Dis tyd om te trek

Onlangs het Solidariteit Beweging ʼn demografiese verslag bekend gestel waarin die Afrikaner se afnemende getalle onder oënskou geneem word en as een van die teenstrategieë ʼn konsentrasie in sowat 30 sentrums of ankerdorpe aanbeveel word. Daardie sentrums is almal stede waar die Afrikaner nog noemenswaardige getalle het, en so om en by 10-20% van die totale bevolking verteenwoordig. In party stede neem die getalle Afrikaners selfs volgens voorspellings toe, maar in meeste neem dit af en selfs daar waar Afrikaners meer word, sal hulle nooit ʼn meerderheid word nie, omdat die demografiese tendense van natuurlike aanwas en migrasie na die stede van swartmense net te sterk is.

Die doel van die konsentrasie in 30 sentrums is dan ook nie om weer politieke beheer te kry nie, maar om gekonsentreerd te wees in plekke waar die getalle Afrikaners groot genoeg is vir die bestaan van instellings wat nodig is vir handhawing en oorlewing en ʼn aanvaarbare lewenstyl: Afrikaanse skole en waar moontlik hoër onderwysinstellings, kerke, hospitale, spesialisdienste en natuurlik genoeg mede-Afrikaners vir interaksie. Van die ankerdorpe of-stede is plekke soos Pretoria, Kaapstad, Port Elizabeth, Nelspruit, Pietersburg, Potchefstroom, Rustenburg, Bloemfontein, Middelburg, Secunda en ander, alles stede waar Afrikaners nog in ʼn aansienlike mate gekonsentreer is. Terwyl sowat 10 jaar gelede in meeste dorpe en stede ʼn groot genoeg Afrikanerkonsentrasie was om nodige dienste, instellings en geriewe te verseker, het die demografie so drasties verander, dat konsentrasie noodsaaklik geword het. Die vinnige ontvolking van die platteland word as onstuitbare gegewe beskou.

Afriforum het juis tot stand gekom met die doel om Afrikaners te help om hulle lewe op allerhande maniere draagliker te maak waar hulle ook al is, terwyl die Orania Beweging se klem nog altyd was om ʼn meerderheid Afrikaners in ʼn yl bevolkte gebied in die Noordwes-Kaap te konsentreer. Orania word in die Solidariteit-verslag as een van die 30 ankerdorpe genoem, maar ook sy besondere aard uitgelig, naamlik dat Orania heelwat kleiner getalle het as die ander sentrums, maar dat die demografiese druk wat in ander sentrums geld, nie hier ter sprake is nie. Alhoewel Solidariteit nie die standpunt van die Orania Beweging van konsentrasie in die Noordwes-Kaap oorgeneem het nie, is die beginsel van konsentrasie in enkele sentrums per provinsie reeds ’n kopskuif in die regte rigting. Ons besef ook dat nie alle Afrikaners Orania toe kan trek nie en dat die ankerdorpe ten minste ʼn tydelike uitkoms kan bied, veral vir mense uit kleiner dorpe wat heeltemal verval en waar die lewe ondraaglik geword het.

Orania sit nog steeds met die uitdaging van genoegsaam getalle. Vanaf sowat 5000 inwoners is Orania al ’n soort klein stad wat dienste en geleenthede betref, ten minste in ʼn yl bevolkte gebied soos die Noord-Kaap (in Gauteng sou dit slegs ʼn onbeduidende voorstad wees), met 10 000 mense sal groei amper vanself kom, en 10 000 Afrikaners is ook die rigtinggewende getal in die verslag van Solidariteit om ʼn ankerdorp te wees. Orania het boonop die groot voordeel dat die 10 000 Afrikaners ʼn absolute meerderheid verteenwoordig. Reeds nou het Orania egter die nog groter voordeel dat dit die enigste dorp in Suid-Afrika is waar Afrikaners oor hulleself op plaaslike vlak regeer.

Om by die magiese getal van 10 000 of selfs 5000 uit te kom, is nie maklik nie, veral nie solank talle Afrikaners nog wag met hulle trek tot Orania eendag groot genoeg is vir hulle behoeftes. Dit is egter die enigste plek in Suid-Afrika wat vir Afrikaners ʼn volhoubare en langtermyn toekoms bied. Hier het Afrikaners as enigste dorp in die land beheer oor hulleself, wat ook nie deur ʼn verkiesing weer verloor kan word nie. Hier is groei, werksgeleenthede, hier word Afrikaans, die Afrikanerkultuur en -erfenis beskerm, hier is dit veilig en leef mense hulle Christenskap en gesinswaardes uit. ʼn Groot aftreeoord (wat ʼn versorgingseenheid en voltydse mediese personeel sal insluit) is in beplanning, en meer mense bring ook meer besighede mee. Verder is hier genoeg water en grond sodat ontwikkeling nog lank kan voortgaan.

Dit help nie om vir ewig uit te stel nie. Daar sal altyd geriewe wees wat nog kort, maar wie te lank wag moet later besef dat die beste eiendom uitverkoop is en dat sy bates in Suid-Afrika weggekwyn het.