fbpx

Dit het al ‘n ritueel met Suid-Afrikaanse verkiesings geword dat in die aanloop daartoe allerhande verwagtings geskep word dat hierdie keer dinge anders gaan wees en daar ‘n kans is om die ANC-regering te verslaan, of ten minste enkele provinsies van die party af te neem.

Die media wil koerante verkoop en het dus bespiegel dat die korrupsie van president Zuma en die wegbreek van vakbonde uit die ANC/Cosatu/SAKP-eenheidsfront ‘n wesenlike faktor is wat die spel gaan verander. Dan word daar ook, gegrond op meningspeilings, gegis dat die ANC provinsies soos die Noord-Kaap en Gauteng weens grootskaalse ontevredenheid en betogings kan verloor.

Hierdie verkiesing het egter net weer bevestig wat ‘n mens die onveranderlike wetmatighede van die Suid-Afrikaanse politiek kan noem:
• Die ANC wen met elke verkiesing om en by 2/3 van die stemme. Geen interne verdeeldheid, swak leierskap, skandale of swak prestasie kan die ANC se geweldige houvas op sy ondersteuners verbreek nie. Daar is ook ‘n groot gaping tussen die media se waarmeming van die ANC en die ondersteuners op grondvlak se onbreekbare lojaliteit.
• Die DA beweeg met elke verkiesing ideologies nader aan die ANC en sy leierskap verswart. Nogtans kon die party nêrens ‘n kiesafdeling wen wat hoofsaaklik deur swartmense bevolk word nie en bly die swart ondersteuning gering.
• Die Afrikaners bly die mees lojale ondersteuners van die DA, en selfs die DA se afskeep van Afrikaans, steun vir swart bemagtiging en grondeise kon nie die Afrikaner se lojaliteit aan dié party kraak nie. As mev Zille se dansery, die uitwerk van wit Afrikaanse mense uit die DA se leierskap en die ideologiese skuif na links nie die Afrikaner se ondersteuning vir die DA kan breek nie, dan kan niks dit doen nie.
• Die VF+ het wel effens beter gevaar, wat in die lig van ‘n krimpende getal Afrikanerkiesers op sigself ‘n prestasie is. Nogtans kan die party nie uit die 1%-ghetto uitbeweeg nie en selfs die VF se verandering van die fokus op Afrikanerselfbeskikking na minderheidsbelange, het nie gehelp om nuwe steun uit nie-Afrikanergeledere te wen nie.
• Met elke verkiesing is daar ‘n nuwe swart party wat uit ontevrede ANC-ondersteuners gevorm het. 1999 was dit die UDM, 2004 die OD, 2010 Cope en nou EVV en Agang. Alhoewel die partye,behalwe Agang, wat ‘n flop was, ‘n element van verrassing inhou, trek hulle min steun van die ANC af en herskik net die oposisiegeledere. Nuwe partye het ook ‘n beperkte lewensduurte en oorleef selde meer as 2 termyne.
• Etniese politiek kry min steun. Swart mense stem rasgebaseerd en nie etnies nie. Partye met ‘n etniese appèl (nie in beleid nie, maar wel in die feit dat hulle streeksgebonde is) soos die IVP, UCDP, UDM, MF, ens, kry min steun en vorder in die meeste gevalle agteruit.
• Verkiesings gaan nie oor beleid of ideologie nie, maar feitlik uitsluitlik oor brood- en bottersake. Partye wat op waardes fokus, soos die VF+ en die ACDP, kry min aftrek, terwyl die ANC, DA, EVV e.a. se veldtogte suiwer op materiële dinge fokus.
• Elke verkiesing wys net weer eens die mag van demografie, veral wanneer die uitslae uit die swart gebiede inkom. Dan spring die persentasies van swart massapartye soos die ANC of EVV en daal die persentasie van partye wat hoofsaaklik deur wit mense ondersteun word.

Die verkiesing het baie gekos, baie mense opgewonde gemaak en het veel tyd en energie in beslag geneem. In die beste geval gaan dinge bly soos wat dit is en dit is reeds sleg genoeg. Daar is geen alternatief op die partypolitieke terrein nie. Alle groot partye staan maar net variasies voor van ‘n beleid van “transformasie”, staatsinmenging en die ontkenning van etnisiteit.

As Afrikaners, en nog meer spesifiek as vryheidsgesindes en volkstaters, moet ons niks van die politiek verwag nie. Die hoop dat selfbeskikking in die parlement onderhandel sal word, soos wat dit nog in die 1990’s die geval was, is futiel. Ons kan dankbaar wees dat daar ‘n party is wat vir Afrikanerbelange en selfbeskikking staan en wat parlementêre verteenwoordiging het, maar 1% is net te min om enige beduidende verskil te maak. Die rigting van die regering, en die grootste deel van die opposisie, is weg van selfbeskikking en heen na meer sentralisasie, meer sosialisme en meer sekularisering. Ons behoort ons dus uit die party- en parlementêre politiek uit te hou, maar wel bande te verstewig met enige organisasie wat Afrikanerbelange voorstaan, wat uit die aard van die saak ook ‘n politieke party soos die VF+ insluit. Selfbeskikking word egter nie, ten minste op hierdie stadium, in die parlement of die partypolitiek bereik nie, maar op grondvlak. Die huidige politieke bestel is nie gunstig vir Afrikaners nie, maar verhoed ons ten minste ook nie om uit eie krag ons eie dorp en gebied te ontwikkel nie. Afrikaners moet die geleenthede nou aangryp en help bou, pleks om te hoop dat daar eendag ‘n regeringsverandering sal wees, wat in elk geval niks aan die toedrag van sake in Suid-Afrika, met sy oorweldigende meerderheid arm swart mense, verander nie.