Omgewingsbeskerming lê aan die hart van die Orania-gedagte

Orania bemark homself as ‘n groen dorp, waar sonkrag gebruik word, vullis geskei word en plante en diere beskerm word. Vir die buitenstaander mag dit voorkom as ‘n poging om weg te doen met die harde beeld van Orania, wat gewoonlik negatiewe mediadekking kry weens “regse politiek” en klem op Afrikaneridentiteit, en om die meer sagte kant waarvan almal hou, die oulike groen dorpie, voorop te stel. Inderwaarheid is die beskerming van jou kultuur en identiteit en die beskerming van die omgewing twee kante van dieselfde munt, naamlik behoudendheid. Geestelike gesondheid, fisiese gesondheid en ‘n gesonde omgewing gaan hand aan hand.
Dit is een van die ironië van die politiek dat dieselfde partye en groepe wat elke boom en plant, elke dier en elke oorspronklike landskap wil beskerm, terselfdertyd morele waardes en gevestigde gemeenskappe wil vernietig. Dit rym nie om te wil bewaar en te wil vernietig en afbreek in dieselfde asem nie en om mens en natuur teen mekaar op te stel asof die een nie deel van die ander een is nie, en asof altwee nie deur God en tot Sy eer geskape is nie. Dit is net so ironies dat sogenaamde konserwatiewes op die voorpunt is van diegene wat hulle beywer vir mynbou en olie- en gasontginning in beskermde areas en vir die uitbou van kernkrag.
By alle kritiek teen die Westerse kapitalisme waarmee groenpartye en ander linkses so graag punte aanteken, moet onthou word dat die grootste besoedelaars sosialistiese lande was en is. Die ou Sowjet-Unie was seker die grootste besoedelaar in die geskiedenis. Vandag is dit Sjina, die land wat nog steeds deur ‘n kommunistiese party regeer word.
Die liefling van die “progressiewes”, wat omgewingsbewustes en groenes insluit, die ANC en sy trawante, is juis diegene wat nou kruis en dwars oor Suid-Afrika laat myn, wildstropery nie meer effektief beveg nie en water- en lugbesoedeling ongeërg laat plaasvind.
Die hele Orania-gedagte en konsep lê diep ingebed in konserwatiewe denke. Nie konserwatief in die sin van “agterlik”, teen verandering en uit tred met die tyd nie, soos wat joernaliste wat met ‘n paar stereotipes grootgeword het, beweer.
Konserwatief beteken om dit wat kosbaar is, te beskerm en te vertroetel. Kosbaar is iets wat die toets van die tyd deurstaan het, wat ewigheidswaarde het en wat dus ‘n reg tot bestaan en koestering het. Die logika van die oorlewing van die sterkste waarvoor liberales staan, kan wel geld as dit kom by tegnologiese uitvindings, waar dit wat meer doeltreffend is, dit aflos wat uitgedien is. As dit kom by dinge wat ewigheidswaarde het en wat nie vervang kan word nie, soos die kulturele erfenis of die natuur, is ingryping nodig.
Dit is nogal veelseggend dat die eerste inisiatief om natuur en diere te beskerm in Suid-Afrika, van Paul Kruger, ‘n diep konserwatiewe Afrikaner, uitgegaan het.
As ons dus in Orania die omgewing beskerm deur weg te beweeg van Eskom-krag wat met steenkool opgewek word na sonkrag, deur rommel te skei pleks om die omgewing toe te gooi met ashope en deur die uitroei van plante en diere aan bande te lê, dan word ons nie gedryf deur ‘n groen modegier nie, maar handel ons uit diepe oortuiging om vir ons nageslagte ‘n goeie land na te laat waarop hulle kan voortbou. Om dieselfde rede moet ons ook die eksplorasie van skaliegas in een van die laaste redelik ongeskonde gebiede van Suid-Afrika, die Karoo, beveg. Die natuur is net so ons erfenis soos die kultuur wat oor geslagte heen oorgedra is. Altwee is ten diepste deel van ons wese.

Orania van dorp tot stad – ‘n nuwe strategie. Boek bied belangrike nuwe strategie.

Die titel van Frans de Klerk se nuwe boek Orania, van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie is veelseggend. Dit behandel ‘n nuwe benadering tot die verkryging van vryheid vir die Afrikaner in sy eie gebied en behandel ook kortliks Orania se ontstaan en werkwyse.

Laat ek sommer met die intrapslag sê wat dit nie is nie omdat die persepsie wel bestaan het en nog bestaan. Die boek verteenwoordig nie ‘n argument vir ‘n verdere afskaling van die ideaal van staatkundige vryheid vir die Afrikaner nie. Dit is ook nie ‘n nuwe skuif om die aanspraak op selfbeskikking af te water nie en om ons te oortuig dat ons nou maar moet afsien van die ideaal van uiteindelike vryheid en tevrede moet wees met ‘n dorpie of ‘n mini-stadstaat nie.

Wat die boek wel goed beredeneer, is ‘n nuwe strategie om vryheid te bereik onder veranderde omstandighede. Die ideaal van uiteindelike vryheid bly nog dieselfde. Die kernargument van die boek is om die tans nog beperkte energie vir Afrikanerselfbeskikking te fokus op dit wat ons het, die dorp Orania, en om daarvan ‘n voertuig te maak wat ons by ‘n eie gebied vir die Afrikaner uitbring.

De Klerk argumenteer dat ons met die feit van beperkte getalle moet werk. Toe die idee van ‘n volkstaat in die Noordwes-Kaap bekend gestel is in 1989, en later weer in 1996 ook deur die Vryheidsfront ondersteun is, was die verwagting dat binne ‘n relatiewe kort tydperk van enkele dekades duisende Afrikaners hulle in die gebied gaan vestig, asook dat die ANC-regering gewillig sal wees om oor ‘n Afrikanergebied te onderhandel voordat nog iets op die grond tot stand gebring is.

Albei verwagtings is nie vervul nie, maar was terugskouend waarskynlik te naïef gewees. Om verskeie redes het Afrikaners se ontnugtering met die nuwe Suid-Afrika langer gevat as wat diegene wat Orania begin en ondersteun het en wat reeds voor 1994 ontnugter was, verwag het. Van ontnugtering met die oue tot die beywering tot die nuwe is ook nog ‘n redelike groot stap om te neem. Wat die regering betref, het die houding van “daar is plek vir almal in die land, ook Afrikaners” plek gemaak vir een van onbeskaamde swart nasionalisme en is die ANC nie bekommerd oor toenemende frustrasie, onttrekking en emigrasie van Afrikaners nie.

Om dié rede moes Orania sy strategie (nie sy einddoel nie), naamlik om ‘n groot, uitgestrekte gebied redelik gelyktydig te beset met aansienlike getalle Afrikaners, herbedink. Die strategie van verspreiding, om so veel as moontlik grondgebied te beset (wat eie is aan die Afrikaner se voorgeslagte, die Trekboere en Voortrekkers) kon om verskeie redes nie werk nie. Gewillige vryheidstrekkers was min en diegene wat in bestaande dorpe in die aangewese gebied in die Noordwes-Kaap gevestig het, moes besef dat hulle min of geen verskil maak nie omdat hulle met ‘n reeds gevestigde struktuur en ekonomie, wat nie te vinde was vir Afrikanerarbeid nie, te make gehad het. Slegs Orania, ‘n dorp wat van nuuts af opgebou is, het die ideaal vergestalt. Eenduisend Afrikaners wat gekonsentreerd in Orania woon, het ‘n baie groter impak as 100 Afrikaners wat elk in 10 dorpies oor die uitgestrekte Noordwes-Kaap sou woon.

Orania bied die voordeel dat dit reeds onder Afrikanerbeheer is en reeds in ‘n groot mate na sy mense se belange kan omsien en dinge vir Afrikaners kan doen wat geen ander munisipaliteit in die land doen nie. Hier is werk vir Afrikaners, hier is veiligheid, funksionerende dienste en ‘n mate van maatskaplike sorg en opheffing, behuising, goeie opleiding, beskerming en uitbou van ons kultuur, geleenthede vir ondernemers en vele meer.

Wat Orania en sy vermoë om groter uitdrukking aan die Afrikaner se vryheidstrewe te gee beperk, is veral die gebrek aan getalle. Dit maak dat hier tans geen hospitaal en voltydse dokter, geen universiteit of beroepskollege en geen groot nywerhede is nie. Die uitdaging is om Orania tot ‘n klein stad te ontwikkel vanwaar dit moontlik is om ‘n ware enjinkamer te wees vir die vinniger bereiking van die Afrikaner se vryheidsideaal.

Die woord stad mag vir mense uit Johannesburg, Durban of Kaapstad negatiewe beelde oproep van misdaad, vervreemding, besoedeling, verkeersknope, beknoptheid en anonimiteit. Vele stedelinge kom juis Orania toe op soek na ’n idilliese plattelandse bestaan. Die gerusstelling is dat Orania nooit ‘n megastad sal raak nie. Afrikaners se beperkte getalle maak dat ‘n Afrikanerstad Orania heel waarskynlik nie eers 50 000 inwoners sal hê nie en dat dit die voordele van stad en platteland sal verbind. Alles wat nodig is, sal in die stad beskikbaar wees en die lang en duur ritte na die stede onnodig maak. Dit is egter nog steeds ‘n opset waar mense gemoedelik en rustig kan lewe. ‘n Sekere grootte is nodig om die instellings, dienste en werksgeleenthede te kan vestig wat vir die meeste Afrikaners noodsaaklik geword het vir ‘n gehalte lewe. Dit sal ook ‘n deur en deur Afrikanerkarakter hê en die nadele wat met groot stede gepaardgaan, sal nie van toepassing wees nie.

Die Afrikanerstad Orania kan uit die aard van die saak nie sonder omliggende grond bestaan nie. Voedselsekuriteit is uiters noodsaaklik en ruimte bied ook veiligheid. Dus sal daar rondom die kernstad ‘n kleinhoewegebied wees, soos wat die meeste stede het, en nog verderaan sal daar ‘n gordel van plase wees om die kos te produseer.

Die boek Orania: Van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie kan ‘n belangrike rol speel om Afrikaners te laat besef dat Orania werklik ‘n alternatief kan wees.

Verkiesing 2014 is meer van dieselfde

Dit het al ‘n ritueel met Suid-Afrikaanse verkiesings geword dat in die aanloop daartoe allerhande verwagtings geskep word dat hierdie keer dinge anders gaan wees en daar ‘n kans is om die ANC-regering te verslaan, of ten minste enkele provinsies van die party af te neem.

Die media wil koerante verkoop en het dus bespiegel dat die korrupsie van president Zuma en die wegbreek van vakbonde uit die ANC/Cosatu/SAKP-eenheidsfront ‘n wesenlike faktor is wat die spel gaan verander. Dan word daar ook, gegrond op meningspeilings, gegis dat die ANC provinsies soos die Noord-Kaap en Gauteng weens grootskaalse ontevredenheid en betogings kan verloor.

Hierdie verkiesing het egter net weer bevestig wat ‘n mens die onveranderlike wetmatighede van die Suid-Afrikaanse politiek kan noem:
• Die ANC wen met elke verkiesing om en by 2/3 van die stemme. Geen interne verdeeldheid, swak leierskap, skandale of swak prestasie kan die ANC se geweldige houvas op sy ondersteuners verbreek nie. Daar is ook ‘n groot gaping tussen die media se waarmeming van die ANC en die ondersteuners op grondvlak se onbreekbare lojaliteit.
• Die DA beweeg met elke verkiesing ideologies nader aan die ANC en sy leierskap verswart. Nogtans kon die party nêrens ‘n kiesafdeling wen wat hoofsaaklik deur swartmense bevolk word nie en bly die swart ondersteuning gering.
• Die Afrikaners bly die mees lojale ondersteuners van die DA, en selfs die DA se afskeep van Afrikaans, steun vir swart bemagtiging en grondeise kon nie die Afrikaner se lojaliteit aan dié party kraak nie. As mev Zille se dansery, die uitwerk van wit Afrikaanse mense uit die DA se leierskap en die ideologiese skuif na links nie die Afrikaner se ondersteuning vir die DA kan breek nie, dan kan niks dit doen nie.
• Die VF+ het wel effens beter gevaar, wat in die lig van ‘n krimpende getal Afrikanerkiesers op sigself ‘n prestasie is. Nogtans kan die party nie uit die 1%-ghetto uitbeweeg nie en selfs die VF se verandering van die fokus op Afrikanerselfbeskikking na minderheidsbelange, het nie gehelp om nuwe steun uit nie-Afrikanergeledere te wen nie.
• Met elke verkiesing is daar ‘n nuwe swart party wat uit ontevrede ANC-ondersteuners gevorm het. 1999 was dit die UDM, 2004 die OD, 2010 Cope en nou EVV en Agang. Alhoewel die partye,behalwe Agang, wat ‘n flop was, ‘n element van verrassing inhou, trek hulle min steun van die ANC af en herskik net die oposisiegeledere. Nuwe partye het ook ‘n beperkte lewensduurte en oorleef selde meer as 2 termyne.
• Etniese politiek kry min steun. Swart mense stem rasgebaseerd en nie etnies nie. Partye met ‘n etniese appèl (nie in beleid nie, maar wel in die feit dat hulle streeksgebonde is) soos die IVP, UCDP, UDM, MF, ens, kry min steun en vorder in die meeste gevalle agteruit.
• Verkiesings gaan nie oor beleid of ideologie nie, maar feitlik uitsluitlik oor brood- en bottersake. Partye wat op waardes fokus, soos die VF+ en die ACDP, kry min aftrek, terwyl die ANC, DA, EVV e.a. se veldtogte suiwer op materiële dinge fokus.
• Elke verkiesing wys net weer eens die mag van demografie, veral wanneer die uitslae uit die swart gebiede inkom. Dan spring die persentasies van swart massapartye soos die ANC of EVV en daal die persentasie van partye wat hoofsaaklik deur wit mense ondersteun word.

Die verkiesing het baie gekos, baie mense opgewonde gemaak en het veel tyd en energie in beslag geneem. In die beste geval gaan dinge bly soos wat dit is en dit is reeds sleg genoeg. Daar is geen alternatief op die partypolitieke terrein nie. Alle groot partye staan maar net variasies voor van ‘n beleid van “transformasie”, staatsinmenging en die ontkenning van etnisiteit.

As Afrikaners, en nog meer spesifiek as vryheidsgesindes en volkstaters, moet ons niks van die politiek verwag nie. Die hoop dat selfbeskikking in die parlement onderhandel sal word, soos wat dit nog in die 1990’s die geval was, is futiel. Ons kan dankbaar wees dat daar ‘n party is wat vir Afrikanerbelange en selfbeskikking staan en wat parlementêre verteenwoordiging het, maar 1% is net te min om enige beduidende verskil te maak. Die rigting van die regering, en die grootste deel van die opposisie, is weg van selfbeskikking en heen na meer sentralisasie, meer sosialisme en meer sekularisering. Ons behoort ons dus uit die party- en parlementêre politiek uit te hou, maar wel bande te verstewig met enige organisasie wat Afrikanerbelange voorstaan, wat uit die aard van die saak ook ‘n politieke party soos die VF+ insluit. Selfbeskikking word egter nie, ten minste op hierdie stadium, in die parlement of die partypolitiek bereik nie, maar op grondvlak. Die huidige politieke bestel is nie gunstig vir Afrikaners nie, maar verhoed ons ten minste ook nie om uit eie krag ons eie dorp en gebied te ontwikkel nie. Afrikaners moet die geleenthede nou aangryp en help bou, pleks om te hoop dat daar eendag ‘n regeringsverandering sal wees, wat in elk geval niks aan die toedrag van sake in Suid-Afrika, met sy oorweldigende meerderheid arm swart mense, verander nie.

Orania se antwoord op grondgryp

Vir boere is die skrif al lankal aan die muur. Nie net dat hulle die mees kwesbare slagoffers van moorde is nie, hulle is ook gedurig die teiken van die regering oor hulle grondbesit.
Die nuutste aanslag van die regering is ‘n radikale wetvoorstel waarvolgens boere die helfte van hulle grond aan hulle werkers moet afstaan. Dit is volgens enige Westerse denke van eiendomsreg en voedselsekuriteit totaal verkeerd, maar volgens die Afrika-denke dat die grond aan almal behoort en deur almal benut moet word, logies.

Die stigters van Orania, by name prof Carel Boshoff, het die ontwikkeling al dekades gelede sien aankom en daarom is Orania al in 1991 begin, en nie nou eers nie. Reeds kort nadat Orania aangekoop is, is ook ‘n plaas van 2300 ha bygekoop en opgedeel in besproeiingshoewes van 10-15 ha elk. Dit was die grootte wat een gesin kon hanteer. Enigiets groter sou weer die probleem van massa-arbeid meebring. Destyds het baie boere gespot met Orania se “sukkel-landbou” wat nie “ekonomies lewensvatbaar is nie”. Orania se boere het vir lank swaar getrek en moes wag voor hulle pekanneutbome enigsins opbrengste lewer. Heelwat boere het vinniggroeiende gewasse verbou om net aan die lewe te bly tot die bome opbrengste sou lewer. Terselfdertyd het die boere buite Orania goeie wins gemaak in tye van goeie pryse, en nie eers in hulle wildste drome daaraan gedink om volkseie arbeid te oorweeg nie.

Grondpryse in Orania en die omgewing het reeds geweldig gestyg en ten spyte daarvan is nog grond bygekoop. Orania se gemeenskap het genoeg grond om nie net homself te voed nie, maar ook om uit te voer. Tans is die boerdery nog ingestel op die globalistiese logika om alles op groot skaal en onverwerk uit te voer en dan weer op klein skaal en verwerk in te voer. Maar sodra daar ‘n landboukoöperasie die lig sien wat die aankoop en verspreiding van Orania landbouprodukte koördineer, sal dinge beter gaan. Die omstandighede in die land, soos stakings, duur brandstof en die afskeep van die platteland, sal ons eenvoudig in dié rigting dwing.

Wat die grondopset betref, blyk dit dat die verdeling in kleiner eenhede wat een gesin kan hanteer, die regte besluit was. Dit is uiters moeilik, en boonop moreel onregverdigbaar, om wit gesinne van hulle gesinsplase te dwing met die argument van “gelyke geleenthede” vir swart werkers. Orania se beleid van volkseie arbeid maak hier die groot verskil. Om ‘n boer met duisende hektaar grond waarop hy en sy gesin en verder tientalle swart werkersgesinne woon, te dwing om dit te deel, of selfs weg te gee, is relatief maklik, soos ons in Zimbabwe gesien het. Geen buitelandse regering sal veel daaraan doen nie want die enigste argument van die boere is voedselsekuriteit en eiendomsreg, terme wat in Afrika nie veel werd is nie.

Soos prof Carel Boshoff al jare gelede gesê het: “Wie se sweet op die land drup, dié se land is dit.” Juis om dié rede kan niemand Orania se Afrikanergesinsboere se grond met enige morele regverdiging vat nie en indien dit wel probeer word, sal die hele gemeenskap hulle daarteen verset. In Orania as gemeenskap geld die leuse wat Cosatu gebruik: “An injury to one is an injury to all.”

Was die Mandelabewind die goue era?

Binnekort is dit die 20ste verjaardag van die “nuwe Suid-Afrika” onder die beheer van die ANC wat deur ‘n algemene en gelyke verkiesing in 1994 aan bewind gebring is. Dit is tans ook weer verkiesingstyd en sowel regering as opposisie beroep hulle gereeld op die gees van mnr Nelson Mandela, die stigterpresident van die “nuwe, demokratiese Suid-Afrika”. Die ANC-regering probeer sy swak rekord van regering verbloem deur daarop te wys dat hulle die land bevry het en dat mnr Mandela hulle held is. Die opposisie beroep hulle daarop dat hulle die gees van mnr Mandela, soos goeie landsbestuur, versoening en ‘n Suid-Afrika vir almal, verteenwoordig, terwyl die ANC lankal daarvan wegbeweeg het.

Onder Afrikaners, altans volgens dit wat ‘n mens in Naspers-koerante lees, is daar ‘n soort nostalgiese heimwee na die “goue era van Mandela”. Alles voor 1994 was sleg en die beste tyd wat Suid-Afrika ooit gehad het, was volgens dié redenasie die kort tydperk van mnr Mandela se regering tussen 1994 en 1999. Hou die stelling enigsins water?

Natuurlik was die Mandelabewind in vergelyking met vandag ‘n beter tyd: die politiek was meer konsensusgedrewe, versoening en ‘n nuwe begin was die boodskap, nie wraak nie. Suid-Afrika was die liefling van die internasionale gemeenskap en sportspanne, bekende kunstenaars en veral toeriste het na die nuwe belofteland gestroom. Die oorwinning vir Suid-Afrika in die rugby-wêreldbeker kort na die aanbreek van die nuwe bewind was ‘n soort “trougeskenk” om die nuwe tydvak op ‘n hoë not te laat begin.

As ‘n mens egter terugdink aan die jare, wat ek nog goed kan onthou, is die basis vir die huidige swak toestand reeds toe al gelê. Mnr Mandela se retoriek wat vir almal iets gebied het, het dikwels die praktiese politiek van die ANC verdoesel. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging is reeds in die Mandela-era ingestel. Omdat talle instellings waar Afrikaners sterk verteenwordig was, soos universiteite, egter nog stadig getransformeer het, was dit vir die meeste mense nog nie voelbaar nie.

Op die keper beskou kyk Afrikaners vandag nostalgies terug na die Mandelabewind omdat daar nog heelwat van die ou Suid-Afrika, met sy stempel wat Afrikaners op die land afgedruk het, sigbaar en voelbaar was. Naamsveranderinge het nog nie ‘n algemene verskynsel geword nie, misdaad was nog nie so hoog soos vandag nie, skole en hospitale nog op ‘n goeie standaard. Niks daarvan was egter mnr Mandela se verdienste nie. Waarvoor mnr Mandela lof verdien, was sy politiek van simbolisme en groot gebare, waarvan die besoek by sy eertydse vyande of hulle vroue (soos die besoek aan mev Betsie Verwoerd op Orania in 1995) ‘n goeie voorbeeld was.

In die praktyk het mnr Mandela hom egter min met die dag tot dag politiek bemoei en dit reeds in ‘n groot mate aan sy visepresident, mnr Thabo Mbeki, oorgelaat, veral na die bekendstelling van die nuwe grondwet in 1996. Die partytjiestemming van 1994 het toe begin plek maak vir ontnugtering. Alhoewel die grondwet wyd geloof is as ‘n modelgrondwet, kon dit nie die sosialisties-geïnspireerde en rasgedrewe ANC-beleid keer nie. Dit was ook in die Mandela-era waar grootskaalse aanvalle op IVP-ampsdraers en ondersteuners in veral Kwa Zulu-Natal plaasgevind het.

Die duidelikste bewys dat die Mandela-era, veral die tweede helfte, vir Afrikaners en ander blankes nie ‘n goue era was nie, was die feit dat die Demokratiese Party met ‘n aggressiewe veldtog, wat blanke griewe aangespreek het (met slagspreuke soos “gatvol!” en “slaan terug!”), in die 1999-verkiesing so besonder goed gevaar het, terwyl die party wat verantwoordelik was vir die nuwe Suid-Afrika, die Nasionale Party van FW de Klerk, by die stembus deur Afrikanerkiesers gestraf is.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel