by Orania Beweging | Mei 5, 2015 | Nuus |
Een van die grootste verliese wat die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur die afgelope paar jaar gelei het, is die verlies aan taal – en kultuurspesifieke tersiêre onderrig.
Onlangse verwikkelinge by die Noordwes-Universiteit, sowel as die uitsprake van die nuwe rektor van die Universiteit van Stellenbosch oor transformasie, dui daarop dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans en tot ‘n mindere mate die Afrikanerkultuur nog ‘n houvas het, ook nou sal moet transformeer.
Terwyl die oordrag van kennis in ‘n spesifieke taal en vanuit ‘n spesifieke kultuuragtergrond belangrik is, is daar ook baie ander redes waarom ‘n kultuurgemeenskap ‘n eie universiteit moet hê.
Die eerste is op die terrein van navorsing. ‘n Kultuurgemeenskap wat aktief navorsing in sy eie taal en vanuit sy eie kultuurperspektief doen, slaag suksesvol daarin om voortdurend relevant te bly.
Die ontwikkeling van leierskap is nog ‘n rede waarom dit belangrik is dat ‘n kultuurgemeenskap sy eie universiteit moet hê. Ware leiers kom gereeld tydens tersiêre onderrig na vore en leiers wat hierdie vaardighede binne hul eie taal- en kultuuromgewing ontwikkel sal meer geneig wees om uiteindelik hul vaardighede binne die gemeenskap aan te wend.
Regoor die wêreld is daar taal- en kultuurgemeenskappe wat stadig maar seker besig is om te verdwyn. Een van die hoofredes hiervoor, is dat hierdie gemeenskappe glad nie oor hoër funksies, wat veral op universiteite ontwikkel word, beskik nie. Verskeie Eskimo-gemeenskappe in Alaska en Kanada organiseer tans gemeenskapskolleges in die hoop om hul kwynende tale en kultuurfunksies daar in stand te hou.
Die rol wat die teenwoordigheid van ‘n universiteit op ‘n gemeenskap het, moet ook nie onderskat word nie. Neem byvoorbeeld ‘n universiteit met ‘n mediese skool. Dit is welbekend dat Bloemfontein van die beste mediese dienste in Suid-Afrika het. Top dokters en mediese spesialiste word daar opgelei en bly baie keer na hul studies aan om by plaaslike klinieke en hospitale te praktiseer omdat hulle tuisvoel binne die gemeenskap. Dieselfde kan nie van Potchefstroom gesê word nie, omdat daar nooit ‘n mediese skool tot stand gekom het nie.
Navorsing in die VSA toon dat die top universiteite daar meestal in uiters suksesvolle gemeenskappe geleë is. Universiteitsdorpe en –stede in die VSA het gewoonlik ‘n hoë gemiddelde inkomste en lae werkloosheid. Selfs belangriker egter is dat sulke dorpe en stede gewoonlik meer geneig is om ‘n kultuur van innovasie te hê.
‘n Goeie voorbeeld hiervan in Suid-Afrika is Stellenbosch. Stellenbosch is een van die welvarendste dorpe in Suid-Afrika en nuwe, innoverende ondernemings word gereeld in Stellenbosch gestig. Die top entrepreneurs wat hul studies by die Universiteit van Stellenbosch voltooi verlaat nie altyd die gemeenskap nie, maar word eerder aangemoedig om binne ‘n gemeenskap waar hulle tuisvoel te innoveer.
Hierdie soort van gemeenskapsuniversiteit is wat die Afrikaner in die toekoms nodig sal hê ten einde ons kultuur en taal te bly onderhou. Die voordeel wat ons het, is dat ons ‘n goeie vertrekpunt het. Afrikaans is ‘n hoogsontwikkelde taal en ons kultuurfunksies is ook goed ontwikkel. Dat ons besig is om dit te verloor is egter ‘n feit waarby ons nie verby kan kyk nie.
by Jaco Kleynhans | Nov 25, 2014 | Nuus |
Die privatisering van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur het die afgelope paar dae nog meer duidelik geraak. Die afgelope twee naweke het 80 000 mense, die meeste nog, die Afrikaanse musiekkonsert, Afrikaans is Groot, bygewoon. Afrikaanse musiekverkope breek voortdurend rekords en die Afrikaanse filmbedryf lewer beter en meer suksesvolle films as ooit in die verlede.
Afrikaans gedy op privaattelevisiekanale soos kykNET en Afrikaanse gemeenskapsradiostasies soos Radio Pretoria toon groeiende luistertalle. Orals skiet klein privaat uitgewerye op wat Afrikaanse boeke en veral boeke oor die Afrikaner se geskiedenis en kultuur publiseer.
Ons het egter ook die afgelope paar dae beleef hoe die SAUK die bietjie, meestal swak, Afrikaans wat nog op hul kanale oor is verder afskaal. Die gewilde natuurleweprogram 50/50 het ‘n nuwe taalbeleid waarvolgens slegs 20% van die programinhoud voortaan in Afrikaans sal wees. Slegs enkele Afrikaanse programme van goeie gehalte op die SAUK se kanale bly oor en hierdie programme bestaan hoofsaaklik weens privaatinisiatiewe. Elzilda Becker, redakteur van die glanstydskrif DeKat, verdien ‘n pluimpie vir haar inisiatief om ‘n program, DeKat-TV, saam te stel. Sou dit nie vir hierdie soort privaatinisiatiewe gewees het nie, sou daar nog minder Afrikaans op die SAUK se kanale gewees het.
Een van die terreine waar die behoud en uitbou van ons taal en kultuur egter die meeste openbare veld verloor, is die akademie. Die probleem begin reeds op skoolvlak waar die meeste Afrikanerkinders vandag nie meer oor hul geskiedenis en kultuur onderrig word nie. ‘n Klein groepie privaatskale swem toenemend stroom op en doen belangrike werk om hierdie tendens teen te werk.
Die afgelope paar dae het dit ook aan die lig gekom dat die laaste twee universiteitskampusse waar Afrikaans die primêre taal van onderrig is, nou ook getransformeer sal word. Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het op teleurstellende wyse aangekondig dat Afrikaanse en Engels voortaan gelyke status by dié universiteit sal geniet.
Voorheen was Afrikaans die primêre onderrigtaal. By die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus was Afrikaans tot nou toe die primêre onderrigtaal. Die rektor Dan Kgwadi se transformasieplan, wat onlangs uitgelek het, bewys egter duidelik dat hy beplan om Afrikaans by dié universiteit af te skaal. Dit raak toenemend moontlik dat Afrikaans binne die volgende paar jaar totaal as onderrigtaal by openbare universiteite kan uitsterf.
In skrille kontras met die verval van Afrikaans aan openbare tersiêre onderriginstellings soos universiteite, universiteite van tegnologie en kolleges breek ‘n nuwe era vandag aan met die aankondiging van die uitbreiding van die privaatuniversiteit, Akademia, se aanbod. Die vakbond Solidariteit het ‘n paar jaar gelede die inisiatief geneem om Akademia op die been te bring en ons kan maar net almal hoop dat Akademia in die komende paar jaar die gaping in Afrikaanse naskoolse onderrig sal kan vul.
Die ANC-regering werk pro-aktief aan die uitwerk van Afrikaans en die Afrikanerkultuur uit alle openbare ruimtes. Ons het almal ‘n plig om elke inisiatief wat ons taal en kultuur in privaatruimtes bevorder, te ondersteun.
by Jaco Kleynhans | Mar 19, 2014 | Nuus |
Die Afrikaner se kort geskiedenis vertel die verhaal van ‘n besonderse skeppingsvermoë. Gaan stap jy deur die strate van Stellenbosch beleef jy die Afrikaner se vroeë argitektoniese vermoë. Dorpe regoor Suid-Afrika vertel hoe hierdie vermoë met tyd ontwikkel het om by omgewing, klimaat en beskikbare boumateriaal aan te pas.
Besoek jy enige goeie kunsmuseum soos die Pretoria Kunsmuseum vertel die werk van kunstenaars soos Pierneef van die Afrikaner se vermoë om wëreldklas kuns te lewer.
Nog ‘n hoogtepunt is die Nasionale Afrikaanse Literatuurmuseum en Navorsingsentrum in Bloemfontein. Die omvang van die Afrikaner se vermoë om oor 350 jaar ‘n literatuurskat saam te stel, word hier ten toon gestel en dit is ‘n bewys van ‘n hoogsgesofistikeerde volk.
‘n Groot skat van monumente, museums, beelde, skilderye, boeke en musiek lewer ‘n bydrae om ons te herinner aan ‘n tyd toe die Afrikaner op skeppende wyse, trots sy kultuur, tradisies en volkslewe vertoon het.
Die vraag vandag aan ‘n moderne Afrikanervolk is of ons steeds dieselfde skeppingsvermoë het. Voldoen die veiligheidskomplekse waar ons mense woon aan die vereiste van ‘n volk om goeie argitektuur te skep?
Voldoen die moderne kuns aan ons vermoë om soos Pierneef, Bettie Cilliers-Barnard en Johannes Meintjes wêreldklas kuns vorendag te bring?
Lewer Afrikanerskrywers vandag nog die gehaltewerk van Van Wyk Louw, Totius en Jan F.E. Celliers?
NP van Wyk Louw het geskryf: “…en al die pyn van ons volk-word moet eenmaal onder die volkere sin kry totdat hulle sê; “Daarom dan moes dié volkie so swaar hê en bly lewe… dat hy so ‘n skoonheid kon voortbring!”
‘n Volk bring skoonheid voort deur sy literatuur, argitektuur, musiek, beeldhouwerk, skilderwerk en ander skeppende kunste. Eens op ‘n tyd was die Afrikaner een van die skeppendste volke in die wêreld. ‘n Monument daarvoor staan in elke gebou, boek, liedjie, skildery en ander kunswerk wat oor eeue heen geskep is en vandag regoor Suid-Afrika en die wêreld vir almal te siene is.
Dit help egter veel indien ‘n volk nie kan aanhou skep nie. Regoor die wêreld sien ons vandag dat materialisme daartoe lei dat mense kitsskoonheid soek in plaas van skoonheid wat uit ‘n diepe besef van identiteit in die vorm van kuns na vore gekom het. Wie bou nog ‘n huis wat ‘n storie oor ons kultuur en tradisies kan vertel? Hoeveel films, musiek en boeke delf diep om die Afrikaner se wese te beredeneer en ten toon te stel?
Van Wyk Louw het ook geskryf: “As ‘n mens van die magtigste lande hul groot en blywende kuns wegneem, dan verloor hulle hul betekenis in die geskiedenis, dan word hulle net enorme versamelings menslike materiaal wat sinloos aankom en doodgaan.
So glo ook dat die taak van Suid-Afrika nie is om vet en ryk aan aardse goedere te word nie, maar om groot en mooi dinge voort te bring wat aan latere geslagte die betekenis van ons lewe hier sal openbaar. Die kuns maak die lewe sinvol, nie die lewe die kuns nie.” Laat ons as Afrikaners ons vermoë om skeppend te wees herontdek en daardeur ‘n bydrae tot ‘n sinvolle bestaan hier in Afrika vir onsself verseker.
by Henri Boshoff | Jun 28, 2013 | Nuus |
Henri Boshoff is tans besig met ‘n Magister in Finansiële Wiskunde aan die Noordwes-Universiteit.
Hierdie artikel is in ‘n debat oor transformasie op kampus gebruik.
10 Mei
Die agtergrond waarteen ek skryf:
In die jongste Wapad (kampuskoerant van die Noordwes-Universiteit), is ‘n volle bladsy besteee aan die vraag of transformasie op kampus genoeg bereik. Die Mail & Guardian probeer baie hard om ‘n karikatuur van Potch te maak as ‘n laaste vesting vir konserwatiewe, eksklusiewe, wit Afrikaners. Hulle noem byvoorbeeld dat al die bordjies Afrikaans is – en dis waar. Hulle laat egter na om te sê dat die bordjies ook in Setswana en ook in Engels is. The Citizen het gekies om hulle berig oor Thabang se dood direk langs ‘n foto van ‘n eerstejaar te plaas wat a Nazi-vlag dra ‘n rekwisiet vir ‘n eerstejaarskonsert waarin hulle die spot gedryf het met die Nazi’s, maar wie’t nou ooit gedink daardie feit dra betekenis… Johnathan Jansen, rektor van Kovsies, (so kom ons gee nou nie voor dat hy sonder vooroordele oor hulle kompetisie skryf nie) skryf ‘n artikel in Beeld wat die gevare van Universiteite uitlig wat hulleself isoleer deur vas te klou aan ‘n minderheidstaal en/of openlik gelowig is.
Ek is Afrikaans én ‘n Christen. So dit sal vir my wonderlik wees as ‘n universiteit albei hierdie eienskappe met my deel. Ek glo dat die gemiddelde lid van ‘n ander taal- of kultuurgroep ook daarvan sal hou om ‘n graad in hulle eie taal te verwerf. Dié wat nie hiervoor wens nie, sê dis omdat hulle nie dink ‘n graad in hulle eie taal is so waardevol of van gelykstaande gehalte as ‘n Engelse graad nie. Tog sou hierdie klag waarskynlik verdwyn as die kwaliteit van sodanige graad hoog is.
Wat is transformasie?
Die HAT definieer transformasie as ‘n gedaanteverwisseling, die oorbring in ‘n ander vorm of ‘n verandering in die samestelling van iets.
Wat egter bedoel word wanneer hierdie woord in verband met tersiêre instellings gebruik word, is onduidelik. ‘n Mens sou die universiteit se wapen kon verander, dan die Lettere en Wysbegeerte skuif na waar Ekonomie was, Ekonomie na waar Ingenieurswese was, Ingenieurswese na Teologie, Teologie na Regte en Regte na waar Lettere en Wysbegeerte was. Die resultaat, is ‘n dramatiese verandering vir die universiteit en voldoen dus streng gesproke aan die definisie, maar niemand sou werklik kon glo dis die transformasie wat nodig is nie. Die vraag is dan: “Transformasie na wat toe?” Dit is ‘n vraag wat onbeantwoord bly.
‘n Mens sou ook kon verwys na die transformasie waarvan Barber, Donnelly en Rizvi in hulle artikel oor transformasie van tersiêre instellings praat. ‘n Transformasie om in te pas in die inligtingera – transformasie in die tegnologie wat gebruik word en die aanpas van die leerplan om beter in te pas by klimaatsverandering en so aan. Dis ook nie die transformasie waarvan ons kort-kort hoor nie, hoewel dit waarskynlik meer relevant is.
Sover ek dit verstaan kry, beteken transformasie dat ons wegbeweeg van instellings wat vasklou aan een taal en geloof. Die feit dat die Potch-kampus van die NWU oorwegend Afrikaans is en die feit dat sy geskiedenis Christelik is, maak van hom ‘n teiken vir transformasie-sprekers wat ‘n negatiewe voorbeeld soek. Dis glo agterlik en onwetenskaplik. Ironies genoeg sal ‘n universiteit wat ateïsties en Engels is, waarskynlik as hoogs wetenskaplik en getransformeerd beskou word!
Die werklike beleide wat in plek is
Neem die taalbeleid van UP as voorbeeld. Dis basies die beleid van TUKS: Afrikaans en Engels met die weglaatbare addendum dat Sepedi as ‘n kommunikasietaal bygevoeg i). Op grondvlak word Engels bevorder, so daarom word hulle as beter getransformeerd beskou. Jy kan in Afrikaans klas hê, mits daar “genoegsame belangstelling is… en as die program akademies en ekonomies regverdigbaar is” wat die regsweergawe is van “jy kan nie in Afrikaans klas hê nie”. Hulle bied dieselfde toegewing vir enige taal. Daar moet net genoeg belangstelling wees om dit akademies en ekonomies lewensvatbaar te maak. So in teorie kan jy in Venda klas kry as jy net genoeg ander mense kan oortuig om dit te eis en as jy ‘n goedkoop dosent kan kry om die klas aan te bied.
Soek ‘n bietjie ‘n taalbeleid op Wits se webtuiste Die enigste skakel wat jy kry, is een wat jou lei na kursusse waarin jy kan studeer om taalbeleide op te stel. Hulle is wel trots daarop om betrokke te wees by die ontwikkeling van gebaretaal. Probeer egter in enige ander taal as Engels iets soek en moenie iets sinvol verwag nie.
UJ het vier amptelike tale: Afrikaans, Engels, Sesotho en isiZulu. So, wat kan ek in Afrikaans swot? Afrikaans-Nederlands. Wat anders wil jy dan in Afrikaans leer? Die enigste rigting waarin ek in ‘n amptelike taal van die universiteit kan studeer, is die studie van daardie taal! Ek raai dis seker soortgelyk vir die ander twee. Jy sou waarskynlik ‘n studentevereniging van ‘n aard kon saamstel in een van daardie tale, as jy net self die studente bymekaar kan kry. Die punt is egter dat, as die vereiste vir ‘n taal om ‘n amptelike taal van ‘n universiteit te wees, is dat jy die vak moet aanbied, dan voel ek dis tyd dat ons raaksien dat ons ‘n horde Griekse universiteite in ons land het.
Ek gaan egter nie meer tyd daaraan spandeer om ander instellings swart te smeer nie, dat ons teen hulle gemeet beter kan lyk nie.
My argument
Ek sal argumenteer dat AS daar ‘n universiteit in Suid-Afrika was wat ‘n openbare voorstander vir Afrikaans of Christenskap of beide was, sou dit die ideaal gewees het. Dit dra selfs by tot transformasiedoelwitte. Dis vir my tragies dat die PUK kritiek ontvang dat hy vir die oningeligtes voorkom of hy kultuur-, taal- of geloofspesifiek is.
Geloof
Die idee dat wetenskap geloofsneutraal is (of selfs kan wees) is ver uit die mode in vandag se akademie. Almal het geloofs-en ander voorveronderstellings waarmee hulle begin as hulle navorsing doen. ‘n Eksplisiete erkenning in hierdie verband behoort verwelkom te word, nie bespot nie. Om die waarheid te sê: daar is universiteite wat dit van hulle studente eis – dis bloot goeie navorsing. As jy sou voorgee dat jou standpunte selfs in die mees gevorderde takke van die mees eksakte vakke, lees Doktoraal in Suiwer Wiskunde enigiets anders is as gekleur deur jou eie wêreldbeeld, is dít die opinie wat bespotlik is. Roy Clouser argumenteer dat ons geloofsperspektiewe nie net ons opinies kleur wanneer ons navors nie, maar ook bepaal watter navorsing enigsins aangepak sal word.
Dus ‘n instelling wat hom verbind aan ‘n spesifieke wêreldbeeld, is nie ‘n unieke eienskap van die PUK nie, en dis as ons aanneem die skuif weg van CHO af was net om buitestaanders ‘n rat voor die oë te draai. ‘n Uitstippeling van hierdie wêreldbeeld sal eintlik vordering wees.
Taal en Kultuur
Kom ons neem aan eenheid in diversiteit is ‘n goeie doelwit. Ek dink op hierdie vlak behoort elkeen, ongeag sy posisie op die politiese of geloofspektrum in Suid-Afrika, saam te stem. Maak ek enigsins ‘n gedagtesprong as ek dan byvoeg dat diversiteit gekoester moet word? Ek kan nie dink dat daar teenstand behoort wees nie. Maar as jy aan die einde van die stuk kom en besef jy stem nie saam nie, dan is dit hier waar ons van mekaar verskil.
Hoe behou ‘n mens dan diversiteit? Antropologies moet ‘n kultuur aan sekere minimumvereistes voldoen om voort te bestaan. Hulle is
• ‘n Geografiese nis. Daar moet iewers ‘n plek in die wêreld wees waar ‘n kultuur domineer, anders sal hy ophou bestaan. Sonder Sjina sal alle Sjinese binne drie generasies deel word van die kulture waarbinne hulle leef. Russel Peters meen byvoorbeeld dat hy ‘n Kanadees is met twee dinge aan hom wat Indies is: sy ma en sy pa.
• Basiese kommunikasie. As jy in jou motor gaan ry en jy kan nie name vir Kar, Straat, Sypaadjie, Straatlig, Robot, Stuurwiel, Remme, Rat, en so aan, in jou eie taal kry sonder om ‘n ander taal as ‘n kruk te gebruik nie, dan is dit minder moeite om net die taal te praat wat al hierdie dinge kan benoem. Dit lei dan tot die volgende twee punte se belangrikheid.
• Letterkunde. Die kern van wat ‘n taal is, is die vermoë om wat ons voel en dink en doen in woorde om te sit. ‘n Hoë gehalte letterkunde is die manier waarop taal ontwikkel. Ons het nodig om oulike maniere te kry om te sê wat ons wil sê. As jy Shakespeare byvoorbeeld met sy tydgenote vergelyk, is hy oneindig meer leesbaar. Dis omdat hoe hy dinge gesê het, deel geword het van die taal, terwyl die res die taal van die tyd gepraat het. Engels het toe weg ontwikkel van wat dit in die Middeleeue was.
• Hoër onderwys in ‘n taal. Vliegtuie het nie bestaan in 1880 nie. Ook nie rekenaars minstens nie soos ons nou dink as ons die woord hoor nie, selfone, satelliete (behalwe as jy die Maan vir ‘n natuurlike satelliet reken), digitale horlosies en so aan nie. Vandag dink ons nie aan trekkers as modern nie. Ons glo ook nie eintlik rekenaars is nuut nie. As jy in jou twintigs is, dink jy waarskynlik selfone is nie baie nuut nie. Satelliete en hulle toepassings in terme van TV, internet, GPS en kommunikasie is alledaags. Universiteite is waar die ontwikkeling plaasvind van idees wat lei tot die produkte wat oor nog honderd jaar alledaags gaan wees.
Dus, vir die voortbestaan van ‘n taal met die naam Xhosa* moet daar ontwikkeling van nuwe dinge in Xhosa wees. Daar moet rekeningkunde in Xhosa gedoen word. Nuwe produkte mag nie eenvoudig i-(Engelse naam vir wat ek beskryf) wees nie, iemand moet Xhosa-name vir hulle kry. Daar moet goeie boeke en gedigte en flieks en liedjies en toneelstukke in die taal wees. As dit nie gebeur nie, word Xhosa i-Engels en dan los ons later net die “i-”.
Dan is Xhosa nie meer ‘n beskrywing van ‘n taal nie, maar van ‘n kultuur. Omdat daar egter nie ‘n taal is waarin die kultuur bestaan nie, word dit binne ‘n paar geslagte ‘n woord wat jou voorouers omskryf en dan verloor die woord betekenis vir almal behalwe historici.
Kwaliteit van Opleiding
Volgende bespreek ek die impak wat taalverandering op verstaan het. Dat opleiding optimaal plaasvind in jou eie taal, is nie regtig ‘n opinie nie, dis eerder doodgewoon ‘n feit. Natuurlik sal jy beter verstaan as jy nuwe begrippe kan baasraak sonder dat jy die helfte van jou tyd mors in die vertaal van daardie begrip. Die Departement van Onderwys stel dit so: “Om kinders te motiveer om hulle huistaal te los, ondermyn hulle persoonlike en begripsfondasie vir die leerproses.”
Hulle verwys hier na grondslagfase-onderwys. Ek praat dan van tersiêre instellings. Nou sou ek kon voorstel dat die enigste mense wat onderrig in ‘n taal kan gee, die mense is wat onderwys in of vir daardie taal geswot het. Dis egter hopeloos te lig in die broek. Die voordele van moedertaalonderrig is veel wyer. Selfs wanneer Coleman ‘n artikel skryf wat globalisering aanbeveel, stel hy voor dat mense “hulle eie taal vir plaaslike en kulturele kommunikasie gebruik waar hulle persoonlike identiteit betrokke is en ‘n ander taal vir internasionale, formele en praktiese kommunikasie”. Hy bestudeer die uitslae van Engelse opleidingsprogramme, waar Engels as onderrigmedium gebruik is, maar een of ander ander kuns geleer moes word. Die beste resultate vir ‘n EOP in Italië is waar studente dieselfde gevorderdheid bereik as studente wat in Italiaans leer. Die resultate is heterogeen, hoewel universiteite almal probeer het om die fokus op inhoud eerder as onderrigtaal te hou en hoewel die kursusse duurder is om aan te bied.
Studente wat dus in ‘n tweede taal op tersiêre vlak leer, lewer ten beste soortgelyke resultate en ten slegste bemeester hulle nie die inhoud nie en eerder as dat hulle ‘n internasionale graad het, het hulle nou geen graad nie. Die beste beleid sal dan eerder wees om die inhoud in jou huistaal te leer en as jy nog ‘n taal nodig het, doen ‘n kort kursus in, sê maar Besigheidsengels. Dit was in elkgeval vir jare lank die NWU se beleid. As dit Engels is wat jou laat sukkel, druip jy net die kursus, nie jou graad ook nie.
Hoekom Engels?
As die bogenoemde beskou word, sal ‘n mens begin wonder hoekom Engels die norm is vir universiteite in ‘n land met 11 amptelike tale en nog ‘n paar ander in gebruik. Tipies is die antwoord dat Engels die besigheidstaal is of dat Engels die taal van die wêreld is.
Kom ek begrawe gou hierdie idee.
Engels as taal domineer Hollywood. Dis omtrent dit. Die demografie van Amerika is besig om te verander en siende dat hulle nie ‘n amptelike taal het nie, gaan hulle toekomstige regeringstaal Spaans wees. Die vinnigsgroeiende universiteite is hoofsaaklik Mandaryns. Die gemiddelde Hollander ken vier tale aangesien handel in Europa in die taal gebeur van die land waarin jy deelneem: Duits in Duitsland, Vlaams of Frans in België, Duits in Oostenryk, Nederlands in Nederland, hoewel jy wonderlik sal regkom as jy net Engels magtig is – die vier tale ding is mos al genoem, Frans in Frankryk om die waarheid te sê, is dit ‘n goeie toets van jou braafheid om iets in Parys in Engels te probeer koop, Spaans in Spanje, Italiaans in Italië, Grieks in Griekeland… Die grootste ekonomieë in die wêreld is die G8. Onder hulle is Engels die oorheersende taal van twee lande: die VSA en Brittanje. In Kanada kan jy ewe goed met Engels of Frans regkom. Die res is Rusland, Duitsland, Frankryk, Japan en Italië, waarvan nie een Engels verkies vir besigheidsredes of enige ander redes nie.
Die rede dat ons Engels gebruik om “almal in ag te neem”, is eenvoudig: hulle het die kolonie besit. Die enigste rede dat alle universiteite in die land Engels moet wees, is ‘n variasie op die Stockholm-sindroom!
Gevolgtrekking
Ek glo ek het bewys dat ter wille van die behoud van diversiteit behoort daar verskillende universiteite te wees waar ‘n spesifieke taal as hooftaal gebruik word en nie as ‘n sekondêre taal nie, maar as ‘n primêre kultuurtaal. Dit kan nie universiteite wees wat ‘n taal as ‘n stertjie aanlas in een of ander beleid nie, maar tale waarin jy kan klasdraf en toets skryf.
Ons kan nie 11 tale onderhou nie. Om te dink ons kan, is wensdenkery. Dit is egter moontlik om universiteite te hê in Afrikaans, Engels, een van of beide Zoeloe en Xhosa en een van die Sotho’s. SeTswana het na my mening die beste kans, siende dat Mafikeng klaar baie vordering daar gemaak het. Dis min genoeg afgebyt dat almal wêreldklasinstellings kan wees. Daarom is dit die perfekte tipe “transformasie” vir ons tersiêre instellings, want dit maak leer toeganklik vir meer mense.
Uiteindelik kan ons kies om universiteite in verskeie tale te hê en daarmee saam kulture red, of ons kan erken ons wil almal Engelse wees, hierdie “multicultural society” is mos eintlik ‘n lastigheid! Indien dit die laasgenoemde is, wil ek dit net graag weet. Moenie vir my lieg terwyl jy tegelykertyd my opleiding nutteloos probeer verklaar nie.
Ek sal verkies om my taal en my kultuur te onderhou.
.
*Vervang hier ad libitum Zoeloe en met klein aanpassings geld die argument ook vir Venda, Sesotho, Sepedi ens.
by Orania Beweging | Mar 3, 2011 | Nuus |
Die legendariese Nasionale Pers-joernalis en professor extraordinaire van geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch, dr. Leopold Scholtz, het in ’n onlangse artikel verduidelik dat alhoewel hy skepties is oor ’n Afrikaner volkstaat, hy wel groot respek het vir Orania-leiers soos mnre. Carel Boshoff IV en Frans de Klerk. Verder meen dr. Scholtz dat “ons minstens die Orania-mense ‘n billike kans moet gee om te wys wat hulle kan doen”.
Vanjaar vier Orania sy twintigste bestaansjaar en as inwoner van die dorp kan ek getuig dat almal opgewonde is oor die feesvieringe wat deur die loop van die jaar hier gaan plaasvind. Kom ons skuif politiek vir eens opsy en kyk na die ware Orania. Wat doen ons in Orania? Wat behels die alledaagse lewe hier in die Afrikanertuiste en hoekom trek soveel Afrikaners dan na hierdie veilige Karoodorp?
Die rustige pas van die Oranjerivier wat verby Orania vloei bied ‘n skerp kontras met die besige tempo waarteen die dorp en sy inwoners beweeg. Afrikaner konstruksie spanne is om byna elke hoek en draai besig om nuwe huise en geboue op te rig terwyl die konstante gelui van klokkies aan winkels se deure klante verwelkom. Laggende kinders speel in groot boomryke tuine saam met hul maats terwyl motoriste vir mekaar in die verbygang glimlag en waai. ’n Mens merk onmiddellik op dat ’n gees van kameraderie en opregte vriendelikheid in die dorp heers.
Besigheidsmense, kundiges, rolspelers en nuuskierige inwoners kom weekliks by die ouditorium bymekaar en vergader oor verwikkelinge wat in die dorp plaasvind. Daar word planne beraam oor bv. hoe ontwikkeling versnel kan word, werkskepping uitgebrei kan word en nuwe behuising vir behoeftige Afrikaners geskep kan word. Komitees en taakspanne beraam elke dag planne oor o.a. die bevordering van toerisme, opgradering van die vliegveld en hoe om Orania esteties op te kikker.
Nuwe inwoners word by die dag opgemerk en verwelkom. Ondersteuners van oor die wêreld heen stig belangegroepe om Orania te help groei. Nuwe besighede soos ons luukse boetiekhotel, bistro, klerewinkel ens. pronk elke jaar uit wat eens ‘n verlate Karoolandskap was. Orania se ekonomie word geheel en al gebaseer op die suksesvolle beleid van volkseie arbeid. Dit beteken dat alles deur Afrikaners gedoen word, van die broodnodige rol wat die straatveër speel tot die gekwalifiseerde bankbestuurder. Almal is Afrikaners.
Daar is klubs vir sterrekykers, sportgeesdriftiges, fotograwe, “fonkel vroue”, omgewingsbewaring, rekenaarspeletjies ens. Bekende Afrikaanse musikante soos o.a. Chris Chameleon, Steyn Fourie, Dozi, Trevor Nasser, Rouel Beukes en Bok van Blerk pak gereeld die sale vol op Orania.
Afrikaners van omliggende dorpe soos De Aar, Van der Kloof, Hopetown, Kimberley en selfs Bloemfontein besoek Orania elke dag om ons skoon en veilige fasiliteite soos die rivier spa en die gemeenskap swembad te gebruik of om hul kinders by ons puik skole en koshuise in te skryf.
Gesinne kuier lekker oor naweke om braaivleisvure op die oewer van die Oranjerivier, vang vis of roei na die pragtige riviereilandjies rondom Orania. Rugby en ander sportsoorte word op groot skerms gewys in die restaurant of in die kuierplekke waar jongmense tot laataand sokkiejol.
Skolesport bring Afrikaanse skole van heinde en vêr op Orania bymekaar om teen mekaar te kompeteer. Orania se twee skole blink ook uit op akademiese vlak waar talle onderskeidings elke jaar deur ons matrikulante behaal word. Beide Orania se skole spog met ’n 100% matriekslaagsyfer vir 2010.
Wanneer daar van ’n volkstaat gepraat word moet mense nie vergeet hoekom ons vry wil wees nie. Die vêrregses, skreeuers en doemprofete mis die punt geheel en al. Dis die klein dingetjies wat saak maak soos om tussen ons eie mense ’n gelyke en regverdige kans tot sukses te hê wat daagliks tot voordeel van die breër Afrikanergemeenskap strek. Om nie skepties te wees nie, maar eerder te glo in Afrikaners se vermoë om op meriete te presteer en ‘n verskil te maak in Afrika.
Alhoewel meeste van die aktiwiteite wat in Orania plaasvind ook op vele ander plekke in suidelike Afrika gevind kan word is daar wel ’n verskil: ons sien volhoubare vooruitgang om ons terwyl ons daagliks onder ons eie administrasie vertoef. Oraniërs hoef nie te kla oor misdaad en munisipale dienslewering wat platgeval het nie, want te danke aan selfbeskikking en bestendige volkseie bestuur ervaar ons alles om ons heeltemal anders as Afrikaners wat in ANC munisipaliteite probeer oorleef.
Oraniërs hunker nie terug na die “goeie ou dae” nie. Ons werk immers vir ‘n opwindende toekoms waar vry Afrikaners ons regmatige plek tussen die nasies van die wêreld kan inneem en sê dat met óns land en met óns volk gaan dit goed, God regeer.