fbpx

 

Die legendariese Nasionale Pers-joernalis en professor extraordinaire van geskiedenis by die Universiteit van Stellenbosch, dr. Leopold Scholtz, het in ’n onlangse artikel verduidelik dat alhoewel hy skepties is oor ’n Afrikaner volkstaat, hy wel groot respek het vir Orania-leiers soos mnre. Carel Boshoff IV en Frans de Klerk. Verder meen dr. Scholtz dat “ons minstens die Orania-mense ‘n billike kans moet gee om te wys wat hulle kan doen”.

Vanjaar vier Orania sy twintigste bestaansjaar en as inwoner van die dorp kan ek getuig dat almal opgewonde is oor die feesvieringe wat deur die loop van die jaar hier gaan plaasvind. Kom ons skuif politiek vir eens opsy en kyk na die ware Orania. Wat doen ons in Orania? Wat behels die alledaagse lewe hier in die Afrikanertuiste en hoekom trek soveel Afrikaners dan na hierdie veilige Karoodorp?

Die rustige pas van die Oranjerivier wat verby Orania vloei bied ‘n skerp kontras met die besige tempo waarteen die dorp en sy inwoners beweeg. Afrikaner konstruksie spanne is om byna elke hoek en draai besig om nuwe huise en geboue op te rig terwyl die konstante gelui van klokkies aan winkels se deure klante verwelkom. Laggende kinders speel in groot boomryke tuine saam met hul maats terwyl motoriste vir mekaar in die verbygang glimlag en waai. ’n Mens merk onmiddellik op dat ’n gees van kameraderie  en opregte vriendelikheid in die dorp heers.

Besigheidsmense, kundiges, rolspelers en nuuskierige inwoners kom weekliks by die ouditorium bymekaar en vergader oor verwikkelinge wat in die dorp plaasvind.  Daar word planne beraam oor bv. hoe ontwikkeling versnel kan word, werkskepping uitgebrei kan word en nuwe behuising vir behoeftige Afrikaners geskep kan word. Komitees en taakspanne beraam elke dag planne oor o.a. die bevordering van toerisme, opgradering van die vliegveld en hoe om Orania esteties op te kikker.

Nuwe inwoners word by die dag opgemerk en verwelkom. Ondersteuners van oor die wêreld heen stig belangegroepe om Orania te help groei. Nuwe besighede soos ons luukse boetiekhotel, bistro, klerewinkel ens. pronk elke jaar uit wat eens ‘n verlate Karoolandskap was. Orania se ekonomie word geheel en al gebaseer op die suksesvolle beleid van volkseie arbeid. Dit beteken dat alles deur Afrikaners gedoen word, van die broodnodige rol wat die straatveër speel tot die gekwalifiseerde bankbestuurder. Almal is Afrikaners.

Daar is klubs vir sterrekykers, sportgeesdriftiges, fotograwe, “fonkel vroue”, omgewingsbewaring, rekenaarspeletjies ens. Bekende Afrikaanse musikante soos o.a. Chris Chameleon, Steyn Fourie, Dozi, Trevor Nasser, Rouel Beukes en Bok van Blerk pak gereeld die sale vol op Orania.

Afrikaners van omliggende dorpe soos De Aar, Van der Kloof, Hopetown, Kimberley en selfs Bloemfontein besoek Orania elke dag om ons skoon en veilige fasiliteite soos die rivier spa en die gemeenskap swembad te gebruik of om hul kinders by ons puik skole en koshuise in te skryf.

Gesinne kuier lekker oor naweke om braaivleisvure op die oewer van die Oranjerivier, vang vis of roei na die pragtige riviereilandjies rondom Orania. Rugby en ander sportsoorte word op groot skerms gewys in die restaurant of in die kuierplekke waar jongmense tot laataand sokkiejol.

Skolesport bring Afrikaanse skole van heinde en vêr op Orania bymekaar om teen mekaar te kompeteer. Orania se twee skole blink ook uit op akademiese vlak waar talle onderskeidings elke jaar deur ons matrikulante behaal word. Beide Orania se skole spog met ’n 100% matriekslaagsyfer vir 2010.

Wanneer daar van ’n volkstaat gepraat word moet mense nie vergeet hoekom ons vry wil wees nie. Die vêrregses, skreeuers en doemprofete mis die punt geheel en al. Dis die klein dingetjies wat saak maak soos om tussen ons eie mense ’n gelyke en regverdige kans tot sukses te hê wat daagliks tot voordeel van die breër Afrikanergemeenskap strek. Om nie skepties te wees nie, maar eerder te glo in Afrikaners se vermoë om op meriete te presteer en ‘n verskil te maak in Afrika.

Alhoewel meeste van die aktiwiteite wat in Orania plaasvind ook op vele ander plekke in suidelike Afrika gevind kan word is daar wel ’n verskil: ons sien volhoubare vooruitgang om ons terwyl ons daagliks onder ons eie administrasie vertoef. Oraniërs hoef nie te kla oor misdaad en munisipale dienslewering wat platgeval het nie, want te danke aan selfbeskikking en bestendige volkseie bestuur ervaar ons alles om ons heeltemal anders as Afrikaners wat in ANC munisipaliteite probeer oorleef.

Oraniërs hunker nie terug na die “goeie ou dae” nie. Ons werk immers vir ‘n opwindende toekoms waar vry Afrikaners ons regmatige plek tussen die nasies van die wêreld kan inneem en sê dat met óns land en met óns volk gaan dit goed, God regeer.