KYK VIDEO | Orania se eie bank: Hoe het OSK die beste koöperatiewe bank in Suid-Afrika geword?
Orania se eie bank:
Hoe het OSK die beste
koöperatiewe bank in suid-afrika
geword?
Orania Spaar- en Krediet (OSK) is Orania se eie bank, deur Oraniërs, vir Oraniërs.
OSK het vanjaar sy 20ste bestaansjaar gevier, en meer onlangs fantastiese nuwe groeisyfers bekendgemaak! OSK het vroeër die prys van ‘Best performing cooperative bank in South-Africa’ gewen. Daarmee saam is dit tans ook die grootste koöperatiewe bank in die land. Hieronder word OSK se sukses, veiligheidsmeganismes en kreatiewe planne verduidelik.
Vir Oraniërs, deur Oraniërs
Orania Spaar en Krediet, neem die vorm van ‘n koöperatiewe bank aan. Dit beteken dat die bank lede het, wat deel in die sukses van die bank (waarin hulle help bou en groei). Dit beteken Orania se hele bankstelsel is gebou op ‘n vorm van ‘lokalisme’. Oraniërs trek rentekoers- en kostevoordeel uit ons eie bank, eerder as dat iemand vêr van Orania af sit- sonder enige belang hier, en ryk word uit inwoners se finansiering, bankkoste en meer. Die OSK-direksie bestaan ook uit Oraniërs, oud en jonk.
Koöperatiewe bank: Hoe het OSK die markleier in Suid-Afrika geword?
OSK het begin meer as 20 jaar gelede toe ‘n Oraniër, oom Lukas Taljaard, werkers in Orania ondersteun het wie nie al die pad na ‘n buurdorp kon reis om tjeks (salarisse) te wissel nie. Oom Lukas wou graag die mense ondersteun, en het hulle die kontant voorgeskiet en dan eenkeer ‘n week almal se tjeks Hopetown toe geneem om te wissel.
Toe die werkers later vir oom Lukas gevra het om nie al die geld op een slag te gee nie, maar eerder hulle geld moet bêre (sodat hulle nie alles op een slag spandeer nie!), het hy besef daar sal ‘n formaliseringsproses gevolg moet word!
OSK het as ‘n spaar- en kredietkoöperasie begin (Orania Spaar en Krediet Koöperatief bpk). Die bank het vandaar af van krag tot krag gegaan, en so is (eers deur vrywilligers) ‘n diens aan die gemeenskap gelewer.
Foto (v.l.n.r): Frieda Taljaard, Lukas Taljaard, Arthur Naudé, Janet Naudé & Francois de Vos
In 2007 het die koöperatiewe bankwet op die boeke gekom, en OSK moes omgeskakel word na ‘n koöperatiewe bank. Die Reserwe Bank moes OSK vier keer per jaar besoek om meer te leer van die moontlikhede, OSK was ‘n fantastiese voorbeeld om die nuwe wet op te baseer! Terselfdetyd, kon OSK natuurlik ook van die Reserwebank leer.
In 2011 het OSK die pryse vir grootste, en beste, koöperatiewe bank gewen- intussen het OSK al drie keer met pryse vir grootste, meeste ledegroei, of bes-presterende koöperatiewe bank weggeloop! Ook in 2021 het OSK ander banke uitgestof en weereens die ‘Best performing cooperative bank in South-Africa’ gewen.
Foto: Hanri Maritz en oom Lukas tydens die toekenning in 2011
Die geheim van sterk Orania-instellings?
Planne kan vir jare bepeins, herbesin, en oorweeg word. Die geheim van Orania, en Orania se instellings, is die feit dat iemand die moed gehad het om klein te begin. Klein stappies, met kreatiewe planne, binne die raamwerk van wat moontlik, wettig en sinvol is, bou op tot groot suksesse.
OSK is geen uitsondering nie. Daar is klein en onvolmaak begin, en 20 jaar later word daar terug gekyk op die pad wat gelei het tot Orania se grootste finansiële instelling.
OSK het dit ook moontlik gemaak dat Orania se behuising, ontwikkeling, besighede, en meer finansiering kon kry vanuit eie geledere. Verder meer kan jong Oraniërs vir studielenings aansoek doen wanneer hulle na ‘n universiteit wil gaan. Daar is ook onlangs ‘n beursfonds begin vir behoeftige studente.
OSK se groei in syfers
OSK het pas twee reuse groei-jare beleef, wat Orania se vinnige groei weerspieël. In die 2020/2021 finansiële jaar, het OSK se deposito’s met 37% persent gestyg! In die afgelope finansiële jaar, met ‘n verdere 35%. Hierdie syfers is omstreeks dubbel die instelling se normale groei. In die vorige finansiële jaar is daar ‘n 16.3% verhoging in die hoeveelheid transaksies, van 135 000 transaksies na 157 000 transaksies. In die helfte van hierdie jaar, is die 90 000 transaksiemerk reeds oorgesteek.
In die 2020-2021 finansiële jaar is daar ‘n ongelooflike transaksiewaarde van R992 000 000, en in die pas afgelope finansiële jaar is daar ‘n verstommende R1,34 Miljard se transaksies wat afgehandel is (baie daarvan elektronies, of groot bedrae vir ontwikkeling)
Veiligheid en die Ora
Met die reuse transaksiewaarde wat deur OSK vloei, vra baie mense oor die veiligheid van OSK. OSK het die reuse voordeel van die Ora, wat beteken enige bankrower in Orania sal sy tyd mors om hier te kom probeer roof!
Omdat Oras slegs in Orania spandeer kan word, is dit bloot onsinnig om hier te kom poog om geld te steel. Ander veiligheidsvoordele is Orania se eie arbeidsbeleid, en natuurlik Orania Veiligheidsdienste wat ‘n hoë vlak van veiligheidsdienste lewer.
Foto: Die eerste Ora-reeks (A-reeks)
Foto: Die huidige Ora-reeks (G-reeks)
Video: OSK vier 20 jaar se sukses!
word 'n lid!
Orania Beweging-nuusspan
Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za