Orania Dorpsraad open groot
rioolaanleg:
Onafhanklik van eskom

Orania se nuwe rioolaanleg is nie net totaal onafhanklik van ESKOM-krag nie, maar ook 100% natuurlik. Die reuse nuwe ‘oksidasiedamme’-aanleg is in 18 maande afgehandel. Die eerste fase kan 3000 mense diens, maar is modulêr uitbreibaar tot 10 000. Byna ‘n 100 000 ton se grond is geskuif, en die projekbegroting was meer as Φ8 000 000.
Die Orania Dorpsraad het hierdie week ‘n reuse mylpaal bereik met die opening van Orania se nuwe rioolaanleg. Hierdie projek is ‘n duidelike voorbeeld van Orania Dorpsraad se visie om infrastruktuur wat groei help fasiliteer te ontwikkel sodat Oraniërs funksionerende basies dienste op ‘n hoë vlak kan ontvang.
Foto: Die nuwe rioolaanleg vanuit die lug gesien
Volgens André van Heerden, hoof ingenieur van Orania Dorpsraad se ingenieursdienste afdeling is die spoed van bevolkingsgroei in Orania ‘skrikwekkend vanuit ‘n infrastruktuur-ontwikkeling en onderhoud perspektief’ hy sê egter die span is opgewasse, gemotiveerd en entoesiasties en kan die werk gedoen kry.
Die konstruksie
Die omvattende konstruksieproses moes op ‘n groot skaal, met verskeie rolspelers en aspekte, aangepak word. Onder André se leiding het verskillende spanne, kontrakteurs en ander betrokkenes ongelooflik hard gewerk en soms selfs oor naweke, byvoorbeeld met die giet van die betondamme, gewerk.
Foto: Een van die betondamme
Foto: Hard aan die werk
Tydens die bou-proses is 90 000 ton se grondverskuiwing gedoen! Twee twintig ton grawemasjiene, twee padskrapers en ‘n klein vloot van trekkers, vragmotors en waens is ingespan om die grond te skuif. ‘n Totaal van meer as 250m3 se beton is gegiet en 22 ton se plastiek is gelê vir die seëllaag. Daarmee saam is daar tot ‘n diepte van 4 meter deur ‘n skaliebank vir die anaerobiese damme gebreek.
Foto: ‘n Toegewyde span breek deur die skaliebank
Foto’s: Swaar grondverskuiwingsmasjiene word ingespan
Theuns Wessels, voorheen die hoof van Orania Dorpsraad se paaie-afdeling, wat ook internasionale ervaring met die konstruksie van aanloopbane, paaie en ander groot projekte het, het met die eerste 80%+ van die projek op grondvlak voorgevat, en het onlangs aan Neil de Klerk die stokke, wat nou aan hoof van daardie afdeling staan, oorgegee.
Die oksidasie-proses
Die rioolaanleg gebruik ‘n ‘oksidasie’-proses, wat 100% natuurlik is en natuurlike prosesse gebruik om die riool volledig af te breek. Dit beteken ook dat die rioolplaas geen ESKOM-krag benodig nie, terwyl baie rioolaanlegte in Suid-Afrika in beurtkragtyd onder ernstige druk is.
Foto’s: Tydens ‘n demonstrasie van die aanleg
Die riool vloei van dam na dam waar dit in fases afgebreek word. Eers word enige onnatuurlike materiaal verwyder, dan sand, klippe en meer. Derdens is daar anaerobiese proses waar die riool ‘in diep en donkerdamme’ (soosgelyk aan ‘n septiese tenk) verder hanteer word. Daar word dit in ‘n omgewing sonder suurstof deur organismes opgebreek word. Laastens gaan dit in die aërobiese-damme deur ‘n oksidasie-proses, waar suurstof teruggesit word en die riool tot helder water verwerk word. Laastens word sonlig gebruik om die water te penetreer en alle oorblywende bakterieë dood te maak. Die water wat daar uitkom is skoon en helder, en word deur ‘n besproeiingsstelsel rondom die damme gespuit wat ‘n natuurlike, groen omgewing sal skep.
Die totale projekkoste vir Orania Dorpsraad was meer as Φ 8 000 000 (Φ is Ora, Orania se ruilhandelmiddel en Φ1 = R1)
Openingsgeleentheid
Op 14 September is die nuwe aanleg amptelik geopen. Die voorsitter van die Dorpsraad direksie, Hanri Maritz, uitvoerende hoof Gawie Snyman, en Andre van Heerden, hoof ingenieursdienste, het die gaste daar ontvang en elkeen het ‘n kort toespraak gedoen.
Daarna is die spanne, kontrakteurs en werkers erkenning gegee en bedank. Na die lint geknip is, het die konstruksiespanne ‘n klompie water laat deurvloei om die stelsel te demonstreer.
Baie geluk aan alle betrokkenes met hierdie reuse ‘lewende monument’ van Orania Dorpsraad se dienslewering, beplanning en geloof om te bou vir die toekoms!
Foto (v.l.n.r): Gawie Snyman, André van Heerden & Hanri Maritz open die aanleg
Foto: Die groot oomblik het aangebreek!
Foto: Die trotse span by die vrug van hulle harde werk
word 'n lid!

Orania Beweging-nuusspan
Hierdie berig is deur die Orania Beweging-nuusspan geskryf, verwerf of opgestel.
Eksterne bronne of berigte kry volledige erkenning vir gebruik in stories.
Nuus kan gestuur word na inligting@orania.co.za