die brille maak, pakkies kan vervoer nie. Dit verhoog die wagtydperk vir die produk en dit is dikwels ‘n frustrasie – soms meer vir my as vir my pasiënte. Ons laboratorium is egter uitstekend en hoogsbetroubaar en doen altyd hul bes om ons pakkies te prioritiseer en so gou as moontlik terug te stuur.

Die naaste oogspesialiste is 160 km ver in Kimberley so verwysings daarheen is moeilik. In die stad is daar talle opsies, dikwels kan jy iemand sommer gou ‘om die hoek’ stuur. Daar is wel moontlik ‘n oplossing vir hierdie probleem in die pyplyn maar dit is te vroeg om nou reeds die aap uit die mou te laat. Grendelstaatregulasies vertraag ongelukkig tans alle onderhandelings. Maar hou  hierdie spasie dop! Intussen, ry mens maar wanneer dit nodig is.

Kleiner uitdagings sorteer ons uitstekende span sommer van dag tot dag gou uit.

Behalwe vir bogenoemde oorkombare struikelblokke, kan ons spog met ons professionele status. Vergun my dit maar, want ek is trots op wat ons hier vermag. Ons maak gebruik van uitstekende toerusting en ons kan in alle opsigte dieselfde kwaliteit diens en produkte bied as wat ’n mens in ’n stad sou kry. Min kleiner dorpe kan dieselfde sê nie. Dit is vir eers in my boeke, goed genoeg. Orania groei en daarmee saam ontstaan geleenthede.

Gee kans en onthou: van dorp tot stad!

Die menings van skrywers weerspieël nie noodwendig die mening van die Orania Beweging nie.