by Sebastiaan Biehl | Apr 8, 2014 | Nuus |
Een persepsie wat besoekers dikwels van Orania het, is dat dit wat ons as “Orania se grond” beskryf, dus grond wat aan inwoners van Orania behoort of mense wat volgens die Orania-beginsels (veral volkseie arbeid) werk, aan die Dorpsraad behoort en as kollektiewe plaas bestuur word, waar almal op sosialistiese manier saamwerk en dan die grootste deel van die opbrengs aan die bestuur aflewer, wat die opbrengs dan weer aan die inwoners teen goedkoop pryse te koop aanbied.
In dieselfde denkpatroon val ook die idee dat die Dorpsraad huispryse moet vasstel en mense van buite moet subsidieer om in Orania te kom vestig en dat die Dorpsraad, of watter Orania-instansie ook al, werk moet skep vir Afrikaners.
Kom ons begin voor: Dit is al genoeg kere bewys dat die sosialistiese stelsel ‘n totale mislukking is, ongeag in watter land of onder watter omstandighede dit toegepas is. Orania sou al tot niet gewees het as dit volgens sosialistiese beginsels bestuur was.
Die vryemarkstelsel het ook sy beperkinge, maar werk, en kan ook hier en daar aangepas word, soos die Duitse kansellier Konrad Adenauer na die Tweede Wêreldoorlog bewys het met die “Sosiale Mark-ekonomie”.
Dit kom daarop neer dat die beginsel van die vrye mark bly funksioneer, omdat dit die mees doeltreffende stelsel is vir die skep en verspreiding van produkte en dienste, maar dat negatiewe gevolge, soos uitbuiting en oormatige ongelykheid deur die staat getemper moet word.
Orania is nog in ‘n groeifase en in terme van ‘n staat of gemeenskap nog baie jonk en eintlik maar nog steeds in ‘n (meer gevorderde) pioniersfase. Besighede betaal dikwels nog lae salarisse in vergelyking met die res van Suid-Afrika, maar hulle het ook ’n relatief klein omset. Die Orania- instansies gryp nie hier in nie en bepaal byvoorbeeld nie minimum-salarisse vir elke werkskategorie nie, alhoewel elke werknemer nog steeds die Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing moet nakom, en daar ‘n soort aanvaarde minimum-salaris vir ongeskoolde werk bestaan, wat heelwat hoër is as buite Orania.
Wat Orania se instansies, by name die Orania Beweging se Helpsaamfonds, maar ook kerke, wel doen, is om mense wat ekonomies sukkel te help. Daar is byvoorbeeld subsidies vir skoolgeld want ons wil hê dat elke Afrikanerkind in Orania goeie opleiding ontvang om in die toekoms ‘n ordentlike werk en inkomste te kan verdien. ‘n Verdere uiters belangrike ondersteuning is die skep van bekostigbare huurbehuising. Eiendomspryse kan nie deur die owerhede vasgepen word in ‘n vryemarkbestel nie, maar die owerhede kan deur subsidiering van behuising die pryse wat heeltemal oorboord gegaan het, dwing om af te kom.
Op die landbouterrein is elke boer vir sy eie stuk grond verantwoordelik, maar die Orania-gedagte kom in by die beginsel van volkseie arbeid en samewerking rondom die waterverspreiding en oes van produkte. Welvarende ondernemers is goed vir Orania want hulle spandeer hulle geld in die dorp en skep meer werk vir mede-Afrikaners.
by Sebastiaan Biehl | Jan 29, 2014 | Nuus |
Die fiesta of feria is die feesgety wat elke stad en dorp in Spanje het, gewoonlik in die somermaande, en waar die plaaslike beskermheer, ‘n heilige of die maagd Maria, met verskeie byname gevier word. Tydens die fiesta, wat omtrent twee weke duur en wat nog ‘n aanloop het met ‘n voorprogram, vind daar elke dag op die pleine musiek- en dansuitvoerings plaas, optogte met nabootsings van historiese figure en met sierwaens. Die strate is vol mense, veral die vroue wat hulle Spaansheid met die wuiwende rokke en rooi rose in die hare vertoon. Die Spaanse folkloristiese kultuur, veral in die suide, in Andalusië, is sterk beinvloed deur die Sigeuners. Dit kom veral in die musiek en die tradisionele kleredrag na vore. Flamenco is sinoniem met Spaanse musiek. Dit is ‘n sterk, ritmiese musiek, dikwels nog versterk deur handeklap en ‘n hamerende tapdans en begelei deur ‘n klaende liefdespynsang op die kitaar. Alhoewel dit intussen op talle plekke in ‘n toeristespektakel ontaard het, is daar ook plekke, soos die Casa Cultural La Guajira in Almeria, waar dit vir Spanjaarde vertoon word, met ‘n toeris hier en daar en waar Duits of Engels nog nie die allesoorheersende taal is nie.
Die hoogtepunt van die fiesta is egter die corrida, die tradisionele bulgeveg. Elke stad of dorp het sy Plaza de Toros of bularena, wat soos ‘n Romeinse amfiteater lyk. Vir die grootste deel van die jaar is dit ‘n wit olifant, maar tydens die fiesta is dit die plek waar die Spaanse siel aanwesig is en Spaansheid gevier word, nie vir toeriste nie, maar vir die Spanjaarde self. Trouens die meeste toeriste ys eintlik vir die bloeddorstige bulgeveg en bly weg. Ek wou dit egter gesien en beleef het, ‘n argaïese en oeroue viering wat eie aan Spanje is. Andalusië is een van die vestings van bulgevegte, maar in Katalonië, die modernste streek met die hoofstad Barcelona, is dit reeds verbied en het daar onlangs die laaste bulgeveg plaasgevind. Die verbod deur die nasionalistiese regering van Katalonië was egter nie net ter wille van die bulle nie, maar ook om te wys dat hulle Katalane is en nie Spanjaarde nie, en dus ook niks met Spaanse tradisie uit te waai het nie. Globalisering werk natuurlik ook hier teen ‘n eeue-oue tradisie. Maar vir eers, te oordeel aan die groot geesdrif en getalle, sal die bulgeveg nog deel wees van die Spaanse kultuur. Self het ek gemengde gevoelens gehad. Aan die een kant wou ek hierdie kultuurgebeurtenis beleef, maar aan die ander kant kry ek die dier wat ‘n halfuur lank gegaffel word voor dit uiteindelik doodgesteek word, ook jammer.
Om ‘n kaartjie vir ‘n bulgeveg te kry is nie maklik nie. Dit kan net op die dag voor die geveg gekoop word en jy moet gereed wees om ‘n uur of langer tou te staan. En goedkoop is dit ook nie.
Uiteindelik het ek toe my kaartjie gehad en in die namiddag na die Plaza de Toros toe vertrek, waar massas mense, jonk en oud, en ‘n hele paar pragtig opgetooide vroue, in die arena ingestroom het. Ek het die klein protesbetoging van tien mense teen die bulgeveg wat by een van die ingange gestaan het, jammer gekry in die aangesig van hierdie geweldige oormag bulgeveggeesdriftiges.Toe ek die arena betree, het ek hoendervleis gekry toe ek die groot skare sien en hulle eenheid as Spanjaarde tydens hierdie viering van hulle kultuur. Die toreros (bulvegters), picadores (perderuiters met spiese) en bandarilleros (mans met versierde spiese) en as fokuspunt die matador de toros (die “doder van die bul“) het onder heroïese paso doble-musiek in die arena ingekom en statig rondbeweeg en vir die geesdriftige skare gewuif. Die matadores geniet heldestatus vergelykbaar met topsportsterre en kry ook groot geld vir hulle waagmoed.

Na die intog begin die ritueel wat volgens vaste reëls verloop: ‘n groot, wilde bul hardloop vol energie in die arena in. Verskeie toreros met pers en geel doeke laat die bul op hulle afstorm. Dié stadium is gevaarlik, die bul is aggressief en vol energie en dikwels moet die toreros agter die houtomranding vlug om nie op horings geneem te word nie. Die bul word tussen die verskillende doekswaaiende toreros rondgejaag en raak geleidelik uit stoom uit. Dan begin die fase waar die bul beseer en gegaffel word. Eerste kom die picadores op perde en boor hulle lanse in die vel van die bul in, wat op sy beurt probeer om met sy geweldige krag die perd, wat met ‘n dik kombers beskerm is, om te stoot. As die kragmeting begin gevaarlik raak vir die perd en ruiter, kom die toreros weer in aksie en trek die bul se aandag af met hulle doeke. Vervolgens kom drie vlugtvoetige bandarilleros in en hardloop op die bul af en steek drie bandarillas, spiese met angels en versier met linte, in die bul se dik nek in. Hulle het geen wapens of beskerming nie en dit is ‘n waagmoedige taak. As hulle goed is en elkeen sy drie spiese in die bul vassteek, dan klap die skare hande en roep die aanmoedigende Olé. Die bul begin nou bloei en swaar asemhaal, maar is nog steeds gevaarlik. Nou kom die matador in die arena in, met ‘n rooi doek en ‘n dun degen. Hy volvoer nou vir sowat 10 minute iets wat amper lyk soos ‘n dans met die bul en beweeg vaardig en op kort afstand om die bul en laat hom in die rooi doek stoot. Hy hou sy oog op die horings en op die regte plek in die rug vir die doodsteek. Met ‘n vinnige steek tussen die skouerblaaie in word die stier verlam, maar is nog nie dood nie. Met sy laaste opwelling van woede kom toreros weer en trek die bul se aandag van die matador af. Kort daarna stort die bul ineen, gewoonlik teen die omranding, en word dan met ‘n goed gemikte dolksteek in die nek van sy lyding verlos. Die skare staan op, waai sakdoeke en prys die matador, wat met die oor of stert van die bul as trofee triomfantlik met sy helpers deur die arena wandel. Die dames gooi in ekstase rooi rose en waaiers na hom en die matador geniet die huldigings en sy triomf. Na ‘n kort pouse gaan die ritueel met die volgende bul en volgende matador aan, gewoonlik ses bulle tydens ‘n corrida wat in totaal drie uur duur. Tydens die pouse haal die toeskouers hulle peuselkos uit, drink wyn wat uit ‘n leersak in jou mond gespuit word en lewer in opgeruimde luim kommentaar.
Nou ja, ek het dit beleef, maar my gemengde gevoelens bly, die begeestering vir die outentieke kulturele ervaring word getemper deur die medelye met die bul.
by Sebastiaan Biehl | Jan 13, 2014 | Nuus |
Hierdie jaar 2014 staan in die teken van die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog. Die eintlike vierings sal in Juliemaand vanjaar plaasvind, wanneer dit presies 100 jaar gelede was dat die Eerste Wêreldoorlog begin het. Die oorlog het egter ‘n aanloop gehad en dit is nogal ‘n versoeking vir historici en politieke wetenskaplikes om die aanloop 100 jaar gelede met vandag te vergelyk en te bespiegel oor die moontlikheid van ‘n Derde Wêreldoorlog met die huidige konstellasie van groot- en supermoondhede.
Die historikus prof. Margaret MacMillan van die Universiteit van Cambridge, doen presies dit in ‘n onlangse artikel in die Britse koerant The Independent. Volgens haar is dit wat destyds die Balkan was, ‘n streek met talle vyandige, etnies en godsdienstig verdeelde klein state, vandag bekend as die Midde-Ooste. Dié kookpot was in die grootmoondhede se agterplaas. Dit was destyds Duitsland, Rusland, Frankryk, die Habsburg Ryk, die Ottomaanse Ryk en Groot-Brittanje wat in die sake van die Balkan ingemeng het en bondgenootskappe met die state gesluit het. Vandag is die VSA, Rusland, Sjina, Turkye, Iran en die Europese Unie aan verskillende fronte betrokke in die Midde-Oosterse kookpunt. Dit is veral die oorlog in Sirië wat die toneel van inmenging van buite en ondersteuning van die verskillende oorlogspartye is.
Israel en die Palestynse gebiede bly ook ‘n kookpunt en die VSA se bondgenootskap met Israel staan teenoor die ondersteuning van Israel se vyande deur, veral Iran, met Rusland en Sjina wat ook in die agtergrond bedrywig is. Die vernietigende krag was destyds etniese nasionalisme en die stryd vir afskeiding van die multi-etniese ryke soos die Habsburg Ryk en die Ottomaanse Ryk. Vandag is dit die Islam-fundamentalisme wat teen sekulêre regimes veg en die inter-Islamitiese konflik tussen Soennite en Sjiite wat onderliggend aan talle konflikte is, soos in Libanon, Sirië, Irak en Bahrain. Etniese minderhede soos die Koerde dra by tot die konflik. Behalwe vir die Midde-Ooste is daar ook ‘n tweede front in die Stille Oseaan wat eers in die Tweede Wêreldoorlog ‘n faktor was toe die VSA en Japan teen mekaar te staan gekom het. Dit is vandag die VSA wat sy supermoondheidstatus wil beskerm teen die opkomende nuwe mag, Sjina. Japan, ook ‘n groot moondheid en ‘n bondgenoot van die VSA, is tans in direkte konflik met Sjina oor ‘n onbewoonde eilandgroep, die Senkaku-eilande. Ook kleiner lande soos Taiwan, die Filippyne en Viëtnam is rolspelers in die konflik en voel deur Sjina bedreig. Die parallelle met 1914 is ook duidelik: ‘n nuwe, opkomende en aggressiewe moondheid wat deur die ouer moondhede nie as gelyke aanvaar is nie, soos destyds die Duitse Ryk. Vandag is dit Sjina. Wat destyds Groot-Brittanje en Frankryk was, is vandag die VSA en Japan.
Vandag word dikwels geargumenteer dat globalisering en die vervlegting van state en hulle belange ‘n groot oorlog onmoontlik maak, die Europese Unie en die lang tyd van vrede (afgesien van “kleiner” konflikte in die Derde Wêreld) word as bewys genoem. Macmillan wys egter daarop dat ook die tyd voor 1914 ‘n periode van ‘n lang vrede was, meer as 40 jaar, wat Europese state betref en daar net enkele klein oorloë in die randgebiede en kolonies was. Dit was ‘n tyd van ongekende voorspoed, ekonomiese groei, tegnologiese ontwikkeling, kulturele verandering en nuwe idees. Dit is egter sulke situasies van vinnige verandering wat lei tot konflikte want state raak gulsig, te selfversekerd en is in aggressiewe kompetisie met mekaar. Kulturele en ekonomiese vervlegting en kontak lei juis eerder tot spanning en selfs konflik, meer as isolasie. Dit, terloops, is ‘n links-liberale kernoortuiging wat al te dikwels as ‘n drogbeeld bewys is, naamlik dat die maksimum kontak, vervlegting en vermenging vrede en harmonie bring, en isolasie tot aggressie en konflik lei. Die geskiedenis wys dat eerder die teendeel waar is. Al is Japannese, Amerikaners en Sjinese almal verbruikers van globale produkte en dienste en mense met globalistiese gewoontes en voorkeure, beteken dit nie dat hulle nie meer patrioties voel nie, of nou skielik lief vir die ander volke raak net omdat hulle dieselfde klere dra en dieselfde vermaak beoefen nie.
Laastens, net soos wat in 1914 ‘n tweederangse gebeurtenis in ‘n uithoek van Europa tot ‘n wêreldwye konflik gelei het omdat die toneel reeds voorberei was en net nog ‘n vonk gekort het om die lont aan te steek, net so kan iets soos die spanning oor die Senkaku-eilande tot ‘n oorlog tussen Japan en Sjina lei, met die kettingreaksie van die betrokkenheid van bondgenote.
by Sebastiaan Biehl | Nov 6, 2013 | Nuus |
‘n Gesaghebbende boek van die twee akademici Daron Acemoglu en James Robinson met die titel: “Why Nations fail. The Origins of Power, Prosperity and Poverty” wat verlede jaar verskyn en wêreldwyd aandag getrek het, behandel die vraag hoekom sekere state suksesvol is en ander nie, en dit al oor baie jare.
‘n Magdom navorsingstukke is al oor die onderwerp van ontwikkeling geskryf en elke departement, organisasie of private inisiatief wat op ontwikkelingshulp fokus vra gedurig die vraag hoekom sekere lande ryk is en ander arm, en wat gedoen kan word om meer lande en volke ook welvarend te maak of ten minste hulle omstandighede te verbeter. Die antwoord op so ‘n gewigtige vraag kan uit die aard van die saak nie in ‘n paragraaf beantwoord word nie en die boek van sowat 600 bladsye doen ook ‘n behoorlike ondersoek wat veral die historiese ontwikkeling van ryk en arm nasies beskryf en vergelyk.
Die bekende verklarings wat ‘n eenvoudige antwoord op ‘n komplekse toedrag van sake probeer gee, word ook behandel en verwerp. Marxiste en ander linkses verkort die rede vir rykdom en armoede in internasionale verband gewoonlik tot die teorie dat die Westerse lande (by name VSA en Europa) weens koloniale onderwerping in die verlede strukture van onderdrukking en uitbuiting geskep het en dit deur middel van globale kapitalisme vandag instandhou.
‘n Ander teorie wat die smaak van rassisme het en in akademiese kringe ongewild is, verklaar ongelykheid met die inherente verskille tussen hardwerkende en eerlike Westerlinge en lui en korrupte nie-Westerlinge, of, meer versigtig in die Europese konteks, met ‘n noordelike Protestantse werksetiek en suidelike Katolieke voorliefde vir feesvier en geniet.
Nog ‘n teorie wys op die geografiese en klimatologiese verskille tussen noorde en suide, wat ontwikkeling in sekere streke bevoordeel en in ander bemoeilik.
Al die teorieë word verwerp maar tog word toegegee dat elkeen ‘n element van waarheid bevat.
Acemoglu en Robinson volg die benadering om ‘n wye verskeidenheid kulture en nasies uit verskillende eras en verskillende wêreldstreke te ondersoek en te vergelyk en om gemeenskaplike faktore vir sukses of mislukking te vind en daaruit ‘n metateorie te ontwikkel.
Die ondersoeke behandel byvoorbeeld ou hoogkulture soos die Inka en Azteke en die invloed van die Spaanse verowering. Dit vergelyk die verskillende historiese ontwikkelinge van Noord-Amerika aan die een kant en Sentraal- en Suid-Amerika aan die ander kant.
Noord- en Suid-Korea, etnies en kultureel identiese lande met ‘n geweldige welsyns- en ontwikkelingsgaping, word net so met mekaar vergelyk as die suksesverhaal van Botswana teenoor die mislukking van Zimbabwe en Sierra Leone. In Europa word Engeland reeds in die 18e eeu as voorbeeld vir suksesvolle ontwikkeling, wat later ander lande in Wes-Europa soos Frankryk beïnvloed het, gekontrasteer met die lande in Oos-Europa, soos die Habsburg Ryk en Rusland onder die tsaar, wat politieke en ekonomiese ontwikkelling verhinder het.
Pluralistiese instellings, wat so veel as moontlik deelname van die bevolking aan die ekonomie verseker, is daarby van kardinale belang vir ontwikkeling. ‘n Elite wat politieke en ekonomiese mag in sy hande konsentreer, soos in kommunistiese en ander totalitêre of outoritere lande, is daarteenoor hoogs nadelig vir ontwikkeling. Dit lei tot dit wat “ekstraktiewe ekonomiese stelsels” genoem word. Die klein elite wat alleen baat by die ekonomie, doen alles in sy vermoë om die stelsel, indien nodig met geweld, in stand te hou. Dit verklaar ook waarom die regering van Zimbabwe, of van talle ander derdewêreldlande, vasklou aan hulle katastrofale ekonomiese beleid. Enige oopmaak van die ekonomie vir groter deelname sal die mag, invloed en rykdom van die elite verminder en dit is dus vir die elite meer voordelig om die land te vernietig as om dit te laat floreer.
Die dilemma van die elite wat mag tot hulle eie voordeel behou en die land daarby ruïneer, is deel van ‘n bose kringloop. Om daar uit te breek en groter deelname te bewerkstellig beteken dat die elite van sy mag moet prysgee. Dit gebeur nooit vrywillig nie en indien hoegenaamd, dan eers na hewige interne gevegte en selfs rewolusies en burgeroorloë. Selfs al word die ou elite verslaan, val die nuwe elite te dikwels in dieselfde spore en behou die uitbuitende stelsel tot sy eie voordeel. Dit word die wet van die oligargie (uitbuitende elite) genoem. In Rusland, byvoorbeeld, het die verwydering van die Tsaar en die adelike en kerklike elite ná die Rewolusie van 1917 gelei tot die magsoorname deur ‘n nog meer gewetenlose en wreedaardige kommunistiese elite. In Frankryk het die rewolusie van 1789 wel aanvanklik ‘n soortgelyke uitkoms gehad van ‘n nuwe, fanatiese en gewelddadige elite, maar in die proses van sowat 100 jaar het Frankryk wel verander in ‘n demokrasie en ‘n plurale samelewing en kon die bose kringloop gebreek word. Die sprong van ‘n ekstraktiewe na ‘n deelnemende stelsel gaan egter gepaard met dit wat die skrywers “skeppende vernietiging” noem. Dit beteken dat die veranderinge wat uiteindelik dinge verbeter, eers vir dele van die bevolking sake versleg. ‘n Voorbeeld is die Industriële Revolusie in Engeland en gepaardgaande meganisasie. Alhoewel almal vandag baat by megansasie in die produksie, het dit in die 18de eeu tot grootskaalse werksverliese onder handewerkers gelei. Hulle het die meganisasie dus probeer verhoed deur masjiene stukkend te slaan. Die vernietiging van handewerk het egter meer en beter werk op ander terreine geskep.
Engeland word uitgesonder as die beste voorbeeld van hoe instellings al hoe meer verteenwoordigend geraak het en ook groter deelname in die ekonomie verseker het, natuurlik ná burgeroorloë en konflikte tussen die koning en die parlement, wat nog nie verteenwoordigend van die bevolking was nie, maar slegs die elite van die gegoedes bevat het. Die keerpunt word hier gesien in die Glorieryke Rewolusie van 1688, waar die parlement die verligte koning Willem van Oranje vanuit Nederland geroep het om Engeland se koning te wees en wat saam met die parlement die absolutistiese Stuart-monargie verslaan het. Willem sou voortaan as konstitusionele hoof regeer en die mag met die parlement deel, anders as sy voorgangers op die Engelse troon vir wie dit alles of niks was. Met verloop van tyd het die parlement ook meer verteenwoordigend geraak en uiteindelik die hele bevolking verteenwoordig. Soos wat mense politieke seggenskap gekry het, kon hulle ook meer vrylik aan die ekonomie deelneem. Die voorbeeld van Engeland het ook sy navolging in sy kolonies soos Noord-Amerika, Australië, Kanada, Nieu-Seeland en Suid-Afrika gehad, wat almal ekonomies en polities ontwikkel het en in die konteks van die 19de eeu ‘n groot mate van seggenskap en deelname gehad het. Daar is egter ook nie-Westerse voorbeelde wat ‘n soortgelyke ontwikkeling van absolutistiese beheer tot pluralisme deurgegaan het en as gevolg daarvan ekonomies hoogs suksesvol was, naamlik Japan.
Die voorvereiste vir suksesvolle state lê in instellings wat verteenwoordigend is en reeds ‘n lewe van hulle eie het en nie meer deur ‘n klein elite verwyder of gemanipuleer kan word nie. Die politieke pluralisme in die instellings vind sy voortsetting in ekonomiese instellings. As voorbeeld is daar in ‘n parlementêre demokrasie die deursetting van ekonomiese monopolie vir ‘n klein groep hoogs onwaarskynlik, terwyl dit in totalitêre samelewings die reël is.
Staatsgedrewe ontwikkeling wat deur ‘n klein groep beheer word, kan vir ‘n relatiewe kort tyd suksesvol wees, soos in die 20ste eeuse Sowjet-Unie en vandag in kommunistiese Sjina. Sonder deelname van die bevolking, nie net as werkers en verbruikers nie, maar juis ook as ondernemers, kom sulke staatsgedrewe ontwikkeling noodwendig na ‘n ruk tot stilstand omdat dit nie die buigbaarheid en wye beskikbaarheid van talent het wat nodig is vir voortdurende ontwikkeling nie. Dit verklaar ook waarom die meeste patente nog steeds in die VSA aangemeld word en nie in Sjina nie. Politieke en ekonomiese vryheid is twee kante van dieselfde munt.
by Sebastiaan Biehl | Okt 25, 2013 | Nuus |

Ceuta, ‘n Spaanse stad in Noord-Afrika.

Die Herkulesbeeld in Ceuta.
In ‘n vorige blog-artikel is genoem dat Spanje tans weer in ’n woordeoorlog oor die Britse besitting Gibraltar betrokke is. Die Britte wys byvoorbeeld daarop dat Spanje nie konsekwent is as Gibraltar weens “territoriale integriteit” teruggeëis word nie en dat geografie die alles bepalende faktor is.
Spanje, wat met klippe gooi, sit self in die spreekwoordelike glashuis, want in Noord-Afrika, omring deur Marokkaanse grondgebied, besit die land twee enklawes, Ceuta en Melilla, en wys enige eise van Marokko oor teruggawe van die hand. Daarby is dit ook interessant dat die Verenigde Nasies Gibraltar as kolonie lys wat gedekoloniseer moet word, maar nie Ceuta en Melilla nie.
Net soos in die geval van Gibraltar is die twee stede kultureel en polities eilande wat duidelik van hulle omgewing verskil. As jy van Algeciras per boot in minder as ’n uur oor die seestraat van Gibraltar na Ceuta vaar, of vanaf Almeria binne sowat ses uur na Melilla, is jy nog steeds in Spanje, geen paspoortkontrole vind plaas nie en geboue en mense lyk soos in ’n Spaanse stad op die vasteland. Dit val wel op dat Marokkane met hulle kopdoeke en gewade meer algemeen voorkom, so ook hulle buurte met moskees waar jy eerder voel soos in Marokko.
Ceuta het sowat 80 000 inwoners en ’n geografiese opset wat met Gibraltar vergelyk. Dit is ook op ’n dun skiereiland geleë, wat in die middel deur ’n kanaal geskei word en waar die stad se sterk fortifikasies in die 17e eeu gebou is en later volgens die nuutste vestingsargitektuur uitgebrei is. Die geografie maak dat Ceuta lank uitstrek en jy sommer binne vyf minute van die noordelike kant teen die Straat van Gibraltar na die suidelike kant met die Middellandse See kan stap. Aan die noordekant het die stad ’n lang hawefront, met pronkgeboue uit die vroeë 20ste eeu, natuurlik ’n hele paar pleine soos elke Spaanse stad en ’n pragtige hoofplein, Plaza Africa (nomen est omen) met die katedraal en stadsaal. Op die nouste gedeelte van die skiereiland lê die magtige fort wat vrylik besigtig kan word. Die fort is netjies met fondse van die Europese Unie gerestoureer. Daar is ook twee gratis museums wat oor die geskiedenis van die stad handel.
Melilla is verder oos geleë, teenaan die Marokkaanse stad Nador en het sowat 70 000 inwoners. Dit is ’n besonder mooi stad, met ’n sterk gevestigde ou stad op ’n klein skiereiland en omring deur ’n magtige stadsmuur en fortifikasies uit die 16e eeu. Die “nuwe” stad (oud in Suid-Afrikaanse terme) is in die laat 19de eeu op ’n nabye vlakte aangelê en bevat die ronde groot Plaza Espana met sy indrukwekkende en monumentale administratiewe geboue, asook ’n groot en lang park met fonteine en palmbome in die middel van die nuwe stad. Talle geboue is in die Historiese en Art Deco-styl van die vroeër 20ste eeu gebou en Melilla het ’n argitektoniese voorkoms soos Swakopmund.
Ceuta en Melilla se kwesbare geografiese opset bring mee dat in altwee stede ’n kontingent van die Spaanse Vreemdelingelegioen gestasioneer is, ’n interessante onderwerp op sy eie. Die Franse Vreemdelingelegioen is wêreldbekend en was, en is, vir menige romanties voelende jongman wat sy benouende omstandighede in klein Europa wou ontsnap, ’n bekorende aantrekkingskrag. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is in 1923 na die voorbeeld van die Franse legioen gestig, met die doel om Spanje se koloniale besittings in Marokko, wat die hele noordelike derde van die huidige Marokko ingesluit het, te beskerm en te vergroot. Na die einde van Spanje se koloniale ryk aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Vreemdelingelegioen wel nog die taak om die twee buiteposte te verdedig en neem hulle ook deel aan missies van die Verenigde Nasies. Die Spaanse Vreemdelingelegioen is gestig deur die einste Francisco Franco wat later beroemd en berug sou word as oorwinnaar in die burgeroorlog en 0ok as outoritêre, regsgesinde leier van Spanje. Alhoewel hy vandag, en veral onder die sosialistiese bewind van Luis Rodrigues Zapatero van 2002 tot 2010, meesal skamerig verswyg word en geen monumente of straatname meer aan hom herinner nie, word hy wel nog deur die Vreemdelingelegioen vereer. In Ceuta is ’n interessante museum oor die geskiedenis van die Spaanse Vreemdelingelegioen en Franco kry die eer wat hom toekom in die konteks van die legioen. In Melilla staan die laaste oorblywende standbeeld van Franco, waar hy as jong offisier nadenkend en beskeie met stok, hoed en verkyker teen die stadsmuur staan. Die sosialistiese regering wou in hulle beeldestormingsywer dit ook verwyder, maar die konserwatiewe stadsregering van Melilla was daarteen en het geargumenteer dat die standbeeld nie die diktator Franco vereer nie, maar die offisier van die Vreemdelingelegioen en eertydse stadskommandant van Melilla. Na ’n juridise toutrekkery het die sosialiste eers besgegee en later, in 2010, in elk geval die verkiesing verloor. Die huidige konserwatiewe regering van Mariano Rajoy het dringender probleme om op te los as ’n standbeeld in een van sy buiteposte en Franco sal seker nog lank bly staan.
Albei stede was na mekaar in Kartahgiese, Romeinse, Bisantynse, Vandaliese, Arabiese, Portugese (slegs Ceuta) en Spaanse besit. Melilla is sedert 1497 en Ceuta sedert 1668 deel van Spanje. Marokko as moderne staat bestaan eers sedert 1956 en die geskiedkundige aanspraak van Marokko op Ceuta en Melilla is ten beste wankelrig. Daar is stede in Spanje self, soos Granada en Sevilla, wat ook eens onder Moslembeheer was, en met die logika van “dit het eens op ’n tyd in die geskiedenis aan ons behoort en moet dus terug gegee word”, is geen land op aarde vry van gebiedseise nie. Wat egter oral en daarvan is ons in Suid-Afrika wel bewus, meer tel as historiese aansprake is effektiewe besetting. Albei stede het nog ’n Spaanse meerderheid, maar slegs ’n rapsie bo 50%, en amper ewe veel mense wat Moslems is. Dit is wel so dat beslis nie alle Moslems van Marokkaanse herkoms in Ceuta of Melilla noodwendig deel van Marokko wil word nie. Talle geniet die vry lewe en die relatiewe ekonomiese voorspoed en kan in elk geval hulle godsdiens en kultuur onbelemmerd uitleef. Sowel Ceuta as Melilla bemark hulleself as multikulturele stede vol godsdienstige en etniese harmonie met vier geloofsgemeenskappe, Christene, Moslems, Hindoes en Jode en stel hulle in brosjures en museums bekend asof dit vier godsdienste van gelyke sterkte is. Die feit is dat Hindoes en Jode saam nie eens 1% van die bevolking uitmaak nie. Die ruggraat van die stede in elke opsig is die Spanjaarde. Hulle beheer politiek, kultuur en ekonomie en die Moslems kom meer voor as gasarbeiders, al woon hulle al lank in die stede.
Albei stede het die status van outonome stede binne Spanje en hulle status as deel van Spanje word glad nie as onderhandelbaar beskou nie. Dis ook stede wat sterk konserwatief is en waar die Volksparty (Partido Popular PP) baie meer steun geniet as die Sosialiste (PSOE). Alhoewel die verhoudinge tussen die groepe tans rustig is, tik ook hier ’n demografiese tydbom en is die Trojaanse perd in die vorm van ’n groot en groter wordende Moslembevolking reeds binne die mure. Tans word immigrasie vanuit Noord-Afrika met versperrings wat aan die ystergordyn laat dink afgeweer, maar ten spyte daarvan glip daar altyd ’n paar deur en benut die twee enklawes as ‘n afspringplek na die Spaanse vasteland. Die Spanjaarde se geboortekoers daal, soos orals in Europa, en die beeld van ’n middeljarige, drawwende Spaanse vrou, ooglopend sonder kinders, langs ’n jong Marokaanse vrou met ’n kinderwa met twee babas, wat ek in Melilla gesien het, sê alles oor die toekoms van hierdie twee stede.